Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Foto bo: Brendon Daniels as Cowboy Dan.
“Jy is maar net so goed soos jou volgende produksie.” – Brendon Daniels
Of jy nou televisiereekse kyk, hou van fliek of soms jou gesig by verhoogproduksies en feeste wys, kanse is groot dat jy al die veelsydige en bekroonde akteur Brendon Daniels gesien en beleef het. Enkele rolle uit ‘n lys langer as my arm, sluit in die koudbloedige gangster Hercules in die Showmax-reeks Spinners, die speurder Forty Bell in White Lies, Piet Panga in Desert Rose, Kaptein Krige in Arendsvlei, JP Willemse in Vallei van Sluiers en nog talle meer. Wat veral opval, is die eerlike en respekvolle manier waarop Brendon sy karakters uitbeeld. In elke rol wat hy vertolk, word hy as’t ware die karakter, want sê hy: “Ek probeer om nooit die karakter te oordeel nie en soek die eerlikheid binne elke karakter sodat mense hulle met hom kan vereenselwig.” Brendon sê verder dat hy bevoorreg is om diverse rolle aan te pak en elke uitdaging geniet. “Ek is gelukkig genoeg om omring te word met die room van die Suid-Afrikaanse bedryf en leer ontsaglik baie. Tog bly teater steeds my gunstelingmedium.” Afrikaans.com het die voorreg gehad om ook die man agter die akteur – die een wat maar grootliks uit die kollig bly – van nader te leer ken.
Waar het dit alles begin?
Brendon is die oudste van vier kinders en het sy eerste sewe jaar in Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte deurgebring, “omring deur nefies en niggies. Ons het gespeel tot wanneer die son sak en het ‘n huis-fliekteater reg oorkant ons huis gehad. Daarvandaan is ons Blackheath toe.” Na matriek het Brendon by ‘n tekstielfabriek en ‘n drukkery gewerk en was ook ‘n tyd lank skoonmaker en portier by die N1 Stad Hospitaal en later toelatingsbeampte by die ongevalle-afdeling. Hierna het hy ‘n draai gemaak by die GrandWest Casino as Slots-toesighouer. “Dit is gedurende hierdie tyd dat ek deeltydse akteur geword het.” Brendon vertel verder dat hy van jongs af aan teater, eisteddfods en talentkompetisies deelgeneem het en maar nog altyd gemaklik op die planke was. Terwyl hy by die casino gewerk het, het hy die regie van toneelstukke vir die casinowerkers behartig. Dit was juis tydens een van hierdie vertonings dat sy huidige agent hom raakgesien het en hom genader het. In Oktober 2005 het hy permanent akteur geword nadat hy ‘n verhoogrol gekry het.
Brendon speel elke rol met oortuiging, maar hy laat val tog dat sy gunstelingrol ‘n paar jaar gelede die menseregteaktivis Malcolm X was. “Ek was gelukkig genoeg om hom te vertolk in ‘n teaterstuk by die Markteater.”
Wat is nodig om ‘n goeie fliek, reeks of teater te maak?
Brendon is van mening dat veral teaterstukke met ‘n goeie teks begin. Hy het dan ook tydens “lockdown” die tyd gehad om ’n idee wat hy gehad het, te ontwikkel. ‘n Goeie vriend het die teks geskryf vir ‘n vollengte speelfilm wat in 2023 geskiet is. Sy hoop is dat daar nog sulke geleenthede gaan wees.
Dit sit nie in elkeen se broek om ellelange dialoog te onthou nie.
Brendon gebruik ‘n tegniek in drama wat “blocking” genoem word. “Ek onthou my woorde beter so – daarom is dit vir my belangrik om gereeld teater te doen en sodoende speelfiks te bly.” Vir die lesers wat soos ek gewonder het oor die tegniek: Die akteur, saam met die regisseur en ander akteurs, verdeel die stel in blokke (op die verhoog sal dit wees links voor, middel agter, regs voor, ens.). Dit gaan dus meer oor die beweging en choreografie as om die woorde as sodanig te leer. Die akteur se posisie op die verhoog of binne die toneel, gekombineer met die aksie, plot, subteks en so meer, help hom om die dialoog natuurlik en binne konteks te onthou en oor te dra.
En dit is juis hierdie tegniek wat daartoe bydra dat hy so outentiek oorkom – watter rol hy ook al vertolk. “Ek moet myself kan oortuig om gemaklik te wees om dit op kamera of die verhoog te doen, want in elke rol is daar ‘n element van wie jy as mens is – en juis dit maak ’n mens kwesbaar.”
Was jy al ooit buite jou gemaksone terwyl jy ‘n rol vertolk het?
“Ja, ek sou sê dit was waar ek die karwag gespeel het in die 2018-Silwerskermfeeskortfilm, Cowboy Dan.” In die kortfilm leef Dan (Brendon) in ‘n droomwêreld – hy is die een cowboy in ‘n stad van kroeks – en sy missie is om ‘n gesteelde kar terug te kry en reg en geregtigheid te laat geskied.
Glitz en glamour?
Die kollig met sy glans en swier is nie ‘n plek waar jy Brendon dikwels sal raakloop nie, maar dis ook iets wat hy nie kan vermy nie. Daarom sê hy dat die tyd wat hy saam met sy familie en vriende deurbring so kosbaar is. “Ek geniet tyd saam met hulle en dit hou my geanker. Daar’s niemand beter as jou familie om jou te herinner WIE jy nou eintlik is nie.” Behalwe om tyd saam met sy hartsmense deur te bring, sê Brendon dat hy ontspan deur in die tuin te sit en lees en net sommer by die huis te wees. “Dis nodig om soms te ontlaai, want ons akteurs se beroep is besig en uitdagend. Niks maak my gelukkiger as om in my familie en vriende se teenwoordigheid te wees en net myself te kan wees nie.”
Kan hy darem water kook?
“Ek kan braai en ‘n eier kook … so ek sien myself meer tyd deurbring in die kombuis in die nabye toekoms,” lag hy.
So bietjie wysheid vir voornemende, jong akteurs?
“Hou altyd in gedagte – dis ‘n leefstyl en lewenslange commitment. Jy moet daarin belê. Jy kan nie laat slaplê nie en moet jou vaardigheid die hele tyd verfyn. Niemand gaan iets vir jou doen nie – jy moet dit vir jouself doen. Wees daarom teenwoordig en gryp elke geleentheid aan. Ek weet dis nie maklik nie, maar dis rewarding.”
Brendon beskryf homself as ‘n “homebody” wat daarvan hou om te lees en te droom, “want soms word daai drome waar”. Daarom sal hy niks in sy lewe verander as hy nog ‘n kans sou kry nie, “juis omdat dit die nou sou beïnvloed het – en waar ek my nou bevind, is waar ek wil wees. Ek wil kreatief wees, stories vertel en myself voortdurend reinvent. En dan sal dit ook lekker wees om so nou en dan onsigbaar te wees …”

Ons is seker dat ons nog vir lank Brendon se uitstekende en veelsydige spel sal kan geniet, want hy vertel dat hy geen voorneme het om af te tree nie. “Fingers crossed!”
Afrikaans.com bedank Brendon Daniels – weg van die ligte “sy ma se oudste, ‘n oom, life partner, broer en bra” – vir sy tyd om ons vrae te beantwoord. Ons sien uit na daardie volgende rol!
