Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Roedolf van der Westhuizen is die uitvoerende hoof van die MOS Inisiatief – ‘n onafhanklike skolenetwerk wat gehalte en toekomsgerigte Afrikaanse onderrig verskaf. Sedert 2019, is meer as elf skole regoor Suid-Afrika sowel as ’n wêreldwye aanlyn tuisskooldiens gestig. ’n Nuwe en innoverende benadering tot leer maak Die MOS ‘n unieke ervaring. Volgens hierdie benadering word leerders vennote in hul leerreis eerder as passiewe ontvangers van inligting. Afrikaans.com het met Roedolf gesels oor sy filosofie oor die onderwys en hoe hy die klaskamer van die toekoms sien. Ons gee jou ook ‘n kykie op die man agter die amp.
Die hoofdoelwit van MOS is om uitmuntende Afrikaanse onderrig te verseker en uit te bou deur ‘n netwerk van Afrikaanse skole. Ons wou weet hoe MOS dit regkry om hierdie doelwit te verwesenlik. Roedolf som dit soos volg op:

- Bestaande onderwyspyplyne word in stand gehou en uitgebrei deur gapings te vul waar dit nodig en ook moontlik is. Dis belangrik om te verstaan dat die onderwyspyplyn bestaan uit kleuterskole, dan laerskole, gevolg deur hoërskole wat eindig by tersiêre instansies. Indien enige dele van die pyplyn ontbreek, begin ouers en leerders daaraan dink om eerder ander dele van die pyplyn in Engels te doen wat beteken daardie leerders is verlore vir Afrikaanse onderrig. Die gevolg is dat die ander dele van die pyplyn al hoe meer druk beleef op hul vermoë om voort te bestaan. Dit begin by spesifieke kleuterskole wat spesifieke laerskole se voedingsbronne beskerm. Hier is ‘n lys van die kleuterskole wat openbare laerskole se voedingsbronne help beskerm:
- Kleinhoewe Kleuterskool beskerm Laerskool Proteapark in Rustenburg
- Kinkkie Knakkie Kleuterskool beskerm Laerskool Wonderboom in Wonderboom, Pretoria
- Linden Akademie beskerm Laerskool Louw Geldenhuys in Linden Johannesburg
- Emmanuel Kindersentrum beskerm Laerskool Constantiapark
- Knikkievallei Kleuterskool beskerm Laerskool Kenmare
- Nuwe pyplyne word geskep deur onafhanklike skole te stig of te bekom wat dan hierdie nuwe pyplyne vestig. Enkele voorbeelde is: Futurum Akademie (graad R – 12); Kosmos Akademie (graad RRR tot graad 1 met die oog op toekomstige uitbreiding tot en met graad 12), Vuurvliegie en Karos Akademie (kleuterskool tot hoërskool). Die MOS Leerstelsel word ook reeds met groot sukses in sommige van hierdie skole gebruik.
- Tuisskoolonderrig: MOS Wêreldwyd aanlyn tuiskooldiens voorsien tans in die tuiskoolleerbehoeftes van graad 4 tot 12 en daar word gewoeker om ook die grondslagfaseleerders in die nabye toekoms te akkommodeer.
- ‘n Innoverende leerstelsel word ingespan. (Lees gerus in die kassie meer hieroor.)
Wat behels die MOS-leerstelsel?
Leerderbetrokkenheid word verseker deur die beginsels van selfgerigte leer sodat nuwe konneksies in ontvanklike breine gevorm word en die brein soos ‘n sterk geoefende spier kan ontwikkel.
- Die kernkonsepte van die SA Kurrikulum word onderrig sodat leerders in graad 12 uitstekend vaar in die “ou” stelsel.
- Leerders het daagliks toegang tot kundige onderwysers (vakkundiges) en leerafrigters (leerbestuurders) op ‘n digitale leerbestuursplatform.
- Vakkundiges gee een-tot-een terugvoer.
- Daar word deurentyd op die volgende vaardighede gefokus: Kommunikasie, kritiese denke, samewerking, kreatiwiteit, burgerskap en karakter.
Die resultaat?
Lewenslange leerders, wêreldburgers en innoverende leiers wat lief is vir leer, uitmuntendheid verstaan en dit nastreef.
Ons wou by Roedolf weet hoe hy die perfekte leeromgewing sien en hoe die “klaskamer” van die toekoms behoort te lyk. Sê Roedolf: “Dis eintlik ironies, want volgens my is die perfekte leeromgewing juis nie perfek nie. Wat ek daarmee bedoel is dat die leeromgewing ‘n veilige spasie vir die leerder moet wees, waar hy gemaklik voel om foute te maak en om daaruit te leer. Ons ken almal tradisionele leeromgewings waar iets reg of verkeerd is en die omgewing baie meer rigied is en uitkomste hoofsaaklik resultaatgedrewe is. Baie leerders is daarom bang om foute te maak of dalk die verkeerde antwoord te gee en dit kan hulle verhinder om te probeer ongeag die uitkoms. Daarom moet ons ons kinders aanmoedig om krities te dink oor goed, hulle entrepreneuriese breine aan te skakel en lief te word vir leer – op enige plek en in enige situasie. Hulle moenie wag dat iemand anders hulle leer nie, maar selfgerigte leer toepas. Op die ou end is dit belangriker om te weet hoe om by die feite uit te kom as om die feite woordeliks te onthou. My gevoel is dat dit soveel minder stres tot gevolg sal hê en dat ons op dié manier lewenslange leerders sal kweek. Ons kinders moet nooit bang wees om te leer nie – ontdekking is 60% van die pret.”
Voldoen die MOS-leermodel aan alle kinders se leerbehoeftes? Roedolf reken dat dit wel die geval is, veral omdat die beginsel van een-tot-een terugvoer toegepas word en ‘n mens op die manier baie vinnig kan agterkom watter leerders sukkel of doen nie hul bes nie en dan dadelik daarvan kan werk maak. “Ons probeer dit by die leerders tuisbring dat hulle self verantwoordelik is vir hulle leerproses. Dit is nie die ouers en onderwysers se taak nie – wel om bystand te verleen – maar uiteindelik behoort die genot van leer die intrinsieke motiveerder te wees en moet elke leerder homself motiveer. Natuurlik is daar leerders wat spesiale aandag nodig het, maar dit word goed ondervang met so ‘n leermodel.”
Nou wat dan van die skole wat nie toegang het tot die jongste tegnologie en hulpbronne nie? Roedolf antwoord dat dit altyd ‘n netelige kwessie sal bly, maar tog voel hy dat deur juis die beginsels van selfgerigte leer toe te pas, enige kind in watter skool ook al ‘n liefde vir leer kan ontwikkel. “Daardie onderwyser wat deur sy entoesiasme en innoverende metodes voor ‘n klas staan en sonder enige tegnologie tot sy beskikking leerders lief maak vir ‘n vak … dit is die kaliber onderwyser wat dit kan maak werk.”
Oor moedertaalonderrig
Die MOS bevorder Afrikaanse moedertaalonderrig, maar ondersteun onderrig in alle landstale en die organisasie sal graag wil sien dat daar in die toekoms gehalte onderwys in ander inheemse tale ook plaasvind.
Volgens Roedolf is dit juis ook die rede hoekom hulle op die naam “MOS” besluit het, wat staan vir Moedertaal in Onafhanklike Skole – “om alle inheemse tale in te sluit en nie net Afrikaans nie”. Maar hoe gaan dit bewerkstellig word? “Een manier is dat almal hulself ten minste net vergewis van UNESCO se riglyne ten opsigte van onderwys. Volgens UNESCO is opvoeding/onderwys ‘n fundamentele mensereg en die weg na volhoubaarheid. Deur behoorlike opvoeding kan armoede verminder word, sal die mensdom beter gesondheid ondervind, sal die omgewing beskerm word en sal geslagsgelykheid tot sy reg kom. Sedert 2015 lei, koördineer en monitor die organisasie die sogenaamde “Volhoubare Ontwikkeling Doelwit 4”, as deel van die nuwe “Globale onderwys 2030-agenda”. Doelwit 4 het ten doel om inklusiewe en regverdige gehalte onderwys te verseker en om lewenslange leergeleenthede vir almal te bevorder. Daarom moet onderrig holisties en inspirerend wees en moet niemand uitgesluit word nie. En dit is presies dit wat MOS ten doel het.”
Roedolf noem dat ons in Suid-Afrika met die realiteit sit dat ons wel talle skole het wat op Eerste Wêreld-standaard funksioneer, maar binne ‘n Derde Wêreld-land. Daarom is ons leerders dikwels eers later (op 18-jarige ouderdom) gereed om in ‘n ander taal as hul moedertaal te leer. In ‘n Eerste Wêreld-land is leerders op so jonk as 12 gereed om in ‘n tweede en derde taal te leer. “Dit is hoekom ons dan juis sien dat ons leerders wat in Afrikaanse skole is en in hul moedertaal skoolgaan, wel soos leerders in Eerste Wêreld-lande, op vroeër ouderdom suksesvol is.”
Moedertaalonderrig: ‘n Droom of ‘n realiteit?
Roedolf is passievol oor moedertaalonderrig, veral gegewe die legio voordele wat daaruit spruit om ‘n mens se kind die geskenk van moedertaalonderrig te gee – juis omdat dit ‘n kind ‘n voorsprong gee en grootliks bydra tot toekomstige sukses. “By MOS is ons groot droom om Afrikaans te posisioneer as die versoeningstaal. Ons wil ons suksesresep met ander deel sodat dit op alle dele van die bevolking toegepas kan word en op die manier wil ons optimale samewerking bewerkstellig.”
Raad aan voornemende ouers ten opsigte van hulle kind se onderrig
Roedolf sluit aan by sy reeds genoemde oortuiging dat moedertaalonderrig die eerste prioriteit moet wees – in die keuse van skole en natuurlik die taal van onderrig en leer. Dit is ook vir hom van kardinale belang om die karakter en kultuur van die gekose skool in gedagte te hou. “Dis ons as ouers se verantwoordelikheid om ons kinders se karakters te ontwikkel en te bou. Daarom is dit dan ook belangrik om ‘n skool te kies wat ons waardesisteem ondersteun. Ja, akademie en sport is belangrik, maar om volronde kinders en jongmense te kweek, is steeds vir my een van die belangrikste oorwegings.”
Hoe oortuig ‘n mens ouers dat dissipline en onderrig tuis begin en dit nie die skool of onderwyser se verantwoordelikheid is nie? “Ek dink ouers moet besef dat as hulle besluit om kinders te hê hulle ‘n ooreenkoms sluit tussen hulself, hulle kinders en die Opperwese. Daardie fisiese en geestelike karakterbou is nie iets wat gedelegeer kan word nie en dit is elke ouer se verantwoordelikheid om sy kind met dissipline en die regte waardes groot te maak. Onderwysers kan dit wat jy jou kind by die huis leer, net versterk. Tog dink ek alle onderwysers sal jou ewig dankbaar wees as jy ‘n kind skool toe stuur wat ander respekteer.”
Oor die Bela-wet
“Nie alles in die Bela-wet soos hy tans daar uitsien is sleg nie, maar ek stem nie saam met die taal- en toelatingsklousules nie. Daarom sal ek en die MOS ons kollegas en vennote bystaan om dit aan te pas om in almal se behoeftes te voorsien. Tans word daar byvoorbeeld nie in die Wet voorsiening gemaak vir aanlyn onderrig nie en ons sal dit graag wil verander en in die Wet laat inskryf.”
Roedolf – die mens agter die amp
Soos genoem, vertel ons ons lesers so bietjie meer oor Roedolf – die mens agter die amp – of dan die man in die (soms baie) warm stoel.
Roedolf is gebore en getoë in Pretoria en het sy hoërskoolloopbaan in Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) voltooi. Daarna het hy sy BCom-graad in rekeningkunde en ook ‘n meestersgraad op Potchefstroom (tans Noordwes-Universiteit) behaal en het hy as geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer.
Hier in 2011, toe jeuk sy voete en gaan woon hy en sy vrou, Isabel, ‘n paar jaar lank oorsee in Bermuda. Roedolf se gunsteling-tydverdryf is om te reis en hy vertel dat hy en Isabel voordat hulle in 2017 na Suid-Afrika teruggekeer het, eers ses maande lank om die wêreld gaan reis het. Intussen het hy verskillende bestuursrolle beklee en het sy diverse industrieblootstelling en ondervinding hom die suksesvolle entrepreneur gemaak wat hy vandag is.
Sy passie vir besigheid en innoverende idees is juis wat hom die ideale uitvoerende hoof van MOS maak – veral omdat hy sy persoonlike doelwitte met besigheidsdoelwitte kan belyn. Intussen het Roedolf so sewe jaar gelede pa geword en spog hy en Isabel met twee spruite. Dit is juis sy gesin wat hom werklik gelukkig maak. Om sy geloof uit te leef in sy doen en late en om ewigheidswaarde te sien in wat hy doen, dra verder by tot ‘n tevrede en gelukkige man.

Jou beste belegging nog ooit?
Roedolf huiwer nie en antwoord dadelik dat om met sy vrou, Isabel, te trou, die beste ding is wat hy nog ooit gedoen het en dan hulle besluit om ouers te word van hulle twee pragtige kinders. Ook belangrik, veral gegewe dat hulle op later ouderdom ouers geword het, is sy besluit so twee jaar gelede, om op sy gesondheid te fokus. “Ek wil darem fiks wees op my jongste (amper 1) se troue,” skerts hy.
Hoe ontspan jy?
“Die natuur ontspan my. Ek hou daarvan om aktief te wees – soos om te stap, te jag, gholf te speel en natuurlik te reis. Ons probeer daarom ook altyd iets aktief te doen op ons reise, soos duik, ski en so meer.”
Beskryf jouself in ‘n paar woorde …
Roedolf reken dis maklik. “Ek is avontuurlustig, ‘n gesins- en familieman en entrepreneuries.”
*Afrikaans.com bedank Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die MOS Inisiatief vir sy tyd om ons vrae te beantwoord om hierdie artikel moontlik te maak.
Lees meer oor die belangrikheid van moedertaalonderrig hier Moedertaalonderrig – Afrikaans.com
Oor die MOS Inisiatief en MOS-Wêreldwyd
Lees meer oor die MOS Inisiatief hier Skep ‘n Toekoms in Moedertaalonderrig | MOS
Meer oor die MOS Skolenetwerk hier Kwaliteit Afrikaanse Skole | MOS Skolenetwerk
Lees oor die MOS se leerfilosofie en benadering tot onderwys hier Ons leerfilosofie en benadering tot onderwys
Lees meer oor aanlyn onderrig en hoe MOS Wêreldwyd jou kind help en toerus om te floreer in die onderwyslandskap. Klik hier Bekostigbare Afrikaanse Aanlyn Tuisskool| Tuisonderrig | MOS-Wêreldwyd
Meer oor die beursfonds hier Ondersteun ‘n kind se droom | Die MOS Beursfonds
Nog skakels: