Skrywer: Heidi Malan
’n Roetine is die strategie wat jou kind laat opstaan in die oggend en laat bed toe gaan in die aand. As dinge effe chaoties voel; jou kind kort van draad is en uitbarstings gereeld voorkom, dan is dit dalk nou die tyd om jou strategie in oënskou te neem en aan te pas.
Die eenvoudigste manier om seker te maak ’n huishouding verloop glad, is om ’n konsekwente roetine in te stel. En hoewel voorspelbaarheid dalk vir jou as volwassene vervelig mag klink, is dit presies wat jou kinders nodig het en sal hulle floreer. Hier is ons vier belangrikste redes hoekom ons jou aanmoedig om vandag nog ’n roetine in te stel.
’n Roetine verminder magstryd
’n Roetine verminder die vrees vir die onbekende. Dit is gerusstellend vir ’n kind, want dit help hulle om in beheer van hulle wêreld te voel. Kinders raak ook gewoond daaraan om te weet wat om te verwag en wat van hulle verwag word. Wanneer kinders begin om die behoeftes van mense rondom hulle te verstaan, en wanneer hulle voel daar word aan hulle behoeftes ook voldoen, sal hulle heelwaarskynlik meer bedagsaam en sorgsaam teenoor ander begin optree en sal hulle nie net bloot by ’n vasgestelde roetine hou nie.
Larissa Dann sê onder meer dat kinders op dié manier leer dat ander mense behoeftes het en dat hierdie behoeftes belangrik is. Hulle weet ook dat hulle behoeftes belangrik is en nie ondergeskik aan dié van hulle ouers is nie. Wanneer kinders hulle gedrag uit bedagsaamheid en omgee verander, plaas hulle hul eie behoeftes bewustelik laaste. Hierdie bewustelike besluit om hulle gedrag te verander, is ’n vrywillige verandering. Die kind word nie gedwing nie en daar is ook nie ’n magstryd tussen die kind en die ouer nie. Hierdie vrywillige verandering in gedrag help ouers, bemagtig kinders en dra positief by tot die verhouding.
’n Roetine help kinders om verandering te hanteer
Verandering is onvermydelik. Ons as volwassenes weet dit, maar kinders weet dit nie. Volwassenes hanteer verandering beter omdat hulle meer ervaring het. ’n Kind wat sy hele lewe lank blootgestel is aan ’n roetine sal meer geneig wees om jou te vertrou wanneer dinge verander. Hoekom? Want hulle weet hulle kan. ’n Roetine help jou om ’n gesonde band met ’n kind te vorm omdat dit elemente van veiligheid, kalmte en stabiliteit bevorder. ’n Gekoesterde kind wat ’n sterk band met die ouer gevorm het, sal meer selfvertroue hê en sal makliker aanpas by verandering ongeag hoe groot of klein die verandering is.
’n Roetine bevorder gesinsbande
Jong kinders hou ander dop en is waarnemers en daarom kyk hulle fyn na wat rondom hulle gebeur. Een ding wat hulle na sal oplet in ’n roetine, is die goed (waardes, stelsels, belangstellings, opvattings) wat gesinslede deel. ’n Kind kan sien dat die tyd wat saam spandeer word, spesiaal is. ’n Roetine verminder ook stres en angs onder gesinslede sodat daar meer tyd is om mekaar se teenwoordigheid te geniet.
’n Roetine bevorder gesonde gewoontes
Roetine vorm gedrag (die goed wat mense doen) en hoe ons emosie uitdruk (die goed wat mense sê) vir ’n kind. Uit hierdie gedrag en emosies, leer kinders selfdissipline asook hoe om te selfreguleer. Van tandeborsel tot diep asemhaal wanneer hulle gefrustreerd voel – dit alles is gewoontes wat bevorder en aangeleer kan word deur ’n gesonde roetine.
Hoewel die instel van en hou by ’n roetine talle voordele inhou, is dit belangrik om altyd die uniekheid van jou kind in gedagte te hou. Wat vir een huishouding werk, sal nie noodwendig in jou huis werk nie. Daarom moedig ons jou aan om jou kind deel van die proses te maak wanneer jy ’n roetine vasstel, veral wanneer hulle ouer raak. Maak gebruik van doeltreffende kommunikasie, soos aktiewe luister- en probleemoplossingstegnieke, om jou te help. En die heel belangrikste: Onthou om geduldig en buigsaam te wees!
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog op Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training se webtuiste, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.
