Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Fotograaf: Alet Pretorius
Jy ken hom waarskynlik as Sloet Steenkamp van die destydse 1989-TV-reeks Arende, of as Boet van die gewilde Castrol- “can of the best”-advertensies, maar die bekende akteur, Ian Roberts, is soveel meer. Hy is ook ’n skrywer en musikant… en so paar ander goed, maar daarvan vertel ons jou mettertyd. Afrikaans.com het heerlik met Ian gesels en hom behoorlik gepeper met vrae. Geniet sy antwoorde saam met ons.
Ian Roberts as Sloet Steenkamp
Fotograaf: Barry Lucas
Sy grootwordjare …
Ian Roberts het grootgeword op ’n Oos-Kaapse sitrusplaas neffens ’n dig beboste en bergagtige veld aan die walle van die Katrivier naby Fort Beaufort (vandag Maqomo soos hernoem na een van die Xhosaleiers in die grensoorloë, of soos die Xhosas die dorp steeds noem, E Boffolo). Sy vriende desjare wat afstammelinge van die Khoi-soldate wat deur die Britte gebruik is in die grensoorloë. Ian vertel hulle kon almal Xhosa en Afrikaans praat en hy was maar hoofsaaklik Engelssprekend. Dit was egter hier waar hy vlot leer Xhosa praat het.
Hy was sewe jaar oud, toe hy soos talle ander plaaskinders, koshuis toe moes gaan. Hy was in St Andrews-voorbereidingskool op Grahamstad (nou Makhanda) en dit is hier waar hy sy eie “band” gehad het – hy was maar nege jaar oud. Ian het trekklavier gespeel op ’n Hohner Student wat ’n tante vir hom gegee het. Op 10 het hy en sy neef, Dan Roberts, hul eerste toneelstuk geskryf. Sê Ian: “Ek het altyd geskryf. Vanaf my eerste toneelstuk was my omgee vir skryf gekoester deur fenomenale onderwysers op St Andrews College. Soos Chum Sutherland wat vir ons liedere (lirieke) van Sgt Pepper’s Lonely Hearts Club Band van die Beatles gegee het vir begripstoetse. My skryfproses kom dus ’n lang pad en uiteindelik het dit baie rigting gekry deur die redigeerders by Jonathan Ball-uitgewers – die mense wat my biografie uitgegee het.”
Na 33 jaar in Johannesburg, woon Ian deesdae in Lydenburg – dis nou wanneer hy nie werk aan ’n fliek of reeks, of aan die rondtoer is met die Radio Kalahari Orkes nie. Ian het twee volwasse kinders uit sy eerste huwelik, maar is intussen weer getroud met Franscoinette en vyf jaar gelede het hulle ’n tweeling ryker geword. Ons wou weet of dit nie ’n groot aanpassing was om op 70 plus weer babas groot te maak nie. Ian vertel: “Met ’n pasgebore tweeling was dit asof die lewe wat ek voorheen gehad het, vier jaar lank heeltemal verdwyn het – te midde van dummies en pampers, tieties, babamelk, Nestumpap, huggies, gripe water, en so aan. Ek is seker Franscoinette voel presies dieselfde. As ek terugdink, was dit soos die gevegsfront in ’n oorlog – enigste verskil pleks van ander mense beskadig, het jy kleingoed liefgehê. Ek het so goed as wat ek kon my kant gebring.”
Het sy ouderdom en sogenaamde wysheid darem gehelp? Ian reken dat dit hom dalk geleer het om meer beheer oor sy emosies te hê as in sy jonger dae – en dit natuurlik te gebruik. “Dis een van daai ‘easier said than done’ positiewe fenomene wat ervaring moontlik maak.”
Asof Ian nie besig genoeg is nie, het hy onlangs sy “memoirs” die lig laat sien. Die outobiografie, “Is dit jý? – Avonture voor en agter die skerms” het gespruit uit kort anekdotes en met die nodige leiding (en lyding) is die boek gebore. Die boek is uitgegee deur Jonathan Ball-uitgewers en word beskou as ’n noodsaaklike gids vir voornemende akteurs. Hieroor sê hy: “Daar is heelwat stories in oor akteur wees – aan die een kant, die tegniek wat ek kon leer in teaterproduksies – dan die vertolking van ’n rol en daai eindelose soektog na ‘your character must be in your gut, not your brain’-waarheid. Daar’s ’n klomp van my truuks in die boek. En ek het darem ook nie die humor vergeet nie.”
Is dit jý? is ook in Engels beskikbaar onder die titel Nomad heart: Adventures on and off the set.
En kan ons nog boeke of dalk ’n digbundel te wagte wees? Selfs Ian was geskok toe hy besef het hoeveel hy al geskryf het – hy skryf elke dag. Buiten vier toneelstukke, het hy “Palang van Dwaal” geskryf. ’n Sogenaamde “musical” – met musiek en woord – wat destyds by die Staatsteater in Johannesburg en by die KKNK opgevoer is. Hy het ook filmtekste ontwikkel. “Vyf daarvan het ek noukeurig verfyn oor die laaste 20 jaar en sal dit graag wil verfilm. Ek sal meesal die regie wil doen, maar daar is ook ’n paar rolle vir my as akteur daarin.
“Dan is daar gereeld mense wat my herinner aan ’n storie wat ek hulle vertel het en wat ek asseblief moet neerskryf. So, die moontlikheid bestaan dat ek ‘Die dinge wat ek vergeet het om te sê’ sal skryf – net so vir ‘starters’.”
Stem hy saam dat hy ’n ikoon is? “Ikoon? Op die stel van ‘The Wild’ het hulle my ‘legend’ genoem, maar dan kan hulle nie stilbly dat ons akteurs kan repeteer op stel nie! En as ’n mens dan sogenaamd ‘ongeskik’ is met mense en jy’s ’n ikoon, dan sien mense jou as dubbel so onbeskof as ’n ‘gewone’ mens.”
’n Mens kan nie met Ian Roberts gesels sonder om ook oor die Radio Kalahari Orkes te praat nie. Ons wou weet hoe hy sy akteursvaardighede op die verhoog uitleef wanneer die orkes optree en of dit maar bloot die eintlike Ian is. In Ian se woorde: “Daar’s ’n karakter wat ek speel in elke RKO-optrede en dit is die van ‘Koos Koekemoer’ – die hoofaanbieder van Radio Kalahari, die uitsendpondok op Slangfontein. Ons het byvoorbeeld ook ’n politieke redaksie wat objektiewe kommentaar lewer – sou ons dit tydens ’n optrede nodig wees. Ons is maar karakters en terwyl dit ek is, is dit terselfdertyd ook nie eintlik ‘ek’ nie. Enige karakterisering is moontlik. Dis ’n ongelooflike kreatiewe platform, die verhoog van RKO – en uiters onvoorspelbaar, uitdagend en gesond.
“Nou die dag na ’n optrede by die Rustique Boutique net buite Middelburg, het die Swazi-man wat die verhoog tegnies bestuur het, my met glansende oë genader en gesê: ‘I’m crazy for your music man. Crazy! I wish I can listen to it all night!’ Toe sê die dromspeler van ’n ander band wat later opgetree het – nadat Chris Chameleon ons bygestaan het in een van ons groot songs – ‘Staan my by’ – ‘You know what it is about you guys … you got souls man – you got SOUL!’ Ons kan nie vir ’n beter getuigskrif vra nie!”
Waar kom die belangstellng in David de Lange se musiek vandaan?
Diegene wat vertroud is met die RKO, weet dat David de Lange se musiek deel is van elke optrede. Hieroor vertel Ian die volgende: “Dave de Lange is ironies genoeg herontdek deur ’n Amerikaner wat aangestel is om Gallotone Afrika se argiewe te probeer uitsorteer. Rod Allingham het Dawie se 78-plate geluister en was onmiddellik bewus van ’n groot en vergete talent. Toe bel hy vir Rian Malan: ‘Ree-yan, you gotto come and listen to this guy De Lange man – But bring along a bit of the green herb, okay?’ Die rebel in Rian was vanaf die eerste plaat gek oor die rebel Dave se werk … en onmiddellik het hy en my neef, Dan (ook ’n rebel op sy eie vlak) begin werk aan die CD “Die Nagloper” wat sy bestaan uit Dave se RKO-bewerkte musiek gekry het. Ek het later eers ontdek Dawie was ’n Oos-Kapenaar daar uit my geweste. Ons weergawe van Dave se werk word toe en bly nog steeds, ’n gedeelte van ons show.”
Hoe sal jy RKO se musiek beskryf as ’n genre?
Volgens Ian kan RKO se musiek nie ingekamp word nie. Dit strek van polka na wals na swart kitaarritmes om ’n vuur tot ragtime van Amerika. Dan het dit ook sy eie weergawes van die Blues – en ’n gospel-tipe nommer, genoem “Reën”. “Die enigste goed wat ons weier om te doen, is country en stroopagtige duets”, aldus Ian.
Wanneer raak ’n mens te oud vir rondtoer dink jy? Of geniet jy die musiekoptredes?
“Moeg raak vir rondtoer kan vergelyk word met visvang in die see, maar jy los die katrol by die huis. Ons moet mooi kyk na die ‘tools’ wat ons almal deur die Oubaas gegee is om te ontwikkel in ons aardse gang. As rondtoer een van daai is, dan moet die wiele bly draai – en die songs moet rol.”
Vertel ons bietjie oor die unieke lirieke wat RKO skryf.
“Rian Malan is verreweg die grootste skrywer van RKO se goed. Sy ongelooflike dubbele talent van liriek skryf en musiek skryf en meng, is rêrig iets buitengewoon. Dan Roberts is die tweede grootste skrywer met sy neiging tot die Ierse ritmes van sy voorvaders. En dan kom ek, wat Khoi-Afrikaritmes na die tafel toe bring. As mens die water afgedamp het, sal dít die sout van RKO wees wat agterbly.”
RKO het al heelwat albums vrygestel: Stoomradio, Die Nagloper, Opgestook, Heuningland en Grootste Treffers.
Terug na die mens Ian Roberts
Ian beskryf homself as iemand wat altyd beskikbaar is. Verder sê hy dat sy gunstelingtyd van die dag nie ’n eenvoudige antwoord het nie. “Die oggend bring helderheid van kop na slaap en dit is goed vir skryf. Te midde van die dag bak die son alle foefies uit mens uit. En mens kan swem. Vroegaand stap ek in plekke waar daar nie mense is nie. Dan het ek tyd om die natuur om my in die skemer fyn dop te hou … en in die diepte van die nag is daar ’n moontlikheid van … spoke.”
Sy inspirasie kry hy uit die natuur – maar mens moet naby genoeg kyk. En dan “kom daar trane in my oë as vrouens presteer. Vroue soos Zola Budd en onlangs die Proteas se vrouekrieketspan.”
Jy kan drie tale praat – dink jy meertaligheid is belangrik?
“Ja – baie belangrik. Om ’n ander man se taal te kan praat, kom ’n mens vinniger uit by soveel ander twak wat tussen julle kan staan. Dis hoekom ek so kwaad was (nie sy presiese woorde nie) toe die rol van die eerste wit ‘trader’ onder Shaka Zulu, Henry Francis Fynn, wat vlot in Zulu was, aan ’n oorsese akteur gegee is – Robert Powell – wat nie ’n enkele woord Zulu kon praat nie. Ek was so kwaad dat ek niks van die reeks gekyk het nie. Later het ek met Henry Cele daaroor gepraat en ons het die ‘movie producers’ fyn gevloek.”
Gepraat van kwaad raak. Ian reken hy word nie maklik kwaad nie, maar die slaggate op die pad tussen Lydenburg en Dullstroom laat hom soms lelik vloek – in Xhosa en Afrikaans – en partykeer draai hy die ruit af en beledig diegene wat daarvoor verantwoordelik is, uit volle bors dat dit oor die wye veld weergalm.
Wat is jou gevoel oor moedertaalonderrig?
Ian se antwoord is kort en kragtig. “Jy moet die kans gegun word om in jou moedertaal te leer.”
Waar kom jou liefde vir Afrikaans vandaan?
“Van die Afrikaners. Ek hou van die verskeidenheid agtergronde van mense. Dis alles so anders as die Engelse manier van wees … en die ‘girls’ was altyd vir my ‘anders’ en dus meer aantreklik.”
As daar ’n buitelugbord opgerig word wat deur baie mense gesien sal word, en waarop jy enige iets kan sê, wat sal dit wees?
“As jou skoene goeie vriende is, het jy nie veters nodig nie.”
Wat is die beste belegging wat jy nog gemaak het?
“Daar is niks lekkerder vir my as om in ’n ‘paid up’ voertuig te ry nie – sonder assuransie – sonder bankbetalings – soos my Landrover, Cecil. 34 jaar se lekker kry en sommer baie vreedsame (hoewel stadige) kilometers.”
Wat maak jou regtig gelukkig?
“Seil op my seiljag, swem in die see in die rotspoele net met ’n snorkel en ‘goggles’. Body surf by Vic-baai (langs die Tuinroete). Om hoog in die berge buite Lydenburg te stap waar ek net die natuur en geen mens sien nie.”
Het jy ’n groot wens?
“Ek het nie een groot wens nie – al die wensies deur die dag is oukei vir my.”
Wat is vir jou die ideale dag?
“Na hewige droogte – ’n dag van heerlike reën. Die dag wat alles in plek val en moontlik raak, veral na ’n proses van lang beplanning – soos ’n film. Vroegoggend, ’n goeie cappuccino saam met ’n paar mansvriende wat almal besig is met hul projekte – m.a.w. hulle is nie afgetree nie.”
Ian noem op ’n keer in ’n onderhoud dat sy gunsteling- Afrikaanse liedjie, behalwe Dan Roberts en Rian Malan se “Reën”, die liedjie “Daar’s ’n wind wat waai” is. Al wat ons hier by Afrikaans.com kan sê, is: Ian, mag die wind jou en jou jas nie net teen die taaibos vaswaai nie, maar mag hy jou, deurmekaar hare en al, tot in ons voorhuise en teaters inwaai.
*Afrikaans.com bedank Ian Roberts vir sy tyd om hierdie artikel moontlik te maak.
Lees ook:
Ian Roberts se outobiografie: 10 vrae met die ikoniese akteur oor sy lewensverhaal | Huisgenoot
Ian Roberts oor rol as Sloet Steenkamp in ‘Arende’ | Maroela Media
In gesprek met pa-en-dogter-duo, Ian en Cara Roberts
EKSKLUSIEF: Ian Roberts (67) wys sy tweeling | Huisgenoot
Kyk ook:
Castrol GTX 2 A can of the best TV Advert 1991
Luister ook: