Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Vir enige vroue wat ‘minder as’ voel: Moenie toelaat dat ander jou definieer nie. Hou vas aan jou waarheid en vier dit wat jy is.”
– Margaret Gardiner in rooi rose aanlyn (Maart 2025)
Sy is lank, slank … beeldskoon en sy is onbeskaamd Suid-Afrikaans en lief vir Afrikaans. Dit is Margaret Gardiner. In 1978, net 18 jaar oud, het Margaret Gardiner die wêreld aan haar voete gehad toe sy die eerste persoon uit Afrika en Suid-Afrika was om as Mej Heelal gekroon te word. Deur die jare het sy getrou aan haarself gebly, haar mening gelug wanneer nodig en altyd deernis getoon. Haar verbintenis aan persoonlike groei het haar lewe en loopbaan gevorm. Vandag woon Margaret en haar gesin reeds jare lank in Los Angeles waar sy ‘n bekende skrywer en joernalis is en gereeld op die rooi tapyt skouers skuur en onderhoude voer met die bekendes uit Hollywood.
Afrikaans.com het per e-pos – in Afrikaans – met Margaret gesels.
Jy het al twee boeke geskryf oor mode en skoonheid, maar so pas jou eerste roman, “Bedorwe skoonheid, Joey Superster”, vrygestel met die oorhoofse tema van die gevare en weerloosheid wat die glanswêreld kan inhou. Hoekom juis hierdie tema?
My eie ervaring van die glanswêreld waar ek eerstehands beleef het hoe mense in die kollig blootgestel word en genoodsaak is om mislukking te hanteer, was die dryfkrag agter hierdie boek – ‘n eerste in ‘n reeks “Bedorwe Skoonheid” (Damaged Beauty) wat ek beplan “oor goeie meisies wat volgens die reëls probeer speel, seergemaak en gebreek word, en eindelik die grense verskuif om te word wie hulle regtig is”.
Dit maak nie saak wie hulle is of watter beroep hulle beoefen nie, die temas in my boeke is die kwessies waarmee vroue daagliks stoei en wat hulle moet verduur. Tog word dit op die agtergrond geskuif en word daar nie oor gepraat nie. Met die glanswêreld as agtergrond, word hierdie temas binne ‘n veilige omgewing verken en bespreek en vind dit plaas sonder dat die individu haarself hoef bloot te stel. Hulle het begrip daarvoor dat ander dieselfde ervaar. Hulle soek antwoorde, nie om hulleself skade te berokken nie, maar in ‘n poging om gesonde hanteringstegnieke aan te leer om hierdie uitdagings te oorkom.
Om as 16-jarige alleen oorsee te gaan, moes baie moed geverg het, veral in die modewêreld. Was jy bang? Hoe het jy die uitdagings en versoeke hanteer?
Ek moet eerlik sê dat ek nie baie daaraan gedink het nie – daar was nie veel tyd om bang te raak nie. Ek het dit eerder beskou as ‘n geleentheid om iets anders te doen. Maar … ek moes vinnig leer. En … ek is bly om te sê ek het baie geleer.
Daar was natuurlik baie uitdagings en vreemde dinge waarmee ek as tiener te doene gekry het, maar ons as Suid-Afrikaners word mos nie maklik van koers af gelei nie. Die belangrikste was egter my ma se woorde voor my vertrek. Sy het gesê dat as ek enigiets onbetaamlik of ongewens sou doen, dit ‘n weerspieëling van haar sou wees. En dit was genoeg vir my, want ek sou nóóit iets doen om my ma te minag of in die verleentheid te stel nie!
So dikwels word mooi meisies as “dom” geklassifiseer – meestal die verkeerde aanname. Jy self is hoogs intelligent en intellektueel met ‘n besondere skrywerstalent. Hoe hanteer ‘n mens dit as mense sommer aanneem jy kan nie oor die diepere dinge van die lewe gesels nie?
Mense het mos maar hulle verwagtinge van ander wat hulle eie ervaringe as’t ware inkleur en is gewoonlik op soek na selfvervullende profesieë. Terwyl ek maar altyd hoop dat mense van my sal hou en my respekteer vir die mens wat ek is, lê my stukrag daarin dat ek altyd probeer om die beste weergawe van myself te wees. Ek aanvaar dit dat nie almal van my sal hou nie – en is oukei daarmee. Solank ek myself respekteer en gemaklik is met wie ek is. Ek ken myself. Daarom glo ek ook as mense nie van hulle kant af ‘n poging gaan aanwend om my te verstaan en my diversiteit en diepte raak te sien nie, dit ‘n refleksie op hulle is en nie op my nie.
Jy voer gereeld onderhoude met bekendes. Hoe hanteer jy die divas van die bedryf?
‘n Mens moet altyd probeer om hulle te “oorrompel” – aan jou kant te kry. My ondervinding is dat dit maar gewoonlik vrees is wat onaangename of ongemaklike optrede dryf. In moeilike situasies en as iets beledigend is, beperk ek die blootstelling. Die psige van die mens fassineer my, daarom hou ek daarvan om te verstaan hoekom mense op spesifieke maniere reageer. As die gesprek steeds nie wil vlot nie, soek jy maar liewer na die meer positiewe onderwerpe en praat daaroor.
Bernard Jordaan het ‘n groot rol in jou loopbaan as model gespeel. Kan jy meer vertel?
“Bernard Jordaan was die een wat die deur vir my oopgemaak het.”
Bernard het álles in my loopbaan beteken. Ek het nooit eens daaraan gedink om ‘n model te wees nie en nog minder om aan skoonheidskompetisies deel te neem. En die hele ontmoeting en wat daarna gebeur het, het eintlik per ongeluk gebeur. Bernard het my raakgesien en my aan die hoof van Elite-modelagentskap voorgestel. En dit was dit! Hy het my gevra om aan Mej Suid-Afrika deel te neem – die eerste veelrassige kompetisie ooit, maar ek was reeds op pad Italië toe. Tog het hy my oorreed en het ek die reis uitgestel om deel te neem. Die uiteinde was dat ek die Mej Heelal-titel verower het. Ja … Bernard was die een wat die deur vir my oopgemaak het.
Die kroning van Mej Heelal in 1978. As jy vandag terugdink aan daardie oomblik toe jou naam uitgeroep is as die wenner – wat het deur jou kop gegaan?
Dit was regtig onwaarskynlik dat ek sou wen, veral gegewe die heersende politieke klimaat in Suid-Afrika waarop ek nie wil uitbrei nie. Maar die hele kompetisie was amper soos ‘n fliek wat afgespeel het. Hier was ek – ‘n lang, donkerkop uit Afrika – meer nog, Suid-Afrika – teen die perfekte blonde Amerikaner. En tog … die uiteinde spreek vanself. Dit het regtig baie beteken om my land te verteenwoordig.
As jy aan jongmense moet raad gee oor hoe om te midde van die glitz en glam van die skoonheids- en vermaaklikheidswêreld geanker te bly, wat sal dit wees?
Vra jouself die vraag: “Hoekom wil ek dit hê? Wat wil ek daaruit kry?” Weet wat daar van jou verwag gaan word en wat die koste daaraan verbonde kan wees. En wees dan versigtig dat die prys nie te hoog of te skadelik is nie.
Sosiale media is deel van die moderne wêreld, en talle positiewe dinge gebeur op die platforms, maar dis ook die plek waar kuberboelies en trolle skuil wat dikwels die aakligste goed kwytraak. Lees jy dit en hoe hanteer ’n mens dit – veral as dit boonop twak is?
“Sosiale media dwing ons dikwels om onmoontlike standaarde na te streef. Niemand behoort wreedheid of haat te ervaar bloot omdat hulle in die kollig leef nie. Ons moet saamwerk om ’n meer positiewe aanlyn gemeenskap te skep.”
– Margaret Gardiner, rooi rose aanlyn (Februarie 2025)
Ek is mal oor die wisselwerking tussen my en my volgelinge op sosiale media. Ek is ook geboelie, maar ek het dit hanteer. Ek vra mense om altyd deernis te toon. Mense moet ook verstaan dat talle omgewings deesdae ‘n sosialemediateenwoordigheid vereis. Uit die aard van my werk, is dit dan ook ‘n verwagting wat ek moet nakom. Daarom is dit nie jou reg om my (of enigiemand) uitmekaar te trek nie. Een vrou het gesê dat persone in die openbare oog dit moet aanvaar dat mense hulle gaan slegsê. My vraag is: Hoekom? Hoekom voel daardie trol of boelie dat dit sy of haar reg is om iemand kwesbaar te laat voel? Is jy godvresend? Wat sê die Bybel hieroor? Moet asseblief nie deernis op jou persoonlike blad voorstaan en dan gal braak op ‘n ander persoon se blad nie. Ek dink werklik nie dat dit is wat God sou wou hê nie.
Het jy raad vir jongmense oor hoe om hierdie sosialemediatameletjie te hanteer?
Om iemand op sosiale media te boelie verskil daarvan om iemand van aangesig tot aangesig te boelie. As iemand jou op sosiale media teiken, het jy talle opsies. Een oplossing is om jou mening te lug en dan die persoon wat jou herhaaldelik aanval en ondermyn, te blok.
Toe dit met my gebeur het, het ek Nicole Kidman daaroor uitgevra. (Jy kan daarna gaan kyk op my youtube-kanaal – MargaretGardinerUniverse.) Haar antwoord was dat sy nooit die kommentaar lees nie. Mense wat ander volg en hulle uitmekaartrek moet hulleself vra hoekom hulle dit doen. As jy meer van daardie persoon wil hê, en hulle dan beledig, beteken dat jy dan juis minder van hulle sal kry. As jy die slagoffer van boeliegedrag is, is dit raadsaam om jou gevoelens met iemand wat jy vertrou en in wie se teenwoordigheid jy veilig voel, te bespreek. Weet ook dat die probleem nie by jou lê nie, maar by “hulle” – diegene wat die ander persoon afkraak. Ons behoort gesprekke te voer oor hoekom volwasse vroue dink dis oukei om goed op sosiale media te skryf en kwyt te raak wat hulle nooit in die persoon se teenwoordigheid sal sê nie en ook nie die tipe kommentaar is wat hulle op hulle eie blad sou wou lees nie.
My voorstel is dat as jy nie wil hê dat iemand vir wie jy lief is, jou seun, dogter, jy self, jou gade en so meer die boodskap wat jy aan iemand anders geskryf het, moet ontvang nie, jy liewer nie die “send”-knoppie moet druk nie.
Die meeste van ons wil graag “mooi” ouer word – en ons word die maan en sterre beloof en gekonfronteer met allerlei prosedures en produkte. Waar trek ‘n mens die streep?
‘n Mens se skoonheid kom van binne. Die beeld wat jy uitstraal. Dit is wat jou mooi maak. Ek het al heelwat bekendes gesien wat kosmetiese prosedures ondergaan het en hulle lyk beter as gevolg daarvan. Hulle voel ook beter oor hulleself. En dis goed so.
Ek is onlangs gekasty omdat ek kwansuis nie meer soos my 18-jarige self lyk nie. Maar wie lyk so op my ouderdom? Lyk die mense wat daardie dinge kwytraak soos hulle 18-jarige self? Maar … as ek ‘n gesigsontrimpeling gehad het sou ek waarskynlik soos ‘n totaal ander weergawe van die ware ek gelyk het en nog steeds nie soos die destydse 18-jarige Margaret nie.
Ek hou daarvan as mense die vrymoedigheid het om te lyk soos wat hulle wil en wat hulle laat gemaklik voel. As jy ‘n gesigsontrimpeling wil hê, kry een. Indien nie, moet dan nie. Wanneer het jy dan die heerser van die wêreld geword waar almal na jou pype moet dans – net omdat jy dink dit is die beste? Ek dink regtig dat mense moet doen wat hulle gelukkig en gemaklik laat voel sonder om bang te wees dat hulle geoordeel sal word.
Hoe belangrik is ‘n gesonde en gebalanseerde leefwyse vir volhoubare skoonheid?
‘n Gebalanseerde leefwyse is alles. Dit plaas jou op die voorvoet – gereed vir alles wat na jou kant toe kom.
Wat sou jy verander as jy jou lewe kon oorhê?
Weens mediese omstandighede kon ek nooit ’n tweede kind hê nie. Ek sou so graag vir my seun die geskenk van ’n broer of suster wou gee.
Hoe behou twee besige mense soos jy en jou man die balans in julle persoonlike lewe?
Dis nie iets wat ons bewustelik doen nie en ook nie iets waaroor ons ons bekommer nie. Ons is bloot twee individue wat by mekaar uitkom omdat ons wil en dit ons keuse is.
Jy het baie swaar gekry tydens jou kankerstryde – hoe het jy staande gebly? Wat het jou deurgedra?
Dit was ‘n aaklige tyd. Ek is trots om te sê dat ek myself daardeur gekry het en sterker anderkant uitgekom het. Vra jouself wat dit is wat jou help om moeilike tye en situasies te oorkom. Maak seker dat dit wat jy doen, jou help en dat dit jou nie in ‘n eindelose siklus van selfvernietiging laat beland nie. As dit die geval is, moet jy jou metodes aanpas – dinge anders doen.
Wat maak jou werklik gelukkig?
Amper alles. Sjokolade. Zumba. Die lug (hemelruim). Ek is baie visueel ingestel op alles wat my onderhou. Deernis. Dit is die mees onderskatte geskenk.
Jy is betrokke by liefdadigheid. Kan jy kortliks daaroor uitbrei?
Starfish Greathearts Foundation USA. Die organisasie gebruik internasionele befondsing om weeskinders te voed en na hulle om te sien.
Jy is duidelik lief vir Afrikaans en Suid-Afrika. Sal jy SA altyd as jou tuiste beskou alhoewel jy al so lank in Los Angeles woon?
My liefde vir Suid-Afrika is diepgewortel. Al wat ek kan sê is dat dit nie iets is wat jy kan aanraak of vashou nie. Dit ís net eenvoudig.
Het jy ‘n gunsteling- Afrikaanse woord?
Ja. Skoenlapper.
(Margaret jy is ‘n ware verpersoonliking van die woord, “skoenlapper”. Nie net weerspieël jy die grasie van die skoenlapper nie, maar ook die simbole waarvoor die pragtige skoenlapper reeds lank bekend is, naamlik transformasie, vryheid en skoonheid. – Afrikaans.com)
Beskryf jouself in een woord.
Dapper.
Waarvoor wil jy eendag onthou word?
Dat ek mense gerespekteer en geëer het.

’n Laaste woord van Margaret:
Dankie vir hierdie geleentheid om ’n baie belangrike boodskap met jul lesers te deel. Om lief te wees vir jouself en jouself te eer, is nie selfsugtig nie. Dit is nodig om te verseker dat jy jouself na waarde skat net soos wat jy die mense vir wie jy lief is, na waarde skat. Moet nooit selfvernietigend optree nie. As jy buite beheer voel, kry hulp.
Jy verdien dit om die beste weergawe van jouself te wees.
Afrikaans.com bedank Margaret Gardiner en Starburst Promotions vir die geleentheid om hierdie artikel te skryf.
Lees meer en bykomende bronne:
WEN Margaret Gardiner se nuwe boek en ‘n getekende uitgawe van rooi rose! | rooi rose
Vir ‘n uittreksel uit die boek: Bedorwe skoonheid: Joey Superstar, klik hier Voormalige Mej. Heelal, Margaret Gardiner, se nuwe boek kry 5-ster resensies wêreldwyd! – Afrikaans.com
Kyk gerus die volgende insetsel op Kwêla van drie jaar gelede toe Hannes van Wyk in Kaapstad by Margaret Gardiner gekuier het: