
Persverklaring
Feesgangers by die KKNK kan uitsien na hope om oor te lag – van skreeusnaakse stand-up, tot briljante eenpersoon-komedies.
Gunstelinge op die verhoog én nuwe talent beloof iets vir elke humorsin. Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, word van 1 tot 6 April op Oudtshoorn aangebied, met ’n spesiale openingskonsert en aandmark op 31 Maart.
Onder die Kekkelkliniek-vaandel maak vyf van Suid-Afrika se voorste stand-up-komediante ’n draai in die Klein Karoo. Die Kanna-benoemde KG Mokgadi toets lagspiere behoorlik in Weighing In – The Aftermath. Stuart Taylor, die meester van skerpsinnige humor, is te sien in Odd Man Out. Geen onderwerp bly onaangeraak in Nina Hastie se Tannie Tangents met haar gewaagde styl van komedie nie. Yaaseen Barnes se blitsige waarnemings en trefreëls wag in The Alles in the Malles. Virgil Prins se Komediant is ’n vermenging van herkenbare humor en vars perspektiewe.
Casper de Vries keer na ’n lang afwesigheid terug na die KKNK in ’n splinternuwe eenmanvertoning, spesiaal geskep vir die KKNK, Cassie diamantjies. Met sy skerp, kenmerkende humorsin en skreeusnaakse blik op die lewe, neem hy die gehoor op ’n absurde reis vol skreeusnaakse oomblikke.
Schalk Bezuidenhout was voor die Covid-19-pandemie laas by die KKNK en is te sien in Mamma se groot seun. Hy het in 2015 sy eerste eenmanvertoning by die KKNK aangebied en in 2025 is dit 10 jaar later.
Marc Eugene Lottering is Marc Lottering se jongste solovertoning. Hy deel persoonlike stories wat nog nooit vantevore gehoor is nie. Hierdie vertoning het uitverkoopte speelvakke in Johannesburg en Kaapstad gehad, met baie aanhangers wat dit as sy beste werk nog beskou. Lottering is in 2024 met die Savanna Comics’ Choice se Hall of Fame-prys vereer.
In die regte lewe is Mel die Storieverteller ’n komediant en katliefhebber, maar in ’n ander dimensie – die een binne ons fone – is sy ’n Afrikaanse internet sensasie. Haar derde stand-up-vertoning, Internet Sensasie, debuteer by die KKNK en sy verklap uiteindelik wat sy regtig dink van hierdie elektroniese oerwoud vol honger leeus, ywerige flaminke en ontaktvolle (sw)ape.
TikTok-persoonlikheid Sohail Booise debuteer by die KKNK met Sohail Booise en Auntie Cheryl share the stage. Die kern van die storie vertel die verhaal van ’n alledaagse, normale middelklas-auntie op die Cape Flats. Auntie Cheryl is ’n online TikTok personality met meer as 350 000 followers, wat haarself in ’n omstrede bakleiery met haar beste vriend, Chantay, bevind.
Marion Holm word vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking en is reeds vir 21 jaar ’n gunsteling onder KKNK-gehore, sedert haar eerste eenvrouvertoning, Sussie is nou suur. Haar nuutste eenvrouvertoning, Marion Monroe, is benoem as beste nuutgeskrewe Afrikaanse teks by Momentum Beleggings Aardklop in 2024 en het daarna blitsvinnig by die Toyota Stellenbosch Woordfees uitverkoop.
Frank Opperman is terug op die verhoog in Reünie, in dieselfde skoolsaal, maar 43 jaar later by die reünie van die 1980-matriekgroep. Adam Boshoff tree as verteller op, maar deur die loop van die aand kry verskeie klasmaats ’n beurt agter die mikrofoon om hul sê te sê. Opperman is bekroon met die kykNET Fiësta-prys vir beste akteur vir sy spel in dié stuk.
Magda Louw, die kletskous sonder ’n wag voor haar mond, gesels oor die waarde en waansin van woorde in Magda Louw: ’n Les in kletterkunde, met Desiré Gardner op die verhoog. Van lag en treur in jou hartstaal, en die dinge wat ons soms sê wat eerder net ’n gedagte moes bly. Bekroon met die Silwerskerm-fees se prys vir beste aktrise in ’n komedie en benoem vir ’n Momentum Beleggings Aardklop-prys vir beste nuutgeskrewe Afrikaanse teks in 2024.
Verwag ’n dubbeldosis lag-oomblikke in Double Trouble, waar karakters deur Veronique Jephtas (bekend vir haar rol in Kelders van Geheime) in Chronicles vannie Lavis en Dean John Smith (bekend vir sy rol in Suidooster) in Bettie innie selle gehore gaan laat lê van die lag.
Jy mag dalk dink dat politiek in Suid-Afrika nie ’n grap is nie, maar maak gereed vir Marianne Thamm se skreeusnaakse en insiggewende satiriese komedie, wat sin maak uit hoe die land staatskaping weerstaan en oorleef het. Vuisvoos, maar nog regop: Herlaai sluit die geboorte van die reusagtige, gesonde regering van nasionale eenheid (RNE) in. Wees deel van die viering van Suid-Afrikaners se veerkragtigheid en kom vind uit hoekom hierdie meesterstuk oral met groot lof ontvang word.
Llandi Beeslaar, oftewel Mielie Senekal van die Republiek van Zoid Afrika – of meer onlangs Stefanie Koekemoer in die Showmax-reeks Koek, is op die verhoog in haar eerste eenvrouvertoning, Tomboy. Sy laat haar unieke handelsmerk van ietwat siniese humor op die wêreld los.
In Add my op die groep nooi Christie van Niekerk die gehoor uit om lekker te lag vir al die lawwigheid van die mensdom, met energieke storievertellings en opwindende perspektiewe. Sy stel WhatsApp-groepe voor vir alledaagse, dog belangrike ervaringe: Van “My Yorkie klink weird” tot “Waarom gym tieners met Crocs?”.
KKNK 2025 word geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
Die volledige program vir die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.