Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 1: 19 April 2025
Gassprekers: Milanie Vosloo en Daan Potgieter
In 2024 het Afrikaans.com en die Afrikaanse Onderwysnetwerk (die AON) deelgeneem aan ’n geselsprogram op Via-TV. In die loop van 13 episodes op gesels – ‘n geselsprogram met die aktrise, entrepreneur en skrywer, Leandie du Randt as die aanbieder, het verskeie kundiges insetsels gelewer oor onderwerpe wat betrekking het op ons kinders en hulle holistiese ontwikkeling. In 2025 maak ons nou weer so en is dit vir Afrikaans.com en die AON ‘n voorreg om hierdie tweede seisoen van: Maak die beste van jou kind, te borg.
Oor die volgende weke kan kykers/lesers uitsien na nog 13 episodes waarin kundiges hulle wyshede oor verskillende kind- en onderriggerigte onderwerpe gaan deel. Ons vertrou dat ons ouers en onderwysers sal baat vind by hierdie belangrike kwessies wat kortliks bespreek sal word. Vanjaar word daar onder andere gesels oor die dienste en bystand wat SAKAI bied, waarom moedertaalonderrig so belangrik is, hoekom ons leer en hoe ons leer, positiewe ouerskap, kuberboeliery, kodering en hoe om jou kind voor te berei vir tersiêre opleiding.
MAAK DIE BESTE VAN JOU KIND: SEISOEN 2
Milanie Vosloo, projekbestuurder van Afrikaans.com en Daan Potgieter, uitvoerende hoof by AON, het vanjaar se reeks afgeskop en vertel hoekom daar besluit is om weer deel van die reeks te wees en spesifiek oor die holistiese ontwikkeling van die kind te gesels.
Kyk hier na die episode:
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 2: 26 April 2025
Gassprekers: Chris Klopper
Wat bied die Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut (SACAI)?
In die tweede episode van Maak die beste van jou kind op gesels op Via-TV, gesels Chris Klopper, Hoof- uitvoerende beampte van SACAI met Leandie oor die instituut se werksaamhede. In die artikel brei Chris ook uit oor waarna ouers moet oplet as hulle ‘n besluit neem oor die onderrig van hulle kinders, of tuisskoolonderrig haalbaar is ten opsigte van gehalte onderwys en wat die redes is vir ouers se besluit om hulle kinders liewer aanlyn te laat skoolgaan.
- Vertel kortliks wie en wat is SACAI.
“Ons fokus hoofsaaklik op afstandsonderriginstansies en opleidingsverskaffers, en hanteer en fasiliteer die groeiende vraag na kwaliteit en uitsonderlike kliëntediens in eksterne summatiewe assesserings.”
Die Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut (SAKAI / SACAI in Engels) is in 2012 gestig as ’n niewinsgewende private assesseringsraad. SAKAI bied assesseringsdienste aan vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en die Algemene Onderwys- en Opleidingsertifikaat: Volwasse Basiese Onderwys en Opleiding (AOO: VBOO / GETC: ABET in Engels). Ons fokus hoofsaaklik op afstandsonderriginstansies en opleidingsverskaffers, en hanteer en fasiliteer die groeiende vraag na kwaliteit en uitsonderlike kliëntediens in eksterne summatiewe assesserings.
- SACAI is geakkrediteer by Umalusi. Wie en wat is Umalusi?
Umalusi is die Raad vir Kwaliteitsversekering in Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding in Suid-Afrika. Hulle stel en monitor standaarde vir algemene en verdere onderwys en opleiding, en is verantwoordelik vir die akkreditasie van private onderwysinstansies en assesseringsrade soos SACAI, die Departement van Basiese Onderwys (DBO) en IEB. Umalusi verseker dat kwalifikasies soos die NSS en AOO: VBOO aan die vereiste standaarde voldoen en hanteer ook die sertifisering van leerderprestasies.
- Wat maak SACAI anders as ander assesseringsliggame?
SACAI onderskei hulself deur ’n spesifieke fokus op afstandsonderrig, insluitend aanlyn en tuisskole, asook onafhanklike en remediërende skole. Ons bied persoonlike kliëntediens en pas ons assesseringsdienste aan om aan die unieke behoeftes van hierdie instansies en leerders te voldoen. Hierdie nisbenadering stel SACAI in staat om meer buigsame en doelgerigte ondersteuning te bied in vergelyking met ander assesseringsrade.
- Lewer SACAI ’n eksamendiens aan die Afrikaanse gemeenskap?
Ja, SACAI bied eksamendienste aan die Afrikaanse gemeenskap. Ons assesseringsdienste is beskikbaar in beide Afrikaans en Engels, wat verseker dat Afrikaanse leerders toegang het tot eksamens en assesserings in hul moedertaal.
- Hoe vergelyk SACAI se standaarde met die van die ander eksamineringsliggame, nl. IEB en DBO?
SACAI se assesserings- en modereringsbeleide word beheer deur en voldoen aan die beginsels van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) wat op sy beurt voldoen aan die kriteria vir die NSS-kurrikulum soos bepaal deur die Minister van Basiese Onderwys, tans bekend as die KABV-kurrikulum. Hierdie beleide is in lyn met dié van ander eksamineringsrade soos die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) en die Departement van Basiese Onderwys (DBO), wat verseker dat SACAI se standaarde vergelykbaar is met dié van ander eksamineringsrade.
- Hoe verseker SACAI dat kwaliteitsbeheer oor eksamineringsprosesse gehandhaaf word?
SACAI implementeer streng kwaliteitsbeheermaatreëls oor hul eksamineringsprosesse. Dit sluit in die ontwikkeling en interne moderering van eksamenvraestelle en nasienriglyne, wat daarna aan Umalusi voorgelê word vir eksterne moderering. Hierdie proses verseker dat die vraestelle en nasienriglyne billik, geldig en betroubaar is. Verder monitor Umalusi SACAI se gereedheid om eksamens te administreer, asook die skryf en nasien van eksamens, om te verseker dat alle prosesse aan die vereiste standaarde voldoen. SACAI doen ook gereelde moderering van die leerders se jaarpunte, waarna daar algemeen verwys word as die skoolgebasseerde assessering (SBA). Umalusi is dan ook betrokke by die finale moderering van hierdie take, wat uiteindelik deel van kandidate se finale punt uitmaak.
- Wie maak gebruik van SACAI se dienste? Wie kan almal by SACAI registreer?
SACAI se dienste word hoofsaaklik gebruik deur instansies wat betrokke is by afstandsonderrig, insluitend aanlyn en tuisskole, sowel as onafhanklike en remediërende skole. Enige instansie wat aan die relevante vereistes voldoen en belangstel in die NSS of AOO: VBOO kwalifikasies, kan by SACAI registreer. Neem ook in ag dat enige skool by die Departement van Basiese Onderwys geregistreer moet wees en geakkrediteer moet wees by Umalusi alvorens die skool met enige assesseringsraad geregistreer kan word.
- Is tuisskoolonderrig en/of aanlyn onderrig haalbaar ten opsigte van gehalte onderwys?
Ja, tuisskoolonderrig en aanlyn onderrig kan gehalte onderwys bied, mits dit goed gestruktureer is en ondersteun word deur erkende assesseringsrade soos SACAI. Hierdie onderrigmetodes bied buigsaamheid en kan aangepas word om aan die individuele behoeftes van leerders te voldoen, wat ’n persoonlike leerervaring moontlik maak.
- Hoekom sal ouers aanlyn skole of mikro- onafhanklike skole bo die tradisionele openbare of onafhanklike skole verkies?
Ouers mag aanlyn skole of mikro- onafhanklike skole verkies weens faktore soos buigsaamheid in skedulering, verpersoonlike leerplanne, ’n veiliger leeromgewing, en die vermoë om spesifieke leerbehoeftes te hanteer. Hierdie opsies kan ook kleiner klaskamers en meer individuele aandag bied, wat tot beter leeruitkomste kan lei.
- Waarna moet ouers oplet as hulle ’n besluit moet neem oor die onderrig van hulle kinders, hetsy afstandsonderrig of tradisionele onderrig?
Wanneer ouers ’n besluit neem oor hul kinders se onderrig – hetsy afstandsonderrig of tradisioneel – is dit van kardinale belang om deeglik navorsing te doen en seker te maak dat die instansie aan alle wetlike vereistes voldoen.
Eerstens moet ouers verseker dat die skool of aanlyn instansie geakkrediteer is by die toepaslike eksamenrade. In die geval van onafhanklike skole moet die skool oor ’n EMIS-nommer beskik (Education Management Information System), wat beteken dat dit geregistreer is by die Departement van Basiese Onderwys. Voorts moet hierdie skole by Umalusi geakkrediteer wees.
Vir aanlyn skole of tuisskoolprogramme wat met SACAI saamwerk, moet die instansie op SACAI se amptelike lys van geregistreerde instansies verskyn.
Slaggate om in gedagte te hou
Ouers moet waak teen tutorsentrums, tuisskoolgroepe, mikroskole en sogenaamde “cottage schools” wat soos formele skole voorkom en funksioneer – dit wil sê instansies met roosters, skooldrag, en ’n perseel – maar wat geen formele akkreditasie het nie. Indien so ’n sentrum nie by Umalusi of by ’n erkende eksamineringsraad geregistreer is nie, kan dit beteken dat die kind se onderwys nie erken of geldig sal wees vir sertifisering nie.
Kortom, moet ouers navraag doen oor:
- Is die instansie wettig by die Departement van Basiese Onderwys geregistreer en geakkrediteer by Umalusi?
- Besit die onderwysers/tutors/fasiliteerders die nodige en korrekte onderwys-kwalifikasies en SARO-sertifisering (SACE)?
- Is die kind se assesserings aan ’n geldige eksamineringsraad soos SACAI gekoppel?
- Verskaf die instansie bewys van hul registrasie (bv. EMIS-nommer en akkreditasiesertifikate)?
- Is die instansie op SACAI (of IEB/DBO) se lys van goedgekeurde diensverskaffers?
Deur hierdie vrae te vra en deeglik na te vors, beskerm ouers hul kinders teen instansies wat moontlik nie aan die vereiste standaarde voldoen nie – en verseker hulle ’n erkende, gehalte-onderwysroete tot NSS-sertifisering.
Belangrik
Laastens is dit belangrik om te onthou dat die VOO-kwalifikasie oor drie jaar strek: Graad 10, 11 en 12. Kandidate vir die finale Graad 12-eksamen moet dus bewys kan lewer dat hulle graad 10 en 11 by ‘n geregistreerde instansie behaal het.
Kyk hier na die episode:
Lees ook:
Tuisskoolonderrig – aanlyn vs tuisskool – Afrikaans.com
Aanlyn onderrig, tuisonderrig of afstandsonderrig: Neem ’n ingeligte besluit. – Afrikaans.com
Lees wat het die onderwyskenner, Graeme de Bruyn, in Episode 9 van seisoen 1 van gesels op Via-TV gesê oor tuisonderrig. Klik op die skakel en rol af na die artikel (Episode 9: Tuisonderrig): Via-programreeks: Maak die beste van jóú kind – Afrikaans.com
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 3: 3 Mei 2025
Gassprekers: Daan Potgieter
Waarom is moedertaalonderrig so belangrik?
In die derde episode van die reeks, Maak die beste van jou kind, op die Via-TV-programreeks gesels, plaas Daan Potgieter, voorsitter van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) die kollig op moedertaalonderrig en die belangrikheid daarvan. Hy gee ook sy mening oor hoekom daar steeds ouers is wat kies om hulle kinders nie in hulle moedertaal te laat skoolgaan nie en belig van die voordele wat dit inhou as ouers hulle kinders wel in hulle moedertaal laat skoolgaan.
1.) Waarom sal Afrikaanse ouers nie moedertaal as onderrigtaal verkies nie?
Nie alle ouers is genoegsaam ingelig oor die waarde van moedertaalonderrig nie. Ongelukkig word hulle ook baie beïnvloed deur kamtige kenners in sosiale gesprekke. Verder is daar ‘n persepsie by sekere ouers dat Engelse onderrig groter waarde het en dat hulle kinders vir verdere studie en in die werksplek beter sal presteer indien hulle in Engels onderrig word. Dit het amper ‘n gier/mode geword onder sekere ouers en hulle sal dit selfs as ‘n tipe “status” sien om hul kinders in Engels ta laat onderrig. In baie gevalle verwar ons die kinders net meer en ontwikkel hulle nie net ‘n “swak” Engels nie, maar ook ‘n swak moedertaal. Daarom kan ons ons ouers net weer aanmoedig om mooi te besin en hulle kinders te laat skoolgaan in hulle sterkste taal.
2.) Is moedertaalonderrig werklik so belangrik?
Onafhanklike navorsing, onder andere deur UNESCO, het reeds oor en oor bewys dat moedertaalonderrig deurslaggewend is vir leerders se vordering op akademiese en sosiale vlak. Hou ook in gedagte dat die argument ten gunste van moedertaalonderrig hoegenaamd nie ‘n anti-Engelse argument is nie. Dit gaan ook nie net oor Afrikaans as sodanig nie, maar oor enige moedertaal. Dit is bloot ‘n bewese feit dat kinders beter presteer as hulle die geleentheid gegun word om in hulle spesifieke moedertaal skool te gaan, veral in die eerste paar jaar van hulle skoolloopbaan. Indien dit nie anders kan nie, is dit raadsaam om leerders in hulle moedertaal te onderrig tot ten minste graad 7-vlak. Op die manier word hulle moedertaal en moeilike konsepte behoorlik onder die knie gekry en is die oorgang na ‘n tweede of selfs derde taal van onderrig net soveel makliker.
3.) Wat is die voordele van moedertaalonderrig?
Soos reeds genoem, waar leerders die moeiliker konsepte van enige vak eers in die moedertaal bemeester het, kan hulle dit ten volle toepas en later in ‘n tweede of selfs derde taal oordra. Dit is veral belangrik in wetenskap en wiskunde. Moedertaal dra by tot die vorming van jou identiteit en karakter. Dit is van onskatbare waarde vir “wie ek is” en die wete van “ek behoort” aan … Afrikaanse leerders se groot voordeel is dat hulle ook op sosiale vlak makliker aanpas en inpas, aangesien veeltaligheid deel van hulle vaardighede is.
Vir meer inligting oor hierdie baie belangrike onderwerp, gaan kyk gerus hier Moedertaalonderrig – Afrikaans.com. Hier lig ons uit hoekom moedertaalonderrig bydra tot sukses, ons verduidelik wat veeltaligheid is, hoekom party mense steeds Engels kies, bespreek van die navorsing wat hieroor gedoen is en beantwoord sommer ook 10 van die vrae oor moedertaalonderrig wat die meeste gevra word.
Kyk hier na die episode:
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 4: 12 Mei 2025
Gassprekers: Azelda du Plessis
Wat is die vereistes vir toelating tot ‘n universiteit?
In die vierde episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels Azelda du Plessis, senior bemarker by Noordwes-Universiteit oor die vereistes om toelating tot ‘n universiteit te verkry. Sy gebruik NWU as die voorbeeld, maar dit kan dalk hier en daar van ander universiteite se vereistes verskil – let dus veral op sluitingsdatums vir aansoeke. Dit is daarom raadsaam om met die universiteit van jul keuse te skakel.
Ouers en leerders is mos maar dikwels onseker of hulle die regte besluite neem ten opsigte van keuse van universiteit en studierigting. Hier beantwoord Azelda du Plessis van die vrae wat dikwels opduik:
1.) Wat is die Belangstellingsbepaler-opname en hoe help dit beide ouers en veral leerders wat dalk onseker is oor hul moontlike studierigting?
Die Belangstellingsbepaler is ’n loopbaan-assesseringsinstrument wat jou belangstellings en talente toets, en dan loopbaanopsies voorstel wat met daardie resultate ooreenstem. Met hierdie opsies gelys, behoort ’n besluit oor die mees geskikte studierigting makliker geneem te kan word.
2.) Aan watter vereistes moet jy voldoen om aansoek te kan doen by die NWU?
Jy moet jou Nasionale Senior Sertifikaat bekom wat voldoen aan die vereistes vir ’n baccalareusgraad, en ’n minimum van 50% in jou taal van leer en onderrig, spesifieke APS-telling en spesifieke vakvereistes behaal.
3.) Keuringsrigtings – watter algemene velde maak gebruik van keuring en wat is die vereistes/verskille vir van die velde?
By die NWU, is Musiek, Grafiese Ontwerp, Ingenieurswese, Regte, Teologie, en Stads- en Streeksbeplanning. Leerders moet seker maak of die kursus waarin hulle belangstel, ’n keuringsrigting is of nie. Keuring geskied d.m.v. keuringstoetse, onderhoude, portefeuljes, psigometriese toetse, keuringsgesprekke en skadusessies.
4.) Wanneer open aansoeke by die NWU?
Aansoeke open 1 April. Sluitingsdatums: 30 Junie vir keuringsrigtings, 31 Augustus vir nie-keuringsrigtings en koshuisaansoeke. Geen laat aansoeke word aanvaar nie.
5.) Wat het jy nodig om aanlyn aansoek te doen?
Finale Graad 11-uitslae of jou graad 12- finale uitslae, indien jy alreeds matriek voltooi het, jou ID, en ’n e-posadres.
6.) Beurse – bied die NWU enige akademiese merietebeurse? Is daar enige ander addisionele ondersteuningsbeurse beskikbaar?
Daar is twee soorte beurse: Interne beurse, bv. Meriete-, Young Eagles-, leierskap-, sport-, Kultuur-, ondersteuningsbeurs.
Eksterne beurse, bv. NSFAS, Funza Lushaka en veld-spesifieke beurse wat maatskappye bied.
7.) Bied die NWU mentorprogramme vir eerstejaars? Indien wel, wat behels dit?
Ons het akademiese klubs of afdelings waarby leerders kan aansluit vir ondersteuning. Ons Sentrum vir Onderrig en Leer bied ook verskeie dienste aan: https://services.nwu.ac.za/ctl
8.) Ouers en leerders wil dit nie altyd hoor nie, maar nie almal is universiteitmateriaal nie – selfs al lyk die leerder se punte nie te sleg nie. Hoe oortuig ’n mens die leerder/ouer dat daar liewer na ’n ander instansie of indiensopleiding gekyk behoort te word? En is daar ’n vangnet sodat dit aan die betrokkenes oorgedra word voordat hulle inskryf by die universiteit?
Om ’n ingeligte besluit te neem, is altyd ’n goeie afskoppunt vir die toekoms. Ouers en leerders moet soveel moontlik inligting bekom. Daar is verskillende tersiêre inrigtings asook loopbaanbegeleiding beskikbaar.
Kyk hier na die episode:
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 5: 19 Mei 2025
Gassprekers: Dr Ignatius Gous
Hoekom en hoe leer ek
In die vyfde episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels dr Ignatius Gous, verbonde aan Unisa en ’n spesialis in effektiewe leermetodes oor hoekom ’n mens leer en wat die beste leermetodes is om te gebruik. Afrikaans.com het verder by dr Gous gaan kers opsteek.
1.) Wanneer jy oor die hoe en hoekom van leer praat, noem jy dit gaan “van buite, na binne, na boontoe”. Wat bedoel jy hiermee?
Mense verwar “leer” dikwels met iets wat mens moet doen omdat ander mense dit van mens verwag – ouers, onderwysers, die samelewing. Dis deels waar en ook deels belangrik, maar dit is “van buite”. Leer is egter iets wat inherent van waarde is omdat dit die wese van menswees is. Ons doen dit van voor geboorte af tot die dag dat ons sterf, omdat dit ons laat leef en oorleef – dus “van binne”. Hoe beter ons leer, hoe beter leef en oorleef ons, hoe beter kan ons die gevare elke dag die hoof bied, en hoe beter kan ons die geleenthede van elke dag benut – dus “na boontoe”. Daarom kan ons nie praat oor die “hoe” van leer voordat ons nie eers oor die “hoekom” van leer praat nie.
2.) Hoe op aarde kry mens kinders dan sover om te dink oor die “hoekom” van leer?
Baie kinders dink nie verder as tot by pouse nie, of verder as die volgende kuier met vriende nie. Ons moet dus besondere moeite doen en voorbeelde stel. Byvoorbeeld:
Weetgierigheid kan tuis gestimuleer word deur kommunikasie en blootstelling. Maak daarom tyd om te praat oor die lewe en die wêreld. Of … doen interessante dinge saam. In die skoolsituasie is dit belangrik dat elke klas ’n bespreking insluit oor hoekom dit belangrik is om te leer wat in die klaskamer onderrig word. As die onderwyser of dosent nie weet hoekom dit in die sillabus is nie, gaan die leerders en studente beslis nie daarin belangstel nie.
3.) Baie mense kom deur skool, kollege en universiteit sonder dat hulle ooit geleer is hoe om te leer. Is dit dus regtig nodig om te leer HOE OM te leer?
Probeer en tref kan soms werk, maar baie mense haat leer, of dis ten minste nie top 10 op die gewildheidsleer nie. Hoekom? Omdat dit moeisaam en oneffektief is. Navorsing het lankal gewys wat werk goed en wat werk sleg. Mense doen opsommings, lees en herlees, eindelose herhaling — dit is alles baie oneffektiewe maniere van leer. Dan glo hulle nog in dinge wat wyd geglo word, soos linker-regterbrein, leerstyle, breingim, barokmusiek, en meer, wat ons weet neuromites is, en wat nie net onwaar is nie, maar ook skadelik.
Dus … wat werk regtig of dan beter?
Wat regtig werk, is onder andere
- ontspanne aandag en fokus,
- gespasieerde en gevarieerde herhaling,
- selftoetsing, en
- goeie leergewoontes in ‘n werkbare leerprogram.
Hierdie inligting is oral beskikbaar, maar dit lê rond soos los pêrels. Wat ek gedoen het, is om die pêrels in te ryg in ‘n reeks doenbare leerstrategieë en gewoontes, en om dit uit te toets met alle soorte studente – van laerskool tot die moeilikste kursusse op universiteit, tot mense wat na universiteit vir professionele kwalifikasies en spesialisrigtings studeer.
4.) Vertel ons bietjie meer oor jou leerstrategieë – op die tuisblad van futuresharp (www.futuresharp.co) staan daar: “Begin with the end in mind” – dit word dus ’n reis. Kan jy hierop uitbrei?
Leer word deur baie mense as ’n onaangename aktiwiteit ervaar, gekenmerk deur druk, angs, spanning, laatnagstudie, en ’n wisselvallige mengsel van sukses en mislukking. Dit is egter nie hoe leer veronderstel is om te wees nie. Leer is ’n natuurlike en noodsaaklike proses om die uitdagings van jou omgewing en lewenswerklikhede die hoof te bied. In oertye het mense geleidelik geleer, begelei deur ervare lede van hul gemeenskap, en in reaksie op onmiddellike behoeftes. Leer was spontaan, ondersteunend en direk relevant vir die lewe.
Formele onderwys verander die leerproses
Met die koms van formele onderwys het die leerproses egter drastiese veranderinge ondergaan, dikwels losgemaak van sy oorspronklike doelgerigtheid. Een manier om terug te keer na ’n meer natuurlike en betekenisvolle manier van leer, is om te fokus op waarom ons leer, eerder as net op wat en hoe om te leer.
Die leerproses kan beskryf word as ’n reis van Identiteit, Bemeestering en Nalatenskap: Ek ontdek wie ek is, ek ontwikkel die vermoë om te kan, en ek streef daarna om ’n verskil te maak. Deur met die einddoel in gedagte te begin—die soort impak wat jy op jou lewenspad wil hê—word leer ’n doelgerigte en motiverende proses.
In oertye was leer lewensbelangrik: oorlewing het afgehang van die bemeestering van kennis, vaardighede en houdings wat direk toepaslik was. Vandag kan ons hierdie beginsel herontdek deur elke leergeleentheid te beskou as ’n stap na ons groter doelwitte. As ons leer koppel aan die waarde wat dit vir ons lewe en ambisies inhou—of dit nou is om ’n loopbaan te bou, ’n probleem op te los, of ’n nalatenskap te skep—word dit ’n aktiwiteit wat ons graag aanpak. Leer verander dan van ’n las in ’n lonende reis, gedryf deur relevansie en die belofte van persoonlike groei.
5.) Kan jy die ses stappe van transformatiewe leer kortliks opsom?
Die bemeestering van enige vaardigheid—of dit nou akademiese leerwerk, sportprestasies, of hand- en tegniese vaardighede is—volg ses duidelike fases wat transformatiewe leer moontlik maak.
- Fokus jou aandag op wat jy wil leer of doen, met volle konsentrasie.
- Verstaan waaraan jy aandag gee en hoe dit verbind met wat jy reeds van die onderwerp weet, om ’n konteks te skep.
- Benader die materiaal geleidelik sodat dit bereikbaar voel en nie oorweldigend of ontmoedigend is nie.
- Maak seker dat die inhoud vir jou betekenisvol en relevant is—dit moet nuttig genoeg wees om te wil leer en toe te pas.
- Jy moet die onderwerp in diepte bemeester deur dit grondig te verstaan.
- Laastens, moet jy in staat wees om die kennis of vaardigheid te herroep, te gebruik en effektief toe te pas.
Deur hierdie ses fases te volg, ondergaan jou brein ’n werklike transformasie deur die vorming van nuwe neurale verbindings wat vinnig en doeltreffend funksioneer.
6.) Hoe maak ‘n mens ‘n kind regtig lief vir leer? Is daar iets wat ouers en onderwysers kan doen om dit aan te help?
Kinders is besig met identiteitsvorming en kyk na ouers en onderwysers as rolmodelle, wat hul houding teenoor leer beïnvloed. Spandeer kwaliteit tyd saam met kinders en leer op ’n prettige, drukvrye manier om ’n positiewe assosiasie met leer te skep. Hierdie benadering benut die oerinstink van sosiale leer, wat oksitosien vrystel—’n hormoon wat leer aangenaam en effektief maak. Ouers en onderwysers kan kinders se nuuskierigheid aanwakker deur te vra, te gesels en ondersteuning te bied op maniere wat natuurlik en bemoedigend voel.
7.) Dink jy tradisionele onderrig dra enigsins by tot party leerders se weersin in leer? Sou jy ‘n ander onderrigmodel voorstel?
Onderrigmodelle ontwikkel oor tyd, elk met sterkpunte en beperkings. Effektiewe onderrig moet aansluit by die brein se natuurlike leerprosesse, maar ook rekening hou met die spesifieke konteks en omstandighede van leerders.
In die hedendaagse era maak kunsmatige intelligensie (KI) kennis maklik toeganklik, maar die fokus moet bly op die opbou van diepgaande begrip en vaardighede. Deur KI eties en strategies in onderrig te integreer, kan onderwysers leer verryk en leerders se betrokkenheid versterk, sonder om KI die werk namens hulle te laat doen. Hierdie benadering bevorder ’n liefde vir leer deur relevansie en persoonlike groei te beklemtoon.
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 6: 26 Mei 2025
Gassprekers: Dr. Liezl Byliefeldt
Belangrike feite oor positiewe ouerskap
In die sesde episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels dr Liezl Byliefeldt van The Balanced Approach oor positiewe ouerskap – wat dit behels, hoe ouers moet maak om die uitdagings van ouerskap te hanteer en hoe ouers kan seker maak hulle maak gelukkige kinders groot.
Wat behels positiewe ouerskap?
Positiewe ouerskap is gegrond op ‘n koesterende ouerskapbenadering wat daarop gemik is om ‘n ondersteunende omgewing vir kinders te skep waar hulle hul sterkpunte kan ontdek, daarop kan kapitaliseer en sodoende positiewe gedrag versterk. So ‘n benadering tot ouerskap benadruk warmte, empatie en begrip wat positiewe ouer-kind-verhoudings as prioriteit stel.
Positiewe ouerskap vereis die volgende:
- Aktiewe luistervaardighede
- Positiewe versterking
- Gesonde en konsekwente grense
- Empatie
- Navolgingswaardige voorbeelde wat deur die ouers gestel word.
Ouerskap in die hedendaagse samelewing kan baie uitdagend wees. Watter raad is daar vir ouers om hierdie uitdagings te hanteer?
Ouers maak tans kinders groot in ‘n vinnig veranderende en geweldige kompeterende wêreld. Meer as ooit, ervaar kinders vandag geweldige druk om te presteer en deur sosiale media veral word hulle konstant gekonfronteer met hoe goed dit met ander gaan en hoe suksesvol ander is. Dit kan baie maklik lei tot ‘n gevoel van minderwaardigheid of ontoereikendheid. En dit is hier waar ouers baie waarde kan put uit die veld van Positiewe Sielkunde.
Positiewe Sielkunde is die wetenskaplike studie van al die aspekte en faktore wat individue laat floreer en optimaal funksioneer. Vanuit hierdie lens kyk ons na die sterkpunte, gawes en talente wat ons wel het en fokus ons nie op die tekortkominge nie. Ons werk eerder daaraan om wat goed en reg is, sterk en beter te maak eerder as om dit wat ons nie het nie, aan te vul.
Ouers kan dus hulle kinders help om met dankbaarheid te kyk na wat hulle kan doen, hulle te help om hulle sterkpunte te identifiseer en om baie teenwoordig of bewustelik (“mindful”) te lewe.
Ouers wat daarop konsentreer om opbouende woorde te gebruik, kwaliteittyd met hulle kinders te spandeer, gesinsroetines en waardes te vestig en hulle kinders blootstel aan die goeie en slegte van die lewe, help hulle kinders om in die oomblik te leef en geanker te bly.
Hoe kan jy seker maak dat jy ’n gelukkige kind grootmaak?
Ouers kan hierin slaag deur ‘n opbouende, ondersteunende omgewing te skep wat die kind uitnooi tot kommunikasie, ook oor die moeilike aspekte van die lewe.
Positiewe Sielkunde fokus op die balans tussen positiewe en negatiewe van die lewe en gee daarmee erkenning daaraan dat ons die positiewe meer waardeer en geniet as ons die negatiewe erken en ervaar het.
Ouers kan hul kinders die waarde van goeie en gesonde verhoudings leer sodat hulle self ook in positiewe en bevestigende verhoudings kan tree.
Kinders moet ook aangespoor word tot ’n groei-ingesteldheid, en om altyd iets te bly leer (selfs iets informeel of prakties).
Veerkragtigheid is deesdae ’n gonswoord. Hoe kweek ouers veerkragtigheid – in hulle kinders, maar ook in hulleself?
Veerkragtigheid word beskryf as die vermoë om terug te bons na ‘n terugslag en as gevolg van daardie terugslag, te groei en sterker anderkant uit te kom. Ons praat in die sielkunde van “post-traumatiese groei”.
Individue hoef nie trauma noodwendig te beleef om hierdie groei te ervaar nie, maar as hulle blootgestel word aan die stampe en stote van die lewe en hulle word gehelp om daardie negatiewe ervaring in perspektief te sien, kan hulle veerkragtigheid ontwikkel.
Ouers speel ‘n sentrale rol in die ontwikkeling van hul kinders se veerkragtigheid.
- Eerstens kan ons kinders leer dat hulle beheer het oor hulle keuses, al het hulle nie noodwendig beheer oor hulle omstandighede nie.
- Tweedens moet kinders die waarde van mislukking besef en dat ‘n mens leer uit jou foute.
- Dis ook baie belangrik dat kinders sal ervaar dat hulle saakmaak, dat hulle uniek is en ‘n bydrae het om te lewer.
- Laastens is veerkragtige kinders bewus van hulle sterkpunte en fokus hulle op wat hulle wel het, en nie wat hulle tekortskiet nie.
Die goeie nuus is dat veerkragtigheid nie net ingebore is nie, dit kan gekweek en gegroei en beoefen word sodat ons beter en beter vaar in die hantering van terugslae, maak nie saak of ons oud of jonk is nie.
Dis lank reeds bekend dat IK nie noodwendig ‘n aanduider is van ‘n kind se kanse op sukses nie. Emosionele intelligensie is eerder die bepaler hier. Wat is emosionele intelligensie presies?
Die navorsing en praktyk wys dat suksesvolle aanpassing en optimale funksionering nie net op intelligensie of breinkrag gebaseer is nie, maar eerder hoe gebalanseerd en emosioneel volwasse kinders is. Dit beteken nie dat akademiese vordering nie belangrik is nie, maar eerder dat sukses grootliks afhang van ’n gebalanseerde benadering tot die lewe en aanpasbaarheid.
Emosionele intelligensie verwys na die vermoë om jou emosies te verstaan, toepaslik of sosiaal aanvaarbaar uit te druk en te bestuur. Dit behels ook om ander se emosies te herken, en op gepaste wyse daarop te reageer.
Hoe kan ouers hulle kinders help om emosioneel volwasse te word?
Ouers kan hulle kinders help om emosioneel volwasse te word deur in voeling te wees met hulle emosies. Met ander woorde, om hulle te emosies te kan eien (dit by die naam te noem) en te bestuur, daaroor te gesles asook die effek wat dit op hulle het, te besef.
Ouers kan ook hulle kinders help om negatiewe ervarings te sien as groei- of leergeleenthede.
Verder kan ouers hulle kinders en hulself daaraan herinner om in die hier en nou te lewe, dit wat nou is te geniet en daarvoor dankbaar te wees.
Kyk hier na die episode:
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 6: 2 Junie 2025
Gassprekers: Nicolette Kritzinger
Kuberboeliery: Die gevaar op jou kind se vingerpunte
In die sewende episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels Nicolette Kritzinger, Afrikaans.com se assistant-projekbestuurder en webredakteur oor kuberboeliery en die tekens waarvoor jy as ouer op die uitkyk moet wees.
Boeliery vind op talle vlakke plaas – in die skool, by die huis, in die werkplek, op die sportveld en veral ook aanlyn. In die digitale era is kuberboeliery ’n groot bekommernis vir ouers soos wat al hoe meer kinders en tieners die internet en sosiale media gebruik. Ons besef egter ook dat tegnologie hier is om te bly en baie van ons kinders gebruik die internet en sosiale media met sy magdom voordele, elke dag – hetsy vir skoolwerk of om met hulle maats te kommunikeer. Dit is egter die nadele hieraan verbonde wat met groot omsigtigheid bestuur moet word. Maar … kom ons kyk hoekom spesifiek kuberboeliery so gevaarlik is.
Kuberboeliery is die tipe boeliery wat oor die internet en sosialemediaplatforms plaasvind. Dit is optrede waar die slagoffer geteister, verneder, gedreig of in die verleentheid gestel word. Die boelie gebruik dus sosiale media om emosionele skade aan iemand anders te berokken.
- Die boelie kan in baie gevalle anoniem optree en wegkruip agter ‘n skerm.
- Die reikwydte van sosiale media is baie groter. Dit bereik ‘n baie groter gehoor. Meer mense sien hierdie tipe boeliery.
- Dit is baie moeilik om dit te monitor omdat dit op soveel verskillende platforms plaasvind. Omdat baie kinders so vaardig is in die gebruik van tegnologie kan hulle ook toegang monitor wat dit moeilik maak om ‘n oog te hou op hul aanlyn aktiwiteite.
- Dit kan heeldag en aldag gebeur. Jy het nie beheer oor wanneer jy aanlyn geteister word nie.
Na watter tekens moet ouers let as hulle vermoed hulle kinders word aanlyn geboelie?
Wanneer die kind:
- Hartseer, kwaad of benoud raak gedurende of na gebruik van die internet of selfoon.
- Nie wil praat oor sy/haar rekenaar- of selfoonaktiwiteite nie.
- Onttrek van die gesin, vriende en aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het.
- Weier om skool toe of na spesifieke klasse toe te gaan of groepsaktiwiteite vermy.
- Tekens toon van gemoedskommelinge, verandering in gedrag, slaap- en eetpatrone, of angstig of depressief voorkom.
Raad vir ouers om te help dat hulle kinders nie die slagoffers van kuberboeliery word nie
- Monitor jou kind se aanlyn aktiwiteit: Bly op hoogte van jou kind se sosialemediarekeninge en met wie hulle aanlyn kommunikeer. Dit kan jou help om enige potensiële boeliegedrag te identifiseer en in te tree voordat dit ’n ernstiger probleem word.
- Leer jou kind oor internetveiligheid: Wys jou kind op die belangrikheid van aanlyn privaatheid en hoe om hulle persoonlike inligting te beskerm. Moedig hulle aan om eers te dink voordat hulle ’n plasing maak, en om na te dink oor die impak wat hulle woorde en optrede op ander kan hê.
- Beperk tegnologiegebruik: Plaas beperkings op die hoeveelheid tyd wat jou kind aanlyn en op hulle toestelle spandeer, en oorweeg dit om beperkings te plaas op sekere webtuistes of apps wat dalk meer geneig is tot boeliery.
- Moedig persoonlike kommunikasie aan: Moedig jou kind aan om van aangesig tot aangesig met hulle vriende en eweknieë te kommunikeer, eerder as om hoofsaaklik op digitale kommunikasie staat te maak. Dit kan help om misverstande te voorkom en die risiko van kuberboeliery verminder.
- Gesels met jou kind oor empatie: Help jou kind om die perspektief/siening van ander te verstaan en om empatie te ontwikkel vir diegene wat dalk anders as hulle is. Dit kan help om die moontlikheid dat jou kind dalk by boeliegedrag betrokke raak, verminder.
Kyk hier na die episode:
Lees meer oor kuberboeliery en ook tradisionele boeliery op Afrikaans.com by die onderstaande skakels:
Vyf wenke om kuberboeliery te hanteer – Afrikaans.com
Kinders en boeliery: Drie basiese wenke – Afrikaans.com
Kuberboeliery – Die gevaar op ons kinders se vingerpunte – Afrikaans.com
Mites en feite oor boeliery – Afrikaans.com
Boeliery – Die nare werklikheid in ons midde – Afrikaans.com
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 8: 7Junie 2025
Gassprekers: Felix Spies
Kodering en robotika.
In die agste episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels Felix Spies, die stigter en uitvoerende hoof van Siyafunda Education Foundations oor die belangrikheid van robotika-onderrig, die hindernisse en hoe ouers hul kinders kan aanmoedig om robotika as vak te neem.
Hoekom is robotika-onderrig belangrik vir kinders in SA?
Robotika-onderrig is noodsaaklik vir Suid-Afrikaanse kinders omdat dit
- kritiese denkvaardighede,
- probleemoplossing, en
- kreatiwiteit bevorder.
Die huidige skoolstelsel hanteer nie hierdie deurslaggewende vaardighede wat elke dag in die regte wêreld gebruik word nie. Robotika berei egter kinders voor vir die digitale ekonomie en help om die vaardigheidsgaping in STEM (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde) te oorbrug. Dit verbeter ook samewerking en innovasie, wat belangrik is in ‘n vinnig veranderende wêreld.
Wanneer behoort kinders aan robotika bekendgestel te word?
So vroeg as moontlik – verkieslik in die grondslagfase. Dit help om nuuskierigheid en ‘n liefde vir tegnologie te kweek terwyl hulle sommer ook fundamentele konsepte op ‘n speelse manier leer.
Hoe lyk hierdie eerste bekendstelling aan robotika tipies?
Die eerste bekendstelling aan robotika behoort prakties en interaktief te wees. Kinders werk dikwels met eenvoudige robotte wat visueel geprogrammeer kan word. Dit kan insluit LEGO-robotika, BeeBots of ander platforms wat kinders toelaat om instruksies te gee en onmiddellike terugvoer te kry. Die doel is om speletjies en probleemoplossing te gebruik om tegnologiese konsepte bekend te stel.
Net kortliks – is daar ’n verskil in kodering en robotika of ondersteun die een die ander?
Ja, daar is ‘n verskil, maar hulle ondersteun mekaar.
Kodering is die proses om instruksies te skryf sodat ‘n rekenaar of robot dit kan uitvoer.
Robotika is die fisiese toepassing van kodering – waar hierdie instruksies gebruik word om masjiene te beheer.
Met ander woorde: Kodering gee robotte ‘n doel en robotika maak kodering sigbaar en prakties.
Watter rol speel ouers en onderwysers in die aanmoediging van robotika-onderrig?
Ouers en onderwysers speel ‘n belangrike rol deur kinders blootstelling en ondersteuning te gee. Onderwysers kan robotika in die kurrikulum integreer en praktiese leerervarings bied. Ouers kan kinders motiveer deur vir hulle geleenthede te skep om met tegnologie te eksperimenteer, soos om robotikaklubs of aanlyn kodeerplatforms te ondersteun.
Watter hindernisse is daar en hoe kan dit oorkom word?
Sommige van die grootste hindernisse sluit in:
- beperkte toegang tot hulpbronne,
- ‘n tekort aan opgeleide onderwysers, en
- ‘n gebrek aan bewusmaking oor die belangrikheid van robotika.
Dit kan oorkom word deur meer openbare en privaat vennootskappe, deur onderwysers se opleiding te verbeter, en bekostigbare robotikaprogramme aan skole en gemeenskappe beskikbaar te stel.
Waar kan kinders, ouers en onderwysers hulp kry met robotika-onderrig?
Siyafunda (SEF) werk daaraan om toeganklike platforms te skep vir leerders en ouers om te gebruik om hierdie opwindende wêreld beter te verstaan en te navigeer. Intussen het ons die Quantum Crayon Edu-Platform geloods, wat ‘n verskeidenheid kursusse aanbied. SEF verskaf ook opleiding aan skole om hulle te help om selfonderhoudende STEM-programme te bou. Daar is ook organisasies soos First Lego League (FLL), Raspberry Pi Foundation en ander aanlyn platforms wat gratis hulpbronne en kursusse bied.
Hoe lyk die stand van robotika-onderrig tans in ons skole?
Hoewel daar vooruitgang is, bly dit steeds ongelyk verdeel. Sommige skole, veral in stedelike en privaat omgewings, het gevorderde robotika-laboratoriums, terwyl ander, veral in landelike gebiede, min tot geen toegang het nie. Die Departement van Basiese Onderwys het egter amptelik begin om die kodering en robotika in die kurrikulum vir graad R tot 3 regoor die land te implementeer
Wat is SEF se visie vir die toekoms van robotika-onderrig in Suid-Afrika?
SEF se visie is om robotika-onderrig vir alle kinders in Suid-Afrika toeganklik te maak, ongeag hul sosio-ekonomiese agtergrond. Ons streef daarna om volhoubare programme te ontwikkel wat skole en gemeenskappe toerus met die nodige vaardighede en tegnologie om kinders voor te berei vir ‘n digitale toekoms.
Kyk hier na die episode:
Lees meer oor robotika op Afrikaans.com deur op die volgende skakels te klik:
Kodering 101: Opleiding by skole – Afrikaans.com
Fokus: Tegnologie in die klaskamer – Afrikaans.com
Só verryk digitale media en KI die leerervaring – Afrikaans.com
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 9: 14 Junie 2025
Gasspreker: Prof. Debra Meyer
Hoe berei ek my kind voor om tersiêre opleiding te ontvang.
In die negende episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels professor Debra Meyer, adjunk-visekanselier Navorsing, Innovasie en Nagraadse studies en aangewese visekanselier en prinsipaal van die Sol Plaatje Universiteit, oor hoe om ons kinders voor te berei vir tersiêre opleiding.
Toegang tot tersiêre opleiding is gekoppel aan goeie hoërskoolpunte, maar lank voordat jou kind nog by hoërskool uitkom, is dit belangrik om hom voor te berei en goeie gewoontes by hom vas te lê.
Hier, sê prof Debra, is dit veral belangrik om ’n liefde vir leer by jou kind aan te wakker. Maar … ’n liefde vir leer gaan hand aan hand met ’n liefde vir lees. Hoe doen jy dit?
Prof Debra sê dat dit eintlik heel eenvoudig is. Kinders hou daarvan om vrae te vra. As ouer is jy, terwyl jou kind nog klein is, sy enigste bron van kennis. Na gelang die kind ouer raak en meer ervaring kry, kan jy as ouer hom help deur beter kennisbronne uit te wys. Bestee tyd daaraan om interessante onderwerpe met jou kind te bespreek, saam projekte aan te pak en veral saam te lees. Saamlees is belangrik en iets wat deurlopend kan plaasvind totdat jou kind dit alleen kan aanpak en genot daaruit kan put. Natuurlik is dit belangrik dat jy as ouer self lees en die voorbeeld aan jou kind stel.
Hoe kan jy jou kind voorberei vir al die fasette van die lewe?
- Kommunikasie is hier die belangrikste. Praat as jy ‘n probleem het, vra vrae as jy onseker is of meer wil weet en moet nooit huiwer om om hulp te vra as jy dit nodig het nie. Die is nie ‘n skande om hulp te vra nie.
- Veral hoe om met geld te werk. Wat goed kos, soos bv tersiêre opleiding. Ouers kan uit eie ervaring hul kind leer oor geldbestuur – wees egter eerlik as jy self hiermee sukkel en kry kundiges om julle hierin by te staan.
- Leer jou kind om onafhanklik, maar verantwoordelik te wees. Hou in gedagte: Almal is mense en dit wat jy deurgaan, is heelwaarskynlik dieselfde as wat ’n ander persoon deurgaan.
Uitdagings – hoe kan ouers hulle kinders daarvoor voorberei?
Daar is talle uitdagings wat veral na skool op ’n mens se pad kom. Baie jongmense pak hulle studies aan met sterre in die oë en verwagtinge oor hoe dit moet wees en veral as hulle toelating gekry het omdat hulle goed op skool gevaar het, glo hulle dat dit ook op tersiêre vlak voorspoedig sal gaan. Daar is egter heelwat uitdagings waarvoor jou kind nie noodwendig op skool voorberei word nie. Prof Debra raak aan enkele hiervan:
- Wees voorbereid op akademiese druk – net omdat jy 10 onderskeidings op skool verwerf het, beteken nie dit gaan net natuurlik kom op universiteit nie. Daarom moet jy weet hoe om te herstel as jy skielik nie die punte kry wat jy wou hê of verwag het nie. Wat doen jy dan om die uitdaging aan te pak en reg te stel. Hier is studievaardighede nuttig asook tydsbeplanning.
- Gefokusde leer is een manier om akademiese druk te oorkom. Jy moet die werk (studies) insit om uiteindelik sukses te behaal en jou graad te behaal. As jy sukkel, praat met iemand en vra om hulp. Universiteite het hulpbronne om jou te help studeer.
- Handhaaf ‘n balans tussen studies, sosiale bedrywighede, sport, en so meer. Sê prof. Debra: “Jy moet jou lewe op universiteit geniet, maar wat belangrik is, is dat jy nie uit die oog verloor hoekom jy daar is nie. As jy nie op die ou end ’n kwalifikasie kan verwerf nie, het jy jou tyd gemors. Dit is dus moontlik om alles op universiteit te geniet, mits jy beplan en ’n balans handhaaf tussen alles wat gedoen moet word.”
Nog ‘n paar wenke vir ouers
Daar is heelwat wat ouers kan doen om hulle kinders voor te berei vir die toekoms – ook klein dingetjies wat uiteindelik groot impak kan hê wanneer jou kind die “grootmenswêreld” betree. ’n Liefde vir lewenslange leer en tydsbeplanning is belangrik, maar dis ook belangrik om om te sien na hul emosionele, sosiale en praktiese vaardighede. Hulle mag maar foute maak, want dit bevorder hul onafhanklikheid, veral as hulle weet dat hulle verantwoordelikheid moet neem vir hulle optrede en besluite.
Emosionele intelligensie is sekerlik een van die belangrikste vaardighede in vandag se lewe. Elkeen van ons moet in staat wees om ons eie emosies te verstaan, onsself uit te druk en veral om ander se emosies te verstaan sodat ons met die nodige empatie kan optree.
Konflikhantering. Dit sluit aan by emosionele intelligensie en is ‘n vaardigheid wat nie genoeg beklemtoon kan word nie. Om te weet hoe om met jou medestudente, vriende, familielede en kollegas om te gaan, is baie belangrik vir jou emosionele welstand.
Moedig hulle aan om balans te handhaaf in hulle lewe deur deel te neem aan buitemuurse bedrywighede, soos sport, kuns, klubs. Dit is almal aktiwiteite wat selfvertroue bou en vaardighede ontwikkel en baie belangrik, selfdissipline kweek.
Gesels met jou kind oor sy belangstellings en toekomsplanne en help hulle om realistiese doelwitte te stel en loopbaanbeplanning te doen.
Raak betrokke by gesprekke en aktiwiteite wat kritiese denke bevorder, soos debatsvoering oor huidige gebeure of om legkaarte te bou. Kritiese denke is veral nodig op tersiêre vlak, maar ook eendag in die werksplek. Hier is dit ook belangrik om jou kind toe te laat om onafhanklik te leer om sodoende sy selfvertroue te bou.
Maak seker jou kind het toegang tot boeke, tegnologie, aanlyn platforms en so meer wat vir leer en nie net speletjies nie, ingespan kan word.
Leer jou kind dat om vrae te vra juis ’n doeltreffende manier van leer is, mits hy natuurlik eers self probeer het om by die antwoord uit te kom en wel toegang het tot die nodige bronne.
Leer jou kind om uitdagings as geleenthede te sien. Vier daarom jou kind se suksesse, maar onthou ook om erkenning te gee aan sy pogings en nie net die resultate nie. Dit leer hom om aan te hou en uit te hou totdat die taak voltooi is.
Takies in en om die huis, soos skottelgoed was, bed opmaak, kamer skoonmaak of om die gras te sny, leer jou kind oor dissipline en harde werk.
Meer oor tersiêre opleiding
Suid-Afrika het drie soorte universiteite, naamlik tradisionele universiteite, tegnologie-universiteite en omvattende (uitgebreide) universiteite. Laasgenoemde twee bied beroepsgerigte opleiding ook aan. Daarom is dit raadsaam dat ouers en leerders eerlik moet besin oor hoe hulle veral die laaste twee jaar van hoërskool ervaar het. As die leerder dit moeilik gevind het om te studeer, te fokus op boeke en om inhoud te memoriseer of te analiseer, is meer praktiese opleiding dalk die beste opsie. Met ander woorde, dis steeds universiteitsopleiding, maar dan dalk meer beroepsgerig en ’n diploma in plaas van ’n graad word verwerf.
Wat doen skole om kinders leiding te gee oor vakkeuses en verdere opleidingsmoontlikhede?
Die meeste skole verskaf leiding aan hulle leerders oor die beroepsmoontlikhede daarbuite en nooi dikwels kundiges, lektore of studente om met die leerders te kom gesels. Die universiteite stuur ook mense na die verskillende skole toe om inligting te verskaf. Daar is heelwat inligting op die web beskikbaar en die meeste vrae word gewoonlik hier beantwoord.
Dit is ook goed om ope dae by te woon en dan van die geleentheid gebruik te maak om vrae te stel oor die dinge waaroor ouers en kinders nog nie duidelikheid het nie.
Kyk hier na die episode:
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 10: 23 Junie 2025
Gasspreker: Immanuel Europa
Hoe om beter vir ‘n eksamen voor te berei.
In episode 10 gesels Immanuel Europa, Senior kurrikulumbeplanner vir Afrikaans by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement oor eksamenvoorbereiding, die rol wat die opvoeder in die proses speel en wat die leerder se verantwoordelikheid is.
Eksamenvoorbereiding is belangrik om met minder angs die eksamen aan te pak.
Watter rol speel die opvoeder in die proses?
Kreatiwiteit is hier van belang. Die opvoeder moet die voorgeskrewe kennis en vaardighede (JOP) op kreatiewe en interaktiewe wyse aan die leerders oordra, want dit moet vir hulle lekker wees en hulle nuuskierigheid prikkel. Natuurlik word dit vermag deur deeglike voorbereiding en navorsing oor die relevante en aktuele onderwerpe en aktiwiteite. Nog belangriker, is die skep van leeroomblikke in die klaskamer, aldaar baie leerders nie die spasie of geleentheid tuis het nie.
Hoe kan die ouers/voogde help om sukses te verseker?
Die huidige kurrikulum stel hoe eise aan leerders wat dikwels buite die ouers se kennis of ervaringsveld strek. Tog het die ouers ‘n fenomenale rol om te vervul deur onder andere ondersteuning en bystand te verleen, te sorg vir ’n geskikte leeromgewing en om ook in die kind se basiese behoeftes te voorsien. Die harde werklikheid is dat baie leerders weens sosio-ekonomiese agterstande geen of bitter min van die noodsaaklike en broodnodige steun ontvang. Onthou egter, blote belangstelling in en gesprekvoering met jou kind gee die deurslag.
Wat is die leerder se verantwoordelikheid?
Toegewydheid, ywer en deursettingsvermoë bly steeds die grondslag vir sukses. Leerders moet geleer word dat ‘n mens nie deur jou omstandighede bepaal word nie. Jy, as leerder wat wil uitstyg en ‘n blink toekoms vir jouself wil skep, is die een wat jou omstandighede bepaal. Doen elke dag wat verwag word en jy sal suksesvol wees. Kry vir jou ’n maatjie vir ‘n praatjie – vir akademiese gesprekke. Gebruik elke leeroomblik en lees verskeie tekste en artikels. Leesbegrip en woordeskat is van uiterste belang.
Is dit nog deesdae nodig dat leerders verder moet studeer?
Die huidige werkopset bevoordeel steeds leerders wat naskoolse opleiding doen. Die ideaal is dat daar werksgeleenthede vir skrynwerkers en ambagsmanne geskep word, maar dit draal. Aldaar is dit tog steeds belangrik dat jy voor in die ry kom, wat ‘n verdere opleidingsertifikaat jou gaan gee.
Die e-klaskamer. Waar pas dit in ons diverse samelewing in?
Ons lewe in ‘n gejaagde samelewing wat deur e-kommunikasie aangevuur word. Leerders moet dus op hoogte bly van tegnologie en inligting. Ongelukkig is die nodige infrastuktuur en apparate nie tot almal se toegang of beskikking nie… Feit is – die leerders moet steeds inhoud en kennis leer en dan assessering daaroor kan aflê.
Is daar raad vir ons leerders wat dikwels oorweldig voel deur die hoeveelheid skoolwerk wat hulle moet baasraak?
Die inhoud en konsepte kan leerders soms moed laat verloor. Maar gelukkig is daar altyd ‘n plan B of C. Maak jou sommetjie sommer vroeg in die jaar, veral nadat jy kwartaal 1 se uitslae ontvang het. Dan het jy ’n goeie idee aan watter vaardighede jy meer aandag moet gee, bv. skryfwerk of in baie gevalle is dit die taalgebruik of die voorgeskrewe literatuur wat baie leerwerk verg. Begin deur weekliks slegs twee of drie aspekte te leer wat verseker dat jy sal slaag. Die beter simbole sal dan net ‘n bonus wees.
Behoort leerstrategieë oor hoe om te leer deel van die skoolkurrikulum op ’n spesifieke stadium te wees?
Baie beslis! Dit is ‘n groot frustrasie as leerders slegs in September bekendgestel word aan hoe om ‘n studierooster op te stel of watter leermetodes gebruik kan word. Soos vroeër genoem, begin die voorbereiding vir die eindeksamen alreeds vanaf die eerste skooldag.
Die WKOD het ‘n oulike boekie wat jaarliks uitgegee word: “Wenke vir Sukses”. Dit bevat ‘n uitleg van elke vak se inhoud, studiewenke, artikels van graad 12-leerders wat sukses behaal het, asook inligting oor verdere studies. Die vak, Lewensoriëntering, gee ook waardevolle leiding aan leerders oor studies en loopbane.
Wanneer behoort eksamen skryf deel van die skooljaar te wees? Veral as ‘n mens kyk hoeveel angs dit kan veroorsaak.
Die kurrikulum maak voorsiening vir informele en formele assessering regdeur die jaar. Aan die einde van elke kwartaal word daar toetse of eksamen afgelê wat die leerders deeglik voorberei vir die finale eksamen. Dit is egter van kardinale belang dat leerders eksamenvaardighede aangeleer word. Ook sluit dit aan by gereelde lees en leer wat die angs baie verskraal.
Laaste paar woorde aan die leerders … aldus Immanuel Europa:
Lees gereeld. Leer gereeld. Leef voluit in Afrikaans.
Kyk hier na die episode:
Lees ook:
Studiegroepe as leerstyl hou baie voordele in – Afrikaans.com
Eksamenvoorbereiding: Doen dit behoorlik en verminder so jou stres. – Afrikaans.com
Eksamenvoorbereiding: Afrikaans Huistaal en Afrikaans Eerste Addisionele Taal. – Afrikaans.com
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 11: 2 Julie 2025
Gasspreker: Milanie Vosloo
Inligting op Afrikaans.com wat ouers, leerders en onderwysers kan help om te presteer.
In episode 11 gesels Milanie Vosloo, voorsitter van Uppe Marketing, skrywer en projekbestuurder van Afrikaans.com oor Afrikaans.com se nuttige leerhulpafdeling, die onderwysmarkplein en hoe mens moet maak om by die regte inligting uit te kom.
Afrikaans.com vier die waarde, nut en sjarme van Afrikaans deur ‘n platform te wees waarop besoekers die hoogtepunte in die Afrikaanse leefwêreld kan vind. Afrikaans.com het dan ook die afgelope paar jaar ‘n gewilde en betroubare handelsmerk geword en dien as spreekbuis vir Afrikaans in al sy vorme en variëteite. Ons streef na inklusiwiteit, is modern en relevant en ons hoofdoel bly steeds om te beïnvloed, in te lig, te ondersteun, te onderrig en te inspireer.
Gratis leerhulp
Die afgelope drie jaar het ons ons leerhulpafdeling uitgebrei. Leerhulp is verdeel in verskillende afdelings, naamlik: Algemeen, Voorskool, Laerskool en Hoërskool en dan het ons ook ‘n Moedertaalafdeling waar ons die mites, waarhede en belangrikheid van moedertaalonderrig bespreek. Nog ’n afdeling wat onlangs bygevoeg is, is ons Onderwysmarkplein.
Voorskool
Dit is een van die belangrikste fases in enige kind se ontwikkeling. Hier bied ons leerhulpbronne (weeklikse lesplanne) vir kleuterskoolonderwysers. Daar is tans 80 volledige lesplanne beskikbaar vir 2-4-jariges en graad R en pre-R.
Die inhoud is gratis en aflaaibaar en kan net so in die klaskamer gebruik word. Daar is ook ’n kinderboekrak met 160 kinderstories, luisterstories en ’n hele klomp aflaaibare aktiwiteite.
Skoolgereedheid
Die sprong na graad 1 is groot. Daarom het ons ’n skoolgereedheidsprogram saamgestel om ons ouers te help om probleemareas te identifiseer en dan indien nodig die nodige stappe te neem. Die afdeling gee ’n volledige lys van verwagte uitkomste vir graad R-kinders, praktiese take en aktiwiteite.
Laerskool – sluit grondslagfase in
Vir graad 1 – 3 bied ons materiaal wat al vier die vakke in hierdie ouderdomsgroepe dek. Dit is Afrikaans Huistaal, wiskunde, lewenswetenskappe en Engels Eerste Addisionele Taal.
Vir graad 4, 5 en 7 bied ons gratis werkkaarte en memorandums vir Afrikaans Huistaal en Afrikaans EAT. Graad 6 is tans in die ontwikkelingstadium en sal binnekort beskikbaar wees.
Hoërskool
Vir graad 8 en 9 bied ons gratis werkkaarte en memorandums vir Afrikaans huistaal en Afrikaans EAT.
Ons het ook ‘n matriekklaskamer wat die volledige sillabus vir Afrikaans huistaal en EAT dek en ook deur die graad 10 en 11-leerders gebruik kan word.
Algemeen
Hier kan ouers en opvoeders in-diepte artikels lees wat ouerleiding gee en onderrigverwante kwessies dek. Daar is tans ongeveer 200 artikels gelaai.
Leefstyl
Afgesien van die uitgebreide leerhulpafdeling, probeer Afrikaans.com iets vir elke smaak bied. Besoekers kan uitsien na interessante profiele oor bekendes, skreeusnaakse blogs, video’s, taalspeletjies, podsendings, leefstylbrokkies en ‘n steeds groeiende en baie gewilde resepafdeling. Verder bemark ons ook ons feeste, Afrikaanse literatuur en relevante geleenthede wat deur die talle Afrikaanse organisasies gehou word.
Watter ander organisasies is daar in die onderwyssektor waarby leerders, ouers en onderwysers kan baatvind?
Daar is verskeie wat ons kan noem, maar nooi lesers uit om ons Leerhulpafdeling te besoek en op die Onderwysmarkplein te klik. Daar is tans ‘n lys van meer as 25 ander uitmuntende organisasies wat ons aanbeveel en wat deel uitmaak van die Afrikaanse onderriglandskap.
Lesers kan bloot net op die organisasie van hul keuse klik om te sien wat hulle bied.
Al hierdie organisasies is op verskillende maniere en deur ‘n ryk verskeidenheid projekte, materiaal en dienste en toerusting en opleidingsmodelle daar vir die behoud en bevordering van gehalte onderrig in ons land. Organisasies sluit in:

Die AON (Die Afrikaanse Onderwysnetwerk)
Die AON is ‘n netwerkorganisasie wat Afrikaanse onderwys in samewerking met vennote bevorder. Nuusbrief met feite en wenke. Werkswinkels en VKO-seminare.Die AON fokus op die instandhouding, versterking en uitbouing van gehalte Afrikaanse onderwys, van voorskoolse tot tersiêre vlak.
DIE MOS
Die MOS Inisiatief is ‘n onafhanklike skolenetwerk wat gehalte en toekomsgerigte Afrikaanse onderrig verskaf deur die stigting van onafhanklike privaat skole en hul wêreldwye aanlyn tuisskool MOS-wêreldwyd. ’n Nuwe en innoverende benadering tot leer maak Die MOS ‘n unieke ervaring.
AKADEMIA
Akademia is ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling met twee onderrigleermodelle (die nauurse afstandsmodel en voltydse kampusmodel), vyf dinamiese fakulteite, verskeie programme en ʼn bruisende studentelewe is Akademia jou Afrikaanse studietuiste.
ATKV (Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging)
‘n Wye verskeidenheid taal- en kultuurprojekte soos debat en redenaarskometisies, tienertoneel, musiek en danskompetisies en Olimpiades.
FAK
Die FAK is die oudste Afrikaanse kultuurorganisasie in Suid-Afrika en bied sedert 1929 ’n tuiste vir alles Afrikaans. Die FAK pak verskeie projekte aan vir die bevordering van Afrikaans en die beskerming en bewaring van ons ryk erfenis.
FEDSAS
FEDSAS is die leier in skoolbeheerliggame met hul primêre fokus die ontwikkeling en toerus van sodanige skoolbeheerliggame.
SAOU
‘n Onderwysunie toegewy aan onderwysers: opleiding, ondersteuning en bemagtiging van opvoeders om gehalteonderrig te verseker.
SOS
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) werk om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te verseker deur gehalteonderrig wat reeds bestaan in stand te hou, én waar nodig nuut te bou. Die aanlyn Wolkskool is deel van SOS.
KLASKAMER(LAPA Uitgewers)
Bekostigbare boeke vir almal se smaak met ‘n keur van kinder- en jeugverhale. Die Klaskameraad-afdeling fokus op taal-, studie- en leesgidse, asook klasgidse.
NB-uitgewers
Kinderboeke.
MIND MOVES INSTITUTE
Die Mind Moves Instituut span natuurlike beweging in as ‘n katalisator om leer te optimaliseer. Toegepaste neurowetenskap en beweging word gekombineer om vaardige, selfbewuste en veerkragtige persone te ontwikkel om vreugdevol te lewe van die jongstes tot ouer volwassenes.
PRACTICA
Die Practica Program is ’n tuisgebaseerde, een-tot-een opvoedingstimulasieprogram en produkte. Breinontwikkeling word op ’n natuurlike wyse geoptimaliseer deur met kinders te speel as deel van die daaglikse roetine.
SAKAI
SAKAI (SACAI), ‘n privaat- asesseringsinstansie, en bedien primêr tuisskoolleerders, afstandsonderriginstansies, kleiner onafhanklike skole en leerders wat leerhindernisse ondervind.
SBA (Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans)
Vir plaaslike gemeenskappe, bied die SBA ‘n uiteenlopende aantal digitale hulpbronne gratis aan leerders, opvoeders, ouers en taalliefhebbers.
Dit sluit in kinderpublikasies met meegaande animasievideo’s, aanvullende onderrigmateriaal vir die klaskamer of verryking tuis, en ‘n YouTube-kanaal wat videomateriaal van relevante projekte deel.
SIYAFUNDA EDUCATION FOUNDATION
Siyafunda maak met hulle opleiding en modules wat hulle ontwikkel het programmering (kodering en robotika) toeganklik vir beginners.
VivA
Taalonderrigportaal (VivA se onderwysafdeling) bevat onder meer toegang tot die Woordeboekportaal (en apps) waar woorde se spelling nageslaan kan word, ’n taaladviesdiens waar kundige antwoorde op taalnavrae verskaf word.
VVA (Vriende van Afrikaans)
Bevorder lees en maak reeds 30 jaar lank seker dat kinders oral in Suid-Afrika die wonderwêreld van boeke en lees ervaar. Hul vlagskipprojek is die boektrommels vol heerlike boeke wat by verdienstelike skole en kleuterskole besorg word.
WAT (Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal)
Die WAT is ’n sinchroniese verklarende woordeboek wat op ’n omvattende manier verslag doen van die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang. Dit is ’n akademiese woordeboek wat as ’n gesaghebbende naslaanbron deur taalkundiges, ander navorsers en liefhebbers van Afrikaans gebruik kan word.
WEET (Maroela Media)
Weet is ‘n aanlyn ensiklopedie en e-naslaangids vir leerders. Met dié platform kry leerders toegang tot goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans, aanvullend tot die skoolkurrikulum, wat hulle in staat sal stel om naslaanwerk vir skooltake en -opdragte in Afrikaans te doen.
Kyk hier na die episode:
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 12: 7 Julie 2025
Gasspreker: Louis Swanepoel
Watter skool is die mees geskikte vir my kind?
In episode 12 beantwoord Louis Swanepoel, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) ons vrae oor hoe ouers te werk moet gaan om ’n geskikte skool vir hulle kinders te kies en watter aspekte om gedagte te hou. Hy verduidelik ook wie die SAOU is en hoekom hulle deel uitgemaak het van die protesoptrede teen die ondertekening van die Bela-wetgewing.
“Vandag is jou naaste skool nie altyd die beste keuse nie.” Binne watter denkraamwerk moet ouers hulle keuse uitoefen?
Ouerskap is seker een van die grootste voorregte en dan ook die grootste geskenk wat ouers kan ontvang. Daarom wil ek glo dat ouers hul kinders die beste geleenthede wil bied en op die heel beste wyses wil ondersteun en grootmaak.
Die keuse van die mees geskikte skool vir ’n kind is daarom dan veral belangrik, aangesien dit die basis lê vir ’n kind se opvoedkundige reis en loopbaanvooruitsigte.
Wat is die verwagting van ’n ouergemeenskap t.o.v. die kernopdrag van ’n skool?
Dit is belangrik om die vraag te vra wat die primêre taak van ’n skool is. ’n Skool het die verantwoordelikheid om die kind in totaliteit te vorm en toe te rus vir die eise en geleenthede wat die volwasse lewe bied, binne ’n dinamiese en diverse omgewing.
Die fokus van ’n skool is dus om die kind se karakter in totaliteit te ontwikkel deur die vestiging van o.a. ’n gesonde waardestelsel. In die proses word die kind se intellektuele, emosionele, sosiale, en fisiese vaardighede ontwikkel en vasgelê. Dit is hierdie aspekte wat ’n ouer in die vooruitsig moet stel binne die keuse van die geskikte skool vir sy kind.
Daarom moet ons verstaan dat die naaste skool nie altyd die beste keuse vir jou kind is nie. Ouers moet dus poog om sodanige keuses uit te oefen dat die skool as ’n ware verlengstuk van die ouerhuis kan dien.
Watter kategorieë van skole bestaan daar en hoe verskil hulle van mekaar?
Die volgende soorte skole word onderskei:
- Openbare skole (ongeveer 24 000)
Hierdie skole word deur die Staat gefinansier, is meer bekostigbaar en ouers kan verder aansoek doen vir korting op skoolgeld indien hulle kwalifiseer volgens bepaalde skale soos deur die Staat bepaal. Dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat ongeveer 75% van hierdie skole wanfunksioneel is en daarom is dit belangrik dat ouers deeglike navorsing moet doen oor die gehalte van onderrig en opvoeding, ten einde die regte skool vir hulle kind te identifiseer.
- Onafhanklike/Privaat skole (ongeveer 3 000)
Hierdie skole is heelwat duurder, maar bied die voordeel dat klasse oor die algemeen kleiner is.
- Skole vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes
Hierdie skole maak voorsiening vir leerders met gestremdhede, fisieke leer- en sekere ontwikkelingsuitdagings. Hier word bepaalde eise gestel aan personeel en hulpbronne wat oor sekere gespesialiseerde kundigheid en vermoë moet beskik.
- Montessori- en Waldorfskole
Die klem by hierdie skole val veral op holistiese ontwikkeling, selfgerigte leer en die volg van ’n meer kreatiewe aanslag met die onderrig van leerders.
- Landbou-/Tegniese/Kuns- en Balletskole
Hier volg skole ’n meer gefokusde kurrikulum met die klem op bepaalde vakrigtings.
- Tuisskole
Ouers wat verkies om ’n direkte verantwoordelikheid vir die onderrig van hul kind te aanvaar deur self betrokke te wees met die onderrig in die bemeestering van leerinhoude van hulle kind, kies dikwels hierdie opsie.
Watter aspekte in jou keuse van die geskikte skool vir jou kind moet noukeurige oorweging geniet?
Van die faktore om in ag te neem vir oorweging van die geskikte skool is die volgende:
- Akademiese prestasie: Hoe lyk die deurvloeisyfer in die skool – dus hoeveel van die kinders wat in graad 1 begin kom graad 7 deur in die laerskool en hoeveel wat in graad 8 begin, slaag graad 12 in die hoërskool? Hoe lyk die volgehoue akademiese prestasie van die skool? Bestaan daar ’n positiewe skoolklimaat vir onderrig en leer in die skool?
- Etos en waardesisteem: Is die skoolomgewing ’n verlengstuk van die waardesisteem wat die ouers koester en uitbou? Besoek die skole vir oorweging en kry ’n gevoel van onder meer die skoolkultuur t.o.v. die waardes wat hulle aanhang, dissiplinehantering, gemeenskapsbetrokkenheid en inklusiwiteit.
- Kwaliteit van onderwys: Die gehalte van die personeel het ’n direkte impak op die gehalte van onderwys in die skool. Hoe lyk personeel se profiel t.o.v. ouderdom/geslag/kwalifikasies en ervaring. Wat is die onderwyser-leerder-verhouding (kleiner klasse hou bepaalde voordele in).
- Skoolfasiliteite en hulpbronne: Is die skoolterrein en geboue veilig / netjies / goed in stand gehou en funksioneel vir die onderrigprogram? Weet dat dit ’n bepaalde invloed het op die kind se leerervaring, skoolbelewenis en gevolglike skooltrots.
- Buitekurrikulêre program: Opvoeding strek verder as net die klaskamer. Dit is belangrik vir die ontwikkeling van sosiale en fisiese vaardighede, spanwerk, leierskap en welstand by die kind.
- Ligging en toeganklikheid: Betroubare vervoeropsies na die skool en veiligheid van die omliggende omgewing.
- Bekostigbaarheid: Kostes sluit onder andere in skoolgeld / moontlike koshuisgeld / skool- en sportklere / boeke en skryfbehoeftes / toere en eskursies.
- Ouerbetrokkenheid: Is daar ’n goed funksionerende beheerliggaam wat ouers betrek en inspraak verwelkom? Weet dat die vennootskap tussen ouers en die skool van kritieke belang is.
Watter rol speel die kind self in die uitoefening van die keuse?
Dit is belangrik dat die ouers saam met hulle kinders besluit wanneer hulle die mees geskikte skool kies. ’n Graad R-leerder is nog te klein om self te besluit en daarom behoort die ouer die besluit te neem. Dit is belangrik dat die ouer die kind se behoeftes/persoonlikheid/aanleg en belangstelling deeglik in ag moet neem en die kind dan deelmaak van die besluit wanneer die ouer die finale keuse uitoefen.
Die graad 8-leerder behoort egter die besluit te neem ten einde die kind in staat te stel om verantwoordelikheid vir die besluit te aanvaar. Wat hier belangrik is, is die ouer se rol om saam die reis in die navorsing en oorweging van faktore mee te maak, om die kind te bemagtig sodat die regte besluit deur die kind geneem word.
Dus, die keuse van die regte skool is kompleks en vereis noukeurige oorweging. ’n Ingeligte besluit kan slegs geneem word as die onderwyslandskap verken is en verstaan word, as al die opsies nagevors is en die kind se behoeftes geprioritiseer is.
Hou ook in gedagte: ’n Skool moet nie net ’n stewige akademiese grondslag lê nie, maar daar moet seker gemaak word dat die kind se algehele ontwikkeling en welstand gekoester en bevorder word.
Vir die lesers wat nie weet nie – wie en wat is die SAOU? En watter dienste bied die organisasie.
SAOU – Suid-Afrikaanse Onderwysersunie:
- As vakbond geregistreer op 16 November 1996 in ’n federale vorm en vanaf 2006 as ’n unitêre vakbond.
- Die vakbond se stigterslede was die Kaaplandse Onderwysersvereniging (KO), Natal Onderwysvereniging (NO), Oranje-Vrystaat Onderwysersvereniging (OVSOV) en Transvaalse Onderwysersvereniging (TO). Hierdie verskillende groeperings is onder een sambreel saamgevoeg as die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie – SAOU.
Die SAOU is gevestig as ’n gesaghebbende, waardegedrewe en invloedryke rolspeler in die openbare onderwyssektor en binne die arbeidsomgewing. Verder streef die vakbond na ’n hoë vlak van professionalisme vir alle opvoeders, en sien hulle om na die verbetering van alle aspekte van die werkslewe van die opvoeders in die onderwyssektor, dat onderwys ten beste in die moedertaal van die leerder sal geskied en dat onderwys van hoëkwaliteit die onvervreembare reg is van elke leerder binne ’n gelykwaardige, nierassige, niediskriminerende onderwysstelsel.
Die SAOU het die protes teen die ondertekening van die Bela-wet (veral t.o.v. die taal- en toelatingsbeleide) ondersteun. Wat was jul vertrekpunt om deel te neem aan hierdie protesaksie?
Die SAOU is op rekord t.o.v. die volgende standpunte rakende die BELA-wetgewing waaraan nie toegegee kon word nie:
- Gelyke vennootskap tussen skoolbeheerliggame en die onderwysowerhede;
- Samewerkende beheer en bestuur van skole;
- Onderlinge samewerking van onderwysrolspelers;
- Openbare skole as onafhanklike regspersone; en
- Openbare skole as demokratiese verlengstukke van die onderskeie gemeenskappe ten einde diversiteit te respekteer.
Die SAOU het van die begin af ontevredenheid oor Klousule 4 (toelatingsbeleid) en Klousule 5 (taalbeleid) uitgespreek en ook omvattende positiewe aanbevelings aan hierdie klousules voorgestel vir oorweging.
Die SAOU se deelname aan die optog was ter ondersteuning van die breë onderwysgemeenskap met die volgende vertrekpunte:
- Respekteer die skoolbeheerliggame se gesagsposisie en magte wat op plaaslike vlak uitgeoefen word.
- Respekteer die samewerking van onderwysvennote (Staat/ouers/skoolbestuurspan) in die opvoedingsproses van leerders.
- Elke leerder is geregtig op gehalte onderwys in Suid-Afrika. Dit sluit ook elke graad R-leerder in na die promulgering van die BELA deur die Staatspresident.
- Die reg van skoolgemeenskappe tot die keuse van die taal van onderrig en leer, sowel as toelating tot ’n spesifieke skool.
- Die beskerming van die regte van onderwysers.
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!










