Skrywer: Anja van den Berg
Professor Pieter Kruger wonder nog altyd hoekom party mense floreer onder stres, terwyl ander verwelk. Watter rol speel ons self-gesprekke in sukses? Watter faktore onderskei goeie pogings van uitstekende prestasies waar die tekkie die teer tref? Dié brandende vrae moes beantwoord word! Pieter het besef dat almal – van sportsterre en hoëprofiel-besigheidsmense tot die gewone Jan Alleman op straat – met stresbestuur sukkel.
Vandag is hy die Direkteur van die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) by Noordwes-Universiteit en ook ‘n gaslektor by die UCL Mediese Skool in Londen. Hy beklee ook ‘n direkteursposisie in ‘n Londense konsultasiemaatskappy wat spesialiseer in geestesgesondheid en prestasie-optimalisering. Sy werk behels terselfdertyd kliniese gesondheidsorg en angsversteurings.
Pieter deel graag sy kennis en ervaring, nie net met atlete nie, maar ook met korporatiewe leiers en gewone mense wat wil verstaan hoe om stres te benut eerder as om daardeur oorweldig te word. Afrikaans.com het met hom gesels om die grootste mites oor stres in die kiem te smoor en die werklikheid daaragter te verduidelik.
Mite #1: Stres, angs, druk en uitbranding is sinonieme
Die manier waarop ons oor stres praat, meng dikwels verwante, maar baie verskillende konsepte, wat dit moeilik maak om die unieke eienskappe van elk te onderskei. Mense gebruik dit as sinonieme, maar daar is ‘n groot verskil tussen daardie terme.
“Ons elkeen ervaar druk op grond van hoe ons ons omgewing interpreteer,” verduidelik Pieter. “Interpersoonlike verhoudinge, scenario’s waarbinne gebeure afspeel en die fisiese omgewing speel alles ‘n rol in hoe jou brein druk ervaar.
Jou emosionele reaksies, die verwagtinge wat ander van jou het, die verwagtinge wat jy op jouself plaas, en selfs die tempo en chaos van jou omgewing kan die manier beïnvloed waarop jy druk interpreteer en hanteer. As jy geneig is tot angs, sal jy dalk die moontlikheid van dinge wat kan fout gaan oorbeklemtoon en dus meer druk as iemand anders ervaar.”
Mense ontwikkel angs as gevolg van ‘n kombinasie van genetika, vorige ervarings en ongesonde denke of gedragspatrone. Angs is nie ‘n ekstreme weergawe van stres nie, maar eerder ‘n chroniese toestand van vrees wat nie altyd met werklike gevare verband hou nie. Dit is ‘n denkwyse wat gekenmerk word deur ‘n sterk fokus op bekommernis en die gevoel van naderende onheil, en het ‘n ander kognitiewe basis as stres.
“Stres is die geestelike spanning wat veroorsaak word deur jou interpretasie van druk,” sê Pieter. “‘n Stresvolle situasie het ‘n duidelike beginpunt, alhoewel nie altyd ‘n duidelike eindpunt nie. In praktyk ervaar ons egter selde net een enkele bron van stres – daar is dikwels ‘n kombinasie van verskeie, gelyklopende stresfaktore wat saam opbou en ons spanning verhoog. Wanneer die spanning aanhou of wanneer ons nie effektiewe hanteringstegnieke het nie, kan stres uiteindelik lei tot uitbranding.”
Mite #2: Jy moet stres sover as moontlik vermy
Beteken dit dus ons moet stres sover as moontlik vermy? Beslis nie! “Stres is nie noodwendig sleg nie,” verduidelik Pieter. “Ons kan onderskei tussen eustres en distres. Eustres help jou om skerp en gefokus te bly. Dit gee jou energie en motivering om uitdagings met selfvertroue aan te pak en nuwe doelwitte te bereik. Omdat eustres nie oorweldigend voel nie, hou dit jou gemotiveerd om goed te presteer. Dit is die soort stres wat jy ervaar wanneer jy ‘n nuwe taak aanpak of ‘n nuwe uitdaging wil trotseer.”
Die probleem ontstaan egter wanneer stres nie net uit een bron kom nie, maar as verskeie uitdagings op dieselfde tyd op jou afkom, en dit oorweldigend begin voel. Hierdie tipe stres, wat distres genoem word, kan jou negatief beïnvloed, jou energie uitput en jou geestelike en fisieke welstand benadeel.
“Dis ‘n delikate balans, soos om ‘n fiets se wiel te pomp,” sê Pieter. “As die wiel te pap is, kom jy nêrens. As jy dit te styf pomp, bars dit. Jy moet elke dag seker maak jou fiets se wiel is optimaal sodat jý kan presteer.”
Hierdie interne balans is noodsaaklik vir ‘n gesonde benadering tot stres. Terwyl eustres jou aanmoedig om jou beste te lewer, kan distres jou vinnig in ‘n toestand van uitbranding druk as jy nie daardie balans handhaaf nie.
Pieter sê die sleutel is nie om alle stres te vermy nie, maar om te leer hoe om dit te bestuur. Dit beteken seker jy moet deurdruk deur die week en die naweek lekker afvat, nè? Nie so vinnig nie!
Mite #3: Een lekker lang breek of gimsessie sal jou batterye herlaai.
Studie ná studie wys dat ons breine herhaalde pakkies van herlaaiing nodig het. Pieter verduidelik dat ons liggame en breine biologies ingestel is soos dié van ons voorvaders, die jagter-versamelaars, wat voortdurend aktief was in hul omgewings.
“Deesdae, in ons stil sitplekke by die kantoor, ontbreek daardie natuurlike beweging, wat belangrik is vir ons neurochemiese breingesondheid. Sodra ons beweeg, stel ons brein ‘n proteïen genaamd Brain-Derived Neurotrophic Factor (BDNF) vry, wat ‘n ‘kunsmis’ vir die brein is. BDNF bevorder neurogenese, wat beteken dat nuwe breinselle ontwikkel en sterker verbindings vorm.”
Die vrylating van BDNF stimuleer ook wat bekend staan as laterale breinroetes, wat bydra tot ons brein se vermoë om tussen verskillende denkrigtings te skakel en probleme kreatief op te los. Kortliks beteken dit dat jou brein meer dinamies funksioneer en jy makliker innoverende oplossings kan vind wanneer jy aktief beweeg en nie net sit nie.
“Aan die ander kant, as ons stilsit en nie gereeld beweeg nie, begin ons cravings ontwikkel – veral vir suiker of koolhidrate,” waarsku Pieter. “Die brein se verslawings- of beloningsroetes word ook geaktiveer, wat maak dat jy dalk ‘n ekstra na-werk-drankie saam met jou skyfies nodig het om te ontspan.”
Slaap word ook beïnvloed; jy voel moeg, maar kan nie lekker insluimer nie omdat jou brein en liggaam se natuurlike ritmes ontwrig is.
“Sonder daaglikse mini-herlaaiings kan defensiewe of regressiewe reaksies ook inskop, wat beteken jy word makliker geïrriteerd, voel meer gespanne en sukkel om aan te pas by uitdagings. Gereelde beweging deur die dag help om BDNF-vlakke hoog te hou en ondersteun gesonde breinfunksie en emosionele stabiliteit.”
Stres is onafwendbaar in ons lewens, maar ons kan leer om dit as ‘n waardevolle hulpmiddel te gebruik en nie as ‘n oorweldigende las te sien nie. Deur bewus te wees van die verskil tussen eustres en distres, en te fokus deurlopende herlaaiing, kan ons stres benut om sterker, meer gemotiveerd en geestelik meer veerkragtig te wees. Só maak ons stres ‘n bousteen vir sukses eerder as ‘n struikelblok.
In ons volgende aflewering in die reeks oor stres sal ons kyk na praktiese vaardighede en wenke wat enige iemand kan toepas om distres die trekpas te gee!