Mediaverklaring
Ná maande se beplanning, bloedsweet, onderhandelings, navorsing, kopkrap en harde werk, is dit uiteindelik hier: Die program vir Afrikaans 100 se vieringe van ons mooiste laslappietaal se eeufees as amptelike taal.
Die fees skop op 8 Mei af met ’n openingseremonie in Kaapstad en daarna word alles van konserte en langtafels tot gedenklesings en taaltoere gehou.
“Afrikaans 100 se fees is om die draai,” sê Giep van Zyl, nasionale koördineerder van Afrikaans 100. “Ons nooi almal uit om saam met ons fees te vier. Trek jou dagboek nader, merk hierdie datums en besoek www.afrikaans100.org om meer besonderhede oor elke geleentheid te kry. En onthou, die res van die jaar is ook feesjaar. Hou ons webblad en sosiale media dop, beplan jou eie feesvieringe en wen dalk ’n groot prys!”
“Afrikaans vier ’n mylpaal binne die baie langer bestaan van ons pragtige taal,” sê René Arendse, adjunk- nasionale koördineer van Afrikaans 100.
“Op 8 Mei 2025 staan ons taal 100 jaar sterk binne sy erkende amptelikheid, maar sy storie begin nie in 1925 nie. Afrikaans se komvandaan strek terug na die 1500’s met die eerste klanke geskep deur die Khoi-Khoi en Europese seevaarders as kontaktaal om mekaar te verstaan en te onderhandel. Vandaar die eerste vorm van ons taal: Khoi-Afrikaans. Ons taal groei verder deur die invloed van slawe wat hier aangekom het tot die eerste geskrewe Afrikaans wat in Arabiese skryfkuns in die Bo-Kaap opgeteken is. Ons taal bly groei, deur pyn en trauma tot ’n universiteitstaal.
“Die doel van Afrikaans Amptelik 100 is drieledig. Ons wil die komvandaan, hede en toekoms erken, verken en vier. Benewens ons vier groot makieties, sal projekte soos ons nasionale skolekompetisie, gespreksreekse, gemeenskapsinisiatiewe, boekbekendstellings en entrepreneursprojekte ons doel bereik. Ons reikwydte word moontlik gemaak deur wonderlike vennote, medewerkers en individue wat reeds besig is met hul eie planne.”
Hiermee die chronologiese program vir Mei se vieringe. Die volledige program, asook waar om kaartjies te koop vir die betaalde gebeure, is op die webblad by www.afrikaans100.org/program beskikbaar.
Afrikaans 100 Openingseremonie
Afrikaans het sy eerste treë in die Bo-Kaap gegee en dit is net gepas dat die openingseremonie hier sal plaasvind. Dit gaan ’n feestelike geleentheid wees met Afrikaans, ons mooiste taal, as eregas en met verskeie bekendes en kenners wat saam die spreekwoordelike lint gaan knip.
8 Mei – 09:00 tot 11:00
Kasteel die Goeie Hoop, Kasteelstraat, Kaapstad
Afrikaans 100 Onthulling van muurskildery
’n Ikoniese muurskildery word in die Bo-Kaap geskilder om Afrikaans se eeufees as amptelike taal te vier en ’n simboliese uitbeelding van die reis van Afrikaans na te laat. Hierdie opdragwerk deur ’n talentvolle jong kunstenaar sal toeskouers deur middel van QR-kodes na opvoedkundige platforms lei en die komvandaanstorie van ons taal laat voortleef.
8 Mei – 12:00 tot 13:00
Op die hoek van Waal- en Pentzstraat, Bo-Kaap
Almal welkom en bywoning is gratis
Afrikaans 100 Langtafels vir Afrikaans
Daar sal by verskeie langtafels aangesit word; kom trek jou stoel nader en geniet ’n fees van Kaap-Maleisiese kos gekook deur mense wat weet hoe om kardomyn, borrie en masala te meng dat dit op jou tong dans. Ook op die spyskaart is kos uit verskillende streke in die omgewing wat feesgangers gaan laat smul.
8 Mei – 13:00 tot 15:00
Cultural Hub, Pentzstraat 26, Schotschekloof, Bo-Kaap, Kaapstad
8 Mei – 17:30 tot 20:30
Afrikaanse Taalmonument, Gabbema Doordriftstraat, Paarl
9 Mei – 14:00 tot 16:00
Karl Schiefer-saal, Moraviastraat, Genadendal
Afrikaans 100 Gedenklesings
Gedenklesings om hierdie mylpaal in Afrikaans se geskiedenis te vier en erkenning aan Afrikaans te gee word in die Wes-Kaap en Gauteng aangebied.
8 Mei – 16:00 tot 17:00
Afrikaanse Taalmonument, Gabbema Doordriftstraat, Paarl
9 Mei – 10:30 tot 12:30
Morawiese Kerk, h.v. Moravia- en Kerkstraat, Genadendal
23 Mei – 10:00 tot 13:00
Kroonsaal, Fort Schanskop, Pretoria
Afrikaans 100 Feesdinees
’n Feesdinee wat ’n fynproewers-driegangmaaltyd insluit op een van die mooiste wynlandgoedere in die Paarl en by die Pretoria Buiteklub in Waterkloof. Met seremoniemeesters Lizz Meiring en Christo Davids.
8 Mei – 18:30 vir 19:00
Kronenburg Landgoed, Malmesburyweg, Paarl
22 Mei – 18:30 vir 19:00
Pretoria Buiteklub, Waterkloof, Pretoria
Afrikaans 100 Uit die mond
Uit die mond is ’n musikale viering van die Afrikaanse taal uit elke mond wat dit praat. Met Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Emo Adams, Frazer Barry, Lynelle Kenned en Nicole Holm
Teks en regie: Bianca Flanders Musiekregisseur: Melissa van der Spuy Vervaardiger: Afrikaans 100
10 Mei – 19:30
11 Mei – 15:00
Hoërskool Durbanville Ouditorium, Langenhovenstraat, Durbanville
28 Mei – 19:30
29 Mei – 19:30
Atterbury Teater, Daventrystraat 4, Lynnwood Manor, Pretoria
Kuns van die Afrikaanse kunslied
Aangebied deur Afrikaans 100 en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
Die Afrikaanse kunslied kom al langer as ’n eeu en is geskep deur Suid-Afrikaanse komponiste deur sensitiewe bewuswording en voortdurende vernuwing en innovasie.
Met Jo-Nette LeKay (sopraan), Linette van der Merwe (mezzosopraan), Chris Mostert (tenoor), Niël Rademan (bariton) en Susan Steenkamp-Swanepoel (pianis)
Samesteller: Linette van der Merwe
9 Mei – 19:30
Toringkerk, h.v. Hoof- en Van der Lingenstraat, Paarl
25 Mei – 15:00
Musaion, Universiteit van Pretoria-kampus
Afrikaans 100 Makieties
Is jy lus vir liplek-lekkerte? Die Afrikaans 100 Makieties – wat in die Bo-Kaap, Paarl, Genadendal en Pretoria gehou word – gaan jou smaakkliere laat baljaar.
10 Mei – 10:00 tot 22:00
Afrikaanse Taalmonument, Paarl
10 Mei – 10:00 tot 22:00
Cultural Hub, Pentzstraat 26, Schotschekloof, Bo-Kaap, Kaapstad
10 Mei – 11:00 tot 18:00
Genadendal-museum, Moraviastraat, Genadendal
24 Mei – 10:00 tot 22:00
Botaniese Tuin, Pretoria
Afrikaans 100 Aandmark
’n Aandmark vir die hele gesin onder die reusebome van die werf by die Genadendal-museum. Met spys en drank, kuns en allerlei, is hierdie ’n geleentheid om die hart van die historiese dorp te leer ken.
9 Mei – 18:00 tot 21:00
Genadendal-museum, Moraviastraat, Genadendal
Taaltoere
9 Mei – 09:00 tot 15:00
Taaltoere in die Bo-Kaap
Kaartjies en bespreking by die Bo-Kaap Cultural Hub
9 Mei – 09:00 tot 15:00
Taaltoere in die Paarl
Kaartjies en besprekings by die Afrikaanse Taalmonument
10 Mei – 09:00 tot 11:00
Taaltoere in Genadendal
Kaartjies en bespreking by die Genadendal-museum
22 en 23 Mei – 09:00 tot 15:00
Taaltoere in Pretoria
Kaartjies en bespreking by die Voortrekkermonument
Vir die res van ons eeufeesjaar gaan die hele land saam feesvier. Besoek www.afrikaans100.org en raak betrokke!
