Opsomming uit enkele artikels op Netwerk24 deur Annelie van Jaarsveldt
Foto: OFM Radio
Die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) is sedert 2017 op almal se lippe en daar is al baie vurige debatte daaroor gevoer, maar einde 2024 het president Cyril Ramaphosa die Wet gepromulgeer ondanks besware uit talle oorde en glo baie steeds dat die Wet die probleme in skole net gaan vererger. Daar is verskeie menings hieroor – party reken die Bela-wet is ‘n noodsaaklikheid, baie ander skiet die Wysigingswet nie heeltemal af nie en erken dat van die wysigings nodig was en dit lankal tyd was om die Wet te hersien, maar hulle het wel sekere besware ten opsigte van sogenaamde tekortkominge binne die Wet. Afrikaans.com gee ‘n kort opsomming van ‘n paar van die artikels en menings soos wat dit in die media verskyn het.
Dr Lindie Koorts skryf in ‘n artikel op Netwerk 24 (Bela-gesprek is meer kompleks, 3 Januarie 2025) dat sy ‘n sterk voorstander van moedertaalonderrig is en glo dat indien die kind toegelaat word om in sy moedertaal skool te gaan en te ontwikkel, die tweede taal (bv. Engels) vanself sal volg. Sy noem ook dat waar sy woon (Gauteng) die besluit om jou kind in Afrikaans groot te maak en te laat onderrig nie meer vanselfsprekend is nie en ken sy talle Afrikaanse ouers wat hulle kinders Engels grootmaak. Volgens Koorts is dit nie meer vandag ‘n gegewe dat die beste skool die een naaste aan jou huis is wanneer dit by moedertaalonderrig kom nie. Sy noem twee redes vir haar stelling, naamlik die skaarste aan plek in Afrikaanse skole wat ouers noodsaak om ver te ry om hulle kinders by ‘n Afrikaanse skool te besorg en dan die skaarste aan Afrikaanse kleuterskole – wat tot gevolg het dat kinders na ‘n Engelse kleuterskool toe gaan en dan sommer daarvandaan by die naaste Engelse laerskool ingeskryf word. Koorts sê dieselfde geld vir swart ouers wat in die voedingsgebied van Afrikaanse skole bly, maar omdat taal ‘n kwessie is, is hulle genoodsaak om hulle kinders elders te plaas en is moedertaalonderrig nie hierdie kinders beskore nie.
Koorts sê laastens: “Bela het opnuut ‘n politieke speelbal geword. Daarom is gesprekke oor hoe Suid-Afrika as ‘n diverse, multikulturele land kan funksioneer, waarin vryheid van assosiasie en taaldiversiteit bevorder kan word, sonder dat dit op uitsluiting of die herhaling van ou historiese patrone neerkom, broodnodig.”
Prof Michael le Cordeur, voormalige visedekaan vir onderrig en leer aan die Universiteit Stellenbosch gee in ‘n artikel op Netwerk24 (Daar is 56 redes waarom Bela nodig is, 7 Januarie 2025) sy mening hoekom die Bela-wet nodig is. Le Cordeur sê dat die Bela-wet lank reeds net op twee klousules fokus, naamlik toelating en taal, maar tog is die ander klousules (daar is altesaam 56 klousules) van die nuwe wet net so belangrik. Van die klousules wat hy uitligm is:
- Die reg op onderwys.
- Vroeëkinderontwikkeling wat die gebrek aan voorskoolse onderwys ondervang en graad R nou verpligtend maak.
- ‘n Verenigde nasie – plattelandse skole wat leegloop as gevolg van verstedeliking kan nou met ander skole saamsmelt en gemeenskappe wat voorheen deur apartheid geskei is, kan nou verenig.
- Tuisonderrig: Streng maatreëls word ingestel, soos verpligte registrasie, onafhanklike assessering, eksamens wat deur onafhanklike onderwysamptenare geassesseer moet word, en so meer.
- Wangedrag: Streng maatreëls vir wangedrag deur leerders word ingestel en skole het die reg om oortreders dadelik te skors weens ernstige misdrywe.
- Lyfstraf: Word deurgaans verbied in ooreenstemming met die Kinderwet.
- Dwelmmisbruik: Skole kan nou strenger optree.
- Afrikaans: Daar word ontken dat die Bela-wet doelbewus poog om Afrikaans en moedertaalonderrig te ondermyn en is die “wet nie teen een groepering gemik nie, maar omdat daar nou rasse- en etniese integrasie in alle gemeenskappe is, moet kinders toegang hê tot skole in hulle woonbuurte”.
Le Cordeur sê voorts dat hy in wese ‘n optimis is en daarom genieg is om in die Bela-wet te glo. Dit hang nou van die RNE en die nuwe onderwysminister af om dit te laat werk. Die wet is dus volgens hom positief mits die nodige hulpbronne beskikbaar gestel word om dit met sukses toe te pas. Hy noem spesifiek die enorme koste daaraan verbonde om die verpligte graad R-onderrig in te stel, maar dat dit moet gebeur, want “daarsonder sal leer en skryf vir die meeste leerlinge net ‘n droom bly”.
Le Cordeur skryf verder dat ons gereed moet wees vir die groeipyne, maar dat die “onderwysskip eenvoudig omgedraai moet word” as ons ons hoop op ‘n gesonde en goed funskionerende skoolgemeenskap vestig.
In ‘n gesprek met Willemien Brümmer op Netwerk24 (Vergeet van boos – Bela sal Afrikaans tienvoudig versterk, 9 Januarie 2025) beklemtoon Le Cordeur sy mening dat klousules 4 en 5 nie “boos” is nie en na sy mening sal dit ook nie Afrikaans se posisie noodwendig negatief raak nie, want sê hy, “as ons ‘n saak uitmaak vir moedertaalonderrig, dan is dit belangrik dat ons dit in al die inheemse tale doen. Dit sal Afrikaans se posisie net tienvoudig versterk.”
Alana Bailey hoof van kultuursake by AfriForum, lewer op 13 Januarie 2025 in haar artikel op Netwerk 24 “Bela is lofwaardig, maar uit voeling met werklikheid,” repliek op Le Cordeur se artikel en is van mening dat Le Cordeur “verskeie praktiese feite buite rekening laat”. Spesifiek oor die taal- en toelaringsklousule wat al soveel debat ontlok het, skryf Bailey dat die skool nou daarvoor verantwoordelik is om leerders wat binne ‘n spesifieke skool se voedingsarea bly, te akkommodeer, selfs al bied die skool nie onderrig in die kind se moedertaal aan nie. Ouers hoef dus nie te sorg dat hulle hul kind by ‘n skool uitkry wat aan hul spesifieke taalvoorkeur voldoen nie.
Bailey sê ook dat die feit dat die DBO-amptenare se besluit om skole se beleide te verander eers “na konsultasie met die beheerliggaam sal geskied”, kommerwekkend is omdat die amptenary nie nodig het om die beheerliggaam in die finale besluit te ken nie. Daarom sou sy wou sien dat die besluite “in konsultasie” plaasvind.
Oor dubbel- of parallelmediumskole voer Bailey aan dat sodanige skole uiteindelik enkelmediumskole word, omdat die sterkste van die tale die hoofonderrigtaal word. Bailey is ook van mening dat die voorstanders van Bela die kenners van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) ignoreer. Die organisasie beklemtoon juis dat ‘n “keuse vir moedertaal- en kultuurspesifieke onderrig nie as diskriminasie of rassisme beskou mag word nie, maar die uitlewing van beskermde taal- en kultuurregte behels. Enige diskriminering daarteen is juis onwenslik.”
Bailey bevraagteken ook die klousule waarvolgens ouers wat kinders uit die skool hou misdaadrekords kan kry en noem hier die werklose ouer wat weens verskeie geldige redes, soos ontbrekende staatsgesubsideerde vervoer of ander duur vervoer, nie die kind by die skool kan besorg nie.
Dieselfde redenasie geld vir verpligte graad R-bywoning, want volgens Bailey is daar nie genoeg geld in die onderwysbegroting om “die infrastruktuur by skole te ontwikkel en duisende graad R-onderwysers aan te stel nie”.
Tuisonderrig
Bailey sê dat dit ‘n realiteit is dat tuisonderrig hier is om te bly, en tog lyk dit of die Bela-wetgewing dit nie positief ondersteun nie en skep die “bepalings die indruk dat dit negatief benader word”.
Bailey is van mening dat ons kinders beter verdien en dat wetgewing die jongste navorsing en tegnologiese ontwikkeling in ag moet neem. Volgens haar is die grootste kwessies wat die onderwysstelsel raak en wat nie deur Bela verbeter gaan word nie, onder andere die volgende: onderwysers wat nie oor die genoegsame kwalifikasies beskik nie, infrastruktuur wat nie op standaard is nie, die verlaging van standaarde om slaagsyfers te manipuleer, probleme met die kurrikulum, vervoerprobleme en koste, en ‘n gebrek aan moedertaalonderrig. In teendeel, Bailey voer aan dat Bela “van die probleme net verder gaan vererger.”
Lees gerus die volledige artikels op Netwerk 24 by die volgende skakels:
Lindie Koorts: Bela-gesprek is meer kompleks | Netwerk24
Michael le Cordeur: Daar is 56 redes waarom Bela nodig is | Netwerk24
KYK | Vergeet van ‘boos’ – Bela ‘sal Afrikaans tienvoudig versterk’ | Netwerk24
Repliek: Bela is lofwaardig, maar uit voeling met werklikheid | Netwerk24