Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 3: 3 Mei 2025
Spreker: Daan Potgieter
Waarom is moedertaalonderrig so belangrik?
In die derde episode van die reeks, Maak die beste van jou kind, op die Via-TV-programreeks gesels, plaas Daan Potgieter, voorsitter van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) die kollig op moedertaalonderrig en die belangrikheid daarvan. Hy gee ook sy mening oor hoekom daar steeds ouers is wat kies om hulle kinders nie in hulle moedertaal te laat skoolgaan nie en belig van die voordele wat dit inhou as ouers hulle kinders wel in hulle moedertaal laat skoolgaan.
1.) Waarom sal Afrikaanse ouers nie moedertaal as onderrigtaal verkies nie?
Nie alle ouers is genoegsaam ingelig oor die waarde van moedertaalonderrig nie. Ongelukkig word hulle ook baie beïnvloed deur kamtige kenners in sosiale gesprekke. Verder is daar ‘n persepsie by sekere ouers dat Engelse onderrig groter waarde het en dat hulle kinders vir verdere studie en in die werksplek beter sal presteer indien hulle in Engels onderrig word. Dit het amper ‘n gier/mode geword onder sekere ouers en hulle sal dit selfs as ‘n tipe “status” sien om hul kinders in Engels ta laat onderrig. In baie gevalle verwar ons die kinders net meer en ontwikkel hulle nie net ‘n “swak” Engels nie, maar ook ‘n swak moedertaal. Daarom kan ons ons ouers net weer aanmoedig om mooi te besin en hulle kinders te laat skoolgaan in hulle sterkste taal.
2.) Is moedertaalonderrig werklik so belangrik?
Onafhanklike navorsing, onder andere deur UNESCO, het reeds oor en oor bewys dat moedertaalonderrig deurslaggewend is vir leerders se vordering op akademiese en sosiale vlak. Hou ook in gedagte dat die argument ten gunste van moedertaalonderrig hoegenaamd nie ‘n anti-Engelse argument is nie. Dit gaan ook nie net oor Afrikaans as sodanig nie, maar oor enige moedertaal. Dit is bloot ‘n bewese feit dat kinders beter presteer as hulle die geleentheid gegun word om in hulle spesifieke moedertaal skool te gaan, veral in die eerste paar jaar van hulle skoolloopbaan. Indien dit nie anders kan nie, is dit raadsaam om leerders in hulle moedertaal te onderrig tot ten minste graad 7-vlak. Op die manier word hulle moedertaal en moeilike konsepte behoorlik onder die knie gekry en is die oorgang na ‘n tweede of selfs derde taal van onderrig net soveel makliker.
3.) Wat is die voordele van moedertaalonderrig?
Soos reeds genoem, waar leerders die moeiliker konsepte van enige vak eers in die moedertaal bemeester het, kan hulle dit ten volle toepas en later in ‘n tweede of selfs derde taal oordra. Dit is veral belangrik in wetenskap en wiskunde. Moedertaal dra by tot die vorming van jou identiteit en karakter. Dit is van onskatbare waarde vir “wie ek is” en die wete van “ek behoort” aan … Afrikaanse leerders se groot voordeel is dat hulle ook op sosiale vlak makliker aanpas en inpas, aangesien veeltaligheid deel van hulle vaardighede is.
Vir meer inligting oor hierdie baie belangrike onderwerp, gaan kyk gerus hier Moedertaalonderrig – Afrikaans.com. Hier lig ons uit hoekom moedertaalonderrig bydra tot sukses, ons verduidelik wat veeltaligheid is, hoekom party mense steeds Engels kies, bespreek van die navorsing wat hieroor gedoen is en beantwoord sommer ook 10 van die vrae oor moedertaalonderrig wat die meeste gevra word.
Kyk hier na die episode:
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!