Die vakansie is om die draai en dis vir baie mense ’n tyd van rus en afskakel. Die laaste ding wat jy dan wil doen, is om vir ure in die kombuis te staan. As julle gelukkig genoeg is om weg te gaan vir die vakansie, kan dit nogal ’n uitdaging wees om nie in jou eie, of ’n goed toegeruste kombuis, te werk nie. Dit kan die kosmakery by tye moeilik maak, maar met dié 12 SLIM PLANNE van Heleen Meyer, kan jy steeds lekker eet en lekker rus.
- So bietjie VOORAF-BEPLANNING maak ’n groot verskil vir jou inkopielys en die tyd wat jy spandeer om te kook. Besluit wat die vleis vir elke hoofmaaltyd is en skaf verder ’n verskeidenheid vars groente en vrugte aan waarmee jy kreatief kan wees.
- Maak seker dat jy die BYKOSSE afwissel. So word jy nie moeg vir net brood en aartappels nie. Groente soos groot sampioene of selfs groente-sosaties is heerlik en vinnig om oor die kole gaar te maak.
- Jy hoef nie elke keer ’n hele SPYSKAART uit te werk nie. Sorg dat jy die vleis vir etes afwissel en maak een stysel en ’n slaai – dan is jou ete klaar.
- Hou jul etes gebalanseerd en KLEURVOL, so bly dit gesond en interessant.
- Maak die meeste van wat IN SEISOEN is. Waatlemoen, druiwe of aarbeie met feta en ’n paar roket- of slaaiblare is ’n heerlike slaai met vleis, en blitsvinnig om te maak.
- PAK ’n paar BYKOMSTIGHEDE soos geroosterde sonneblomsade, of ’n tuisgemaakte dukkah en selfs ’n groot fles gekaramelliseerde uie in. Daarmee kan jy vinnig iets se geurprofiel verander, bv saam met geroosterde groente, slaai of die uie op ’n toebroodjie. (Kry resepte hiervoor op ons webwerf.)
- Basiese GEURMIDDELS soos ’n lekker olyfolie, balsamiese asyn, mosterd, gemengde kruie, gemaalde komyn en paprika is al ’n baie goeie beginpunt vir lekker marinades, slaaisouse of as bykomstigheid.
- Maak ’n BASIESE TAMATIESOUS vooraf in grootmaat en vries dit in porsies. Pak dit in om ’n vinnige sous met braaivleis te kan voorsit. Gebruik dit as basis vir ’n pastasous of selfs met oorskiet-vleis vir ’n aandete in ’n japtrap.
- Maak genoeg van die aand se proteïen, dat daar vir die VOLGENDE DAG se middagete iets oor is. Maak net ’n slaai by of sit dit op broodjies, vir ’n ligte ete.
- Beplan om net TWEE KEER op ’n dag te eet, met ’n vullende laat-ontbyt en dan vroeë aandete.
- As jy nie by jou eie huis is nie, pak ’n lekker SKERP MES en GOEIE PAN in – dit maak dinge net soveel makliker as jy die regte toerusting het.
- Vra of daar ’n lekker TOEKLAP-BRAAIROOSTER by die vakansiehuis is, want daarsonder gaan dinge maar lol.