Skrywer: Nicolette Kritzinger
Ek onthou nog die opwinding van ons heel eerste huis.
Dit het presies twee uur en vier minute gehou.
Toe die klop aan die deur. “Welkom by Parktown Villas. Julle moenie van die kompleksvergadering volgende maand vergeet nie, hoor.”
Ek kon nog nooit die konsep van ’n kompleks verstaan nie.
Wie se idee was dit om ’n groep uiteenlopende mense in ’n spasie van 500 x 500 meter in te druk, ’n heining om hulle te span en te sê elkeen moet hul huis dieselfde kleur verf? Dit is ’n resep vir ’n moord.
En ons kompleks is geen uitsondering nie. Dit vat net een kompleksvergadering vir jou om te weet … hierdie is nie jou huis nie. Hierdie is leeuwêreld.
Dis drie weke voor ons jaarlikse kompleksvergadering. Hierdie is Kobie se oomblik. Kobie is die selfverkose hoofmeisie van Parktown Villas, voorsitter van die buurtwag, ondervoorsitter van die Beneukte Vrouevereniging en hoof- pannekoekbakker by die jaarlikse kerkbasaar.
Kobie voer ’n skrikbewind op alle vlakke van haar lewe.
Sy het nou die dag ’n ma van twee in Spar gearresteer omdat sy voor iemand in die ry ingedruk het. Sy sê dit was haar burgerlike plig.
Kobie is al drie keer getroud. Beide haar vorige twee mans het ’n interdik teen haar en die huidige een oorweeg dit sterk. Hy verduur maar nog die waansin, want sy kan blykbaar die lekkerste melktert in die buurt maak … en haar aandag is vir eers by ’n ander saak – die kompleksverkiesing. Dit is Kobie se grootste droom om tot die body corporate van Parktown Villas verkies te word.
Vir die afgelope drie maande hardloop Kobie al ’n verkiesingsveldtog in die kompleks wat Trump s’n soos ’n graad 7-leerlingraadsverkiesing laat lyk. Elke aand klop sy aan ’n ander voordeur om ’n nuwe, belaglike storie oor die huidige body corporate te versprei.
“Jy sal my nou nie glo nie, maar Patricia se een badkamermuur is ’n skakering ligter as wat deur die kompleksreëls gestipuleer word. Nou wil sy wraggies weer staan vir body corporate.”
“Lydia het verlede naweek ’n steggie uit die komplekstuin gesteel. Is dit nou die tipe gedrag wat jy van die body corporate verwag?”
En my gunsteling: “Het jy geweet, maagde en buite-egtelike kinders mag nie op ’n body corporate dien nie? Gaan lees maar op. Dit staan so in die grondwet. Bladsy 3, nommer 2.5.”
So breek die groot aand aan.
Hulle moes drie lede van die weermag ontplooi vir hierdie geleentheid. Nadat Hester by verlede jaar se vergadering vir Pieter aan die kuit gebyt het, kon hulle nie die kans waag nie.
Kobie is al ’n uur vroeër daar – met tien A4-bladyse vol klagtes. Sy het haar graad 7-prefekbalkie in haar broeksak. Dit gee haar altyd ’n ekstra tikkie selfvertroue vir geleenthede soos hierdie.
Met die intrapslag begin die klagtes.
Johan se kind het Karien se hond gebyt. Hy moes vir drie inspuitings gaan. Die hond … nie die kind nie. Nou eis Karien dat die kinders in die kompleks te alle tye aan ’n leiband moet wees.
Daar is nog nie ’n beslissing gemaak nie, toe is Kobie al by die volgende punt op die agenda.
Rina se lelike tuinhekkie. Dit het nou al drie potensiële kopers in die kompleks weggejaag. Volgens Kobie is giggelgeel nie ’n kleur nie. Sy moet dit onmiddellik verf.
En toe gebeur dit. Die ding wat uiteindelik die kameel se rug sou breek. Die aanmerking wat vir Parktown Villas op die voorblad van die Son sou sit.
“Kobie, daai standbeeld in jou tuin moet waai!”
Kobie se man, Jaco, het ’n 2 m-hoë standbeeld van ’n kaal engel in hul voortuin gesit. Dit was ’n geskenk aan Kobie vir hul vyfde huweliksherdenking. Sodat sy altyd aan hom kan dink as sy dit sien.
“Dis kitch, Kobie. Hierdie is Bellville, nie Brakpan nie!” (Ek is nou nog nie seker wat die verskil is nie, maar ek sê liewer niks.)
Ek kan sien hoe dit binne Kobie begin borrel.
“Dis waar, Kobie. Sedert julle daai standbeeld opgesit het, weier my kind om die huis te verlaat of haar groente te eet. Daai ding moet gaan!” kom dit vanuit ’n ander oord.
Kobie kook! Haar oë glinster van woede en ek kan sien hoe sy haar vuiste bal.
Die aantygings word oor die vertrek geslinger. “Ja, dis fallies!” “Ek sou nie twee rand vir daai ding betaal het nie.” “Dit skree 1960!”
Skielik begin Kobie skree. Maar dis nie enige gil nie. Dis ’n oerklank wat geen regdenkende mens kan voortbring nie. Met een swaaibeweging pluk sy haar prefekbalkie uit haar sak. Ek weet nie of dit vir selfvertroue of selfverdediging was nie, maar die balkie glip uit haar hand en vlieg oor die vertrek. Jacomien kom stadig regop. Haar bloederige hande oor haar voorkop geklem waar die balkie steeds vassit.
En toe breek alle hel los. Hierdie is die tipe toneel wat jy by ’n watergat in die wildtuin verwag. Nie in iemand se garage in die hartjie van Bellville nie. Ek vergaap my aan die skouspel wat besig is om voor my af te speel.
Na drie ure vertrek die laaste ambulans. Sowat tien mense is met stretchers uit die motorhuis vergesel. Die bloedspatsels teen die muur en die klossies hare op die grond vertel die hele verhaal.
Op pad huis toe daardie aand wonder ek: Raak ons kwater hoe ouer ons raak?
En wat is dit aan hierdie tipe geleenthede wat die ergste in ons uitbring? Kompleksvergaderings, kerkraadbyeenkomste, oueraande, ’n basaar. Hoekom skree ons so? Oor die kleur van iemand se tuinhekkie, oor die kaal standbeeld in jou buurvrou se tuin, oor die pap jellie in die basaarpoeding.
Of is dit omdat jou man nooit sy handdoek van die vloer af optel nie? Of die feit dat jy wéér nie weet wat om vir aandete te maak nie? Of daai robot op Brackenfell Boulevard wat die munisipaliteit nou nog nie kom regmaak het nie? Of is dit oor die verhoging wat jy wéér nie gekry het nie? Oor die skoolfooie wat alweer volgende jaar opgaan? Oor die onvanpaste foto’s wat jy op jou man se foon gekry het?
Twee dae later hoor ek ’n gedruis onder in die straat. Sowat 30 mense drom voor Kobie se huis saam. ’n Histeriese Kobie is in haar voortuin besig om ’n hamer bo haar kop rond te swaai.
Skielik begin Kobie die standbeeld kap. Sy kap en sy kap en sy kap. Met elke hou stroom die trane oor haar wange.
“Kobie, wat doen jy?” vra iemand. “Ek dog jy is mal oor die engel.”
“Nee,” snik sy. “Jaco hou daarvan. Dink jy regtig ek is so kommin!?”
“Nou wat gaan Jaco dan sê as jy nou die standbeeld so stukkend kap? Dit was dan ’n geskenk vir jul huweliksherdenking,” vra ek.
Sy hou vir ’n oomblik op. “Hy het vanoggend sy laaste klere kom haal.” En net daar breek die damwal. “Blykbaar maak Johanna lekkerder melktert as ek.”
Daar is ’n stilte. Soos een man spat die groep uitmekaar en elkeen verdwyn in hul huise. Die mensdom, darem, dink ek.
Maar later daardie dag kom hulle soos muise een vir een uit hul gate … almal op pad na Kobie se huis. Jacomien van nommer 6 met ’n groot bak lasagna, Johan van nommer 23 met ’n ekstra stukkie malvapoeding wat oorgebly het na hul Sondagete, Lydia van nommer 18 wat straataf suiker met ’n steggie sodat Kobie die gat waar die beeld gestaan het kan toeplant. En dan die gedreun van Kobus by nommer 10 se bakkie soos hy die laaste stukke van die standbeeld wegry. Ek glimlag.
Dalk was die idee van ’n kompleks tog ’n goeie een.
*Let wel: Die name, persone, plekke en gebeure in hierdie blog is fiktief.

