Skrywer: Sarina Prinsloo
Kommunikasiespesialis: SOS
Die idee dat tegnologie die wêreld so vinnig verander dat dit mense nutteloos en werkloos gaan laat, is algemeen, maar nie heeltemal akkuraat nie. Hoewel tegnologie vinnig vorder, is daar steeds sekere dinge wat robotte – oftewel gesofistikeerde masjiene en kunsmatige intelligensie wat ontwerp is om take te outomatiseer – nie kan doen nie en moontlik nooit sal kan doen nie. Dit beteken egter nie dat onderwysers agteroor moet sit en vasklou aan verouderde metodes nie.
Michael Trucano, senior onderwysspesialis van die Wêreldbank, het tereg opgemerk dat onderwysers wat weet hoe om tegnologie te gebruik, diegene sal vervang wat nie weet nie.
By die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) glo ons dat tegnologie as ‘n bemagtigingsinstrument vir onderwysers dien.
Hier is vyf maniere waarop onderwysers ‘n kardinale rol in die ontwikkeling van leerders se opvoeding speel, selfs in ‘n era van gevorderde tegnologie:
1. Onderwysers ontwikkel leerders se denkvaardighede
Die wêreld se kennis is maklik toeganklik op die internet, maar die vermoë om te kan dink, word al hoe belangriker. Soos meer roetinetake deur robotte oorgeneem word, word die behoefte aan mense wat probleme kan oplos, aanpasbaar is en kreatief kan dink, groter. Onderwysers moet leerders leer hoe om hul denke uit te brei, probleme op te los en kreatiwiteit aan te leer.
2. Onderwysers verstaan ‘n brein wat nog groei
Onderwysers verstaan nie net hoe om denkvaardighede te ontwikkel nie, maar ook hoe die leerproses werk. Hulle weet hoe om in te gryp as leerders sukkel en kan hulle ondersteun en uitdaag van kleuterskool tot matriek.
3. Robotte sosialiseer nie
Onderwysers speel ‘n belangrike rol in die sosialisering van leerders. Skole is dikwels leerders se eerste kennismaking met sosialisering en onderwysers help leerders om empatie en sosiale vaardighede te ontwikkel. Hulle bied emosionele ondersteuning en stel belangrike grense wat noodsaaklik is vir leerders se ontwikkeling.
4. Onderwysers skep nuuskierigheid
Onderwysers help leerders om hul horisonne te verbreed en nuwe, opwindende dinge te leer en ervaar. Kwaliteitonderwys maak leerders nuuskierig oor die wêreld om hulle en moedig hulle aan om hul eie belangstellings te ontdek en na te streef.
5. Onderwysers help met onderskeidingvermoë
In ‘n wêreld waar kennis vryelik beskikbaar is, is dit belangrik dat leerders geleer word om onderskeid te tref tussen waarheid en leuens. Onderwysers moet leerders help om krities te dink oor inligting en om ingeligte besluite te neem.
Die onseker toekoms
Die toekoms is onseker, en kenners meen dat die meeste skoolgaande leerders eendag werk sal doen wat nog nie bestaan nie. Hierdie onsekerheid is nie ideaal vir robotte nie, want robotte funksioneer die beste in voorspelbare en gestruktureerde omgewings. Hulle is nie goed aangepas vir die kompleksiteit en onvoorspelbaarheid van ‘n voortdurend veranderende wêreld nie. Onderwysers, aan die ander kant, kan leerders help om die toekoms te omhels, eerder as om dit te vrees, deur hulle te leer hoe om aanpasbaar, kreatief en veerkragtig te wees.
In hierdie digitale era speel onderwysers steeds ‘n onontbeerlike rol in die opvoeding en ontwikkeling van leerders. Tegnologie kan hulle ondersteun, maar dit kan nooit die menslike interaksie vervang nie.
Hierdie artikel is met vergunning van die Skoleondersteuningsentrum geplaas.