Mediavrystelling
Die Afrikaanse Taalraad (ATR) se prestigeryke Kokertoekennings het vanjaar ekstra glans gehad deurdat ’n rolprentlegende gehuldig is.
Die Kokers gee erkenning aan buitengewone bydraes tot Afrikaans deur gebruikers wat ook tweede- en derdetaalsprekers insluit. Daar is jaarliks toekennings vir die beskerming en bevordering van Afrikaans asook bemagtiging deur Afrikaans. Spesiale jeugtoekennings erken jongmense wat die taal op die hart dra en lewenslange bydraes gee erkenning vir werk wat oor dekades strek.
Vanjaar se wenners sluit ’n Oos-Kaapse onderwyser, ’n graad 8-leerder, akademici, skrywers, medialede en ’n Nederlander
met ’n groot liefde vir Afrikaans in. Met ’n bydrae deur die resensent Leon van Nierop het die 2024-Kokers die legendariese Jamie Uys vereer vir die diep spore wat hy in die rolprentbedryf getrap het. ’n Jeugdansgroep uit Eersterust het gaste ook met die rieldans vermaak.
Lewenslange bydrae: Prof. Bernard Odendaal en prof. Oppél Greeff
Senior Kokers: Stef de Koker (bemagtiging deur Afrikaans), dr. Danie Langner (beskerming van Afrikaans, Karen Meiring en Zenzile Khoisan (albei vir die bevordering van Afrikaans)
Junior Kokers: Esté Gross en Sen Joostens
Jeug-erepenning: Emily Smith
Onderwyser van die jaar: Johan Wicomb
“Ons gee graag erkenning aan mense wat onverpoos vir Afrikaans werk, soms onder moeilike omstandighede. Dit is iets wat veral van toepassing is op vanjaar se Kokertoekennings vir lewenslange bydraes. Jonger Kokerwenners dien weer as inspirasie vir die jonger generasie en moedig hulle aan om meer vir hulle taal te doen,” het dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, gesê.
Hy het bygevoeg dat vanjaar se wenners weer wys dat Afrikaans meer as een gewaad dra. “Afrikaans verbind al die sprekers, ongeag hoe hulle die taal praat. Onderliggend aan alles is natuurlik altyd die beginsel dat Afrikaans nie eenkant op ’n mishoop sit nie, maar aktief met die sprekers van ander inheemse tale saamwerk om die sukses van ’n ware meertalige bestel te verseker.”
Johan Wicomb, ’n passievolle Afrikaans-onderwyser van Kariega in die Oos-Kaap, was die ontvanger van die ATR se Beste Onderwyser-toekenning waarvoor leerders self onderwysers genomineer het. Wicomb doen moeite om Afrikaans in ’n oorwegende Engelse skool te laat floreer en bied ekstra klasse by spesiale winter- en lenteskole vir matrieks aan. Hy het ook ’n leesprogram vir graad 8-leerders begin.
Vanjaar se Kokers vir lewenslange bydraes is toegeken aan twee professore, Bernard Odendaal en Oppél Greeff. Odendaal se navorsing word gesien as van onskatbare waarde vir die uitbou van Afrikaans as literatuurwetenskaplike taal. Hy is ook erken vir akademiese werk as digter en literêre kritikus. Die pyle in sy koker sluit sowat 50 referate by nasionale en internasionale kongresse, meer as 200 resensies en meer as 50 vakwetenskaplike artikels en boekbydraes in. Greeff se wetenskaplike en farmakologiese kennis word internasioneel erken. Hy het ’n enorme bydrae tot Afrikaans as ’n mediese vaktaal gelewer en is internasionaal bekend vir sy betrokkenheid by geneesmiddelontwikkeling.
Zenzile Khoisan en Karen Meiring het elkeen ’n toekenning vir die bevordering van Afrikaans ontvang. Khoisan, ’n voormalige studenteleier, was jare lank in ballingskap en het nuusdekking vir verskeie internasionale mediaplatforms gedoen. Sy passie vir Afrikaans, Afrikaaps en die Khoisankultuur (en tale) word weerspieël in bydraes tot koerante soos Inheemse Voetspoor en First Nation News.
Meiring het kykNET as die toonaangewende Afrikaanse kanaal in Suid-Afrika gevestig en susterkanale soos kykNet & kie, kykNET Nou!, kykNET Lekker en FliekNet geloods. Sy was ’n leidende figuur in die skep van die Silwerskermfees, die Fiësta-toekennings en die Tribuo-fonds ─ baanbrekerprojekte ter ondersteuning van Afrikaanse kunstenaars.
Dr. Danie Langner is bekend vir sy bydraes tot onder meer die Rapport-onderwysfonds, die Andrew Murray-Desmond Tutu-prysfonds, die Afrikaanse Toekomstrust en die ATR self, en is met ’n Koker vereer vir sy rol in die beskerming van Afrikaans. Die projekte waarvan hy die afgelope 25 jaar deel was sluit die FAK-sangbundel, Liedjietuin, die Internasionale Afrikaans-ekspo en die Allegretto-toneelfees in. Langner is betrokke by die beweging vir die behoud van die Afrikaanse Taalmomument en die proses teen die BELA-wetgewing om Afrikaans se plek in skole te beveilig.
Die digter en skrywer Stef de Koker het ’n toekenning vir bemagting deur Afrikaans ontvang. Sy is die stigter en redakteur van die Heritage Travel Magazine, wat artikels oor besondere Afrikaanse mense dra. De Koker skep geleenthede vir opkomende skrywers in die tydskrif en reël onder meer digkompetisies. Sy doen veral moeite om die taal onder jonger generasies te bevorder.
Die omroeper, nuusleser, programsamesteller, rubriekskrywer, sangeres en liedjieskrywer Esté Gross het ’n junior Koker vir haar bydrae tot die Afrikaanse medialandskap ontvang. Sy is al meermale vir haar werk bekroon, onder meer vir Dis Klassiek!, ’n program wat klassieke musiek toegankliker vir jonger luisteraars maak. Gross gebruik haar unieke aanslag oor verskeie platforms om Afrikaans ’n stem te gee.
Sen Joostens, ’n Nederlandse dosent met ’n merkwaardige liefde vir Afrikaans en vir Suid-Afrika, het ’n junior Koker ontvang. Op 25 is hy reeds die hoofskrywer van Baie Afrikaans, ’n Afrikaanse handboek vir Nederlandssprekendes. Joostens het sy kennis van Afrikaans in 2023 verdiep toe hy ’n tydelike dosent aan die universiteite van Kaapstad, Stellenbosch en Wes-Kaapland was.
[Einde]
_______________________________________________________________________________________
Navrae oor inhoud: Dr. Conrad Steenkamp, conrad@afrikaansetaalraad.co.za
Onderhoude met die wenners asook hulle foto’s kan gereël word deur Marekyn Kruger-Evert
(sekretariaat van die ATR): 082 370 8226 / marekyn@afrikaansetaalraad.co.za
Emily Smith, ’n graad 8-leerder van Gauteng, is met ’n jeug-erepenning vereer vir haar resensies en lesersindrukke op Facebook en Instagram (@emiliedjie) oor Afrikaanse kinder- en jeugboeke. Haar resensies bevorder Afrikaanse boeke onder jongmense en kweek ’n liefde vir lees by haar volgelinge op sosiale media.