SBA vrystelling: Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans
Zoë-storiekompetisie!
Ons weet daar leef duisende avonture in jou kop. Van verhale oor monsters wat onder beddens skuil, tot prinsesse in groot paleise, tot ’n geheimsinnige skat iewers in die diep, blou see.
Ons wil saam met jou op reis gaan!
Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) nooi alle kinders tussen graad 3 en 7 uit om vir ons ’n kykie in hul verbeeldingswêreld te gee en hul beste stories met ons te deel. Stuur vir ons ’n kort, oorspronklike Afrikaanse storie van tussen 150 en 250 woorde en staan die kans om een van tien skrywers te wees wie se storie in ’n digitale boek sal verskyn.
Ouers en opvoeders mag as klankbord optree vir leerders tydens die skryfproses of die leerder help deur byvoorbeeld die storie op ’n rekenaar te tik, maar die inhoud en samestelling van die sinne moet die werk van die leerder self wees. Aangesien die stories geïllustreer gaan word, vra ons dat die kleinspan ons deel maak van hul leefwêreld en die storie en karakters in soveel as moontlik detail inkleur.
Onthou: stories wat taalkundig netjies versorg is, maak makliker ’n indruk op die leser. Maak dus seker dat jy jou storie proeflees vir spel- en taalfoute en mooi afrond.
Wat is op die spel?
Die toptien-leerders se stories sal geïllustreer en gepubliseer word as ‘n amptelike digitale boek van die SBA. Die boek sal ook gedruk word en deel uitmaak van die Zoë-voorleesprojek se storiegroepe.
Waarna is ons op soek?
Die SBA is op soek na kreatiewe stories wat ander jong lesers sal laat lag, droom of op die punte van hul stoele sal hou. Die volgende punte sal in ag geneem word tydens die beoordeling van die kompetisie:
- Kreatiwiteit en oorspronklikheid
- Duidelikheid en samehang van skryfwerk
- Detail en ontwikkeling van die karakter(s)
- Korrekte grammatika en leestekens
Hoe werk die inskrywings?
Alle inskrywings moet getik word en in elektroniese formaat aan admin@sbafrikaans.co.za gestuur word.
Elke inskrywing moet die outeur se naam, graad en skool insluit.
Die kompetisie open op 4 Maart 2025 en sluit op 4 April 2025 om 23:00.
Die wenners sal op Jeugdag, 16 Junie 2025, op die SBA se sosialemediaplatforms aangekondig word.
Maak seker jy loer na die bepalings en voorwaardes van die kompetisie voordat jy jou pen optel.
Klik hieronder om dit af te laai.