“When someone really hears you without passing judgment on you, without trying to take responsibility for you, without trying to mold you, it feels damn good!” – Carl Rogers
Een van die mees basiese behoeftes van die mens is om te voel dat ander ons regtig verstaan. ’n Mens voel verlig wanneer ander ons aanvaar net soos ons is en voel sommer gerusgestel en gereed om enige uitdaging die hoof te bied. Hoekom? Want iemand het die moeite gedoen om hulle in jou plek te stel en jou emosies te bekragtig sonder om kommentaar te lewer en sonder om enige woorde van wysheid te deel of met oplossings vorendag te kom.
As ouer, is dit ’n natuurlike reaksie om te wil intree om jou kind se gevoelens te probeer “regmaak”. Dis moeilik om jou kind se vrese, hartseer of woede te ervaar en jou eerste reaksie is om hulle te beskerm teen die dinge wat hierdie emosies veroorsaak, maar in werklikheid is dit nie moontlik nie. Dit verg ’n spesifieke benadering om ’n ander persoon se innerlike emosies te verstaan. Daarom moet ’n mens leer om met empatie te luister. Dink aan die laaste keer wat iemand na jou geluister het, of dalk nie na jou geluister het nie en jy gevoel het die persoon hoor jou werklik, of hoor jou glad nie. Hoe het dit jou laat voel?
Die hartseer waarheid is dat mense die vermoë om doeltreffend te luister, verloor het. Ons is so vinnig om met oplossings vorendag te kom of raad te gee en om die ander persoon (jou kind) se probleme af te maak of bo-oor dit te praat, dat ons heeltemal vergeet van die kragtigste kommunikasiemiddel tot ons beskikking, naamlik ons vermoë om te luister.
In Ouerdoeltreffendheidsopleiding noem ons dit Aktief Luister en beskou ons dit as een van die belangrikste ouerskaptegnieke, want:
Aktief luister dra ’n boodskap van aanvaarding oor
Wanneer ons probeer om gevoelens reg te maak (fix), dra ons onbedoeld die boodskap oor dat gevoelens nie oukei is nie. Deur ’n kind toe te laat om uiting te gee aan die emosie wat hy voel en om dit nie te probeer stop, wegsteek of beter maak nie, wys aan die kind dat jy sy emosie aanvaar; dat dit wat die kind ervaar normaal en goed is.
Gevoelens is nodig en jou kind moet selfregulering aanleer
Emosies is gesond en help die mens om te oorleef. Kinders ontwikkel voortdurend en raak groter en hulle moet dus leer hoe om alle soorte emosies te reguleer, en watter beter manier om te leer as uit ervaring? Wanneer jy intree en jou kind se emosionele toestand namens hulle “regmaak”, beroof jy hulle inderwaarheid van daardie baie belangrike leerervaring.
“Active Listening works because it helps the child discharge strong feelings and think through a problem to get some kind of resolution.” – Georgina Watson
Deur emosie uit te druk en te wys, leer ’n kind dat hy gevoelens kan hanteer, opgewasse is om dit te doen en onafhanklik is. ’n Kind sal leer dat emosionele ineenstortings (meltdowns) nie probleme oplos nie en beslis nie daarvoor gaan sorg dat jy kry wat jy wil hê nie. ’n Kind sal ook leer dat gevoelens ’n doel het en daarom moet daar behoorlike aandag daaraan geskenk word.
Die ouer behou sy afstand en raak nie deel van die probleem nie
Aktief luister laat die ouer toe om nie deel van die probleem te word nie en verminder grootliks die risiko dat die ouer die kind se emosie oorneem en dit sy eie maak. Het jy al ooit probeer om iemand in nood te help en die volgende oomblik is jy aan die ontvangkant van hulle emosies? Wanneer ons eienaarskap neem van ’n ander persoon se emosie, sê ons inderwaarheid vir hulle dat hulle nie die situasie kan hanteer nie. So ’n persoon kan dan voel hy word geoordeel, misverstaan en kan verleë en seergemaak voel. Die kanse is ook groot dat die persoon jou kan blameer vir die toestand waarin hulle hul bevind. Aktief luister stel jou in staat om die persoon op sy emosionele reis te vergesel en te ondersteun sodat hulle hul eie bestemming bereik, en hulle dan meer in beheer voel.
Aktief luister verg oefening. Dit laat ouers toe om aandag te skenk, te aanvaar en empaties te luister. Dit is ‘n vaardigheid wat oor en oor geoefen moet word. Kinders ontwikkel voortdurend en jy sal heelwaarskynlik jou aktiewe luistervaardighede gereeld moet opskerp, maar op die ou end is dit beslis die tyd en moeite werd!
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog op Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training se webtuiste, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.