Skrywer: Anja van den Berg
Hier’s jou arsenaal van geheime wapens!
STOP! Klim vir ‘n oomblik uit die hamsterwiel van die rotteresies en haal vir ‘n slag diep asem. Leef jy ook met die wanopvatting dat jou waarde van konstante produktiwiteit afhang? Wanneer laas het jy stilgestaan en jou lewensrigting in oënskou geneem? Is jy steeds getrou aan wie jý is en die pad wat jy wil volg?
“Om tyd vir jouself te maak is nie ’n luukse nie; dis ’n noodsaaklikheid,” sê professor Pieter Kruger, ’n gesoute kenner in geestesgesondheid en prestasie-optimalisering. Hy is die Direkteur van die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) by die Noordwes-Universiteit en ‘n senior vennoot by Cognacity, ’n internasionale konsultasiemaatskappy wat spesialiseer in geestelike veerkragtigheid en prestasie-optimalisering in hoëdruk omgewings.
“Dit maak nie saak watter taal jy praat, in watter land jy bly of wat jou status is nie,” sê Pieter. “Mense bly mense. Ons almal se neurologie en liggame vuur volgens dieselfde beginsels.”
Pieter werk met ’n verskeidenheid van professies – van sportsterre en besigheidsleiers tot gewone werknemers – om balans te vind en hul volle potensiaal te bereik. Of dit nou op die sportveld, in die raadsaal, of in die alledaagse lewe is, sy fokus bly dieselfde: om mense te help floreer.
Maar hoe lyk dit in die praktyk? Hoe maak jy tyd vir rus en herstel in ’n wêreld wat konstant van jou eis om aan die gang te bly? Volgens Pieter begin dit met klein, doelgerigte stappe wat jou help om uit die oorlewingsmodus te beweeg en beheer oor jou wese te kry.
Tem jou neurochemie
Hoe werk dit?
Ons het baie meer beheer oor ons brein se neurochemie as wat ons dink! Neurochemie is die hormone en neuro-oordragstowwe in jou brein wat jou gemoed, motivering, kognitiewe funksies en selfs jou fisiese gesondheid beïnvloed. Hierdie chemiese stowwe speel ‘n sentrale rol in hoe jy emosies ervaar en hoe jou liggaam op stres reageer. Wat baie mense nie besef nie, is dat jy hierdie breinchemie aktief kan beïnvloed. Dit gebeur nie net deur wat jy inneem of waaraan jou brein blootgestel word nie, maar ook deur wat jy dink en hoe jy jou liggaam gebruik.
- Verstaan die krag van jou asemhaling
Hoe ons asemhaal kan ‘n direkte invloed op ons senuweestelsel hê. Vinnige, vlak asemhaling aktiveer die simpatiese senuweestelsel, wat ons veg-of-vlug reaksies bevorder en die liggaam inspan vir fisieke aksie. Daarteenoor stimuleer diep, stadige asemhaling die parasimpatiese stelsel, wat ons fisies kalmeer en die hartklop verlaag. Daar is verskeie gratis aanlyn hulpbronne of bekostigbare toeps wat jou kan help om asemhalingstegnieke aan te leer en jou brein se reaksie op stres te kalmeer.
- Oefen om geestelik teenwoordig te wees
Opwindende navorsing toon dat meditasie wat ons help om geestelik teenwoordig te wees (mindfulness meditation), die verbinding tussen twee breinareas versterk. Gereelde, kort sessies verbeter die neurobane tussen die prefrontale korteks, wat besluitneming en selfbeheersing beheer, en die amigdala, wat verantwoordelik is vir die hantering van angs en emosies. Hierdie sterker verbinding help om emosies beter te bestuur en die brein se reaksie op stres te kalmeer, wat emosionele balans bevorder.
- Gebruik die streshormone positief
Oefening is een van die beste maniere om jou streshormone uit te werk. Wanneer jy stres ervaar, stel jou liggaam kortisol en adrenalien vry, wat jou gereed maak om te veg of weg te hardloop. Fisiese oefening breek hierdie streshormone af, bevorder gesondheid en verbeter jou gemoed. Dit verhoog ook die produksie van gelukshormone soos endorfiene, wat help om die effekte van stres te verminder en jou gemoed verbeter.
Aktiveer jou brein se natuurlike ‘bemestingsprogram’
Hoe werk dit?
Die brein vuur op en bly gesond wanneer die liggaam beweeg. Wanneer jy stap, produseer jou brein ‘n proteïen genaamd Brain-Derived Neurotrophic Factor (BDNF). Pieter beskryf dit as ‘brain fertiliser.’
Hierdie breinbemesting speel ‘n sleutelrol in breinplastisiteit, wat help met die brein se vermoë om nuwe verbindings te vorm en te versterk. BDNF ondersteun ook die herstel van breinselle, verbeter geheue en leervermoëns, en beskerm teen die negatiewe effekte van stres.
Pas dit só toe:
- Stap
Beweeg elke uur vir minstens drie tot vyf minute, verkieslik buite.
- Aktiveer jou stappostuur
Wanneer jou natuurlike stappostuur vir ‘n ruk geaktiveer word (arms swaai, nek beweeg) en jou brein dieptepersepsie waarneem (jy kyk nie net vir ‘n skerm nie), produseer jou brein meer breinbemesting.
Beplan vir daaglikse pakkies van hernuwing
Hoe werk dit?
Het jy geweet dat dit moeiliker is om van stres te herstel as jy wag totdat jy op jou laagste punt is? Dit is die kern van die herstelparadoks: hoe langer jy ‘n blaaskans uitstel, hoe moeiliker raak dit om weer energie en fokus te herwin.
Moet dus nie wag vir die einde van die dag om jou batterye te herlaai nie. Net soos jou slimfoon se battery, neem jou liggaams- en geestesbattery ook langer om te herstel as jy dit heeltemal laat leegloop. Begin dus met jou herstelplan sodra jou werksdag begin.
Pas dit só toe:
- Vat mikrobreke
Inkorporeer mikrobreke deur die dag – dit maak ‘n beduidende impak op welstand en werkprestasie. Kort, gereelde pouses help om die kognitiewe en fisieke hulpbronne te herstel en energievlakke hoog te hou. Hoe vroeër jy begin, hoe groter die impak.
- Maak jou tegnologie stil
Dopamien, wat verband hou met plesier en beloning, word elke keer vrygestel as jy ‘n digitale kennisgewing sien, op sosiale media blaai of aanlyn speletjies speel. Hierdie konstante vloei van klein belonings hou jou aan jou skerm gekluister, maar kan jou brein se dopamien-reseptore oorlaai en uitput. Ontkoppel dus elke uur van tegnologie, al is dit net vir vyf tot tien minute. Kombineer hierdie tyd sommer met jou mikrobreek wanneer jy gou uitglip om te stap! Gun jouself dan tegnologievrye aande. Skakel jou digitale kennisgewings af, sit jou buite-kantoor-kennisgewing aan en geniet tyd saam met jou geliefdes.
- Kies die regte kos
Gesonde eetgewoontes ondersteun jou liggaam se vermoë om stres effektief te bestuur. ’n Studie deur Edith Cowan Universiteit in 2021 het bevind dat mense wat meer as 470 gram vrugte en groente per dag eet, tot 10% laer stresvlakke ervaar in vergelyking met dié wat minder eet. Dis te danke aan die rol wat vitamiene, minerale en antioksidante speel in die bevordering van breinfunksie en die vermindering van inflammasie.
- Maak slaap ‘n prioriteit
As jy nie genoeg slaap kry nie, kan jou liggaam se herstel- en prestasieprosesse belemmer word. Minder as sewe ure slaap per nag kan ook gesondheidsprobleme soos hoë bloeddruk, gewigstoename, diabetes, hartprobleme, en depressie teweegbring. As jy sukkel om genoeg te slaap, oormerk ten minste twee aande per week wat jy vroeg genoeg kan inkruip vir sewe tot nege ure.
Vind jou unieke plan vir herlaai
Pieter sê dat die beste benadering tot herstel nie uniform is nie. Hy beklemtoon die belangrikheid van ‘n gemengde benadering, wat jou toelaat om verskillende herstelstrategieë te gebruik, afhangende van jou behoeftes en die konteks van die dag.
“Baie mense herlaai deur stokperdjies te beoefen, tyd saam met vriende te spandeer, te gaan kamp in die natuur, nuwe plekke te verken of nuwe resepte te probeer,” verduidelik Pieter. “Die idee is om tyd te maak vir dinge wat jou energie en balans herstel, sonder om ekstra druk op jouself te plaas.
“Dis ook belangrik om soms letterlik niks te doen nie! Partykeer het jy nodig om net te slaap totdat jy nie meer wil nie, ‘n mooi uitsig te geniet met ‘n koppie koffie of die hele dag op ‘n staproete te spandeer.”
Pieter maan dat, as ons nie hersteltyd hoog op die prys stel nie, ons uiteindelik die prys sal betaal. “Jou liggaam sal ‘n manier kry om jou tot stilstand te dwing. As daar ‘n waarheid is wat ek oor en oor sien, is dit dat, as jy nie tyd maak vir jou gesondheid nie, jy gouer of later tyd sal moet maak vir jou ongesteldheid.”
Die belangrikste punt wat Pieter wil beklemtoon, is dat herstel nie ‘n luukse is nie, maar ‘n noodsaaklikheid vir ons fisiese en geestelike welstand. Begin klein en wees geduldig met jouself. Onthou, die pad na ‘n gebalanseerde lewe lê nie daarin om eers te werk, dan te rus nie, maar deur die voortdurende balans van aksie en herstel, sodat jou liggaam en brein altyd in harmonie kan funksioneer.
Pieter saam met Chad le Clos.
Pieter en Siya Kolisi.
Pieter op die skietbaan.
Pieter saam met die SA Fietsryspan.