Geskryf namens die AON deur
Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Speel is een van die ses merkers van ’n ideale 21ste eeuse leeromgewing.
Kinders wat speel oefen om hul kreatiwiteit uit te leef. Hulle eksperimenteer, ervaar lewensvreugde, verken en maak ontdekkings. So dra kinders se speelervarings by om die ideale leeromgewing vanuit elke invalshoek te bou.
Kinders se ingebore drang om te speel is in der waarheid ’n biologiese aanpassing wat optimale breinbedrading verseker.
Kinders moet baie dinge in ’n kort tydjie leer, en hulle is nie verstandelik en emosioneel gereed om dit doelbewus te doen nie. Hulle ingebore nuuskierigheid en drang om te speel kom tot hul redding omdat dit hulle motiveer om ’n groot verskeidenheid ervarings herhaaldelik te beleef. So word belangrike breinpaadjies ingeoefen en vasgelê.
Kinders speel nie net om te ontspan nie – dis ook hoe hulle leer en vaardighede inoefen
Drie soorte spel (of speel) word in die konteks van ’n ideale 21ste eeuse leeromgewing uitgelig.
Vryspel waar die kinders die leiding neem. Die kinders kies self die voorwerpe om te gebruik (indien enige), en besluit wat om daarmee te doen.
Gerigte spel voel soos vryspel, maar die opvoeder stuur die gebeure doelbewus in sekere rigtings om soveel as moontlik leergeleenthede te skep.
Instruktiewe spel (teacher-facilitated play) is waar ouers of onderwysers verduidelik hoe die speletjie werk en spesifieke instruksies gee. Hulle gebruik vooraf uitgewerkte speletjies of take (aktiwiteite) om vir hul kinders iets te leer of begrippe vas te lê.
- Hoe ons vryspel kan laat werk
Alhoewel ons as ouers en onderwysers hier nie opdragte gee nie kan ons betrokke wees, en/of as belangstellende toeskouers optree. Ons rol is veral om vryspel te ondersteun deur tyd daarvoor in te ruim, die omgewing voor te berei en voorwerpe te voorsien waaruit die kinders kan kies. Navorsers sê vryspel het veral ’n groot sosio-emosionele impak.
- Hoe ons gerigte spel kan laat werk
Dis makliker om kinders se spel in ’n sekere rigting te stuur om optimale leer te verseker wanneer ons hulle behoeftes en belangstellings goed ken en weet wat al die relevante leeruitkomste is. Dan kan ons voorstelle maak, leidende vrae vra, en iets bylas. Hou die kinders dop terwyl hulle speel om hulle belangstellings en vermoëns te leer ken.
- Hoe ons instruktiewe spel kan laat werk
Die ouer of onderwyser neem hier die leiding om ’n aktiwiteit of speletjie op te stel en te laat werk. Navorsers sê enige speletjies of aktiwiteit wat vir kinders iets wil leer kan net goed werk as dit vir die kinders voel asof hulle speel terwyl hulle leer. Hulle moet ook met ons en met mekaar in interaksie kan tree, kan vrae vra, raaiskote waag, voorstelle maak, eksperimenteer en aktief deelneem deur iets te doen, fisies te beweeg en/of iets te hanteer.
Hierdie artikel is met vergunning van die Afrikaanse Onderwysnetwerk geplaas. Om meer te leer oor die AON, klik hier.