Persverklaring
Foto bo: Phillip Louw en Johan Holtzhausen
Christo Els is met ’n gelukkige trekking aangewys as die 2025-wenner van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg ’n Woord-Sanlamprys van R25 000. Die trekking is onlangs behartig deur die voorsitter van die WAT Trust, Johan Holtzhausen, en dr. Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT.
Els het die woord “nagkantoor” gekoop as geskenk aan sy vriend en eienaar van die Nagkantoor Kuierkroeg op Kaapsehoop, oudjoernalis De Wet Potgieter.
Hulle het bevriend geraak terwyl hy self ook op Kaapsehoop gebly het. “Nagkantoor is ’n baken in Kaapsehoop en het ook ’n groot teenwoordigheid op sosiale media. Daar ek en De Wet uit dieselfde generasie spruit en omdat ons ook baie raakpunte deel, het ons redelike goeie vriende geraak,” verduidelik Els. “Toe ek weer woorde wou koop, het ek gedink dit sou ’n gawe geskenk wees vir ’n vriend om sy handelsmerk te verewig op ’n unieke manier en as blyk van waardering vir sy vriendskap.” Naas “nagkantoor” het hy oor die afgelope jare ook die woorde “leeu”, “lieplapper”, “niksnut”, “padloper” en “vagebond” gekoop om sy waardering vir die werk van die WAT te illustreer:
“Ek lees soms die HAT & WAT vir ontspanning!”

Christo, Deanne en De Wet voor die Nagkantoor.
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg ’n Woord-projek bestaan sedert 2010. Dit is nie alleen ’n belangrike fondsinsameling vir die WAT nie, maar skep ook ’n bewustheid van die waarde van woorde en van die kleurrykheid, omvang en veelseggendheid van Afrikaans by die breër publiek.
Almal wat woorde borg of koop, kom in aanmerking vir die jaarlikse Borg ’n Woord-Sanlamprys van R25 000. Volgens Phillip Louw is die jarelange vennootskap met Sanlam van groot waarde vir die WAT: “Dit is ’n groot voorreg om Sanlam as getroue ankerdonateur te hê, en hulle bydraes speel ’n belangrike rol in die Tienjaarplan om die WAT voor die einde van die dekade tot by Z te voltooi.”
Woorde kan teen R100 per woord geborg word, en elke deelnemer ontvang ’n sertifikaat en ses maande se toegang tot die Aanlyn WAT. Jy kan ook ’n woord eksklusief koop teen R5 000, wat beteken dat niemand anders weer hierdie woord kan borg of koop nie. Naas die sertifikaat en toegang tot die Aanlyn WAT, kwalifiseer hierdie skenkings ook vir ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat.
Indien jy ’n woord wil borg of koop, besoek www.wat.co.za en klik op Borg ’n Woord.