Skrywer: Nicolette Kritzinger
Ek het eers onlangs besef ek is kommin.
Vir party mense kom die openbaring reeds vroeg in hul lewe. As jy jou in die voorste ry van ’n Steve Hofmeyr Toeka-tot-Nou-konsert bevind, as jy kaalvoet in die mall loop, of as jy maak asof jy verjaar sodat jy ’n gratis roomys by Spur kan kry.
Vir my het die openbaring egter eers later gekom. Op 29 in ’n stywe restaurant met ’n jong man en sy Meghan Markle van ’n meisie. Dis eintlik net ’n Susan, maar daai bene kan internasionaal gaan.
Sy is van daardie tipe wat haar wyn ruik voor sy dit drink en dan kommentaar lewer oor die ondertoon van eikehout en perske. Ek weet nie van watter ondertoon sy praat nie. Ek ruik net slegte keuses en daai aand in Jeffreys.
Die man herinner my aan ’n hotelsepie. Blokkerig en passief. Ek is seker daarvan te veel kontak met hom sal ’n krapperigheid veroorsaak.
Met die intrapslag by die restaurant weet ek … geen hoeveelheid wyn gaan my vanaand red nie.
Ek het nog altyd geglo dat die klas van ’n restaurant gemeet kan word aan hoe taai die tafel is. Dis ’n wetenskaplike feit (Kritzinger et al, 2024). Gaan toets dit maar … Spur: taai tafel! Hoekom? Want klein Frikkie het drie weke terug sy 1 000 Islands-sousie gemors en nou plak jy vas aan daai blerts soos aan ’n plastiektuinstoel op ’n warm dag.
Maar nie by hierdie restaurant nie. Nee, hulle tafels is glad.
Ek doop die tannie by tafel vier Brenda-Jane. Sy het sekerlik iewers ’n dogter met die naam Chanté-Lizé. Mens kan sien sy het in die vroeë 70’s laas die vermoë gehad om te frons. Dis definitief nie die voorkop waarmee sy gebore is nie. Alles aan haar is ingevoer. Ek dink selfs die sakke onder haar oë is Gucci.
Die oom by tafel twee staar leweloos na sy vrou asof sy reeds vir die afgelope 30 jaar ’n kopseer het. Of dalk het hy ook die pryse op die spyskaart gesien.
Ek begin liggies sweet.
Dis eintlik my eie skuld. Ek moes dit geweet het. Hierdie vriendin koop tot haar water by Woolies. Al rede hoekom jy my ooit daar sal sien is omdat ek besig is om te lag vir die beskrywings op hul produkte.
“Hierdie is ’n vry, selfstandige, organiese hoender. In sy vorige lewe het hy sorgeloos op die vlaktes van die Vrystaat gehuppel. Sy naam was Kobus.” R190/kg.
Of “Hierdie eg Suid-Afrikaanse komkommer is met die hand grootgemaak en elke aand aan die slaap gesing. Hy is gevoed met die trane van ’n maagd en kan al drie woorde praat.” R40 elk.
Die prinses se oë dwaal op die spyskaart rond.
“Oe, hulle slaaie lyk lekker! Van watter tipe slaai hou jy?”
“Uhm … pastaslaai” (verkeerde antwoord).
Die man roep die kelner nader en mompel iets in Italiaans. Dit klink vieslik. Ek bestel maar dieselfde, bloot omdat ek niks anders op die spyskaart kan uitspreek nie. Eers later besef ek dis spaghetti. Ek sou nie weet nie, die porsie was te klein om agter te kom.
Die rekening kom. Daar gaan my droom van ’n huisie by die see. Ek gaan nou op 90 moet aftree.
Met die uitstap by die restaurant grom my maag. Ek is teleurgesteld, arm en ek weeg nog steeds dieselfde. As ek daardie prys vir iets betaal wil ek ten minste vet word daarvan.
Dis eers toe hulle wegry in hul C-klas Mercedes en twee ooms my ou Citi Golf moet brandstoot dat die vraag by my opkom: Is ek kommin?
Ek lag soos ’n gans, ek het nog ’n hele versameling Huisgenoot-binneblaaie in my kas en ek het daai een keer in 2012 in tights Spar toe gegaan. Ek ís kommin!
Ek rol daardie hele nag in my bed rond. Ek wonder oor al die ander kommin goed wat ek al in my lewe gedoen het. Ek dink terug aan my cerise matriekafskeidrok, my spuit-en-pluk-haarstyl in graad 10, die kleur van my onderlaag op universiteit en daai neon-toppie wat my soos ’n buislig laat lyk het vir die grootste deel van my twintigs. Ek dink aan Meghan Markle, die hotelsepie en Brenda-Jane se voorkop.
En toe onthou ek dit: ’n oomblik vroeër die aand toe ek my vet vingers in die waterglas gedruk het en die laaste suurlemoenskyf probeer uitgrou het. Ek sien weer die afgryse waarmee Meghan Markle na my staar.
Ek kan nie help om te lag nie. Korreksie … ek gans!
Hoekom?
Want net vir ’n oomblik besef ek: I wouldn’t have it any other way.