Skrywer: Nicolette Kritzinger
Dis weer daardie tyd van die jaar. Die hele Gauteng en Vrystaat is leeg. Almal is op pad Hartenbos toe. Die pienk opblaasflamink, twee strandsambrele en ’n koelerboks met ’n pakkie ham wat oor drie dae benoud gaan begin ruik, is in. So ook die family size Makro-tent. Ek het Checkers Homebrand-swartsakke in my kas wat meer windweerstand bied.
Op die tent se sak sê dit die tent kan tien familielede (vyf aangetroudes, ’n ouma en drie verlangse niggies) huisves. Ons familie het hierdie Desember besluit om dit op die proef te stel.
Die kampplek loop oor. So baie mense op een plek is net onnatuurlik. Dis hoe brande uitbreek en siektes versprei. Suid-Afrika is net een Hartenbos-vakansie weg van nóg ’n pandemie, hoor wat ek vir julle sê.
Uiteindelik staan die tent! Almal kan nie wag om die see te sien nie.
Die hele familie word gebalsem. Na wat voel soos ’n ewigheid gly ons soos sewe geglaseerde doughnuts af strand toe. Drie moes ongelukkig agterbly om die gazebo vas te hou, want Pa het die tentpenne vergeet.
Nadat ek in drie kinders se roomys getrap en gevoel in my onderlyf verloor het, kry ons ’n gaatjie op die strand. Die wind waai so dat my bene voel soos een van daardie oudtydse kommin kroegglase wat gesandblast is.
Ek verkyk my altyd aan die mense op die strand.
Daardie oom werk al van Januarie af aan daai boepens. Sy vrou het hom vanoggend gedwing in ’n baaibroekie wat in die vroeë 90’s laas vir hom sou pas. Die medium was op ’n special by Pick ’n Pay Clothing en sy het die hoop gehad dat dit hom sou inspireer. Ek dink sy het die broekie en haar man se potensiaal oorskat. Hy het al vanoggend drie biere en twee kinders skrikgemaak en dis nou eers negeuur.
Aan ons linkerkant is ’n familie van vier. Mamma wil eintlik net haar Mills en Boon klaar lees, maar klein Krisna het al twee strandgrafies opgeëet en Pappa dink hy is die volgende Jacques Kallis in ’n vriendelike strandkrieketwedstryd teen ’n groepie 12-jariges.
En dan is daar dié wat al reeds van Januarie af begin voorberei vir hul oomblik van glorie in Desember.
Hierdie is nie Hartenbos nie. Nee. Hierdie is Love Island.
Dis net bolyf, boude en selfvertroue. As hulle verbysweef, tref die reuk van spray tan en tienerhormone jou.
En dan gebeur dit. Twee ooms takel mekaar in die vlak water. Dis ’n absolute skouspel. Beslis ’n beter vertoning as die een wat ek gisteraand in die amfiteater aanskou het. Kobus se seun het glo gisteraand verdwaal, een verkeerde afrit gevat en toe hy sy oë uitvee, toe is hy ín Johan se dogter se tent. Klink vir my na ’n eerlike fout. Vanoggend het Lientjie drie bloukolle op haar nek. Sy sê dis omdat sy gister in die karavaandeur vasgeloop het.
En dan is daar die jaarlikse somerkonsert. Mense stroom in hul duisende na ’n oop veldjie in die middel van die dorp om vir Karlien van Jaarsveld in ’n crop top te sien. Dis magies! Riana Nel sing ’n 2012-treffer, ’n vakansieganger doen die Leeuloop op die verhoog en vyftien meisies val flou toe Brendan Peyper sy hemp uittrek.
Die tannie langs my is in vervoering. Sy sing Islands in the Stream uit volle bors, skree op haar man omdat hy nie bobene soos Bobby van Jaarsveld het nie en dan begin sy hartstogtelik huil. Ek sou eers later uitvind dis oor ’n verlore hoërskoolliefde en die feit dat haar man die kar tien strate weg parkeer het.
Sug. Nog twee weke hiervan. Twee volle weke.
Aan die einde van elke Desembervakansie moet ek altyd net ’n oomblik neem om te reflekteer oor die traumatiese gebeure van die afgelope veertien dae.
En dan vra jy jouself af hoekom.
Hoekom stroom ons soos tropdiere jaar-na-jaar na dieselfde gaatjie aan die kus sodat ons in gesmelte roomys kan trap, ’n stort met 250 vreemdelinge kan deel en “Skarumba” uit volle bors kan sing?
Dalk is dit die enigste plek waar jy die mens in sy rouste, eerlikste vorm kan ervaar. Gestroop van hul raadsaal-personas en hul nege-tot-vyf-bestaan. Waar almal, op ’n weeksdag, in hul té styf-baaibroeke met ’n worsrol in die een hand en ’n chipstick in die ander, eintlik maar net kan wéés.
Ek tel die foon op. “Ja, staanplek 37 is nog oop vir volgende jaar. Kan ek hom vir jou boek?”
Ek sug van verligting.
“Asseblief.”