Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Wanneer jou kind nie sy optrede kan beheer nie.
Verlede week het Afrikaans.com gesels oor wat PEV is en hoe jy as ouer dit kan hanteer as jou kind daaraan ly. In die tweede gedeelte gesels ons verder oor PEV en vertel jou meer oor outistiese eisevermyding, die tipiese gedagtes waarmee die PEV-persoon stoei, die unieke eienskappe van so ‘n persoon en wat as eise geïntrepreteer kan word. Ons gee ook ‘n paar selfhelpstrategieë.
Outistiese eisevermyding
PEV word as ‘n gestremdheid beskou “wat by een uit ses mense op die outismespektrum gediagnoseer word”. Sekere individue op die outismespektrum kan eise of situasies vermy wat angs of sensoriese oorlading voortbring, roetines omvergooi, oorgang van een aktiwiteit na ‘n ander behels. Hulle sal ook aktiwiteite/gebeure waarin hulle nie belangstel nie, of nie kan insien hoekom hulle dit moet doen nie, vermy. Hulle kan weier, onttrek, hulself afsluit of ontsnap (veg, vlug of vries) om hierdie situasies te vermy. Wat belangrik is om te weet is dat so ‘n mens geen beheer hieroor het nie – net soos wat ‘n mens nie beheer oor ‘n hartaanval het nie.
Nuttige benaderings sluit in om sensoriese kwessies te hanteer, om individue te help om by nuwe situasies aan te pas, om te hou by ‘n voorspelbare roetine, om genoegsame kennis te gee dat iets gaan verander of deur te aanvaar dat om sekere goed te vermy heeltemal aanvaarbaar is.
Tipiese gedagtes waarmee die PEV-persoon stoei:
Ek kan nie daaraan dink nie – Ek wil, maar kan nie – Nie vandag nie – Ek moet in beheer wees – Ek moet dit regtig vermy – Ek moet huis toe gaan – Ek kan eenvoudig nie – Nee!
Patologiese eisevermyding is alles omvattend en het ‘n paar unieke eienskappe – aldus die Verenigde Koninkryk se PEV-vereniging (die skrywer het die inligting op hul webtuiste verwerk en vertaal). (Sien webtuiste onder bronnelys.)
- Talle alledaagse eise word vermy bloot omdat dit eise is. Sommige mense verduidelik dat dit die verwagting is (van iemand anders of jouself) wat lei tot ‘n gevoel waar jy nie in beheer voel nie, waarna angs toeneem en paniek oorneem.
- Bykomend, kan daar ‘n mate van irrasionaliteit bykom – bv. ‘n oënskynlik dramatiese reaksie op ‘n mindere versoek, of die persoon is honger, sy maag raas, maar hy eet nie.
- Die vermyding kan varieer, afhangend van ‘n individu se kapasiteit vir versoeke/eise op daardie tydstip, hul angsvlak, hul algemene gesondheid/welstand of die omgewing (mense, plekke en dinge). (Die tipiese sensoriese oorladingsituasie waar die persoon se mandjie geleidelik voller raak en uiteindelik oorloop.)
- ‘n PDA-profiel verskil van mens tot mens. Sommige individue reageer meer aktief – waar eisevermyding openlik, fisies of aggressief kan wees en die individue in beheer wil wees. Ander het weer ‘n meer geïnternaliseerde of passiewe reaksie – eise word minder opmerklik en stiller teengestaan, die persoon steek sy angs en probleme weg (“masking”). Party reageer verskillend in verskillende situasies, afhangend van ander faktore soos byvoorbeeld hoe goed hulle op daardie stadium regkom, die omgewing, die situasie, hulle ouderdom en so meer.
PEV is nie ‘n keuse nie, maar ‘n lewenslange toestand.
Met die nodige begrip en benaderings deur ander en om strategieë te vind om die toestand te hanteer, kan dit makliker word om te bestuur.

Selfhelpstrategieë en terapie
Eerstens moet bepaal word wat is eise (“demands”) en wat is nie en dit is ook nodig om vermyding (“avoidance”) te bepaal.
Eise: Dit kan baie gedaantes aanneem – vanaf die meer direkte en herkenbare instruksies tot voorstelle en verwagtinge. Interne of selfopgelegde eise, soos honger, dors of perfeksionisme, dinge soos om jouself te bad of stort, aan te trek, om dankie te sê, is maar net die oortjies van die seekoei. Dit is hoekom mense met die toestand soms verbaas reageer as hulle hoor dat iets waarmee hulle nog altyd gesukkel het, eintlik ook ‘n eis is. ‘n Voorbeelde hiervan is om jou boeke terug te neem biblioteek toe … of om dankie te sê!
Vermyding: Die lys is lank en dit gaan oor soveel meer as om net bloot “nee” te sê. Die proses van vermyding kan byvoorbeeld insluit om jouself te verskoon, om jouself onbevoeg te verklaar, rolspel en fantasie, uitstellery, onderhandeling, om in beheer te wil wees, en om ware gevoelens weg te steek (“masking”).
Die verskillende soort eise
- Direkte eise
Dit is versoeke/eise wat deur ander mense of situasies gerig word, soos ‘trek jou skoene aan’, ‘staan hier’, ‘leer hierdie paragraaf uit jou kop uit’, ‘wil jy iets eet?’
- Indirekte en interne eise
Tyd – om te verwag dat iets op of teen ‘n bepaalde tyd moet gebeur kan as ‘n addisionele eis ervaar word.
Vooruitbeplanning – kan tot verhoogde angs lei na gelang die tyd/datum vir die plan naderkom, maar aan die anderkant kan onsekerheid oor wat gaan gebeur dit moeilik maak om iets op die ingewing van die oomblik te beplan.
Vrae – die verwagting dat die persoon op ‘n direkte vraag moet reageer, kan verlammend vir daardie persoon wees.
Besluite – soms is die wete dat ‘n besluit geneem moet word, ook ‘n eis, of die persoon word lamgelê, want daar is net soveel opsies/moontlikhede om uit te kies.
Interne liggaamsvereistes – soos dors of om die toilet te gebruik.
Gedagtes/hunkering – interne gevoelens.
Onsekerheid – die PEV-persoon vind dit uiters moeilik wanneer daar onsekerheid heers – want hulle moet in beheer voel van dit wat besig is om te gebeur.
Lof besing of op die skouer klop – dit hou veronderstelde verwagting in dat die optrede herhaal sal word of volgende keer selfs op verbeter sal word. Die persoon wat die lof betuig het se intensie was dalk om as positiewe versterking te dien, maar die PEV-persoon sien dit as ‘n eis wat waarskynlik tot angs/paniek kan lei.
Oorskakeling/oorgang (“transition”) – dit vereis dat die persoon moet ophou doen waarmee hy besig is en oorskakel na iets anders. Dit bring onsekerheid en dikwels ‘n uitbarsting (“meltdown”).
Verwagtinge – van ander en jouself.
Sensoriese oorlading en probleme met sensoriese integrasie.
Ander mense se ‘energie’ en teenwoordigheid.
Stokperdjies of sosiale interaksie – dinge wat die PEV-persoon wil doen, soos stokperdjies of saam met vriende kuier, maar net nie homself sover kan kry om dit te doen of daaraan deel te neem nie.
- Eise binne eise
Kom ons illustreer dit met ‘n voorbeeld: Daar word van die persoon verwag om ‘n konsert by te woon – dit is die oorhoofse eis. Tydens die konsert moet hy bly sit, langs mense sit wat hy nie ken nie, stilbly, toepaslik reageer, ens. – dít is die bykomende eise (die eise binne die eise) en ook wat die stres veroorsaak.
- Eise wat uitgevoer moet word
Mense word daagliks gekonfronteer met eise wat deel uitmaak van hul daaglikse bestaan – soos om op te staan in die oggend, te was, tande te borsel, aan te trek, te eet, kos voor te berei, te leer, te werk, te slaap.
Nuttige benaderings soos aanbeveel deur die PEV-vereniging
Die PEV-vereniging se aanbevelings is geskoei op outisme en die hantering van die persoon op die spektrum wat dalk ook PEV het. Doen die volgende, maar hou in gedagte dat ‘n meer holistiese benadering gebaseer op samewerking, onderhandeling, buigsaamheid en spesifieke taalgebruik waarskynlik meer effektief gaan wees:
- Hanteer sensoriese kwessies.
- Help die individu om by nuwe/vreemde situasies aan te pas.
- Hou by roetine – dit moet voorspelbaar wees.
- Gee genoegsame tyd om gewoond te raak aan enige veranderinge.
- Aanvaar dat die vermyding van sekere dinge heeltemal aanvaarbaar is.

Slotgedagte
Dit is dus duidelik dat PEV unieke uitdagings inhou wat nie net die individu nie, maar ook die mense rondom hom (gesin, familie, onderwysers, vriende) aansienlik raak. Deur begrip te hê (en/of aan te leer), hanteringstrategieë toe te pas en ‘n ondersteunende omgewing te skep, is dit moontlik om diegene met PEV te help om die kompleksiteite waarmee hulle daagliks op verskillende terreine gekonfronteer word, te navigeer.
Ons is nie almal eenders nie, daarom is dit nodig dat ons bewustheid sal skep oor onder andere PEV sodat elke individu ‘n vervulde lewe kan lei.
Bronne:
PEV: As jou kind nie wil stort, hare borsel of skool toe gaan nie | Netwerk24
Patologiese Eisevermyding (PEV)
https://neurodivergentinsights.com/blog/low-demand-parenting
https://www.pdasociety.org.uk/
Lees ook:
Neurodiversiteit: Riglyne vir ouers en onderwysers om die uitdagings te hanteer. – Afrikaans.com
Kyk gerus na hierdie video’s:







