Skrywer: Seugnet van Zyl
Waar die eertydse nuusleser Daniëlla van Heerden nou die prag van haar gunstelingseisoen, herfs, in al sy glorie geniet, laat ’n loopbaanskuif haar nou ook toe om saans knus saam met haar dogtertjies storietyd te beleef.
“Herfs is vir my ’n fees van kleur. Die blare se skakerings van wynrooi, goudgeel en bruin is net vir my verskriklik mooi. Jy kan herfs voel in die lug. Daar is ’n byt in die lug, maar dis nog nie koud nie. Die lug self word ook ’n helderder blou met vlieswolke wat die eerste koue aandui. Dis vir my een van die seisoene wat die duidelikste aanvoelbaar is en ’n duidelike verandering aandui voor al die moeilike uitdagings van winter.”
Sy probeer om elke jaar met herfs weg te breek. Daniëlla sal vanjaar saam met haar man, Cornél, ’n fotograaf en videograaf, en hul kinders, Simoné (5) en Lana (2), Lake Naverone in die Drakensberg, gaan verken.
“Ek het dit spesifiek gekies omdat dit pragtig herfs word daar.”
Sy vertel dan met heimwee van só ’n herfsvakansie wat sy en Cornél voor die koms van hulle dogtertjies na Haenertsburg in Magoebaskloof weggebreek het.
“Ek is mal oor die gevoel en die voorkoms van herfs en dat mens die draai van die seisoen so merkbaar kan aanvoel.”
Vir die afgelope 14 jaar het Daniëlla bykans elke aand seweuur die nuus op eNuus gelees. Haar dag het reeds 12:00 in die middag begin en saans was sy eers ná 20:00 weer tuis. Om saans boeke vir Simoné en Lana voor te lees en hulle nag te soen was haar dus nie beskore nie.
Op 1 Februarie vanjaar het sy by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) as korporatiewe kommunikasiebestuurder aangesluit.
Nou kan sy meer tyd saam met haar gesin deurbring – haar grootste behoefte – want sy kan van die huis af werk.
Haar dag begin soggens steeds vroeg waar sy vir Simoné en Lana vir skool gereed kry, maar hulle dae is nou meer gesinkroniseerd en wanneer sy klaar gewerk het, kom hulle huis toe, waar sy dan op hulle wag.
Daniëlla se gunstelingtyd van die dag is skemer.
“Veral as ek saam met my gesin in ons tuin kan wees en die sonsondergang betrag! Ons het ‘n mooi uitsig na die weste hier in Roodepoort.”

Dié nuwe werk en loopbaanverandering het nie toevallig gebeur nie.
“Ek het lank daaroor gebid. Die Here het die regte ding op die regte tyd oor my pad gebring.” Sy sê sy het lank daarvoor voorberei omdat sy ’n spesifieke prentjie in haar kop gehad het van waarna sy soek.
“Dis so perfek. Ek werk saam aan ’n goeie doel: om onderwys beter vir elke kind in Suid-Afrika te maak. Ek is deel van iets groter en van mense wat ’n positiewe bydrae in Suid-Afrika maak. Ek voel tuis.”
Met haar kennis oor die media, waar sy as joernalis by Beeld en eNuus gewerk het en ook mediaopleiding aan instansies verskaf het, sal sy skolebeheerliggaamvoorsitters en -bemarkers vertroud en gemaklik maak om met die media saam te werk.
Sy sal dié voorsitters, wat meestal namens hul skool oor ernstiger nuus met die media moet praat, touwys maak oor hoe om dít te doen en wenke gee oor hoe om die media te benader en wat die media van hom of haar sal verwag.
Daniëlla sal met werkswinkels skolebemarkers regoor die land bemagtig om hulle skool se “goeie nuus” met die media te deel en hoe om sosiale media te gebruik en hul skool in ’n positiewe lig te bemark.
Daniëlla, die jongste van twee kinders, het in Potchefstroom grootgeword. ’n Skoolkoerantkursus het die vonk vir die joernalistiek in haar aangesteek. Ná skool het sy ’n BA-graad in kommunikasiesielkunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus behaal, waar sy ook redakteur van die kampuskoerant, Wapad, was. Daarna is sy met ‘n Media24-beurs na die Universiteit Stellenbosch toe om ’n honneurs in joernalistiek te doen. In 2008 het sy by Beeld as joernalis begin werk. Ná amper drie jaar by Beeld, het sy in 2010 by eNuus aangesluit. Sy het eers haar tande as TV-verslaggewer geslyp voordat sy in Oktober 2019 as nuusanker en -skrywer aangestel is.
Daniëlla het vir Cornél ook by Beeld ontmoet. Hy het in Pretoria as koerantfotograaf gewerk en sy in Johannesburg as joernalis. In 2010, kort voor die Sokkerwêreldbeker sou afskop, het sy vir dié koerant ’n storie in Krugersdorp gedek. Hy het toevallig ook daar by sy ouerhuis gekuier. Ná die nuusstorie, het hulle vir ’n koppie koffie ontmoet. Daarna het hulle meer gereeld begin kuier en die res is soos hulle sê geskiedenis. Hulle is sedert 2014 getroud en het onlangs hul 15de Paasfees saam gevier.
Uit haar eie ervaring as ma het Daniëlla ’n leemte raakgesien en verlede jaar ’n Afrikaanse podsendingreeks, ’n Ma & ’n mikrofoon, oor ma-wees begin.
Sy het dit begin as virtuele bymekaarkomplek vir ma’s en kenners wat in Afrikaans oor raad en wenke praat.
“Dis ons mense se stories. Daar is ma’s wat in Ierland sit of Kanada of in Nieu-Seeland wat na hierdie podsending luister. Dis vir hulle ’n stukkie huis.”
Daniëlla gaan binnekort saam met Afrikaans.com hande vat om ’n videoreeks vir ma’s, Moed vir ma’s, aan te bied, waar sy met ma’s oor brandende teerpunte sal gesels.
“Dit sal oor onderwerpe wees soos dat jy oorweldig is, of voel dat wat jy doen nie goed genoeg is nie, om regtig moed vir ma’s te gee.”

Daniëlla se gunstelinge:
Jou gunsteling- Afrikaanse woord of sêding?
Gogga
Jou gunstelingblom?
Speldekussing-protea. Ons het ‘n bos in ons tuin!
Jou laaste gereg wat jy sal eet?
Skaaptjoppies, soos gebraai deur my man.
Wat lees jy nou vir Lana en Simoné of wat is hulle gunstelingstorie om te hoor?
Die twee is dol oor storietyd. ‘n Groot gunsteling is Jaco Jacobs se “Rondomtalie” – ‘n boek vol rympies en versies oor al die dinge waarvan kleuters, peuters en klein kinders hou, en wat hulle wêreld weerspieël. Wat die boek ekstra spesiaal maak, is dat Anna Davel die rympies getoonset en opgeneem het, en ons luister dus die “Rondomtalie”-album op YouTube so saam met die lees. Dit word ‘n multisintuig-ervaring en die twee dogtertjies hou elke aand konsert!
Jou gunstelingstorie, -fliek en -boek?
Daar’s nou soveel uitstekende Afrikaanse TV-reekse! Nêrens, Noord-Kaap en Eenkeer om die son staan uit.
My gunstelingfliek verander gereeld, maar ek het onlangs alleen op die langpad weer die klankbaan geluister van die animasiefliek Spirit: Stallion of the Cimarron. Die musiek is ‘n ongelooflike spanpoging van Hans Zimmer en Bryan Adams, en dit is ook ‘n pragtige fliek: heel anders as die gewone tekenprent.
Boek: Ek het as tiener twee boeke gelees wat ‘n blywende indruk gemaak het en wat ek telkens weer lees: Sophie’s World deur Jostein Gaarder en Storieboek deur Francois Bloemhof.
Ek hou ook van al Annelie Botes se boeke, en het onlangs Nora Ephron se essays I Feel Bad About My Neck: And Other Thoughts on Being a Woman baie geniet.