Skrywer: Anja van den Berg
My teenstander gebruik toenemend meer onetiese taktieke – ek het op goeie gesag verneem om geen genade te verwag nie. Hierdie opponent is nie ’n katjie om sonder handskoene aan te pak nie. Ek staan terug en neem die Kiba-dachi-posisie in. Dit gaan ’n kombinasie van vegkunsstyle vat om die stryd te oorleef. Met ’n dramatiese swaai gooi ek my hande in die lug, net soos Daniel Son in The Karate Kid. Wax on, wax off.
Vanaand is weer ’n stryd om lewer en brood.
Dis tyd om die groot skoonmaakwapens uit te ruk. Ek trek my oë op skrefies vir die skottelgoedwasser – daardie manteldraaier soek al die hele dag skoor. My blik flits oor die slagveld. Die chaos van die aand is op elke oppervlak sigbaar. Soos die nadraai van ’n tornado lê smerige borde, plastiekbakkies, koskrummels en vetvlekke gestrooi, vasberade om alle uithouvermoë te toets. My uitdager het sy strategie perfek uitgewerk: dis ’n aanval wat selfs Mr. Muscle se moed sou breek.
Aand ná aand meet ek kragte met die post-apokaliptiese kombuis. Meestal wen ek, maar nie sonder skaafmerke en kneuskolle nie. Rubberhandskoene is geen uitdaging vir híérdie boksgeveg nie, en ek loop myself vinnig teen die stampvol wasbak vas. Eina! Die eetgereilaai het sy mes in vir my. Ouch! Daar byt die oonddeur my vinger! Wat ruik so? Oi! Die lankvergete aartappels wys my waar Dawid die wortels gegrawe het.
Ek veg dapper terug, maar die pap op die grond vee die vloer met my gemoed. O, vrek! Daar’s die Domestos so pas op. Ek stuur ’n WhatsApp-boodskap op ons buurtgroepie en hoop dat die Verenigde Nasies ’n rantsoenpak sal aanbied. Nou moet ek skuiling soek en wag vir versterkings. Die sitkamerstel is verleidelik naby en ek kruip bloedneus tot op die bank.
Dis ’n uitputtingsoorlog.
Met die laaste druppels Kleen Green pak ek die residu teen die oond se binnekant aan. Skrop. Vee. Skrop. Vee. Geleidelik begin die oorblyfsels wegkwyn. Gaan ek hierdie rondte wen? Skrop-vee-skrop-vee-skrop-vee! Dan, helaas, slaan die vasgeboute botter die uitklophou. Ek gee die stryd gewonne en val op my Wilkinson Sword. Het iemand al ooit oorweeg dat Sylvia Plath dalk net probeer het om die oond skoon te kry en in die proses moed opgegee het?
Skrapnel krap my gemoed en ek dreig om my laaste asem uit te blaas. Maar wag … hoor ek ’n deur? Is dit my strydgenoot in my uur van nood? Of is dit die eienaars van rats vingertjies wat die slagveld weer gaan oopkrap?
Ahhh, dankie tog! Dis my Tweede-In-Bevel. Dalk kan ek die fakkelvlam vir hom oorgee sodat hy die skrobbering kan voortsit.
Maar hy is die veldmaarskalk op ’n ander oorlogsfront. Die magstryd van badtyd. En hy’s nie hier om my af te los nie; hy’t kom vra vir die kinders se badspeelgoed en slaapklere. Um, regtig? Dis op dieselfde plek in die kas waar dit gisteraand was! Ek dog hy is hier om minstens mond-tot-mond eerstehulp aan te bied.
Hinkepink strompel ek om die volgende veldslag se parafernalia te versamel; die front sal tydelik moet verskuif.
Ek en die kombuis verklaar vir eers ’n skietstilstand.
Die yskas is darem steeds my vriend en ’n koue glasie wyn salf my wonde. Ek sit bo-op die toiletsitplek en teug aan my troos terwyl ek voorgee dat ek ’n nood het. Dis die enigste tyd wat ek op ’n bietjie dinktyd kan hoop.
Daar was ’n tyd wat ek, my man en die kombuis in vreedsaamheid saamgeleef het. Die eenvoudige Defy was ’n vertoonvenster vir komplementerende geure, goeie geselskap en rustige rooiwyn. Die kombuistafel het gekreun onder warm verrassings … en ek praat nie net van maaltye nie. Ons verhouding met die opwaskamer was nog altyd stram, maar ons kon darem geskille met wedersydse respek hanteer.
Deesdae is dit ’n gekibbel, ’n geween en ’n gekners van tande. Dalk gee ek te veel om vir higiëne. Is dit tyd om die stryd gewonne te gee en te wag tot die Departement van Water en Sanitasie kom klop? Nee man, genoeg is genoeg!
Ek steek die wit vadoek op en betree die oorlogsone met hande in die lug. Dan prakseer ek ’n podium uit die vervloë kombuis-kroegstoele wat nog uit my universiteitswoonstel dateer.
‘Vriende, leen my julle ore. Ek kom in vrede.’
Die kombuistoerusting gaap my aan. Ek maak my keel skoon.
‘Is die kool die sous werd? Aan ná aand vryf ons mekaar verkeerd op. Ons trek mekaar oor die kole, versnipper samewerkingsooreenkomste en gooi vleishamers. Ons dreineer energie en druk gemoedere tot kookpunt. Ons klop en skrap, maar uiteindelik maak ons net droog!
Ek stel graag ’n revolusie voor!’
Die implemente is tjoepstil. Ek wag ’n ekstra drie sekondes vir dramatiese effek.
‘Wegneemetes drie keer per week!’
‘Uiteet elke Saterdag!’
‘Nee vir tuisgemaakte smoothies!’
‘Verjaardagkoek bak? HA! Ons outsource!
‘Skooltoebroodjies is uit die mode! Die kinders kry snoepiegeld!’
Ek kry ‘n staande ovasie en klop myself op die skouer. In die gees van vrygewigheid gooi ek sommer handdoek in, maak ’n pak kaaskrulle oop en geniet die oorlogsbuit. Môre sal ek ’n nuwe front met my kredietkaart open.