Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 1: 19 April 2025
Sprekers: Milanie Vosloo en Daan Potgieter
In 2024 het Afrikaans.com en die Afrikaanse Onderwysnetwerk (die AON) deelgeneem aan ’n geselsprogram op Via-TV. In die loop van 13 episodes op gesels – ‘n geselsprogram met die aktrise, entrepreneur en skrywer, Leandie du Randt as die aanbieder, het verskeie kundiges insetsels gelewer oor onderwerpe wat betrekking het op ons kinders en hulle holistiese ontwikkeling. In 2025 maak ons nou weer so en is dit vir Afrikaans.com en die AON ‘n voorreg om hierdie tweede seisoen van: Maak die beste van jou kind, te borg.
Oor die volgende weke kan kykers/lesers uitsien na nog 13 episodes waarin kundiges hulle wyshede oor verskillende kind- en onderriggerigte onderwerpe gaan deel. Ons vertrou dat ons ouers en onderwysers sal baat vind by hierdie belangrike kwessies wat kortliks bespreek sal word. Vanjaar word daar onder andere gesels oor die dienste en bystand wat SAKAI bied, waarom moedertaalonderrig so belangrik is, hoekom ons leer en hoe ons leer, positiewe ouerskap, kuberboeliery, kodering en hoe om jou kind voor te berei vir tersiêre opleiding.
MAAK DIE BESTE VAN JOU KIND: SEISOEN 2
Milanie Vosloo, projekbestuurder van Afrikaans.com en Daan Potgieter, uitvoerende hoof by AON, het vanjaar se reeks afgeskop en vertel hoekom daar besluit is om weer deel van die reeks te wees en spesifiek oor die holistiese ontwikkeling van die kind te gesels.
Kyk hier na die episode:
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 2: 26 April 2025
Spreker: Chris Klopper
Wat bied die Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut (SACAI)?
In die tweede episode van Maak die beste van jou kind op gesels op Via-TV, gesels Chris Klopper, Hoof- uitvoerende beampte van SACAI met Leandie oor die instituut se werksaamhede. In die artikel brei Chris ook uit oor waarna ouers moet oplet as hulle ‘n besluit neem oor die onderrig van hulle kinders, of tuisskoolonderrig haalbaar is ten opsigte van gehalte onderwys en wat die redes is vir ouers se besluit om hulle kinders liewer aanlyn te laat skoolgaan.
- Vertel kortliks wie en wat is SACAI.
“Ons fokus hoofsaaklik op afstandsonderriginstansies en opleidingsverskaffers, en hanteer en fasiliteer die groeiende vraag na kwaliteit en uitsonderlike kliëntediens in eksterne summatiewe assesserings.”
Die Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut (SAKAI / SACAI in Engels) is in 2012 gestig as ’n niewinsgewende private assesseringsraad. SAKAI bied assesseringsdienste aan vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en die Algemene Onderwys- en Opleidingsertifikaat: Volwasse Basiese Onderwys en Opleiding (AOO: VBOO / GETC: ABET in Engels). Ons fokus hoofsaaklik op afstandsonderriginstansies en opleidingsverskaffers, en hanteer en fasiliteer die groeiende vraag na kwaliteit en uitsonderlike kliëntediens in eksterne summatiewe assesserings.
- SACAI is geakkrediteer by Umalusi. Wie en wat is Umalusi?
Umalusi is die Raad vir Kwaliteitsversekering in Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding in Suid-Afrika. Hulle stel en monitor standaarde vir algemene en verdere onderwys en opleiding, en is verantwoordelik vir die akkreditasie van private onderwysinstansies en assesseringsrade soos SACAI, die Departement van Basiese Onderwys (DBO) en IEB. Umalusi verseker dat kwalifikasies soos die NSS en AOO: VBOO aan die vereiste standaarde voldoen en hanteer ook die sertifisering van leerderprestasies.
- Wat maak SACAI anders as ander assesseringsliggame?
SACAI onderskei hulself deur ’n spesifieke fokus op afstandsonderrig, insluitend aanlyn en tuisskole, asook onafhanklike en remediërende skole. Ons bied persoonlike kliëntediens en pas ons assesseringsdienste aan om aan die unieke behoeftes van hierdie instansies en leerders te voldoen. Hierdie nisbenadering stel SACAI in staat om meer buigsame en doelgerigte ondersteuning te bied in vergelyking met ander assesseringsrade.
- Lewer SACAI ’n eksamendiens aan die Afrikaanse gemeenskap?
Ja, SACAI bied eksamendienste aan die Afrikaanse gemeenskap. Ons assesseringsdienste is beskikbaar in beide Afrikaans en Engels, wat verseker dat Afrikaanse leerders toegang het tot eksamens en assesserings in hul moedertaal.
- Hoe vergelyk SACAI se standaarde met die van die ander eksamineringsliggame, nl. IEB en DBO?
SACAI se assesserings- en modereringsbeleide word beheer deur en voldoen aan die beginsels van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) wat op sy beurt voldoen aan die kriteria vir die NSS-kurrikulum soos bepaal deur die Minister van Basiese Onderwys, tans bekend as die KABV-kurrikulum. Hierdie beleide is in lyn met dié van ander eksamineringsrade soos die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) en die Departement van Basiese Onderwys (DBO), wat verseker dat SACAI se standaarde vergelykbaar is met dié van ander eksamineringsrade.
- Hoe verseker SACAI dat kwaliteitsbeheer oor eksamineringsprosesse gehandhaaf word?
SACAI implementeer streng kwaliteitsbeheermaatreëls oor hul eksamineringsprosesse. Dit sluit in die ontwikkeling en interne moderering van eksamenvraestelle en nasienriglyne, wat daarna aan Umalusi voorgelê word vir eksterne moderering. Hierdie proses verseker dat die vraestelle en nasienriglyne billik, geldig en betroubaar is. Verder monitor Umalusi SACAI se gereedheid om eksamens te administreer, asook die skryf en nasien van eksamens, om te verseker dat alle prosesse aan die vereiste standaarde voldoen. SACAI doen ook gereelde moderering van die leerders se jaarpunte, waarna daar algemeen verwys word as die skoolgebasseerde assessering (SBA). Umalusi is dan ook betrokke by die finale moderering van hierdie take, wat uiteindelik deel van kandidate se finale punt uitmaak.
- Wie maak gebruik van SACAI se dienste? Wie kan almal by SACAI registreer?
SACAI se dienste word hoofsaaklik gebruik deur instansies wat betrokke is by afstandsonderrig, insluitend aanlyn en tuisskole, sowel as onafhanklike en remediërende skole. Enige instansie wat aan die relevante vereistes voldoen en belangstel in die NSS of AOO: VBOO kwalifikasies, kan by SACAI registreer. Neem ook in ag dat enige skool by die Departement van Basiese Onderwys geregistreer moet wees en geakkrediteer moet wees by Umalusi alvorens die skool met enige assesseringsraad geregistreer kan word.
- Is tuisskoolonderrig en/of aanlyn onderrig haalbaar ten opsigte van gehalte onderwys?
Ja, tuisskoolonderrig en aanlyn onderrig kan gehalte onderwys bied, mits dit goed gestruktureer is en ondersteun word deur erkende assesseringsrade soos SACAI. Hierdie onderrigmetodes bied buigsaamheid en kan aangepas word om aan die individuele behoeftes van leerders te voldoen, wat ’n persoonlike leerervaring moontlik maak.
- Hoekom sal ouers aanlyn skole of mikro- onafhanklike skole bo die tradisionele openbare of onafhanklike skole verkies?
Ouers mag aanlyn skole of mikro- onafhanklike skole verkies weens faktore soos buigsaamheid in skedulering, verpersoonlike leerplanne, ’n veiliger leeromgewing, en die vermoë om spesifieke leerbehoeftes te hanteer. Hierdie opsies kan ook kleiner klaskamers en meer individuele aandag bied, wat tot beter leeruitkomste kan lei.
- Waarna moet ouers oplet as hulle ’n besluit moet neem oor die onderrig van hulle kinders, hetsy afstandsonderrig of tradisionele onderrig?
Wanneer ouers ’n besluit neem oor hul kinders se onderrig – hetsy afstandsonderrig of tradisioneel – is dit van kardinale belang om deeglik navorsing te doen en seker te maak dat die instansie aan alle wetlike vereistes voldoen.
Eerstens moet ouers verseker dat die skool of aanlyn instansie geakkrediteer is by die toepaslike eksamenrade. In die geval van onafhanklike skole moet die skool oor ’n EMIS-nommer beskik (Education Management Information System), wat beteken dat dit geregistreer is by die Departement van Basiese Onderwys. Voorts moet hierdie skole by Umalusi geakkrediteer wees.
Vir aanlyn skole of tuisskoolprogramme wat met SACAI saamwerk, moet die instansie op SACAI se amptelike lys van geregistreerde instansies verskyn.
Slaggate om in gedagte te hou
Ouers moet waak teen tutorsentrums, tuisskoolgroepe, mikroskole en sogenaamde “cottage schools” wat soos formele skole voorkom en funksioneer – dit wil sê instansies met roosters, skooldrag, en ’n perseel – maar wat geen formele akkreditasie het nie. Indien so ’n sentrum nie by Umalusi of by ’n erkende eksamineringsraad geregistreer is nie, kan dit beteken dat die kind se onderwys nie erken of geldig sal wees vir sertifisering nie.
Kortom, moet ouers navraag doen oor:
- Is die instansie wettig by die Departement van Basiese Onderwys geregistreer en geakkrediteer by Umalusi?
- Besit die onderwysers/tutors/fasiliteerders die nodige en korrekte onderwys-kwalifikasies en SARO-sertifisering (SACE)?
- Is die kind se assesserings aan ’n geldige eksamineringsraad soos SACAI gekoppel?
- Verskaf die instansie bewys van hul registrasie (bv. EMIS-nommer en akkreditasiesertifikate)?
- Is die instansie op SACAI (of IEB/DBO) se lys van goedgekeurde diensverskaffers?
Deur hierdie vrae te vra en deeglik na te vors, beskerm ouers hul kinders teen instansies wat moontlik nie aan die vereiste standaarde voldoen nie – en verseker hulle ’n erkende, gehalte-onderwysroete tot NSS-sertifisering.
Belangrik
Laastens is dit belangrik om te onthou dat die VOO-kwalifikasie oor drie jaar strek: Graad 10, 11 en 12. Kandidate vir die finale Graad 12-eksamen moet dus bewys kan lewer dat hulle graad 10 en 11 by ‘n geregistreerde instansie behaal het.
Kyk hier na die episode:
Lees ook:
Tuisskoolonderrig – aanlyn vs tuisskool – Afrikaans.com
Aanlyn onderrig, tuisonderrig of afstandsonderrig: Neem ’n ingeligte besluit. – Afrikaans.com
Lees wat het die onderwyskenner, Graeme de Bruyn, in Episode 9 van seisoen 1 van gesels op Via-TV gesê oor tuisonderrig. Klik op die skakel en rol af na die artikel (Episode 9: Tuisonderrig): Via-programreeks: Maak die beste van jóú kind – Afrikaans.com
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 3: 3 Mei 2025
Spreker: Daan Potgieter
Waarom is moedertaalonderrig so belangrik?
In die derde episode van die reeks, Maak die beste van jou kind, op die Via-TV-programreeks gesels, plaas Daan Potgieter, voorsitter van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) die kollig op moedertaalonderrig en die belangrikheid daarvan. Hy gee ook sy mening oor hoekom daar steeds ouers is wat kies om hulle kinders nie in hulle moedertaal te laat skoolgaan nie en belig van die voordele wat dit inhou as ouers hulle kinders wel in hulle moedertaal laat skoolgaan.
1.) Waarom sal Afrikaanse ouers nie moedertaal as onderrigtaal verkies nie?
Nie alle ouers is genoegsaam ingelig oor die waarde van moedertaalonderrig nie. Ongelukkig word hulle ook baie beïnvloed deur kamtige kenners in sosiale gesprekke. Verder is daar ‘n persepsie by sekere ouers dat Engelse onderrig groter waarde het en dat hulle kinders vir verdere studie en in die werksplek beter sal presteer indien hulle in Engels onderrig word. Dit het amper ‘n gier/mode geword onder sekere ouers en hulle sal dit selfs as ‘n tipe “status” sien om hul kinders in Engels ta laat onderrig. In baie gevalle verwar ons die kinders net meer en ontwikkel hulle nie net ‘n “swak” Engels nie, maar ook ‘n swak moedertaal. Daarom kan ons ons ouers net weer aanmoedig om mooi te besin en hulle kinders te laat skoolgaan in hulle sterkste taal.
2.) Is moedertaalonderrig werklik so belangrik?
Onafhanklike navorsing, onder andere deur UNESCO, het reeds oor en oor bewys dat moedertaalonderrig deurslaggewend is vir leerders se vordering op akademiese en sosiale vlak. Hou ook in gedagte dat die argument ten gunste van moedertaalonderrig hoegenaamd nie ‘n anti-Engelse argument is nie. Dit gaan ook nie net oor Afrikaans as sodanig nie, maar oor enige moedertaal. Dit is bloot ‘n bewese feit dat kinders beter presteer as hulle die geleentheid gegun word om in hulle spesifieke moedertaal skool te gaan, veral in die eerste paar jaar van hulle skoolloopbaan. Indien dit nie anders kan nie, is dit raadsaam om leerders in hulle moedertaal te onderrig tot ten minste graad 7-vlak. Op die manier word hulle moedertaal en moeilike konsepte behoorlik onder die knie gekry en is die oorgang na ‘n tweede of selfs derde taal van onderrig net soveel makliker.
3.) Wat is die voordele van moedertaalonderrig?
Soos reeds genoem, waar leerders die moeiliker konsepte van enige vak eers in die moedertaal bemeester het, kan hulle dit ten volle toepas en later in ‘n tweede of selfs derde taal oordra. Dit is veral belangrik in wetenskap en wiskunde. Moedertaal dra by tot die vorming van jou identiteit en karakter. Dit is van onskatbare waarde vir “wie ek is” en die wete van “ek behoort” aan … Afrikaanse leerders se groot voordeel is dat hulle ook op sosiale vlak makliker aanpas en inpas, aangesien veeltaligheid deel van hulle vaardighede is.
Vir meer inligting oor hierdie baie belangrike onderwerp, gaan kyk gerus hier Moedertaalonderrig – Afrikaans.com. Hier lig ons uit hoekom moedertaalonderrig bydra tot sukses, ons verduidelik wat veeltaligheid is, hoekom party mense steeds Engels kies, bespreek van die navorsing wat hieroor gedoen is en beantwoord sommer ook 10 van die vrae oor moedertaalonderrig wat die meeste gevra word.
Kyk hier na die episode:
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 4: 12 Mei 2025
Spreker: Azelda du Plessis
Wat is die vereistes vir toelating tot ‘n universiteit?
In die vierde episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels Azelda du Plessis, senior bemarker by Noordwes-Universiteit oor die vereistes om toelating tot ‘n universiteit te verkry. Sy gebruik NWU as die voorbeeld, maar dit kan dalk hier en daar van ander universiteite se vereistes verskil – let dus veral op sluitingsdatums vir aansoeke. Dit is daarom raadsaam om met die universiteit van jul keuse te skakel.
Ouers en leerders is mos maar dikwels onseker of hulle die regte besluite neem ten opsigte van keuse van universiteit en studierigting. Hier beantwoord Azelda du Plessis van die vrae wat dikwels opduik:
1.) Wat is die Belangstellingsbepaler-opname en hoe help dit beide ouers en veral leerders wat dalk onseker is oor hul moontlike studierigting?
Die Belangstellingsbepaler is ’n loopbaan-assesseringsinstrument wat jou belangstellings en talente toets, en dan loopbaanopsies voorstel wat met daardie resultate ooreenstem. Met hierdie opsies gelys, behoort ’n besluit oor die mees geskikte studierigting makliker geneem te kan word.
2.) Aan watter vereistes moet jy voldoen om aansoek te kan doen by die NWU?
Jy moet jou Nasionale Senior Sertifikaat bekom wat voldoen aan die vereistes vir ’n baccalareusgraad, en ’n minimum van 50% in jou taal van leer en onderrig, spesifieke APS-telling en spesifieke vakvereistes behaal.
3.) Keuringsrigtings – watter algemene velde maak gebruik van keuring en wat is die vereistes/verskille vir van die velde?
By die NWU, is Musiek, Grafiese Ontwerp, Ingenieurswese, Regte, Teologie, en Stads- en Streeksbeplanning. Leerders moet seker maak of die kursus waarin hulle belangstel, ’n keuringsrigting is of nie. Keuring geskied d.m.v. keuringstoetse, onderhoude, portefeuljes, psigometriese toetse, keuringsgesprekke en skadusessies.
4.) Wanneer open aansoeke by die NWU?
Aansoeke open 1 April. Sluitingsdatums: 30 Junie vir keuringsrigtings, 31 Augustus vir nie-keuringsrigtings en koshuisaansoeke. Geen laat aansoeke word aanvaar nie.
5.) Wat het jy nodig om aanlyn aansoek te doen?
Finale Graad 11-uitslae of jou graad 12- finale uitslae, indien jy alreeds matriek voltooi het, jou ID, en ’n e-posadres.
6.) Beurse – bied die NWU enige akademiese merietebeurse? Is daar enige ander addisionele ondersteuningsbeurse beskikbaar?
Daar is twee soorte beurse: Interne beurse, bv. Meriete-, Young Eagles-, leierskap-, sport-, Kultuur-, ondersteuningsbeurs.
Eksterne beurse, bv. NSFAS, Funza Lushaka en veld-spesifieke beurse wat maatskappye bied.
7.) Bied die NWU mentorprogramme vir eerstejaars? Indien wel, wat behels dit?
Ons het akademiese klubs of afdelings waarby leerders kan aansluit vir ondersteuning. Ons Sentrum vir Onderrig en Leer bied ook verskeie dienste aan: https://services.nwu.ac.za/ctl
8.) Ouers en leerders wil dit nie altyd hoor nie, maar nie almal is universiteitmateriaal nie – selfs al lyk die leerder se punte nie te sleg nie. Hoe oortuig ’n mens die leerder/ouer dat daar liewer na ’n ander instansie of indiensopleiding gekyk behoort te word? En is daar ’n vangnet sodat dit aan die betrokkenes oorgedra word voordat hulle inskryf by die universiteit?
Om ’n ingeligte besluit te neem, is altyd ’n goeie afskoppunt vir die toekoms. Ouers en leerders moet soveel moontlik inligting bekom. Daar is verskillende tersiêre inrigtings asook loopbaanbegeleiding beskikbaar.
Kyk hier na die episode:
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 5: 19 Mei 2025
Spreker: Dr Ignatius Gous
Hoekom en hoe leer ek
In die vyfde episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels dr Ignatius Gous, verbonde aan Unisa en ’n spesialis in effektiewe leermetodes oor hoekom ’n mens leer en wat die beste leermetodes is om te gebruik. Afrikaans.com het verder by dr Gous gaan kers opsteek.
1.) Wanneer jy oor die hoe en hoekom van leer praat, noem jy dit gaan “van buite, na binne, na boontoe”. Wat bedoel jy hiermee?
Mense verwar “leer” dikwels met iets wat mens moet doen omdat ander mense dit van mens verwag – ouers, onderwysers, die samelewing. Dis deels waar en ook deels belangrik, maar dit is “van buite”. Leer is egter iets wat inherent van waarde is omdat dit die wese van menswees is. Ons doen dit van voor geboorte af tot die dag dat ons sterf, omdat dit ons laat leef en oorleef – dus “van binne”. Hoe beter ons leer, hoe beter leef en oorleef ons, hoe beter kan ons die gevare elke dag die hoof bied, en hoe beter kan ons die geleenthede van elke dag benut – dus “na boontoe”. Daarom kan ons nie praat oor die “hoe” van leer voordat ons nie eers oor die “hoekom” van leer praat nie.
2.) Hoe op aarde kry mens kinders dan sover om te dink oor die “hoekom” van leer?
Baie kinders dink nie verder as tot by pouse nie, of verder as die volgende kuier met vriende nie. Ons moet dus besondere moeite doen en voorbeelde stel. Byvoorbeeld:
Weetgierigheid kan tuis gestimuleer word deur kommunikasie en blootstelling. Maak daarom tyd om te praat oor die lewe en die wêreld. Of … doen interessante dinge saam. In die skoolsituasie is dit belangrik dat elke klas ’n bespreking insluit oor hoekom dit belangrik is om te leer wat in die klaskamer onderrig word. As die onderwyser of dosent nie weet hoekom dit in die sillabus is nie, gaan die leerders en studente beslis nie daarin belangstel nie.
3.) Baie mense kom deur skool, kollege en universiteit sonder dat hulle ooit geleer is hoe om te leer. Is dit dus regtig nodig om te leer HOE OM te leer?
Probeer en tref kan soms werk, maar baie mense haat leer, of dis ten minste nie top 10 op die gewildheidsleer nie. Hoekom? Omdat dit moeisaam en oneffektief is. Navorsing het lankal gewys wat werk goed en wat werk sleg. Mense doen opsommings, lees en herlees, eindelose herhaling — dit is alles baie oneffektiewe maniere van leer. Dan glo hulle nog in dinge wat wyd geglo word, soos linker-regterbrein, leerstyle, breingim, barokmusiek, en meer, wat ons weet neuromites is, en wat nie net onwaar is nie, maar ook skadelik.
Dus … wat werk regtig of dan beter?
Wat regtig werk, is onder andere
- ontspanne aandag en fokus,
- gespasieerde en gevarieerde herhaling,
- selftoetsing, en
- goeie leergewoontes in ‘n werkbare leerprogram.
Hierdie inligting is oral beskikbaar, maar dit lê rond soos los pêrels. Wat ek gedoen het, is om die pêrels in te ryg in ‘n reeks doenbare leerstrategieë en gewoontes, en om dit uit te toets met alle soorte studente – van laerskool tot die moeilikste kursusse op universiteit, tot mense wat na universiteit vir professionele kwalifikasies en spesialisrigtings studeer.
4.) Vertel ons bietjie meer oor jou leerstrategieë – op die tuisblad van futuresharp (www.futuresharp.co) staan daar: “Begin with the end in mind” – dit word dus ’n reis. Kan jy hierop uitbrei?
Leer word deur baie mense as ’n onaangename aktiwiteit ervaar, gekenmerk deur druk, angs, spanning, laatnagstudie, en ’n wisselvallige mengsel van sukses en mislukking. Dit is egter nie hoe leer veronderstel is om te wees nie. Leer is ’n natuurlike en noodsaaklike proses om die uitdagings van jou omgewing en lewenswerklikhede die hoof te bied. In oertye het mense geleidelik geleer, begelei deur ervare lede van hul gemeenskap, en in reaksie op onmiddellike behoeftes. Leer was spontaan, ondersteunend en direk relevant vir die lewe.
Formele onderwys verander die leerproses
Met die koms van formele onderwys het die leerproses egter drastiese veranderinge ondergaan, dikwels losgemaak van sy oorspronklike doelgerigtheid. Een manier om terug te keer na ’n meer natuurlike en betekenisvolle manier van leer, is om te fokus op waarom ons leer, eerder as net op wat en hoe om te leer.
Die leerproses kan beskryf word as ’n reis van Identiteit, Bemeestering en Nalatenskap: Ek ontdek wie ek is, ek ontwikkel die vermoë om te kan, en ek streef daarna om ’n verskil te maak. Deur met die einddoel in gedagte te begin—die soort impak wat jy op jou lewenspad wil hê—word leer ’n doelgerigte en motiverende proses.
In oertye was leer lewensbelangrik: oorlewing het afgehang van die bemeestering van kennis, vaardighede en houdings wat direk toepaslik was. Vandag kan ons hierdie beginsel herontdek deur elke leergeleentheid te beskou as ’n stap na ons groter doelwitte. As ons leer koppel aan die waarde wat dit vir ons lewe en ambisies inhou—of dit nou is om ’n loopbaan te bou, ’n probleem op te los, of ’n nalatenskap te skep—word dit ’n aktiwiteit wat ons graag aanpak. Leer verander dan van ’n las in ’n lonende reis, gedryf deur relevansie en die belofte van persoonlike groei.
5.) Kan jy die ses stappe van transformatiewe leer kortliks opsom?
Die bemeestering van enige vaardigheid—of dit nou akademiese leerwerk, sportprestasies, of hand- en tegniese vaardighede is—volg ses duidelike fases wat transformatiewe leer moontlik maak.
- Fokus jou aandag op wat jy wil leer of doen, met volle konsentrasie.
- Verstaan waaraan jy aandag gee en hoe dit verbind met wat jy reeds van die onderwerp weet, om ’n konteks te skep.
- Benader die materiaal geleidelik sodat dit bereikbaar voel en nie oorweldigend of ontmoedigend is nie.
- Maak seker dat die inhoud vir jou betekenisvol en relevant is—dit moet nuttig genoeg wees om te wil leer en toe te pas.
- Jy moet die onderwerp in diepte bemeester deur dit grondig te verstaan.
- Laastens, moet jy in staat wees om die kennis of vaardigheid te herroep, te gebruik en effektief toe te pas.
Deur hierdie ses fases te volg, ondergaan jou brein ’n werklike transformasie deur die vorming van nuwe neurale verbindings wat vinnig en doeltreffend funksioneer.
6.) Hoe maak ‘n mens ‘n kind regtig lief vir leer? Is daar iets wat ouers en onderwysers kan doen om dit aan te help?
Kinders is besig met identiteitsvorming en kyk na ouers en onderwysers as rolmodelle, wat hul houding teenoor leer beïnvloed. Spandeer kwaliteit tyd saam met kinders en leer op ’n prettige, drukvrye manier om ’n positiewe assosiasie met leer te skep. Hierdie benadering benut die oerinstink van sosiale leer, wat oksitosien vrystel—’n hormoon wat leer aangenaam en effektief maak. Ouers en onderwysers kan kinders se nuuskierigheid aanwakker deur te vra, te gesels en ondersteuning te bied op maniere wat natuurlik en bemoedigend voel.
7.) Dink jy tradisionele onderrig dra enigsins by tot party leerders se weersin in leer? Sou jy ‘n ander onderrigmodel voorstel?
Onderrigmodelle ontwikkel oor tyd, elk met sterkpunte en beperkings. Effektiewe onderrig moet aansluit by die brein se natuurlike leerprosesse, maar ook rekening hou met die spesifieke konteks en omstandighede van leerders.
In die hedendaagse era maak kunsmatige intelligensie (KI) kennis maklik toeganklik, maar die fokus moet bly op die opbou van diepgaande begrip en vaardighede. Deur KI eties en strategies in onderrig te integreer, kan onderwysers leer verryk en leerders se betrokkenheid versterk, sonder om KI die werk namens hulle te laat doen. Hierdie benadering bevorder ’n liefde vir leer deur relevansie en persoonlike groei te beklemtoon.