Die vakansie is verby en die jaar is volstoom aan die gang. Maar dalk het jou beursie juis nou ’n hupstoot nodig …
Hier is 10 planne om jou sente so ver as moontlik te rek & steeds lekker te eet.
- REK DIT wat jy het: Gebruik ’n bietjie minder vleis in ’n gereg, selfs ’n maalvleismengsel en REK dit met rooi lensies. Kook die lensies saam met die maalvleis. Dit kook heeltemal weg, maar maak die ete vullend genoeg, sonder dat iemand die vleis sal mis. Sit ekstra groente by hoender wat jy in die oond rooster of net as deel van die ete, sodat jy jou bord daarmee vol maak.
- BEPLAN: Dit help met jou inkopielysie én as jy beplan om eers kos te maak met wat jy reeds in jou yskas of koskas het, hoef jy nie onnodige bestanddele aan te koop nie.
- Koop OORDEELKUNDIG & in SEISOEN: Ken die pryse van bestanddele wat jy gereeld koop, sodat jy weet wanneer iets regtig teen ’n spesiale prys aangebied word. Grootmaat is nie altyd goedkoper nie – let veral op na die prys per kilogram. Dit wat in seisoen is, is beslis meer bekostigbaar en sommer geuriger ook.
- GOEDKOPER, maar steeds voedsame bronne van PROTEÏENE, soos EIER, BONE en ander PEULE, is meer bekostigbaar as vleis. Wees kreatief en maak ’n paar aandetes daarmee. Daar is heerlike resepte hiervoor op ons webwerf.
- BLIKKIES VIS is ’n gesonde bron van PROTEÏEN en regtig voedsaam. Dit kan maklik met groente in ’n maaltyd vir ’n hele gesin omskep word. Of maak ’n baksel viskoekies vir aandete.
- EENPOTGEREGTE is ’n wonderlike manier om met ’n bietjie van dit en bietjie van dat, ’n smullekker ete voor te berei. Of KOOK in GROOTMAAT en vries ’n deel vir ’n volgende ete. Maak twee etes op ’n keer (bv twee heel hoenders) in die oond gaar, terwyl dit aan is – so spaar jy baie krag.
- Pak jou EIE KOSBLIKKE – dis baie goedkoper as om iets by ’n kafeteria of wegneem-eetplek te koop.
- Wees KREATIEF met oorskiet en moet niks mors nie. Vries oorskiet vleis en gebruik dit in ’n eenpotgereg, bredie of maak ’n eenpot-rysgereg en roer die vleis daarby.
- Gebruik VARS of GEDROOGDE KRUIE & SPESERYE in plaas van voorafbereide pakkies marinade of souse – dis regtig nie moeilik om dit self te maak nie.
- KOOK SELF – klaargesnyde groente en voorafbereide etes is beslis duurder, so koop bestanddele wat nog rou en so onverwerk as moontlik is. Dis sommer gesonder ook, want dan weet jy wat in jou etes is.
Foto: @Adel Ferreira Photography (FB)/@adel_ferreira (IG)