Skrywer: Nicolette Kritzinger
Ek het nie kinders nie, nee. Mag ek iets oor ander mense se kinders sê? Seker nie.
Oukei, hier gaan ons.
Is dit net ek of is almal besig om te kraam? Dis net babas, swangerskaptoetse en sonars waar jy kyk. Ek kan nie meer my Facebook oopmaak nie, dan kwyl iets op my.
Ek probeer dink wat nege maande terug gebeur het. Was dit Valentynsdag? Was die krag af? Het Bobby van Jaarsveld ’n nuwe single uitgebring?
Wat ook al dit was, ek is nie ingelig oor die ooreenkoms nie. Al waarmee ek nege maande terug intiem verkeer het, was ’n Hawaiian-pizza van Dominos.
Dit is dan ook te verwagte dat ek die afgelope tyd na ’n onnatuurlike hoeveelheid ooievaarspartytjies genooi is.
Christel s’n was ’n absolute triomf.
Christel het vier maande terug met iets getrou wat sy by ’n braai ontmoet het. Klein Lukas se geboorte is nou net ’n maand weg. Tot vandag toe voer sy aan hy is in die huwelik gemaak. Maar ons almal kan tel.
’n Paar weke terug was sy en haar man vir hul swangerskap-shoot. Christel het gedink sy is die hoofkarakter in ’n Karlien van Jaarsveld-musiekvideo en haarself geklee in ’n groen lapgewaad.
Soos ’n ware bosnimf het hulle voor elke moontlike plant in Majik Forest geposeer. Die kind gaan al vyf jaar oud wees dan gaan ons en hy nog steeds gedwing word om na daai foto’s te kyk.
Uiteindelik breek die groot dag aan.
Ons het reeds twee maande gelede ’n geskenklys van “noodsaaklikhede” gekry:
- Swaddle blanket – Kry mens so iets vir volwassenes ook? Sou dit verkeerd wees om te vra dat iemand my ook so toedraai op ’n Vrydagaand na ’n lang week by die werk?
- Organiese wet wipes – Dit het ’n ondertoon van laventel, dennehout en ’n Mediterreense seebriesie. Blykbaar het dit ’n kalmerende effek op jou baba as jy sy boude daarmee afvee. Ek wil net noem dat klein Lukas eendag die korporatiewe wêreld gaan moet oorleef. Ek weet nie of hierdie ’n goeie begin is nie.
- Country Road-babaklere – Ruik ’n poefdoek in ’n Country Road-pakkie anders as in ’n Pepstores-nommertjie?
- Breast pads – Is dit nou die hedendaagse koolblare?
Ek kan sien hoe my oumagrootjie in haar graf omdraai. In haar jare was koeksoda, kasterolie en ’n lapdoek al wat jy nodig gehad het om ’n kind groot te maak.
Al hierdie moeite … vir wat? Sodat daardie selfde kind oor 16 jaar ’n kamerdeur in jou gesig kan toeslaan en vir jou kan sê hulle date nou vir Jay met drie neusringe. Nee, dankie.
Ek besef vinnig hierdie is nie ’n ooievaarspartytjie nie. Dis ’n platform vir elke persoon wat al ooit kwyl afgevee of ’n poefdoek omgeruil het om ongevraagde raad te deel.
Elkeen se ervaring van ma-wees is meer afgryslik as die vorige.
“Ek en my man het verlede Donderdag vir die eerste keer in 10 jaar deurgeslaap. Klein Kobus hou ons elke nag wakker.”
“Ek glo net in borsvoeding. Ek borsvoed al 30 jaar vir klein Louis en kyk hoe suksesvol is hy vandag.”
“Mens moet so veel as moontlik kinders hê!” sê Johanna. “Sodat hulle eendag vir jou op jou oudag kan sorg.” Johanna het drie aftreeplanne gebaar. Een van haar annuïteite het nou-nou die televisie se remote opgeëet en die ander een suig tans aan die tafelpoot. Ek dink sy sal maar eendag haar eie ouetehuis moet kies.
Met elke aanmerking kan ek sien hoe Christel al hoe rooier word. Die sweet hardloop in ’n dun straaltjie teen haar slaap af.
“Weggooidoeke is heidens,” blêr Riana dit oor die vertrek. “Ek glo net in lapdoeke. My suster se kind het weggooidoeke gedra en kyk nou net waar is hy vandag … hy weier om enige groente te eet en het verlede week vir haar gesê hy wil nou drama gaan swot.”
Christel spring skielik op en maak haarself uit die voete.
“Nou, wanneer kan ons jou kleinding verwag?” vra die tannie langs my.
“O, nee, tannie,” sê ek. “Ek is nie swanger nie… ek het net ’n groot ontbyt gehad.”
Ek kan sien hoe die lewe haar liggaam verlaat. Sy gaan nou nooit weer daardie vraag vir enigiemand vra nie.
Dis goed, dink ek.
In die hoekie van die badkamer sit Christel. Die trane rol oor haar wange.
“Ek kan dit nie doen nie,” snik sy. “Ek gaan nooit ’n ma kan wees nie!”
Dit moet erg wees. Drie jaar terug het sy nog op Bakgat se tafels gedans … nou gaan sy bottels moet steriliseer en elke vyf minute oor haar kind se stoelgang moet praat (dit is ’n vereiste as jy ’n ma is).
Dis belaglik, dink ek. Hierdie ongewenste raad van mense wat almal dink hulle is die ma van die eeu. Ongevraagde raad oor doeke, melk, slaaproetines, speelgoed, jou kind se loopneus. En die ergste: om te keiser of nie te keiser nie. Dis hierdie ongevraagde opinies wat jong ma’s op badkamermatjies laat sit en huil en glo dat hulle nie eers bevoeg is om ’n doek te ruil nie.
As jou kind nie reeds op vyf maande vaste kos kan eet, 200 m hekkies kan hardloop en belasting kan betaal nie, dan moet jy dadelik ’n pediater gaan sien. Daar’s fout.
Sê wie?
Ek dink terug aan my eie kinderjare. Ek onthou nie of my ma ’n keiser gehad het nie. Ek kan nie onthou of ek blikmelk of borsmelk gedrink het nie. Ek weet nie of ek lapdoeke of weggooidoeke gedra het nie.
Ek onthou wel die krismisbed op Oukersaande. My pa wat in die nag ’n paar skoene uit die skoorsteen hang sodat ons kan glo Kersvader was in die huis.
Ek onthou die Bybelstories wat my ma in die aande voor slaaptyd vir my gelees het.
Ek onthou kaalvoetvakansies saam met die familie op Henties se strand.
Ek onthou my ma se sop en my pa se trifle. Genoeg om vier uitgebreide families te voed.
Ek onthou die saamlag om ’n braaivleisvuur op ’n Saterdagaand, die ure se boogieboard saam met my ouers in Klein Brak se branders, die vurige potjies dominoes op kampnaweke.
Christel, miskien is dit al wat saak maak.

