Met ’n geurige maalvleismengsel kan mens soveel doen. Vir dié lekker idee, word dit in lae met gebraaide eiervrugskywe gebak. Dis ’n vullende lae-koolhidraat-ete, so hou dit gesond en gebalanseerd en sit dit met ’n groot groen slaai of net gestoomde boontjies of broccoli voor. Jy gaan nie eers die stysel mis nie.
Lewer 4 – 6 porsies
50 ml olyfolie
500 g maer beesmaalvleis
1 groot ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
2 wortels, grof gerasper
1 lourierblaar
10 ml (2 t) gemaalde koljander
1 x 50 g-pakkie tamatiepasta
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
125 ml (½ k) rooiwyn of sterk Rooibos tee
80 ml (⅓ k) gekapte vars kruie van jou keuse bv. Italiaanse pietersielie, origanum, tiemie of salie
suurlemoensap, sout en swartpeper na smaak
30 ml (2 e) elk grofgekapte vars kruisement en origanum
150 g kersietamaties, heel of gehalveer
2 groot eiervrugte, in die lengte in dun skywe gesny
50 g (125 ml) fyngerasperde wit cheddar- of pecorinokaas
- Verhit 15 ml van die olie oor matige hitte in ’n groot kastrol. Braai die maalvleis in sarsies tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant.
- Soteer ui en knoffel vir ’n paar minute in die kastrol. Roer die wortels, lourierblaar en koljander by en soteer vir 3-5 minute. Roer die tamatiepasta by en soteer vir 1-2 minute tot effens verdik.
- Roer die maalvleis met die tamaties by en spoel die leë blikkie met die wyn of Rooibos uit. Roer die vloeistof en kruie by.
- Prut maalvleis met die deksel vir 30 minute of tot gaar. Geur na smaak met suurlemoen, sout en peper. Tot by hierdie stap, is dit ’n basiese maalvleismengsel, wat jy op nog baie maniere kan gebruik.
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Roer die kersietamaties by die maalvleis. Verhit intussen helfte van die orige olie oor matige hitte in ’n braaipan. Braai ’n paar eiervrugskywe op ’n keer tot ligbruin en gaar. Skep uit en herhaal met die res van die eiervrug en nog olie, indien nodig, maar moenie te veel olie gebruik nie. Geur die eiervrug met suurlemoensap en peper.
- Skep helfte van die maalvleis in ’n 15 x 23 cm oondvaste bak en pak die helfte van die eiervrug in ’n enkellaag bo-op.
- Skep die res van die maalvleis bo-oor en eindig met die orige eiervrug. Strooi die kaas oor.
- Bak vir 30 minute of tot goudbruin en deurwarm. Sit met ’n groen slaai of groen groente voor.
Resep uit Maak vyf deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira