Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Wanneer jou kind volstrek weier om sy hare te kam …
As jy gereeld jou hare uit jou kop uit wil trek omdat jou kind so ongelooflik moeilik, ongehoorsaam, manipulerend en uitdagend is en dikwels weier om deel te neem aan alledaagse aktiwiteite selfs binne gesinsverband, moet jy verder lees. Dalk is hy juis nie al die dinge nie, maar het hy bloot nie beheer oor sy optrede nie omdat hy patologiese eisevermyding (PEV) – in Engels: Pathological demand avoidance – PDA, het. Kyk ‘n mens na die statistiek lyk dit asof 70% van kinders met PEV nie in ‘n hoofstroomskool is nie en by ‘n spesiale ondersteuningsentrum ingeskryf is of tuis onderrig word. 17% van hierdie kinders weier om skool toe te gaan, en ongelukkig is daar nie PEV-spesifieke skole nie, hoewel daar wel skole is waar daar in ‘n mate voorsiening hiervoor gemaak word.
Afrikaans.com vertel jou graag meer, maar onthou, as jy enigsins vermoed jou kind ly dalk in ‘n mindere of meerdere mate hieraan, moenie ‘n selfdiagnose maak nie en raadpleeg ‘n kundige, want elke kind verskil en reageer anders op die prikkels van buite. En ja … dalk is hy net sommer “moeilik”, want die meeste mense het maar van hierdie eienskappe wat soms kop uitsteek.
In hierdie eerste artikel van twee, vertel ons jou wat PEV is en hoe jy as ouer dit kan hanteer. Volgende week praat ons spesifiek oor outistiese PEV en die eienskappe van die PEV-kind.
Wat is patologiese eisevermyding (PEV)?
“Eise verteenwoordig die gif wat uit die tande van ‘n adder drup. My brein vind dit moeilik om te onderskei tussen ‘trek jou skoene aan’ en ‘n dodelike slang.” – Harry J. Thomson, skrywer van The PDA Paradox, soos verkry uit Netwerk24 se “Gids tot neuro-andersheid”.
Volgens die PEV-vereniging in Brittanje behels eisevermyding die onvermoë om sekere dinge op sekere tye te doen – nie net vir jouself nie, maar ook vir ander mense. Dit verwys ook na dit wat ons doen om eise te vermy.
In Netwerk24 se “Gids tot neuro-andersheid” saamgestel deur Willemien Brümmer, sê die skrywer dat dit alles behalwe maklik is om te diagnoseer omdat die persoon aangenaam kan voorkom, oogkontak maak en selfs hul woord goed kan doen, maar … hul sosiale vaardighede is dikwels bloot aangeleer en pas hulle maskering (“masking”) toe, sodat hulle optrede nie orals dieselfde is nie. Jy ken dalk die scenario wanneer jy teenoor iemand opmerk dat jou kind nie sus of so wil doen nie en die ander persoon lyk verbaas en sê dat hy dit beslis nie so ervaar nie.
Dit is ‘n natuurlike menslike eienskap om soms nie gehoor te gee aan eise nie – ons almal doen dit om verskillende redes op een of ander stadium. Wanneer dit meer opmerklik is, kan daar verskeie redes daarvoor wees – dit is dalk situasiegebonde, dit hou verband met fisiese of geestesgesondheid, of dit kan in verband gebring word met ‘n ontwikkelings- of persoonlikheidstoestand. Die PEV-persoon se optrede is egter meer ekstreem. Hulle vermy direkte en indirekte eise, en selfs wanneer jy so ‘n persoon prys, kan hy dit as ‘n verwagting ervaar en kan dit trauma in die brein aktiveer wat die veg-vlug-vries-respons tot gevolg kan hê.

Die psigiater, Belinda Derman, vertel in dieselfde Netwerk24-artikel en gids dat PEV nie sommer net ‘n mite is nie. Sy getuig uit haar eie ondervinding met haar dogter. Volgens Derman “ervaar mense met PEV enige verlies aan onafhanklikheid en gelykheid as ‘n bedreiging”. Sy het op die harde manier geleer en sê ‘n mens moet aanvaar dat so ‘n mens nie gedwing kan word om selfs alledaagse dinge te doen nie.
Derman vertel ook dat metodes om gedrag te verander en wat gewoonlik vir die meeste ander kinders werk, nie noodwendig vir hierdie kinders werk nie. “Dit maak dit net erger vir kinders met PEV” – hetsy jy dit gebruik as aanmoediging (sterrekaart) of ‘n soort straf (time-out).
Jou tipiese PEV-kind vind ook oorgang (“transition”) moeilik en sal dikwels ‘n uitbarsting (“meltdown”) hê. Dit kan iets eenvoudig wees, soos om ‘n uitbarsting na aandete te hê, want dit wat daarop volg, bv. om te gaan bad en slaap, is ‘n oorgang (verandering). En dink self, dit maak amper alles in so ‘n huishouding en verhouding problematies en kan ontaard in ’n onaangename magstryd.
Tipiese eienskappe sluit onder andere in:
- Skop vas en weier of vermy om alledaagse goed te doen. Die persoon onttrek, sluit homself af en maak homself uit die voete.
- Verstaan nie waar hy inpas in die sosiale hiërargie nie en wil soos ‘n ouer of onderwyser wees – hy wil die beuel blaas.
- Lyk op die oog af aangenaam en tegemoetkomend.
- Voel hy verloor sy selfstandigheid en beskou dit as ‘n erge bedreiging.
- Obessiewe gedrag wat op ander mense fokus – oordrewe liefde of haat word teenoor iemand getoon.
- Sosiale strategieë om iets te vermy deur die ander persoon se aandag af te lei, of die onderwerp te verander, of betrokke te raak by interessante gesprekke. Of die PEV-persoon gebruik die uitstelbenadering – verskoon homself (met verduidelikings oor hoekom hy iets nie kan doen nie), of hy verklaar homself onbevoeg (sy been is dalk seer en hy is bang dit word seerder). Onttrekking met behulp van rolspel of fantasie of om betekenisvolle gesprekke te vermy.
As hierdie benaderings nie die persoon in staat stel om die eis te vermy nie, of nie raakgesien of op gereageer word nie, kan dit gebeur dat dinge vinnig verander en kan dit paniek veroorsaak. Dit is nie iets wat die persoon spesifiek kies nie – dit gebeur instinktief en so ‘n persoon sal vlug, veg of vries. Die gevolglike uitbarsting kan met ‘n paniekaanval vergelyk word.
Wanneer jou kind se mandjie te vol raak: sensoriese oorlading
Dit is belangrik om te weet dat die reaksie en uitbarstings op sekere snellers nie noodwendig ‘n patroon volg nie – soms sal die kind daarop reageer en soms nie. Daarom lyk dit dikwels of die PEV-kind sekere situasies baie goed kan hanteer – veral as hy in ‘n klaskamer is – en sal hy sy ware gevoelens wegsteek agter ‘n “masker”, maar die spanning wat dit meebring om hierdie selfbeheersing toe te pas, kry dan wel later die oorhand. Wanneer die kind dan in ‘n “veilige” omgewing (soos tuis) is, sal hy op selfs die kleinste sneller wel ‘n oordrewe uitbarsting hê. Die rede? Sy stresladingsmandjie het deur die verloop van die dag, of selfs oor ‘n paar dae, geleidelik voller geraak – en … wanneer die mandjie dan te vol raak, is daar nie meer beheer nie en loop hy oor (uitbarsting).

Hoe hanteer jy as ouer jou kind met PEV?
Hou in gedagte, ongeag wat ander sê of dink, jou kind is nie lui of stout nie, maar eintlik angstig. Die tipiese skoolstelsel van beloning en straf maak nie hond haaraf met hierdie kinders nie.
As jy ‘n PEV-kind het doen die volgende:
- Die belangrikste is om jouself te bemagtig. Lees en leer daaroor, raadpleeg kundiges en werk saam met terapeute as daar ‘n diagnose gemaak is.
- Sorg vir ‘n ondersteuningstelsel – hetsy familielede wat jy kan vertrou of die aangewese kundige.
- Probeer om nooit jou kind te dwing om iets te doen nie – moet dus nie ‘n direkte opdrag gee nie. Hier is ‘n voorbeeld: Jou kind moet gaan bad, maar jy is nou al blou in die gesig van soebat en vra. Probeer die volgende – al werk dit nie elke keer nie: Sê: “Ek het die warmwatersilinder aangeskakel. Die water behoort nou lekker warm te wees.” Net dit!
- “Omdat ek so sê!” – ‘n Gewilde gesegde onder ouers, want ons is mos die grootmense en hoef nie altyd vir ‘n kind redes te gee oor alles nie. Nee, ongelukkig is dit nie hoe dit werk met die PEV-kind nie en kan dit sake net vererger.
- Jy moet bereid wees om dinge te doen of “toe te laat” wat teen jou grein is, want, sê die kenners, tipiese grense werk nie hier nie.
- Dink buite die boks, die tipiese PEV-persoon wil “’n gevoel van outonomie en beheer handhaaf”.
- Indien jou kind in ‘n hoofstroomskool is, is dit nodig om die onderwysers in te lig sodat hulle insig in jou kind se optrede het.
- Pas “low-demand”-ouerskap toe. Dit beteken om strategieë toe te pas wat angsvlakke tot die minimum beperk, en wat ten doel het om die kind buite die veg-vlug-situasies te hou. Verduidelik dus aan jou kind wat om te verwag en wat volgende gaan gebeur, gebruik indirekte kommunikasie en versoeke om die persepsie van eise te minimaliseer, wees buigsaam en laat keuse toe. Gebruik benaderings wat outonomie aanwakker. En nee … jy dans nie na jou kind se pype nie … jy volg ook nie die weg van die minste weerstand nie … jy doen wat die beste vir jou en jou kind is.
- En die heel belangrikste: Wees lief vir jou kind, aanvaar hom en kry iemand wat jou emosioneel kan ondersteun, want jy gaan in die spervuur beland van tyd tot tyd omdat jy kwansuis jou kind “anders” grootmaak.
Volgende week gesels ons verder oor PEV en vertel jou meer oor outistiese eisevermyding, die tipiese gedagtes waarmee die PEV-persoon stoei, sy unieke eienskappe, asook wat as eise beskou kan word. Ons raak ook aan selfhelpstrategieë.
Bronne:
PEV: As jou kind nie wil stort, hare borsel of skool toe gaan nie | Netwerk24
Patologiese Eisevermyding (PEV)
https://neurodivergentinsights.com/blog/low-demand-parenting
Lees ook:
Neurodiversiteit: Riglyne vir ouers en onderwysers om die uitdagings te hanteer. – Afrikaans.com
Kyk gerus na hierdie video’s: