Skrywer: Annelie v Jaarsveldt
Gehalteslaap is belangrik – en hier praat ons nie net vir jou kind nie. Daardie uitdrukking: Hy slaap soos ’n baba, is tog so ironies, want so dikwels is dit juis die babas en kleuters wat ons so wakker hou in die nag. Vir elke ma en pa wat al die pajamadril-nagmerrie moes beleef of nog gaan beleef, lees gerus verder. Afrikaans.com het gaan lees oor die kwessie en gee redes en raad sodat daardie baba, kleuter of laerskoolkind tog uiteindelik soos ’n “baba” sal slaap. In hierdie eerste aflewering vertel ons jou hoe slaap jou kind kan laat presteer en floreer en beklemtoon hoe belangrik ‘n slaaproetine is. In die tweede aflewering kyk ons wat slaapprobleme is en wanneer hulp nodig is. Ons gee ook wenke oor wat jy kan doen om jou kind beter te laat slaap sodat hy kan floreer.
Slaap is lewensbelangrik – veral vir diegene rondom jou
Hoekom sê ons so? Want, slaap jy te min, is jy beslis nie die gaafste persoon in die buurt nie. Te min slaap maak jou kortgebonde, jou emosies ry wipplank, jy raak vergeetagtig, jy kan nie konsentreer nie en jou geheue laat veel te wense oor. Nou nie juis ’n aanwins vir die werkplek nie, veral wanneer dit juis produktiwiteit en goeie menseverhoudinge is wat nodig is.
Slaap is harde werk
Terwyl jy slaap, gebruik jou liggaam amper net soveel energie as wanneer jy wakker is. “Deur die dag bou daar ’n chemiese stof, adenosien, in ons bloedstroom op wat ons vaak maak. En snags word die adenosien weer afgebreek terwyl ons slaap. Ons glukosereserwes word ook opgebou terwyl ons slaap sodat ons genoeg energie het vir die dag wat kom. By kinders word groeihormone afgeskei NET TERWYL HULLE SLAAP. Hoeveel ure per nag genoeg is, verskil van mens tot mens, maar kenners is dit eens dat die baba en kleuter tot 12 ure slaap per dag nodig het (’n goeie middagslapie is deel hiervan) en die laerskoolkind ten minste 10 ure. Ongelukkig weet ons ook dat dit nie altyd moontlik is nie, want ons skoolgaande kinders is bésig. Ons beveel dus aan dat die goue middeweg gevolg word. Hou net in gedagte dat verlore slaap nie ingehaal kan word nie.
Slaap is noodsaaklik vir leer
In die dag, gebruik jy jou brein om inligting in te neem, maar wanneer jy slaap word die inligting ontleed en gestoor. Nog ’n rede hoekom gehalteslaap so belangrik is. Ons almal weet hoe belangrik ’n goeie liasseerstelsel is …
Slaaproetine is belangrik
Mens hoor dikwels mense sê hulle kind kan nie sommer enige plek slaap nie … Problematies as die ouers kuier en wil hê die kleinding moet gaan slaap terwyl hulle nog saamkuier. Of julle is met vakansie en die plek en bed is vreemd. Tog dui dit juis daarop dat die ouers ’n vaste slaaproetine by hulle kind vasgelê het. Hier is hoe jy so ’n roetine instel:
- Hou die slaaproetine dieselfde en konsekwent – as jy nie lus het of die krag het om jou baba in die nag aan die slaap te sus nie, moet jy dit ook nie in die dag of voor slaaptyd doen nie, of as hy in sy eie bedjie moet slaap, hou dit so.
- ‘n Troosdoek of sagte speelding wat gebruik kan word om die baba veilig te laat voel, is handig, maar onthou net dat die baba gewoond raak aan die item en wee jou as jy daardie doedoedoek of wat ook al by die huis vergeet!
- Hou die kamer koel, donker en sonder toestelle. ’n Nagliggie indien nodig, is egter reg, want party kinders is bang vir die donker.
- ‘n Bed is vir slaap en slaap is vir die bed – op die manier maak die kind die konneksie tussen bed en slaap. Slaap en bank, of huiswerk en bed, en so meer, word nie aanbeveel nie. Dit is ook hoekom jou kind ‘n lessenaar moet hê waar hy kan sit en huiswerk doen.
- Moenie dat jou kind honger gaan slaap nie, want die breek tussen slaaptyd en ontbyt is groot, maar vermy ’n swaar ete een tot twee ure voor slaaptyd. ’n Warm drankie en beskuitjie so uur voor slaaptyd is egter in die kol.
- Hou die uur of wat voor slaaptyd rustig. Vermy televisie, rekenaars en uitbundige spel. Roetinetake soos bad en tandeborsel en dan ’n slaaptydstorie sal bydra tot kalmte van gemoed en ’n goeie nagrus.
- Jou kind het ‘n spesifieke plek nodig wat hy met slaap kan assosieer. Sy eie bed en kamer (al deel hy dit met ’n sibbe). Moenie toelaat dat jou kind op die bank of voor die televisie aan die slaap raak nie en ook nie in jou bed nie, behalwe as dit julle manier van kinders grootmaak is.
- Jou kind se slaapkamer moet sy veilige, goedvoelspasie wees. Moenie jou kind na sy kamer toe stuur as straf nie.
In die volgende aflewering vertel ons jou wat jy kan doen om jou kind te help om beter te slaap sodat hy kan floreer.
Bronne en lees meer:
- Hoeveel slaap is genoeg vir jou skoolgaande kind? – Afrikaans.com
- BABA | Slaap: 5 goue reëls | Baba En Kleuter (netwerk24.com)
- 10 slaapprobleme opgelos! | Baba En Kleuter (netwerk24.com)
- Kinders: hoekom slaap belangrik is – Childpsych
- Baby Sleep Problems? 20 Mistakes Parents Make to Ruin Their Baby’s Sle – 4aKid