Dr Gabor Maté sê: “As jy ’n goeie ouer is, gaan jy jou tweejarige frustreer, en dit beteken nie dat jy dit met opset doen nie. Dit beteken net dat wanneer hulle voor aandete ’n koekie wil hê en jy nie van plan is om vir hulle ’n koekie te gee nie en gaan ‘nee’ sê vir koekies voor aandete. As hy ’n gesonde tweejarige is, gaan hy ’n uitbarsting hê, want hy is gefrustreerd.”
Ouerskap is ’n reis en een van die kosbaarste geskenke wat jy jou kinders kan gee, is die vermoë om veilig binne hulle frustrasie (emosie) te voel.
Hierdie belangrike konsep beklemtoon dat ’n kind se emosionele ervarings sonder oordeel bekragtig en aanvaar moet word. Maar … wat beteken dit werklik om so ’n koesterende ruimte te skep?
Emosionele veiligheid
Dr. Becky Kennedy beklemtoon dat as ’n mens ’n kind veilig en eg wil laat voel, dit belangrik is om hulle toe te laat om hulle emosies te ervaar sonder dat hulle bang is dat hulle verkeerd is of verwerp sal word. Emosies is natuurlik, en deur ’n omgewing te skep waar kinders kan wys wat hulle voel, bevestig ons hul innerlike ervarings. Dit beteken om hulle gevoelens as eg en belangrik te erken, selfs wanneer daardie gevoelens uitdagend is.
Dr. Gabor Maté herinner ons daaraan dat dit onvermydelik is dat selfs die beste ouerskapleiding oomblikke van frustrasie vir ons kinders sal inhou. In plaas daarvan om “negatiewe” (uitbarsting) emosionele uitdrukking te straf, het ouers die geleentheid om hulle kinders te help en te lei om hulle gevoelens te verstaan en te verwerk.
Wat is onvoorwaardelike aanvaarding werklik?
Dr. Thomas Gordon verduidelik die konsep van onvoorwaardelike aanvaarding in ouerskap. Baie ouers dink dit is om hulle kinders toe te laat om te doen wat hulle wil sonder enige grense. Dit is egter nie waar nie. Aanvaarding beteken nie jy as ouer gee jou kind toestemming om te doen soos en wat hy wil nie. Dit is belangrik dat kinders sal verstaan dat om ontsteld, kwaad of gefrustreerd te voel heeltemal normaal is, maar dit is hulle optrede in reaksie tot daardie gevoelens wat leiding nodig het.
Hoewel ons emosies moet aanvaar, is dit ook belangrik om toepaslike grense ten opsigte van gedrag daar te stel. Aanvaarding en leiding gaan hand aan hand.
Die gevare van voorwaardelike aanvaarding
Terwyl dr. Jordan Peterson pleit vir ‘n vorm van voorwaardelike aanvaarding – wat voorstel dat kinders geïsoleer moet word totdat hulle “kalmeer” – voer dr. Gabor Maté aan dat hierdie benadering ‘n skadelike boodskap oordra: dat outentieke gevoelens, veral negatiewe gevoelens, onaanvaarbaar is. Wanneer kinders hierdie oortuiging internaliseer, kan hulle voel dat hul ware self onwelkom is, wat lei tot diepgaande identiteitskrisisse in volwassenheid.
Ons kultuur beloon dikwels nakoming en leer kinders dat hul waarde daarin lê om aan ons verwagtinge te voldoen. Soos hulle grootword, vind baie hulself ontkoppel van hul ware emosies en identiteite en sukkel om die kompleksiteite van hul gevoelens te navigeer.
Bevordering van emosionele egtheid
So, hoe kan ons ‘n veilige ruimte vir ons kinders se emosionele egtheid bevorder? Hier is ‘n paar praktiese stappe:
Bekragtig hulle gevoelens
Luister met die doel om te verstaan, nie net om te reageer nie. In Ouerdoeltreffendheidsopleiding leer ons ouers die vaardigheid van aktiewe luister, wat kinders in staat stel om hul gevoelens uit te druk en hul gedagtes te verwerk. Byvoorbeeld, as ‘n kind sê: “Ek hou nie daarvan om elke dag skool toe te gaan nie,” reageer met: “Jy word soms regtig moeg vir skool.”
Dis oukei om uitdrukking aan jou emosies te gee
Wys vir jou kinders dat dit aanvaarbaar is om gevoelens te wys. Deel jou emosies op ’n gesonde manier. Deur “ek-boodskappe” te gebruik, kan jy jou gevoelens eerlik oordra. In plaas daarvan om te sê: “Jy is ongeskik, Daniël,” probeer “Daniël, ek hou nie daarvan wanneer jy so hard tydens die nuus praat nie, want ek kan dit nie hoor nie.”
Stel duidelike grense
Hoewel jy jou kinders se gevoelens aanvaar, is dit belangrik om hulle te leer wat gepas is om daardie emosies uit te druk. In Ouerdoeltreffendheidsopleiding leer ons ouers hoe om hulle kinders te help om beide hulle behoeftes en die van ander te respekteer. Dit is van kardinale belang vir kinders om te leer dat hoewel dit aanvaarbaar is om kwaad te voel, dit beslis nie aanvaarbaar is om te slaan of te skree nie.
Slotsom
Die skep van ‘n veilige emosionele ruimte vir ons kinders is noodsaaklik vir hul ontwikkeling en welstand – en dit is ‘n vaardigheid wat aangeleer kan word. Deur te bemeester hoe om te luister sodat kinders voel hulle word verstaan, effektief te kommunikeer en konflikte met wedersydse respek op te los, kan ons gesonder ouer-kind-verhoudings kweek.
Kom ons verbind ons daartoe om ‘n wêreld te bevorder waar ons kinders veilig voel om net hulleself te wees. As jy gereed is om jouself toe te rus met hierdie belangrike vaardighede, oorweeg dit om in te skryf vir Ouerdoeltreffendheidsopleiding. Transformeer jou ouerskapreis en help jou kinders om hul emosies met selfvertroue en egtheid te navigeer. Saam kan ons die weg vir hulle baan om emosioneel gesonde volwassenes te word wat hulself ten volle ken en aanvaar.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog op Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training se webtuiste, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.