Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 2: 26 April 2025
Spreker: Chris Klopper
Wat bied die Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut (SACAI)?
In die tweede episode van Maak die beste van jou kind op gesels op Via-TV, gesels Chris Klopper, Hoof- uitvoerende beampte van SACAI met Leandie oor die instituut se werksaamhede. In die artikel brei Chris ook uit oor waarna ouers moet oplet as hulle ‘n besluit neem oor die onderrig van hulle kinders, of tuisskoolonderrig haalbaar is ten opsigte van gehalte onderwys en wat die redes is vir ouers se besluit om hulle kinders liewer aanlyn te laat skoolgaan.
- Vertel kortliks wie en wat is SACAI.
“Ons fokus hoofsaaklik op afstandsonderriginstansies en opleidingsverskaffers, en hanteer en fasiliteer die groeiende vraag na kwaliteit en uitsonderlike kliëntediens in eksterne summatiewe assesserings.”
Die Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut (SAKAI / SACAI in Engels) is in 2012 gestig as ’n niewinsgewende private assesseringsraad. SAKAI bied assesseringsdienste aan vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en die Algemene Onderwys- en Opleidingsertifikaat: Volwasse Basiese Onderwys en Opleiding (AOO: VBOO / GETC: ABET in Engels). Ons fokus hoofsaaklik op afstandsonderriginstansies en opleidingsverskaffers, en hanteer en fasiliteer die groeiende vraag na kwaliteit en uitsonderlike kliëntediens in eksterne summatiewe assesserings.
- SACAI is geakkrediteer by Umalusi. Wie en wat is Umalusi?
Umalusi is die Raad vir Kwaliteitsversekering in Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding in Suid-Afrika. Hulle stel en monitor standaarde vir algemene en verdere onderwys en opleiding, en is verantwoordelik vir die akkreditasie van private onderwysinstansies en assesseringsrade soos SACAI, die Departement van Basiese Onderwys (DBO) en IEB. Umalusi verseker dat kwalifikasies soos die NSS en AOO: VBOO aan die vereiste standaarde voldoen en hanteer ook die sertifisering van leerderprestasies.
- Wat maak SACAI anders as ander assesseringsliggame?
SACAI onderskei hulself deur ’n spesifieke fokus op afstandsonderrig, insluitend aanlyn en tuisskole, asook onafhanklike en remediërende skole. Ons bied persoonlike kliëntediens en pas ons assesseringsdienste aan om aan die unieke behoeftes van hierdie instansies en leerders te voldoen. Hierdie nisbenadering stel SACAI in staat om meer buigsame en doelgerigte ondersteuning te bied in vergelyking met ander assesseringsrade.
- Lewer SACAI ’n eksamendiens aan die Afrikaanse gemeenskap?
Ja, SACAI bied eksamendienste aan die Afrikaanse gemeenskap. Ons assesseringsdienste is beskikbaar in beide Afrikaans en Engels, wat verseker dat Afrikaanse leerders toegang het tot eksamens en assesserings in hul moedertaal.
- Hoe vergelyk SACAI se standaarde met die van die ander eksamineringsliggame, nl. IEB en DBO?
SACAI se assesserings- en modereringsbeleide word beheer deur en voldoen aan die beginsels van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) wat op sy beurt voldoen aan die kriteria vir die NSS-kurrikulum soos bepaal deur die Minister van Basiese Onderwys, tans bekend as die KABV-kurrikulum. Hierdie beleide is in lyn met dié van ander eksamineringsrade soos die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) en die Departement van Basiese Onderwys (DBO), wat verseker dat SACAI se standaarde vergelykbaar is met dié van ander eksamineringsrade.
- Hoe verseker SACAI dat kwaliteitsbeheer oor eksamineringsprosesse gehandhaaf word?
SACAI implementeer streng kwaliteitsbeheermaatreëls oor hul eksamineringsprosesse. Dit sluit in die ontwikkeling en interne moderering van eksamenvraestelle en nasienriglyne, wat daarna aan Umalusi voorgelê word vir eksterne moderering. Hierdie proses verseker dat die vraestelle en nasienriglyne billik, geldig en betroubaar is. Verder monitor Umalusi SACAI se gereedheid om eksamens te administreer, asook die skryf en nasien van eksamens, om te verseker dat alle prosesse aan die vereiste standaarde voldoen. SACAI doen ook gereelde moderering van die leerders se jaarpunte, waarna daar algemeen verwys word as die skoolgebasseerde assessering (SBA). Umalusi is dan ook betrokke by die finale moderering van hierdie take, wat uiteindelik deel van kandidate se finale punt uitmaak.
- Wie maak gebruik van SACAI se dienste? Wie kan almal by SACAI registreer?
SACAI se dienste word hoofsaaklik gebruik deur instansies wat betrokke is by afstandsonderrig, insluitend aanlyn en tuisskole, sowel as onafhanklike en remediërende skole. Enige instansie wat aan die relevante vereistes voldoen en belangstel in die NSS of AOO: VBOO kwalifikasies, kan by SACAI registreer. Neem ook in ag dat enige skool by die Departement van Basiese Onderwys geregistreer moet wees en geakkrediteer moet wees by Umalusi alvorens die skool met enige assesseringsraad geregistreer kan word.
- Is tuisskoolonderrig en/of aanlyn onderrig haalbaar ten opsigte van gehalte onderwys?
Ja, tuisskoolonderrig en aanlyn onderrig kan gehalte onderwys bied, mits dit goed gestruktureer is en ondersteun word deur erkende assesseringsrade soos SACAI. Hierdie onderrigmetodes bied buigsaamheid en kan aangepas word om aan die individuele behoeftes van leerders te voldoen, wat ’n persoonlike leerervaring moontlik maak.
- Hoekom sal ouers aanlyn skole of mikro- onafhanklike skole bo die tradisionele openbare of onafhanklike skole verkies?
Ouers mag aanlyn skole of mikro- onafhanklike skole verkies weens faktore soos buigsaamheid in skedulering, verpersoonlike leerplanne, ’n veiliger leeromgewing, en die vermoë om spesifieke leerbehoeftes te hanteer. Hierdie opsies kan ook kleiner klaskamers en meer individuele aandag bied, wat tot beter leeruitkomste kan lei.
- Waarna moet ouers oplet as hulle ’n besluit moet neem oor die onderrig van hulle kinders, hetsy afstandsonderrig of tradisionele onderrig?
Wanneer ouers ’n besluit neem oor hul kinders se onderrig – hetsy afstandsonderrig of tradisioneel – is dit van kardinale belang om deeglik navorsing te doen en seker te maak dat die instansie aan alle wetlike vereistes voldoen.
Eerstens moet ouers verseker dat die skool of aanlyn instansie geakkrediteer is by die toepaslike eksamenrade. In die geval van onafhanklike skole moet die skool oor ’n EMIS-nommer beskik (Education Management Information System), wat beteken dat dit geregistreer is by die Departement van Basiese Onderwys. Voorts moet hierdie skole by Umalusi geakkrediteer wees.
Vir aanlyn skole of tuisskoolprogramme wat met SACAI saamwerk, moet die instansie op SACAI se amptelike lys van geregistreerde instansies verskyn.
Slaggate om in gedagte te hou
Ouers moet waak teen tutorsentrums, tuisskoolgroepe, mikroskole en sogenaamde “cottage schools” wat soos formele skole voorkom en funksioneer – dit wil sê instansies met roosters, skooldrag, en ’n perseel – maar wat geen formele akkreditasie het nie. Indien so ’n sentrum nie by Umalusi of by ’n erkende eksamineringsraad geregistreer is nie, kan dit beteken dat die kind se onderwys nie erken of geldig sal wees vir sertifisering nie.
Kortom, moet ouers navraag doen oor:
- Is die instansie wettig by die Departement van Basiese Onderwys geregistreer en geakkrediteer by Umalusi?
- Besit die onderwysers/tutors/fasiliteerders die nodige en korrekte onderwys-kwalifikasies en SARO-sertifisering (SACE)?
- Is die kind se assesserings aan ’n geldige eksamineringsraad soos SACAI gekoppel?
- Verskaf die instansie bewys van hul registrasie (bv. EMIS-nommer en akkreditasiesertifikate)?
- Is die instansie op SACAI (of IEB/DBO) se lys van goedgekeurde diensverskaffers?
Deur hierdie vrae te vra en deeglik na te vors, beskerm ouers hul kinders teen instansies wat moontlik nie aan die vereiste standaarde voldoen nie – en verseker hulle ’n erkende, gehalte-onderwysroete tot NSS-sertifisering.
Belangrik
Laastens is dit belangrik om te onthou dat die VOO-kwalifikasie oor drie jaar strek: Graad 10, 11 en 12. Kandidate vir die finale Graad 12-eksamen moet dus bewys kan lewer dat hulle graad 10 en 11 by ‘n geregistreerde instansie behaal het.
Kyk hier na die episode:
Lees ook:
Tuisskoolonderrig – aanlyn vs tuisskool – Afrikaans.com
Aanlyn onderrig, tuisonderrig of afstandsonderrig: Neem ’n ingeligte besluit. – Afrikaans.com
Lees wat het die onderwyskenner, Graeme de Bruyn, in Episode 9 van seisoen 1 van gesels op Via-TV gesê oor tuisonderrig. Klik op die skakel en rol af na die artikel (Episode 9: Tuisonderrig): Via-programreeks: Maak die beste van jóú kind – Afrikaans.com
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!