Dié glutenvrye plaatkoekies kan blitsvinnig gemaak word en is net so lekker vir ontbyt of teen kampertempratuur, of selfs as alternatief vir ’n toebroodjie in ’n kosblik. Sit dit voor met natuurlike bestanddele en iets wat jou vir langer gaan volhou, nie net iets soets nie. Goeie keuses is grondboontjiebotter met kaneel, ongegeurde jogurt of maaskaas met ’n bietjie heuning, kaas of seisoensvrugte of ’n kombinasie van enige van die opsies.
Lewer 12-14 plaatkoekies
500 ml (2 k) gewone rou hawemout
7,5 ml (½ e) bakpoeier
2 medium-grootte, ryp piesangs
2 eiers
fyngerasperde skil van een suurlemoen
45 ml (3 e) melk of ongegeurde jogurt
100-125 ml vars of bevrore bloubessies
olie vir panbraai
- Plaas die hawermout in ’n mengbak en meng met ’n stokmenger tot ’n fyn meel. Voeg die bakpoeier by.
- Druk die piesangs met ’n vurk in ’n ander mengbak fyn. Klits die eiers en suurlemoenskil by. Roer die hawermoutmeel en melk of jogurt by tot ’n beslag vorm en roer die bloubessies by.
- Verhit ’n groot braaipan oor matige hitte en skink ’n dun lagie olie op die bodem. Skep lepelsvol van die beslag in die pan. Braai tot effens gestol bo-op, draai versigtig om en braai vir nog ’n minuut of twee tot goudbruin en gaar – die plaatkoekies braai nogal vinnig. Hou dit warm terwyl die res gebraai word.
- Sit dadelik warm voor met enige gesonde bolaag van jou keuse, soos hier bo beskryf.
Resep deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
Die resep is die perfekte manier om iets lekker met oorryp piesangs te maak.