Skrywer: Lizette Murray
Aanvaar elke kind as ’n unieke individu.
Bly glo in die waarde van elke kind.
Christus is die rede vir jou roeping. Hou vas aan Hom.
Doen elke dag een spesiale ding vir een spesifieke kind.
Erken jou tekortkominge.
Foute help ’n mens groei! Prent dit by die kinders in.
Géé. Jou kennis. Jou geduld. Jou liefde. Jouself.
Help kinders om in hul eie tempo te ontwikkel. Gee erkenning aan klein vordering, nie net groot prestasies nie.
In introverte skuil kosbare talente. Soek dit en moedig dit aan.
Jubel. Begin jou dag met ’n blye verwagting.
Kantaantekeninge. Teken daagliks iets moois wat ’n kind gesê of gedoen het aan.
Liefde is alles! Bly hoop op dit wat mooi en goed is.
Memoriseer interessante brokkies en deel dit met leerlinge om hul wêreld groter te maak.
Noem ’n kind op sy naam. Memoriseer jou kinders se name so gou moontlik en gebruik dit met respek.
Onthou, jy kan ook by kinders leer!
Positiewe denke is goud werd. Bly positief, al loop dinge skeef. Leer jou kinders die waarde van ’n optimistiese lewensuitkyk.
Q = vrae: Stel belang, vra ’n kind uit: “Hoekom sê jy so? Wat pla…?”
Respekteer elke kind wat voor jou sit, al voel jy nie so nie.
Streef na sukses. Sukses is nie noodwendig prestasie nie, eerder struikelblokke wat oorkom moet word.
Troos ’n afvlerkkind. Kyk uit vir een wat raad nodig het. Kyk dieper.
Uitveër vir jou siel. Vee foute uit jou gedagtes.
Vergewe dit. Vergewensgesindheid is een van dié belangrikste dinge wat jy kinders kan leer. Leer hulle van sewentig maal sewe.
Wye wêrelde wag! Maak nuwe horisonne vir jou kinders oop. Leer hulle om in hulself te glo.
X-faktor. Daar’s dikwels ’n onbekende oorsaak as ’n kind wanpresteer of in die moeilikheid kom. Soek die rede.
Ysere wilskrag. Moenie jou bui op die kinders uithaal nie.
Zero toleransie. Wees streng, maar verdraagsaam. Loop die tweede myl – soos jy van ander verwag.
Jy’s ’n droom-poetser!
“’n Ongeskonde jong kind glo onvoorwaardelik in hom- of haarself. Hy het nog sterre in sy oë. Hy glo hy kan ’n dokter word. Of ’n pianis. Of ’n filmster. Of ’n supersportman. Geen grense is te wyd of te hoog nie. Dis ’n opvoeder se taak om ’n kind se drome te voed, nie om dit te versmoor nie.”
– Esmari du Toit, opvoedkundige van Wellington
Hierdie verkorte artikel is geskryf deur Lizette Murray en het oorspronklik in Februarie 2014 Lééf-tydskrif verskyn onder die afdeling: Carpe Diem! Wat sou die wêreld wees sonder onderwysers wat ons leer om die lewe met albei hande aan te gryp …
Afrikaans.com bedank Lééf vir die vergunning om die artikel te plaas.