Skrywer: Anja van den Berg
Die steke was nog vars toe die vervloekte gawe soos ‘n vuurtong op my neerdaal.
Toe die portier my so skuins voor sesuur die oggend ingestoot het, kon ek nog net die tjing-tjing-tjing van die bed se wieletjies hoor. Toe begin die piep-piep-piep van my hartmonitor en die oor-en-weer gedommel van dokters se jargon en interne grappe (wat ek maar hoop nie oor my gaan nie).
Pens-en-pootjies in die lug is kuisheid vir ‘n rukkie by die deur uit, maar alles onder my naeltjie is in elk geval doodgespuit, so ek’s oorgelewer aan die genade. Dan die geluid wat ‘n lekker stukkie steak maak as jy hom sny terwyl hy nog rou is. Van nêrens, slosh! Drie emmers vol water val oor die vloer uit en twee dokters begin toutrek met my maagspiere.
Die groen gordyntjie is strategies voor my gesig gehang dat ek nie agter die skerms kan sien nie. Bo my bôp-bôp-bôp chirurgiese kappies en ligblou bolywe. Die suster gee een blink instrument ná ‘n ander aan. Eish! Soos by ‘n goeie slaghuis sien die klante net die eindproduk, anders sal hulle laat spaander. As ek my bene kon voel, het ek dalk.
Môm-môm-môm, murmureer die maskers. Shhh-shhh-shhh, sleep die oorskoene. Piep-piep-piep-piep-piep-piep-piep-piep, bons my hart teen dubbelspoed. Hierdie radiodrama is uitmergelend! ‘n Duisend ure tik verby (my man sê dit was so vyf minute) en ek spits my ore vir die laaste pylvak.
Wêêêêêêêêêêêê!
In filmtonele huil nuwe mammas altyd as die dokter die baba wys. Ek weet nou dis nie uit vreugde nie, maar uit dankbaarheid dat sy die affêre oorleef het.
‘Baie geluk! Sy is pragtig.’
Die pediater roep vir GP nader en sê hy kan maar hard druk, die naelstring is taaier as ‘n sening. Ek hoor die klik-klik-klik van sy kamera en ‘n domp! van die bromance-styl klop op die skouer. Dan sit die dokter die klein kalfie op my bors neer. Ek kan nie mooi sien nie, want die gordyntjie hang te naby aan my perifere visie. GP tel haar op en gee so ‘n paar tree weg. My oë probeer fokus en ek trek my nek terug soos ‘n ouma wat sukkel om die fynskrif op ‘n selfoonkontrak te lees.
Ek’s effe hoog op medikasie en bekyk die baba met ‘n frons.
‘Sy lyk ‘n bietjie soos E.T’
My man dog ek vra vir iets om te eet, so ek sê dit harder, sodat die personeel daar heel agter ook kan hoor.
En dít was die oomblik wat die gawe aan my toevertrou is. Nie soos ‘n openbaring nie; eerder ‘n radiofrekwensie wat dof begin maar duideliker word soos wat jy die knop draai.
Ek kon gedagtes lees.
‘Wat ‘n slegte ma.’
‘Daar’s nie salf aan haar te smeer nie.’
‘Die arme bloedjie.’
Die vermetelheid! Ek probeer verby die gordyntjie sien.
‘Wie’t dit gesê?’ vra ek.
‘Wie’t wat gesê? vra GP.
‘Die mense daar agter!’ sê ek
‘Um, skat. Daar’s niemand daar nie.’
Ek rek my nek in ‘n spasma in en sien net die blinkwit mure vir my staar.
‘Dis seker die morfien,’ sê die dokter.
Ek’s vol hoop dat die ergste trauma verby is. Die teaterdeure gaap sodat ek en my bed en my baba en my postpartum-pens kan deurpas. In die hospitaalgang skarrel mense soos miere, die wieletjies tjing-tjing-tjing en vir ‘n oomblik dink ek dit wás dalk net die morfien.
‘n Tannie met ‘n bos blomme klim saam in die hysbak en gee ‘n glimlag.
‘Ah, baie geluk! Jy lyk stralend.’
Ek wil nog dankie sê, toe hoor ek dit.
‘Sjoe, sy’t nie eers ‘n bietjie kleur op haar lippe gesit nie. Dié een gaan ‘n vaal mamma wees.’
Met ‘n ting! skarrel almal by die hysbak uit en ‘n ouer dame met ‘n koffertjie skuif by ons verby.
‘Sy’s so klein maar al so honger!’
Die tannie kyk soet na die baba se suigbekkie.
‘Is daai ‘n bababottel? Gaan sy dan nie borsvoed nie?! Tsk, tsk.’
Ek wou nog protesteer en oorverduidelik, maar my bene is nog iemand anders s’n en die tannie se hysbak skiet soos ‘n tekenprent-vuurtoring na vloer 10.
Terug in die saal het my kamermaat ‘n besoeker. Dis haar doula, sê sy. Haar man het eerder nie die bevalling bygewoon nie, want weet jy hoe traumaties is natuurlike geboorte vir ‘n man? Sy vra wat was my geboorteplan, asemhalingstrategie en hoe lyk my postpartum-kegeloefeningskedule.
‘Nee,’ sê ek. ‘Ek het was onder die mes.’
Haar oog begin spring, so ek probeer vinnig iets lighartig.
‘Ek speel wel soms ten pin bowling… jy weet … kegeloefeninge…’
Liewe leser, ek kan nie met ‘n goeie gewete hier herhaal wat die Natuurlike Geboortespan van my gedink het nie.
Na drie dae se beproewing is ons eindelik tuis en ek probeer kop en stert uitmaak.
Oral waar ek en die baba gaan hoor ek dit. Partykeer is dit ‘n fluister, ander kere ‘n fanfare. Is dit die instink waarvan almal praat? Ek doen wat enige goeie ma doen as sy raadop is. Ek bel mý ma.
‘O, nee,’ sê sy. ‘Daai’s maar net Skuldgevoel FM. Dis ‘n eksklusiewe stasie wat outomaties aktiveer wanneer die hormoon prolaktien vrygestel word.’
‘Prolaktien?’ vra ek.
‘Dis wanneer jou melk inkom,’ sê sy.
‘Maar ek borsvoed nie!’ sê ek.
‘O, dan gaan jy dit ekstra hard hoor!’ waarsku sy.
‘Wie’s die kwaadwillige omroepers?!’ vra ek.
‘Daar’s duisende van hulle, honderdduisende, maar almal praat in jou stem,’ sê sy.
‘Hoe sit ek dit af?’ Ek’s na aan trane.
‘Jy kan nie. Maar hier rondom jou veertigs neem jy dit nie meer te ernstig op nie. Dan word Midlife Crises Stereo die klank van jou lewe. Wees net versigtig dat jy nie deel van die omroeperspan word nie.’
‘Kan nuwe pa’s dit ook hoor?’ wil ek weet.
‘Nee,’ lag sy. ‘Hulle het weer ‘n eksklusiewe klub waarby geen ma ooit kan inteken nie.’
‘Waar’s dit?’ vra ek.
‘Niemand is doodseker nie,’ sê my ma, ‘maar dis iewers in Midde-Aarde of op Platform 9¾. Ons weet net die klub se naam is Een-Poefdoek-Omgeruil-En-Nou’s-Ek-Pa-Van-Die-Jaar-Buiteklub.’