Nicolette Kritzinger
Ek staar onlangs in afgryse na my lisensiefoto. Dís nou die tipe foto wat trauma by enige kind onder vyf sal wek.
Ek wonder wie se idee daai skuinskuif was. Ek onthou nou … Avril Lavigne het daardie jaar haar hare so laat sny en ek het gedink … as ’n skuinskuif Avril se voorkop mooi laat lyk, dan sal dit definitief dieselfde effek op my ook hê. Dit het nie. Ek het gelyk soos Nicholis Louw voordat puberteit hom getref het.
Ek onthou nog die dag wat ek die foto laat neem het. Ek het al vroeg die oggend begin regmaak. My kuif so gespuit dat daar nou nog ’n gaatjie in die osoonlaag bo ons huis in Bellville is.
As die verkeerspolisie my eendag aftrek en arresteer omdat ek 100 km oor die spoedgrens gery het, wil ek mooi lyk. Iemand het genoem dat hulle lisensiefoto’s by ons plaaslike apteek neem. Dis of dít, of ek kan dit in ’n karavaan langs die verkeersdepartement laat doen. So, daar staan ek toe … teen ’n grys agtergrond, langs die two-for-one Disprin special met ’n blow wave wat Patricia Lewis sal laat skaam kry.
Die vereistes vir die foto is oneindig: dit móét A10-grootte wees (enigiets groter as dit sal net skade aanrig), jy móét lyk soos ’n wasbeeld en dit word slegs gedruk in vyftig skakerings van afgryslik.
“Haal uit jou oorbelle. Laat sak jou kop. Moenie glimlag nie. Daarsy! Perfek.”
Met die druk van ’n knoppie verminder hy my kanse om ooit ’n man te kry met sowat 90%.
Na wat voel soos ’n ewigheid stoot hy die vier foto’tjies oor die toonbank. Die vrou agter my gee ’n ligte snikkie, en druk haar twee kinders styf teen haar lyf vas.
Ja, my dubbelken is definitief die hoofkarakter in hierdie foto. Die uitdrukking op my gesig is ontstellend. Ek is nie seker of ek besig is om iemand op ’n date te vra of hul beursie wil steel nie. Dis baie verwarrend.
En nou is dit wéér sulke tyd.
My lisensie het al twee maande terug verval. Elke keer wat die verkeerspolisie my aftrek, span ek my dramagraad in. Dit is belangrik om gedurende hierdie proses te maak of jy ál sewe fases van rou ervaar. Die geheim is om eers geskok te lyk. Asof jy nie kan glo dat hierdie wreedheid met jou gebeur nie.
Dan ontken jy alles. “Ek glo dit nie! Laat ek daai kaartjie sien! Nee, dis nie ek nie … lyk dit vir jou soos my dubbelken?”
Dan maak jy asof jy kwaad is. “Hoe is dit moontlik dat ek so iets kon miskyk?”
En dan pluk jy die laaste troefkaart uit. En hier kan jy regtig groot gaan. Jy begin hartstogtelik huil. Gooi sommer ’n paar ander dinge ook in: jou kat se afsterwe drie jaar terug, jou man wat nooit sy sokkies optel nie en die belaglike prys van kruideniersware. Dit wek onmiddellik ’n ongemak en dan laat hulle jou maar gaan.
Ek moet byvoeg dat hierdie nog net twee keer gewerk het. Die derde keer het die verkeerskonstabel gedreig om my te arresteer as ek nie dadelik verkeersdepartement toe gaan nie. Ek skrik. Hulle gaan dan wéér foto’s van my neem en ek lyk regtig nie goed in oranje nie.
Met die intrapslag by die verkeersdepartement weet ek… hier gaan ’n dag uit my lewe wat ek nooit weer gaan terugkry nie.
Die wese agter die toonbank suig-lek aan ’n doughnut. As jy só intiem met ’n oliebol wil verkeer, dan móét jy hom op ’n tweede date vat én sy ma ontmoet. Dis net goeie maniere. Met elke hap voel ek hoe die lewe my liggaam verlaat.
“Wat wil jy hê?” Effens dormant.
“’n Huis met ’n tuintjie, 2.5 kinders, geld … maar meestal liefde.”
Geen reaksie. Die persoonlikheid van ’n dakteël.
“Ek wil graag my lisensie hernu.”
Sy vra dokumente aan. Alles op een toon: C-mineur. Bewys van vorige lisensie, bewys van adres, bewys van betaling, bewys van my eerste tree, my eerste tand, en laastens, ’n bewys dat ek in Kersvader geglo het.
Na die fotosessie noem sy dat ek vir ’n oogtoets ook moet gaan.
Ek kan nie! Ek het nie geleer nie.
Ek word beduie na ’n klein kamertjie en gesê-vra om op ’n baie verdagte stoel te sit. Hy doof die ligte. Ek weet nou nie of hierdie veronderstel is om romanties te wees en of hulle my lyk oor drie dae in die stoorkamer gaan ontdek nie.
Ek word aangesê om my voorkop teen ’n plat oppervlak te druk en af te kyk na ’n klein skerm. “Druk die stokkie in die rigting waarin die oop spasies wys.” Ek probeer afkyk by die vrou langs my, maar dit werk blykbaar nie so nie.
Sowat drie ure en vyf doodswense later oorhandig hulle my nuwe rybewys. Ek raak sommer emosioneel. Ek gaan daai stuk papier vir altyd koester, dit vir al my vriende wys, dit uitnooi na ’n braai toe en dit dan ’n ereplek teen my sitkamermuur gee.
Toe tref dit my: oor vyf jaar gaan ek wéér hierdie beproewing moet deurmaak. Ek gaan nóú al myself emosioneel moet begin voorberei. Nee, vyf jaar is te min. Ek dink nie ek gaan gereed wees nie. Ek sal maar voortaan stap waar ek wil wees.