Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Weier jou kind om die meeste soorte kos te eet? Is hy uiters gesteld op die tekstuur, voorkoms en smaak van kos? Loop hy ‘n wye draai om die tafel en sal eerder iets anders doen as eet? Dalk is hy net baie kieskeurig – party mense noem dit sommer fiemies – maar dan weer, hy ly dalk aan ‘n eetversteuring. Hier praat ons nie van iets soos anoreksie nie, maar wel van: Vermydende beperkende voedselinnameversteuring (Avoidant Restrictive Food Intake Disorder: ARFID). ’n Mondvol? Juis nie. Afrikaans.com vertel jou meer oor hierdie versteuring.
Wat is Vermydende beperkende voedselinnameversteuring (ARFID)?
“Die persoon met ARFID is nie begaan oor gewig of liggaamsvorm nie, maar ervaar geweldige angs wat gepaard kan gaan met negatiewe gevoelens oor hulself omdat hulle dit onmoontlik vind om sekere kossoorte of voedselgroepe te eet of selfs te probeer eet. Onthou egter, die persoon met ARFID is soveel meer as net die eetversteuring.” – Jackie Harding, psigoterapeut, Soul Therapy
Hierdie versteuring is ’n redelik nuwe (2013) diagnose in die DSM-5-handleiding en verteenwoordig ‘n herformulering van die toestand wat voorheen bekend gestaan het as “Feeding Disorder of Infancy or Early Childhood” – m.a.w. voedelsteurnis by klein kinders of in die vroeë kinderjare. Die persoon/kind word ook dikwels verkeerdelik gesien as vol fiemies of uitsoekerig (“picky”) of in ’n fase waar hy sekere kossoorte weier. Dit is egter soveel meer as net tipiese ontwikkelingseetgedrag en wanneer dit nie behandel word nie, kan dit lei tot ’n ernstiger weersin in sekere kossoorte, voedingstekorte en sielkundige gevolge, soos angstigheid – veral as dit met kos of eet te make het.
Individue wat hieraan ly, beperk die hoeveelheid en verskeidenheid van die kossoorte wat hulle inneem, maar in dié geval word die kieskeurige etery gemotiveer deur ‘n gebrek aan belangstelling in kos of om te eet, sensoriese sensitiwiteit en/of ‘n vrees vir negatiewe nagevolge indien die persoon wel die kos sou eet, bv. verstikking of vomering. Navorsing oor ARFID is beperk, maar tot dusver het studies bevind dat tussen 0.5 – 5% van kinders en volwassenes hieraan ly. Omdat die kind se dieet so beperk is, kan dit tot mediese, voedings- en/of sielkundig-sosiale probleme lei.
Wat is die eienskappe om na op te let?
Die voorkoms van ARFID kan enige tyd vanaf geboorte tot met die ouderdom van vier voorkom en kan tot in die volwasse jare voortduur. Hoewel dit gewoonlik in die vroeë kinderjare kop uitsteek, kan die toestand op enige ouderdom voorkom.
Die vermyding van kos het in die geval van ARFID niks met gewig of liggaamsvorm te doen nie, maar hou verband met vrees of angs wat met die spesifieke kossoorte gepaard gaan.
Belangrik: Die meeste kinders is kieskeurige eters tussen die ouderdom van 18 maande en drie jaar, maar dit is fases wat gewoonlik na ‘n paar weke of maande verdwyn.
- Die kind met ARFID weier dikwels hele voedselgroepe, soos groente, vleis of suiwel en sal ‘n sekere voedselgroep in sy geheel vermy.
- Die kossoorte wat die kind eet, is uiters beperk.
- Kossoorte word volgens die sensoriese eienskappe daarvan, vermy. Dit sluit in die reuk, smaak of tekstuur.
- Die kind eet nie kos wat in een bord aangebied word en dan aan mekaar raak nie. Hy meng dus nie kossoorte nie.
- Die kind sal ten spyte van honger, steeds weier. (In die geval van ‘n kieskeurige eter, sal hy wel eet as hy honger is.)
- ‘n Vorige slegte ervaring met ‘n spesifieke kossoort, soos verstikking of dalk voedselvergiftiging, kan as rede gegee word hoekom daardie kossoort nie geëet word nie.
- Die kind sal vrees en sigbare angs ervaar as ‘n nuwe kossoort aangebied word. Die reaksie wat dit tot gevolg het, kan die volgende insluit:
- Spanning in die skouers en ander spiere.
- ‘n Gevroetel.
- Sweet en bewerasie in veral die hande.
- Kan nie na die kos kyk nie.
- Wil dadelik opstaan en wegloop.
Nog tekens om na op te let:
- Is hardlywig, het maagpyn, kry baie maklik koud, is lusteloos, of is duiselig.
- Kla voortdurend oor vae spysverteringsprobleme (omgekrapte maag, voel versadig, ens.).
- Sukkel om te konsentreer.
- Bloedtoetse toon anemie, lae tiroïedfunksie en hormoonvlakke, lae kaliumvlakke, bloedtelling is laag en hartklop is stadig. Beendigtheid kan ook geraak word.
- Wondgenesing is swak en immuunstelsel funksioneer nie na wense nie.
Herken verwante afwykings.
ARFID kom dikwels saam met ander mediese of emosionele toestande voor. As een van hierdie ander toestande by die individu gediagnoseer is, is ARFID ‘n meer waarskynlike diagnose as bloot net ‘kieskeurige eter’. Oorweeg die moontlikheid van:
- Obsessief-kompulsiewe versteuring (“OCD”)
- Outisme
- Voedseltrauma
- Mond-motoriese vertraging
- Slukprobleme
- Sensoriese prosesseringsversteuring
- Maagdermstoornisse

Hoe word ARFID gediagnoseer?
Volgens die DSM-5 TR, word die toestand gediagnoseer wanneer die volgende manifesteer:
‘n Eetversteuring wat geken word aan die aanhoudende weiering van voedsel wat lei tot:
- Aansienlike gewigsverlies of belemmerde groei by kinders.
- Afhanklik van voedingsaanvullings (dit kan buisvoeding insluit).
- Merkbare inmenging met sielkundige en sosiale funksionering.
- Die versteuring het niks te make met kulturele taboes of ‘n gebrek aan kos nie.
- Dit word nie geassosieer met ander eetversteurings, soos anoreksie of bulimie nie.
- Kos word nie geweier om gewig te beheer of die liggaamsvorm te verander nie.
- Die eetversteuring kan nie toegeskryf word aan ‘n mediese toestand of ander geestestoestand nie.
Behandeling
“Herstel is moontlik, maar dit kan moeilik wees. Die ARFID-lyer moet geleer word om anders na kos te kyk en om nie so angstig en vreesbevange oor kos en eet te wees nie – sodat hulle met selfvertroue die lewe kan begin ervaar en geniet.” – Jackie Harding, psigoterapeut
Vir persone met ARFID, kan hul sensoriese sensitiwiteit, gebrek aan belangstelling en fobies/vrese ten opsigte van sekere kossoorte op die oog af lyk soos anoreksie, maar omdat dit juis nie ‘n eetversteuring is wat gekoppel is aan gewigsverlies nie, en die persoon werklik bang is vir kos en eet, is die behandelingsplan baie anders. Dit is ook die rede hoekom die persoon wat verkeerdelik met anoreksie gediagnoseer word, kan lyk asof hulle nie belangstel nie en vasskop teen die behandeling. Vir so ‘n persoon voel dit asof hy nie “gehoor” word nie en hulle verloor dus vertroue in die behandelingsproses.
Daar is steeds nie ‘n gestandaardiseerde behandelingsprotokol nie. Daarom sê die psigoterapeut, Jackie Harding (sy spesialiseer in eetversteurings en ARFID spesifiek) dat elke pasiënt se behandeling volgens sy unieke behoeftes aangepas moet word – juis omdat die oorsake en manifestasie van die versteuring so varieer. ‘n Veelsydige benadering met blootstellingsterapie word voorgestaan. Die behandeling moet geplooi word om die persoon se kalorieinname te bestuur en ook om die verskeidenheid van kossoorte wat die persoon kan eet (sy sogenaamde veilige kos), uit te brei.
Begin dus, sê Jackie, met die veilige kosse om mediese stabiliteit te bereik. Algemeen aanvaarbare maaltye is nie hier ter sprake nie – natuurlik binne perke. Maar … as die persoon koek vir ontbyt wil eet, dan is dit nou maar so, of as hy eers nagereg wil eet en dan dalk middagete, dan is dit ook reg. Die doel is om die vrees vir kos en eet te bestuur. Daarna verskuif die fokus na verskeidenheid – dis die blootstelling waardeur pasiënte geleidelik uit hul gemaksones gedwing word en bereid is om ook “onveilige” kos te probeer.
Om ARFID te behandel behels dikwels ‘n span van gesondheids- en geestesgesondheidkundiges wat natuurlik weet hoe om hierdie spesifieke eetversteuring te behandel. En dit is waar die toffie taai raak, sê Jackie, want so baie van die dokters, sielkundiges en terapeute is gewoon net nie op hoogte van presies wat ARFID is nie. Volgens Jackie is hipnoterapie dikwels ‘n goeie tegniek om te gebruik en om die pasiënt te onderrig in tegnieke wat hulle kan help om bewustelike regulering toe te pas, soos byvoorbeeld meditasie of asemhalingstegnieke. Die persoon moet letterlik geleer word om hongerpyne te herken en omdat hulle vinnig “vol” voel, is dit nog iets wat aangeleer moet word, naamlik om te onderskei tussen ‘n vol gevoel en om werklik versadig te wees.

Sê Jackie: “Om ‘n manier te vind om die ARFID-lyer te laat voel dat hy of sy in beheer is en self kan kies, verminder angstigheid. Met ander woorde, laat die kind vrye keuse toe, en haal die reëls rondom eet en voedselkeuses weg – natuurlik binne perke.”
Omdat dit so ‘n relatief nuwe diagnose is, is navorsing oor die doeltreffendheid van die verskillende behandelingsmetodes beperk, maar die meeste sluit een of ander vorm van gesinsgebaseerde terapie, kognitiewe gedragsterapie of ouergebaseerde gedragsbenaderings in. ‘n Kombinasie van behandelings blyk gewild te wees. Soos:
- Kognitiewe gedragsterapie – korttermynterapie wat op die simptome fokus en dit strategies behandel. Veral in die geval van adolessente blyk dit doeltreffend te wees om die felheidsgraad van simptome te verminder.
- Familiegebaseerde terapie – familielede maak deel uit van die behandeling en word bemagtig om die familielid wat ARFID het, te ondersteun. Hier is dit belangrik om te noem dat almal wat deel is van die kind se binnekring op dieselfde bladsy moet wees. Grootouers, uitgebreide familie en selfs versorgers en onderwysers – met ander woorde diegene wat kontak het met die kind – moet weet hoe om op te tree. Dit kan heelwat angs, konflik en onnodige negatiewe kommentaar, en veral ook skuldgevoelens (by die ouers) uitsluit.
- Ondersteunende ouerskap vir angstigheid by kinders – help ouers om hulle kind se problematiese eetgewoontes te hanteer en om die kind aan te moedig om ‘n groter verskeidenheid van kossoorte te probeer.

Belangrik: Dit maak nie saak watter behandeling gekies word nie, dit is noodsaaklik om so gou moontlik professionele hulp te kry. Vroeë intervensie lei tot meer positiewe uitkomste. En ja, dit is moeilik om ‘n onderskeid te tref tussen kieskeurigheid (“picky”) en ARFID wat langtermyngevolge inhou. Onthou net, jou ware kieskeurige eter eet steeds ‘n verskeidenheid van kossoorte – nie net een of twee nie. As jou intuïsie egter vir jou sê daar is meer agter jou kind se vermyding van die meeste kossoorte en dit boonop gepaard gaan met angstigheid, ongesonde ontwikkeling, en ‘n impak op hul emosionele gesondheid het, dan volg jy jou instink en kry hulp.
So maak ‘n mens om te help
Die kos is vreesaanjaend. Praat oor die kos, kyk na die kos, ruik daaraan, plaas dit op die vurk, moedig die kind aan om ‘n happie te neem – soms bou ‘n mens strestoleransie op deur net oor die kossoort te praat en sonder dat die kind ‘n braakbeweging maak (“gag”).
Gee jouself tyd. Dit kan lank neem – twee jaar en langer. Vrese moet een vir een gekonfronteer word.
Sensoriese sensitiwiteit. Party mense sukkel met ’n sensoriese sensitiwiteit, terwyl ander bang is om te eet omdat hulle bang is vir verstikking, vomering of selfs allergieë.
Met die regte ondersteuning kan ARFID behandel word, maar behandeling moet dikwels pasgemaak word om die persoon te help sodat hulle uiteindelik hulle dieet kan uitbrei en hul angstigheid ten opsigte van voedsel en eet kan verminder.
Wat is anoreksie (anorexia nervosa)?
Anoreksie word gekenmerk deur beperkte inname van voedsel wat spruit uit ‘n preokkupasie met ‘n persoon se gewig of liggaamsvorm. Hulle is bang om gewig op te tel, neem deel aan ander ekstreme gedrag om hulle gewig te beheer (soos byvoorbeeld ekstreme oefensessies) en kyk na hul voorkoms en liggaamsvorm deur ‘n verwronge lens.
Wat is ARFID?
Dis ‘n eetversteuring wat vir die oningeligte soos anoreksie of ‘n baie streng dieet kan lyk, maar heeltemal daarvan verskil. Dit is in essensie: ‘n Gebrek aan belangstelling in eet of kos, want …
- Eet voel soos werk.
- Die persoon het sensoriese aversies – reuke, smaak, tekstuur, temperatuur of selfs die voorkoms van kos.
- Dit is ‘n vreesgedrewe vermyding van eet weens bekommernis om te verstik, vomeer of vir ‘n allergiese reaksie.
- Dit meng in met sosiale interaksie, veral waar daar kos of eet by betrokke is.
Belangrik: ‘n Kossoort wat vandag aanvaarbaar is, kan môre onaanvaarbaar wees – dit is verwarrend omdat dit soos dieet lyk, maar dit is juis nie dit nie. Kos lyk nie net onsmaaklik nie, maar dit voel letterlik soos ‘n bedreiging.
Rebecca Scritchfield – Body Kindness – sê:
“For someone with ARFID a plate of plain spaghetti might feel like a plate of snakes. If someone puts snakes in front of me, I would be afraid too. I wouldn’t eat it.”
Hier is ‘n voorbeeld in die dag van ‘n gesin wie se dogter ARFID het:
Die gesin is op ‘n daguitstappie en die houer met die kind se “veilige” kos, het vergete gebly in die kombuis. Teen die tyd dat hulle dit agterkom, is hulle in ‘n omgewing waar daar nie een plek is wat die kos aanhou wat die kind kan eet nie. Sy is later doodhonger, voel duiselig en naar, en is geweldig angstig, maar kan haarself net nie sover kry om die kos wat beskikbaar is, te eet nie. En dít is die realiteit. Dit het niks te make met hardkoppigheid, moedswilligheid en so meer nie – dit is ‘n sielkundige struikelblok wat empatie en begrip verg.
Ten slotte
Dit is dikwels moeilik om te besef daar skort iets met jou kind se eetgewoontes, veral wanneer hulle nog klein is en dikwels sekere kossoorte weier, maar die kieskeurige eter ontgroei dit gewoonlik. Wanneer die kind egter skielik sy lys van kossoorte verder verklein en van die tekens of simptome soos in die artikel beskryf, begin wys, en/of sy fisiese of emosionele gesondheid word geraak, is dit raadsaam om verdere ondersoek in te stel.
Ware ARFID is ‘n eetversteuring wat nie vanself weggaan nie en dit is ‘n konstante stryd wat professionele kundigheid en behandeling vereis. So ‘n kind kan nie gedwing word om te eet nie, want dit lei bloot tot nog meer angstigheid, want ARFID is hoofsaaklik angsgedrewe.

Bronne:
Avoidant Restrictive Food Intake Disorder – NEDA
Persoonlike gesprek met Jackie Harding, psigoterapeut by Soul Therapy (VK)