Skrywer: Seugnet van Zyl
As die bekroonde regisseur van die voorste Afrikaanse rolprente, is Katinka Heyns onlangs deur die Indiese konsulaat in Johannesburg vir haar lewensbydrae vereer.
Katinka se bekendste rolprente sluit onder meer Fiela se kind, Paljas, Die Storie van Klara Viljee en Die Wonderwerker in.
Sy en haar man, die skrywer, Chris Barnard, wat in 2015 oorlede is, is destyds vanweë hul roprent Paljas na Hyderabad, Indië, genooi.
Dié toekenning is op Internasionale Vrouedag aan Katinka oorhandig.
Hoewel sy deur sommige as ’n feminis beskou word omdat vroue meestal die hoofrolle in haar rolprente vertolk, lag sy maar net daaroor in ’n onderhoud met RSG. “Al my rolprente het nie gegaan oor vroue nie, maar sterk mense met integriteit”.
“Dit was mans wat my in staat gestel het om te fokus op die ‘sagter’, meer delikate aspekte van storievertel.” – Katinka Heyns (op Litnet – 2017)
In die RSG-onderhoud, sê Katinka dat erkenning altyd iets vir haar beteken.
Al het sy eers as aktrise in die Afrikaanse rolprentbedryf naam gemaak, sê Katinka sy is gemakliker agter die lens. Mense interesseer haar vreeslik en as regisseur is sy ook in die posisie om vir akteurs ’n “heilige area” te skep, vertel sy verder in die RSG-onderhoud.
Sy het saam met die room van Suid-Afrikaanse talent soos Marius Weyers, Anna-Mart van der Merwe, Dawid Minnaar, Shaleen Surtie-Richards en Elize Cawood gewerk.
Volgens haar is Marius soos ’n broer vir haar.
“Ons het saam grootgeword (in die rolprentbedryf). Ek is so lief vir Marius.”
Met Anna-Mart het sy onmiddellik geresoneer en het haar toe die hoofrol in Die Storie van Klara Viljee aangebied.
Katinka vertel stories het saam met haar en Chris gegroei.
Die Wonderwerker, wat die storie van Eugéne Marais vertel, was die laaste fliek wat sy as regisseur, en wyle Chris, wat vir die draaiboek daarvan verantwoordelik was, saam gemaak het.
In ’n onderhoud met Litnet sê Katinka sy was van kleins af verlief op stories.
“Ek was van kleins af verlief op stories. My pa het met my die geheim gedeel dat die meerminne van Waenhuiskrans vir my pêrels versamel. My ma Katie het saans voorgelees uit die Nasionale Kinderensiklopedie waarin klassieke verhale van dwarsoor die wêreld vervat is. Daarenteen het my ouma Kat stories vertel van haar ervaringe as kind in die Anglo-Boereoorlog. Hartroerend. Sy was ’n begaafde storieverteller.”
Luister gerus na die onderhoud wat in Op en wakker op RSG met Katinka gevoer is:
https://www.rsg.co.za/rsg/omny/katinka-heyns-vir-lewensbydrae-vereer/
Lees LitNet se onderhoud met Katinka: