#1. Om oorweldig te voel oor die dinge wat jy vandag moet doen.
Jy weet waarskynlik wat ons bedoel. Dit voel asof jou kop so pas jou kussing geraak het, en jou alarm gaan al weer af en jy word gedwing om jou oë oop te maak. Sodra dit gebeur, skakel jou brein aan en word jy oorweldig deur gedagtes, spertye, dinge wat jy vandag MOET doen, en so meer. Jy staan op, borsel jou tande en jou brein is steeds op dolle vaart. Sjoe, jy’s reeds uitgeput en die dag het nog nie eens regtig begin nie.
Hier’s ’n idee: Wat daarvan om die dag met ’n eenvoudige vraag te begin: Wat is die EEN DING wat ek vandag gaan klaarmaak?

- Deur op die “een ding” te fokus, hou jy dinge eenvoudig, en jou brein kry kans om beter te fokus. Dit dwing jou as’t ware om jou doelwitte (vir werk of studies) te prioritiseer, en dit vereenvoudig jou werk sodat jy nie oorweldig voel omdat jy te veel take op een dag moet verrig nie.
- Dis maklik om dit deel van jou oggend te maak. Eerstens, skryf die vraag neer op ’n vel papier en plak dit teen jou slaapkamer- of badkamermuur. Lees dit daarna hardop wanneer jy jou dag begin (byvoorbeeld, terwyl jy jou tande borsel of aantrek), en besluit onmiddellik waarop jy vandag gaan fokus. Maak die antwoord jou topprioriteit vir wat die belangrikste ding is waarop jy behoort te fokus.
#2. Ons slaan ontbyt oor.
Deur ontbyt deel van jou oggendroetine te maak wanneer jy gejaag voel, klink nie soos iets waaraan ons ons kosbare tyd wil bestee nie. Dit is net nog ‘n besluit wat geneem moet word, en ons mandjie wilskragreserwes word al reeds al hoe leër met die dat ons moet bepaal wat ons wanneer moet doen en in watter volgorde.
Hier’s ’n idee: Wat daarvan om binne 5 minute ’n ontbyt voor te berei wat jou energie vir die dag sal gee?
- Om ontbyt te eet, help regtig om jou hele sisteem aan die gang te sit. As jy iets gesond en smaaklik kies, is die kanse groter dat jy by die gewoonte sal hou. Ekstra punte as jy iets voorberei wat ook mooi is om na te kyk – ’n gewoonte is makliker om by te hou as ons onsself ’n sensoriese hupstootjie gee om die ritueel aangenamer en iets om na uit te sien, maak.
- Maklike ontbytopsies is binne jou bereik. Ontbytgunstelinge sluit in:
- ’n Bakkie hawermout met vlassade en chiasade gemeng met grondboontjiebotter
- Griekse jogurt met granola.
- Die belangrikste deel is om vars vrugte by bogenoemde opsies te voeg: aarbeie, vye, piesang, klapper, pomelo, persimmon (tamatiepruim), appel, appelkose, mango, perskes, of papaja. Jy kan ook okkerneute en amandels byvoeg – albei uitstekende breinvoedsel.

#3. Ons mors die oggend deur aan onbelangrike goed aandag te gee.
Baie van ons het skaars ons oë oopgemaak en ons kyk en luister sommer dadelik nuus: op TV, oor die radio, op YouTube, of X. Om op hoogte van wêreldgebeure te wees, is belangrik, maar dalk is daar ’n meer geskikte tyd om die nuus te lees en sosiale media te gebruik.
Hier’s ’n idee: Wat daarvan om sosiale media en nuusgebeure te laat oorstaan tot later in die dag?
- Skakel alle kennisgewings/aankondigings op jou selfoon af. Dis onnodig om voortdurend “aan” (aanlyn) te wees en elke enkele opdatering op al jou selfoonapps te monitor. Los die foon totdat jy tyd het om die interessante goed te lees, veral as jy die belangrikste werk van die dag afgehandel het.
- Gaan e-posse en sosialemedia-apps 2 – 3 keer per dag na. Probeer om dit rondom twaalfuur of later in die middag of aand te doen. Skeduleer hierdie tyd – doen dit tydens jou middagetepouse, byvoorbeeld, of wanneer jy ’n koppie koffie drink. Stel ’n alarm sodat jy nie ’n uur daaraan spandeer nie.
- Maak alle oortjies (tabs) in jou webblaaier op jou rekenaar toe. Wanneer ’n mens verskeie webtuistes byderhand het, is jy meer geneig om vinnig te loer. Skep ’n skoon sone op jou rekenaar sonder enigiets wat jou aandag kan aflei.

#4. Ons fokus nie op die belangrike goed nie.
Daar’s die chaos om gereed te maak, ontbyt te eet en die dag te begin – en dit alles is meestal tydsbestuur. Te midde van die chaos is daar nie werklik tyd om te besluit waarop om te fokus nie en wat relevant is vir ons kort- en langtermyndoelwitte nie.
Hier’s ’n idee: Wat daarvan om jou oggende te gebruik om dieper dinkwerk te doen?
- Dieper werk is die gefokusde, ononderbroke, analitiese denke wat vereis dat jy net fokus en konsentreer op dit wat voor jou is en niks anders nie. Voorbeelde hiervan is lees, skryf, opsom van komplekse materiaal en notas, kodering, analise, kritiese denke en probleemoplossing.
- Volgens wetenskaplikes funksioneer die brein op sy heel beste 2 – 4 ure nadat ons wakker geword het. Met ander woorde, wanneer jy dieper werk vroeg doen, kan jy inskakel by jou liggaam se biologiese klok sodat jy kan voordeel trek uit jou fokus om komplekse probleme op te los en dieper te dink. Plus, wanneer jy daardie moeilike kognitiewe werk afgehandel het, sal jy vaardiger voel en asof jy iets bereik het en waarskynlik heelwat tyd hê om later te ontspan.

#5. Ons mis die geleentheid om te kies hoe ons ons brein voed.
Terwyl ons besig is om al die nuwe inligting waarmee ons daagliks gepeper word, in te neem en te verwerk – van e-posse tot teksboodskappe tot die eintlike projekte waaraan ons werk – reageer ons bloot op die wêreld soos wat dit daagliks ontknoop. Ons reageer dus passief op wat rondom ons plaasvind en word bloot toeskouers van wat besig is om te gebeur – nie net rondom ons nie, maar ook met ons.
Hier’s ’n idee: Wat daarvan as ons doelbewus kies waaraan ons ons brein gaan blootstel?
- As jy gestres of angstig is, kan jy byvoorbeeld die Headspace-app gebruik om ’n vyf minute lange meditasie te doen voordat jy uit die bed uit opstaan.
- As jy verkies om na iets te luister (eerder as kyk), kan jy ’n paar podsendings oor ’n interessante onderwerp stoor en daarna luister terwyl jy aantrek of ontbyt eet.
- As jy nie tyd het om boeke te lees soos voorheen nie, kan jy dit oorweeg om 30 minute vroeër wakker te word en dan ’n hoofstuk of twee te lees voordat jou besige dag afskop.

Bron: Nela Canovic’s answer to What are 5 things we do wrong in the morning? – Quora
Afrikaans.com het die artikel uit die oorspronklike Engelse bron vertaal.







