Geskryf namens die AON deur Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Kinders wat nie saampraat nie se aandag word makliker afgelei, en breinpaadjies kan net gebou word in breinareas wat “aangeskakel” is.
Dink aan ’n dokument op ’n rekenaar wat eers oopgemaak moet word voordat ’n mens daaraan kan werk.
Daar is twee hoofredes hoekom kinders nie deelneem terwyl hulle in groot groepe is nie:
1. ’n Diffusie van verantwoordelikheid:
Mense van alle ouderdomme voel minder verantwoordelik om deel te neem, standpunt in te neem of ’n opinie te lug terwyl hulle in ’n groot groep is. Dis asof hulle voel dat hulle in die groep nie persoonlik so aanspreeklik gehou kan en sal word nie. Hierdie verskynsel word die toeskouer-effek (“bystander effect”) genoem.
2. Die vrees om negatief beoordeel te word:
Kinders kan om verskeie redes bang wees dat ander kinders (of onderwysers) vir hulle sal lag of hulle negatief sal beoordeel wanneer hulle iets verkeerd sê of nie intelligent klink nie. Die toeskouer-effek en ’n vrees vir negatiewe beoordeling laat baie kinders in groepe soos toeskouers optree.
In die klaskamer:
Kinders wat in een-tot-een situasies en klein groepies oefen om deel te neem ontwikkel meer selfvertroue en waagmoed. Hulle begin om hulself as aktiewe deelnemers te beskou.
Hier is wenke:
- Gesels dikwels self met individuele kinders in een-tot-een situasies, op ’n ontspanne manier. Vra vrae oor hulle werk, iets waarmee hulle besig is, wat hulle beplan, en hoe hulle voel oor wat hulle doen en leer.
- Bied aktiwiteite in klein groepies aan om onderlinge gesprekvoering aan te moedig.
- Wys soms vooraf vir een kind hoe ’n aktiwiteit of speletjie werk sodat hy/sy as die instrukteur kan optree of minstens jou helper kan wees.
- Gee opdragte wat kinders twee-twee moet uitvoer. Paar dan doelbewus kinders wat nog onseker is met ander wat selfvertroue het.
- Skep ’n aanvaardende omgewing waarin kinders nie toegelaat word om te lag vir iemand anders wat ‘n fout maak nie.
- Beklemtoon sleutelwoorde en uitdrukkings wat verband hou met sekere gespreksonderwerpe om vir kinders die woordeskat te leer wat nodig is om oor gewilde onderwerpe te kan praat.
- Stel duidelike verwagtings. Prys doelbewus die gedrag wat jy wil sien en herinner kinders deurlopend daaraan dat dit vir jou belangrik is om te sien dat hulle probeer deelneem.
Tuis:
Moedig ouers aan om tuis met hul kinders opvoedkundige speletjies te speel. Wanneer twee of drie mense saam speel is die onus op elke speler om aktief deel te neem wanneer dit sy of haar beurt is.
Dis ’n praktiese manier om kinders te leer om vir hulself te dink en hulself as deelnemers te leer ken. Kinders leer in die eerste plek tuis hoe om verantwoordelikheid te aanvaar, saam te werk, frustrasie en konflik te hanteer, ’n eie mening te formuleer en taakgerig op te tree
Kontak gerus vir Wilna van Rooyen via Wilna@aonetwerk.co.za vir meer inligting.
Besoek die AON se webtuiste vir meer inligting: https://aonetwerk.co.za/