Skrywers: Annelie van Jaarsveldt & Yolandi van den Heever
Die voorskoolse jare is die heel belangrikste jare in ons kinders se skoolloopbaan en ’n baie gespesialiseerde veld. Dit is wanneer hulle perseptuele vaardighede ontwikkel en dit is hierdie vaardighede wat die fondasie vir alle toekomstige formele leer vorm. Nog belangriker, is dat hierdie onderrig op die regte manier gedoen word. Afrikaans.com het Yolandi van den Heever van Oasis Club Learning gepeper met vrae sodat ons hierdie belangrike fase van ons kinders se ontwikkeling aan ons lesers kan verduidelik. Yolandi gee ook nuttige riglyne vir ouers oor wat om te doen om die meeste uit ons kinders se voorskoolse jare te kry.
Yolandi, verduidelik kortliks die leer deur speel-metode van onderrig en hoekom dit so belangrik is dat ons kinders moet beweeg terwyl hulle leer en nie net op hulle stoeltjies by die tafels moet sit en werkkaarte invul nie.
“Leer deur speel beteken dat kinders emosionele, fisiese sowel as kognitiewe vaardighede bemeester en aanleer sonder dat hulle die hele tyd by hulle tafels met werkkaarte besig is.” – Yolandi
Die leer deur speel-metode kan soms verwarring veroorsaak en ouers dink dalk juffrou sit in die son terwyl die kinders speel en sy doen dus nie veel nie. Dit is egter hoegenaamd nie die geval nie. Want … vir hierdie metode om te werk, moet die juffrou voorberei, die regte omgewing kies, beplan en bepaal watter vordering en uitkomste sy wil behaal. Sy skep dus ‘n omgewing waarbinne die kleuter op ‘n informele, speelse wyse hierdie uitkomste kan bereik.
Let wel:
Indien hierdie fase nie behoorlik aangepak word en ons kleuters nie op die regte maniere vir verdere leer voorberei word nie, begin die krake teen die einde van die grondslagfase graad 3 – 4) wys.
Leer deur speel beteken dat kinders emosionele, fisiese sowel as kognitiewe vaardighede bemeester en aanleer sonder dat hulle pal agter hulle boeke hoef te sit. Met die regte voorskoolse onderrigmetodes leer ons kleuters met hulle hele lyfies en span hulle al hulle sintuie in sodat hulle in die regte omgewing sinvol kan leer en ontwikkel.

Waarna moet ouers kyk wanneer hulle besluit by watter skool hulle hul kinders moet inskryf? En hoe weet hulle dat hulle kinders die regte voorskoolse onderrig by die skool sal ontvang – watter vrae moet hulle vra?
Vra die volgende:
- Registrasie: Is die skool geregistreer?
- Leerprogram: Daar is etlike programme op die mark en baie het ’n baie formele aanslag. Mens moet seker maak dat die program nie net vol werkskaarte en papierwerk is nie. Sodanige programme kom nie werklik by grootmotoriese ontwikkeling en ander perseptuele vaardighede uit nie.
- Voel jy gemaklik? As ouer moet jy ‘n lekker gevoel oor die skool hê. Dis belangrik om nie net die eerste en beste skool te kies nie. Laat jou kind toe om jou te lei in jou besluit – want as jou vriendin se kind gelukkig is by ’n spesifieke skool, is dit nie noodwendig die regte skool vir jou kind nie. As jy dus sien dat jou kind se gedrag verander, of hy is ongelukkig, skuif jou kind – daar is baie skole daarbuite.
Hoe kan ouers hulle kinders se vordering meet?
Nasionale riglyne en minimum standaarde: Daar is die nasionale riglyne (die Nasionele kurrikulumraamwerk van geboorte tot vier jaar oud) – en binne hierdie raamwerk is daar die sogenaamde ELDA’s (Early Learning and Development Area) wat ons die minimum standaarde gee wat beteken dat jou kind ten minste hierdie minimum standaarde teen die einde van die jaar moet bemeester. Dit gee dus ’n goeie aanduiding van die basisvlak. Dit is egter nie die alfa en die omega nie, maar slegs die vlak waar ons moet begin.
Ouderdom van jou kind: Jou kind se ouderdom moet in berekening gebring word, veral omdat voorskoolse onderrig oor ‘n wye spektrum strek – van geboorte tot ses jaar. Die baba se behoeftes is dus anders as die van ‘n graad R-kleuter en so meer.
Genoeg ruimte vir speel en ontwikkel: ‘n Groot buiteterrein met baie natuurlike hulpmiddels is van kardinale belang vir ontwikkeling. Moet jou nie blind staar teen nagemaakte gras en ‘n magdom plastiek speelgoed nie. Dit lyk dalk baie mooi, maar uiteindelik is kleiner klassies met genoegsame spasie die ideaal. Raak die klasse te groot is die lawaai oorweldigend en die sensoriese insette raak net te veel vir dié ouderdomsgroep.
Verwagtinge: Maak ‘n lys van die dinge wat onderhandelbaar is en dit wat jy nie bereid is om prys te gee nie. Is jy bereid om jou verwagtinge aan te pas of nie. Wat kan jy bekostig?
Ken jou kind: Ken jou kind, want dit gaan jou lei om die regte soort skool vir jou kind te kies. Is jou kind ’n introvert wat floreer in klein groepies of ’n ekstrovert wat weer op sy beste presteer in ’n besige omgewing omring deur baie maatjies sodat hy kan woel en werskaf?
Ouers moet dus hulle huiswerk behoorlik doen voordat hulle besluit op die geskikte skool. Moenie jou ore uitleen aan ander nie – besluit self, want elke gesin se behoeftes verskil.

Wat is die slaggate om voor uit te kyk?
- Vertrou op jou eie oordeel. Iemand anders se persoonlike ervaring by ’n skool het dalk daardie persoon se persepsies beïnvloed en dit is nie noodwendig op jou situasie van toepassing nie.
- Gevaartekens? As daar gevaartekens is, tree onmiddellik op – jy as ouer is die enigste persoon wat kan besluit as jy nie met iets kan saamleef nie.
- Is die skool dalk belangriker as die kind? Is die skool vol allerhande foefies, buitemuurse aktiwiteite, hierdie musieklesse en daardie kunsklasse, maar die werklike aandag aan die kinders ontbreek? Onthou: Al die skynbaar “belangrike” goed beteken nie dat daar noodwendig waarde tot jou kind se onderrig en ontwikkeling toegevoeg word nie.
- Is daar ’n verandering in jou kind se gedrag en emosies? Jou kind was byvoorbeeld heeltemal van die doeke af en skielik begin hy sy broekie nat- of vuilmaak. Of hy het nie meer ’n fopspeen nie en begin skielik weer duim suig.
Onthou, jou kind gaan huil en sê dat hulle nie wil skool toe gaan nie – net soos wat hulle in die Spur huil omdat hulle nie wil huis toe gaan nie. Dit beteken nie die huis is traumaties nie, dit beteken net die Spur met sy klimapparaat is vir hulle ’n lekkerder plek.
Kinders hou daarvan om by hulle ma’s te wees, omring deur hulle eie goed wat hulle nie met ander kinders hoef te deel nie en mamma maak die kos waarvan hulle hou en by die skool moet hulle eet wat juffrou sê en hy hou dalk nie daarvan nie. Dit is alles redes wat jou kind oënskynlik sku vir skool toe gaan maak.
Onderskei dus mooi – is daar werklik ‘n probleem, of is die kind net baie lief vir jou? Wees ook verseker: die deursnit kleuterskoolonderwyser wil net die beste vir jou kind hê.
- Wees betrokke by die skool, veral op voorskoolse en grondslagfasevlak. Kleuters kan nog nie vir hulleself praat nie. Daarom moet ouers inmeng en elke dag uitvind hoe dit met hulle kind gaan en ook die onderwyser in kennis stel as iets ongewoon gebeur het wat die kind se gedrag kan beï Juffrou moet weet van hierdie gebeure. Ook van huismoles.
Onderwysers is verpligte aanmelders en as die onderwyseres probleme by jou kind optel en onraad vermoed, moet sy dit aanmeld. Praat met haar voordat daar ’n misverstand is.
- Maak seker jy kan die skool bekostig. Kleuterskole is privaat en onafhanklik en kan nie afslag gee nie.
Wat is die ratio van onderwyser-kind in die klaskamer?
Daar is ’n ideale getal kinders per klaskamer soos in die Kinderwet vervat. Dit is:
- Geboorte tot 18 maande: 1 volwassene vir elke 6 kinders.
- 18 maande tot 3 jaar: 1 volwassene vir elke 10 kinders.
- 3 tot 6 jaar: 1 volwassene vir elke 20 kinders.

Nie almal kan bekostig om hulle kinders by die beste VKO-skole in te skryf nie, dalk bly hulle in ’n ander area of het nie vervoer nie – en dan moet hulle dikwels die verantwoordelikheid van onderrig self behartig. Is daar bronne of hulp beskikbaar om so ’n ouer by te staan?
Daar is baie hulp daarbuite – baie daarvan gratis. So het Oasis Club Learning byvoorbeeld bokse vir jaargroepe wat bestel kan word. Daar is ook die Leerhulpafdeling op Afrikaans.com (sien lees meer onderaan die artikel vir die voorskoolse hulpbronne) waar volledige lesplanne en remediërende hulp aangebied word.
Let wel: Tuisonderrig is wettig in Suid-Afrika, maar jy moet jou kind registreer. Kontak gerus Oasis Learning vir leiding in die verband. En onthou ook, dit is nie vir almal nie en beslis ook nie vir alle kinders geskik nie. Neem dus ’n ingeligte besluit voordat jy die roete kies.
Hoe behoort so ‘n tipiese “tuisskooldag” daar uit te sien?
Dis eintlik so lekker, want alles wat jy by die huis doen, is skool. As jy skottelgoed was en jy betrek jou kind daarby en julle gesels oor die seep en die borrels (dis wetenskap) en jy was die bord met die lappie en hy word skoon (oorsaak en gevolg) en die bord word afgedroog – dit was nat en nou word dit droog (teenoorgesteldes, taalaktiwiteit) en daarna word die borde en koppies gesorteer – groot borde kom saam, klein borde kom saam … alles alledaagse en natuurlike prosesse om jou kind by die huis te leer.
Nog ’n leergeleentheid is om winkel toe te gaan. In die winkel leer jou kind van meer en minder, oefen hy sy geheue en baie meer. Alles terloopse leergeleenthede.
Gerigte aktiwiteite. Gewone daaglikse aktiwiteite by die huis en buite maak alles deel uit van die leer- en ontwikkelingsproses. Ouers kan egter 30 minute (of so lank as wat jou kind kan konsentreer) afstaan aan een of twee gerigte aktiwiteite (soos uiteengesit in o.a. die lesplanne op Afrikaans.com). Of kontak Oasis Learning om meer te wete te kom oor hulle 15 minute per dag-kurrikulum.
Lees. Sekerlik een van die belangrikste geskenke wat jy vir jou kind kan gee. Lees baie saam. Stel jou kind bloot aan stories en boeke en ontwikkel so sy verbeelding en kognitiewe vaardighede.
Die heel belangrikste? Moenie stil wees nie – gesels, wys en doen!
Mense sê dikwels dat hulle bekommerd is oor hulle kinders se sosiale omgang as die kinders nie na ’n tradisionele skool toe gaan nie. Is dit iets om oor bekommerd te wees?
Ek dink mense bekommer hulleself onnodig hieroor. Hou in gedagte: Klein kinders het nie eintlik maats nodig nie. Tot ongeveer vierjarige ouderdom is hulle ma vir hulle die belangrikste. Daarna begin hulle eers regtig aandag gee aan maatjies en is mens dikwels verstom oor hoe maklik hulle maatjies maak (hulle weet nie noodwendig wat die maatjie se naam is nie, maar hy is ’n maatjie!). In dié fase is maats maak iets wat per geleentheid gebeur.
Hier vanaf 9 jaar begin dit belangrik raak om deel van ’n groep te wees, want ons almal hunker mos maar na ons eie mense (ons eie “village”) waar ons inpas en gemaklik voel.
Wat is sosiale verkeer werklik?
Sosiale omgang beteken eintlik om met mense van verskillende ouderdomme, omgewings, beroepe, ens. te doene te kry. Daarom beveel ek aan dat ouers wat hulle kinders tuis onderrig, in aanraking kom met tuisskoolgroepe. Hierdie groepe reël sosiale geleenthede.
‘n Laaste opmerking
Jy besluit dalk om jou kind na vanaf graad 1 na ’n tradisionele skool toe te stuur en daarom is dit belangrik om dan liefs die CAPS-program te volg wanneer jy jou kind tuis onderrig sodat hulle gemaklik by enige skool kan aansluit. Dit is ook ’n goeie idee om die skool wat jy in gedagte het se opedag vir graad 1’s by te woon. Hoewel skole verkies dat jou kind graad R by die skool doen, kan hulle jou nie wegwys nie en kan jy gerus ’n afspraak maak om met hulle te gesels. Oasis Learning kan jou ook bystaan in die proses.
Vir meer inligting, kontak gerus vir Yolandi van den Heever van Oasis Learning by:
Vir die volledige lesplanne en meer op Afrikaans.com se Leerhulpblad, klik hier:
Voorskool – Afrikaans.com – hier vind jy riglyne oor skoolgereedheid en volledige weekplanne van graad pre-R en R tot 2 tot 4 jaar.
Graad 1 – 3: Laerskool – Afrikaans.com
Lees meer:
Waarom is speel so belangrik? – Afrikaans.com
Prikkel jou kind se nuuskierigheid – Afrikaans.com
Die speelgrond van wiskunde behels méér as net ʼn kennis van getalle – Afrikaans.com
Juffrou: Laat kleuters veilig voel sonder mamma aan hul sy. Hier is wenke. – Afrikaans.com
Kinders moet speel en aktief wees om te ontwikkel en te leer. – Afrikaans.com
Vroeëkinderontwikkeling (VKO): Hoekom is dit so belangrik? – Afrikaans.com