Skrywer: Geskryf namens die AON deur
Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Kinders moet vroeg leer om dinamies te wees.
Dit werk nie meer in die 21ste eeu om terug te staan, die minimum te leer wat van jou verwag word en te wag vir ander mense om inisiatief te neem en vir jou te vertel wat om te doen nie.
Die vraag is: kan kinders léér om dinamies te wees, of is dit ‘n aangebore eienskap?
- Navorsers sê daar is goeie rede daarvoor dat alle tipiese kinders van nature nuuskierig is. Nuuskierigheid is die motivering waarmee babas gebore word wat hulle aanspoor om mense, hul omgewing, alledaagse voorwerpe, verskynsels en idees noukeurig waar te neem en te ondersoek.
- Nuuskierigheid is die brandstof in die tenk van ’n ideale 21ste eeuse leeromgewing. Wanneer nuuskierigheid afneem stel kinders al minder belang in verkenning, ontdekking, speel, kreatiwiteit en eksperimentasie. Meer nog, hul lewensvreugde neem af. Dis ’n bose kringloop.
Die probleem is dat nuuskierigheid afneem wanneer dit nie gestimuleer word nie.
Hier is ’n paar wenke:
- Prikkel doelbewus kinders se nuuskierigheid. Die heel maklikste manier om dit te doen is om tydens lesaanbiedings en alledaagse gesprekke met kinders “oop vrae” te vra om hulle oor die antwoord te laat nadink. (‘n Geslote vraag het net een antwoord, terwyl ‘n oop vraag op verskeie maniere beantwoord kan word.)
- Onthou dat multi-sensoriese, tasbare (hands-on) leerervarings meer nuuskierigheid ontlok. Vanweë hul beperkte verwysingsraamwerk en konkrete ingesteldheid geniet jong kinders dit heelwat meer om te leer terwyl hulle aan voorwerpe raak en dit hanteer, en sover moontlik ook daarmee kan speel en eksperimenteer. Kinders tree ook meer nuuskierig op wanneer hulle kan beweeg terwyl hulle leer en nie net dophou wat gebeur of luister na wat iemand sê nie, maar self by die ervaring betrokke is en miskien selfs iets kan ruik en/of proe.
- Besluit vooraf wat jou kinders oor ‘n onderwerp moet weet en gebruik dit as ‘n vertrekpunt. Wanneer hulle dit wat jy ten doel gestel het onder die knie het kan hulle dan sélf besluit wat hulle verder oor die onderwerp wil leer deur hul eie vrae te vra en te sê waaroor hulle wonder. Tydens die res van die leerervaring kan julle daardie vrae dan saam beantwoord.
Ter afsluiting: Nuuskierigheid hou lewenslank voordele in. Nuuskierige volwassenes blink in die werksplek uit omdat hulle geneig is om kennis vanoor verskeie dissiplines in te win. Gevolglik kan hulle probleme met meer insig en kreatiwiteit oplos.
Kontak gerus vir Wilna van Rooyen via Wilna@aonetwerk.co.za vir meer inligting.
Hierdie artikel is met vergunning van die Afrikaanse Onderwysnetwerk geplaas. Klik hier om hul webtuiste te besoek en meer te leer.







