Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Beeld se jaarlikse kreatiewe skryfkompetisie het weereens groot aftrek gekry en leerders en onderwysers het alles ingesit en behoorlik met hulle pragtige Afrikaans gewoeker en deelgeneem. Daar was ‘n kategorie vir poësie en ook een vir opstelle. Dit was vir Afrikaans.com ‘n voorreg om een van die medeborge van hierdie gewilde kompetisie te kon wees.
Hiermee die wenners in die poësie-afdeling:
Vir onderwysers:
Corne van Wyk
Afrikaansonderwyser by Hoërskool Menlopark
Hier is sy wengedig:
bosveldseënwens (‘n seisoen in my paradys)
vir breyten breytenbach
onder die magiese wydte van die bosveldgewelf
kom ‘n bosveldseënwens diep uit die hart gedelf
mag_die rooistofpad_vrolik_na jou huis_swenk___
en spesiale_koesteroomblikke dáár jou hart_deurdrenk___
mag die_somerwinddse lang vingers
jou laat swierdans saam met boomtop, gras en vlinders
mag die kleurontploffing van ‘n sonsak(genot)
jou siel bekoor en soos ‘n soetdoring jou hart laat bot
mag die skouspel van elke rant en kop se silhoeët
verwondering, vrede en saligheid jou hart inbed
mag die melkweg knipoog vir jou drome en wense
‘n kampvuurknetter opklink in die roesemoes lag van hartsmense
mag die engele dans oor jou velde wyd
vandag en môre en oormôre se altyd
Afrikaans huistaal vir hoërskole:
Lana McGregor
Graad 11, Curro Durbanville
Lana se wengedig:
Die snaaksste van alles
Hoe vreemd
is die vae herinnering
van ʼn damaskroos, soet
op ʼn warm somersaand in Januarie
Eensklaps-rats … `n druppel rooi.
Hoe vreemd
is daardie vermomde woorde,
olyfbitter in aard
wat gulsig aan my siel wegknaag.
Blind was ek.
Hoe snaaks
is die hortjies wat aan `n enkel-skarnier hang
Hoe is my hoop uitgemergel,
die oorblyfsels net doppe leë beloftes.
Die snaaksste (of soos jy sou sê belangrikste)
was jóú gevoelens – menig vlugtig oor die kop –
“onstabiel” e g g o deur die witleegkaste waar eens
ligvoets ek so gereeld móés trap
waar ek die móés moet en nié moes nie!
Die snaaksste van als
is jy
op die dit-is-bruin-nie-swart-nie-verdomp-leerbank
waar die brannewynvlekke die argument wen.
Die beste van alles
is ek het bly smag na jou
gestaan voor jou
soos ʼn kind gesmeek voor jou
Die ergste van alles?
Die aanbeweeg, oorkom, regruk, regtrek,
terwyl jy jou in iemand anders ind(r)ink.
En nooit sal ek weer iets só (r)eg ken nie.
Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT) vir hoërskole:
Elona Mhlamvu
Graad 12, Hoërskool Sybrand van Niekerk
Elona se wengedig (beskrywende gedig)
EMOSIONELE VIER RIGTING STRAAT
In die middel vasgevang.
Links of Regs.
Agteruit of vorentoe.
Watter pad moet ek kies…!
Na LINKS
Lê al die moeilike tye,
die gevegte so groot soos die golwe
van die Atlantiese Oseaan.
Woorde wat so diep sny soos die
Stille Oseaan.
Slae teen my Rooi Rose wange,
hard soos die ys wat die Titanic laat sink het.
Ek is jammer.
Dit was ‘n ongeluk…
Ek is lief vir jou.
Na REGS
skyn die son
op ‘n helder somersdag,
‘n nuwe wêreld wat wag,
vryheid so wyd soos die Nyl…
Ek het gekies om voort te gaan.
Alles agter te laat…
JOU AGTER TE LAAT!
Ek is klaar om vir jou te leef!
Ek kies My Toekoms,
jou in my verlede.
Ek kies Lig
oor jou donkerheid.
Ek kies My Geluk,
oor jou geluk…
Ek kies myself!
Kan jy dit glo?
Ja, hierdie keer kies ek MYSELF…
Vir ‘n oomblik daar,
het jy gedink…
Ek sal agteruit kies…
Afrikaans huistaal (laerskole):
Milan Botha
Graad 7, Laerskool Muldersdrif
Hier is Milan se gedig:
‘n Tas vol Wiskunde
Wiskunde gee my maagpyn
dit is soos ʼn oneindige lyn
Plus, minus, maal, deel
Dit is heeltemal te veel
My wiskunde meneer, Thinus
is beslis ʼn minus.
Hy gee jou hope huiswerk
wat soms nie eers uitwerk!
Wiskunde maak jou tas sommer swaarder,
dit maak my bene lam
As iemand eers daaroor begin praat,
is hulle nie meer my maat
Moet nooit jou wiskunde-onderwyser vertrou,
hulle is wreed, slim en sal jou uitvang
Hulle gee jou ʼn tas vol wiskunde
wat gaan maak dat jy wil inmekaarvou
So kom ons los nou vir wiskunde in ons tas,
sodat ons nie hoef te vrees, stres of selfs oopbars
Wiskunde is soms okay
Partykeer moet ons dit net so bietjie vermy!
Afrikaans huistaal:
Marichelle Spies
Hoërskool Witteberg
Marichelle se wenopstel:
Gekruisde lyne
Dit was ’n donker aand. My voete het gebrand, stukkend en vol klein blasies van ure se oorlog. Die swart roet wat alles om my verteer het, het stukkie vir stukkie my siel weggekerf. Die groot, oop plaaswerf wat gewoonlik gedruis het met die roesemoes van plaaswerkers, was daardie aand koud en donker – ‘n verlate begraafplaas.
Dit was nog altyd die hardste deel, die deel wat enige plaaskind haat. Dit wat jy net wil om- en wegwens! Die winter. Die voorbrande. Die vuur!
Jy kies natuurlik om met jou hele kindwees te glo en te vertrou dat wanneer die eerste verstikkende, grys ryp die groen wêreld om jou kom wegruk, daar tog nog iets glansend in die goudgeel grassade lê. Dan word die masjiene weer herontdek!
Die masjiene wat wéér, tot die eerste reëndruppels in November op die dor stof neerplof, aanhoudend sal brul om bees en boer te beskerm. Hulle is akrobate, wat ritmies op die gedreun, jou polsslag se ritme begelei.
Die vuurspuite.
Hulle eerste werk is natuurlik om grenslyne, wat op elke liewe plaas en liewe boerehart ingebrand is, weer in te kleur. Die swart lyne. Lyne wat lewens kan eis as hulle nie getrek word nie. Lyne wat in ‘n oomblik van ‘n paar weke wéér elke plaas, elke grondpad, rivier of plaashuis dik omlyn. Die erfgrond word ‘n skaakbord.
Dit is wat die winter is. ‘n Skaakspel. Die plaas bly óf wit, die goue grasvelde, wat omlyn is met beskermende swart voorbrande. Of jy mis ‘n skuif… voor sonsonder neem die swart koning oor. Ongelukkig is dit ook nie nét jy wat speel nie. Ses boerepionne om jou speel ook en in ‘n oomblik van dwaasheid, kan een verkeerde skuif veroorsaak dat álles om jou in verbitterende swart roet verander.
Die vuur het ongeveer 50 km wes van ons begin. Dit was nog vroegoggend toe die eerste rook verwoesting begin saai het. Daardie eerste kreet om hulp oor die brandkanaal is altyd die een wat jou hart tot in jou ore laat pomp en dit voel asof elke aar in jou kop gaan bars! Soos wat die wind die vlamme oor die dor velde jaag, veg elke boer met sy hele wese terug. Maar dit was tevergeefs, want soos ‘n ysterhand met ‘n pikswart pen wat alles wat in sy pad kom, lyn vir lyn inkleur en bekrap totdat ‘n swart laken die wêreld om jou bedek, het die goue grasveld in nagswart roet verwoes.
…dan kom die bekende stem, die liefdevolle boerestem, sagter as ‘n lam se wol en soeter as vars plaasheuning, nou hygend na suurstof, asem, oor kanaal sewe.
“Vier Bravo, kom in. Kom in. Corlia, hy is oor die rivier. Kry die kinders en ry! ”
Die stemtoon was duidelik en koud, amper hartseer. My pa se woorde het egter deur die lug gesny en voor ek kon registreer, was ons almal uit die huis. Rook het die eens genadige grond saam met die laaste goue sonstrale in ‘n onheilspellende spookverhaal verander.
Voor die geraamtes van wat ek eens my huis, my veilige hawe kon noem, het die ysterhand my aan die keel gegryp en gewurg tot elke gryntjie lewe uit my liggaam gewyk het, want die skaakspel is verby…
Hoe gaan jy aan, begin jy weer asemhaal, as die grenslyne wat jou beskerm het, gekruis het met lyne wat ‘n swart sluier oor jou hart kom trek?
Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT):
Chloe Adendorff
Graad 11, Hoërskool Kampsbaai
Chloe se wenopstel:
Tussen Twee Liefdes
Missy het by haar gunstelingkafee gesit en haar vingers stadig oor die rand van haar koppie getrek. Die reuk van vars koffie het soos huis gevoel, maar haar gedagtes het ver weggedwaal. Dit was weke sedert Alex, haar eks, vir haar gesê het dat hy nie meer lief vir haar is nie. Sy woorde het soos ‘n dolk gesny, maar sy was steeds vasgevang in sy gemengde seine. Hy stuur een dag ‘n boodskap en die volgende dag ignoreer hy haar weer. Die onsekerheid het haar gevange gehou.
“Haai, kan ek by jou aansluit?” Lucas, haar beste vriend, het by haar ingeskuif. Sy glimlag het verdwyn toe hy haar hartseer oë sien. Hy kon haar soos ‘n boek lees en hy het geweet iets was nie reg nie.
“Is alles reg?” het hy gevra, sy stem vol kommer.
Missy het huiwerig probeer om te glimlag. Lucas was altyd daar, die een persoon op wie sy kon staatmaak. Maar wanneer dit by haar gevoelens vir Alex en nog meer verwarrend, haar gevoelens vir Lucas self gekom het, het sy nie geweet hoe om dit te erken nie.
“Ek’s reg,” het sy sag gesê, al het sy geweet dit was nie heeltemal waar nie.
Lucas het haar nie verder gedruk nie. Hy het eerder die onderwerp verander en haar aan die lag gemaak met ‘n storie oor ‘n rampspoedige afspraak. Vir ‘n oomblik het sy amper vergeet waarom sy so verlore gevoel het.
Daardie aand het Missy en haar vriende by hul gewone kuierplek, ’n gesellige kroeg, bymekaargekom. Die atmosfeer was lewendig, maar Lucas was stil, sy blik het meer gereeld as gewoonlik na haar gedwaal. Toe hulle buite staan om die koel naglug in te asem, het Lucas uiteindelik gepraat.
“Missy, ek moet iets vir jou sê,” het hy met ‘n ernstige stem begin. “Ek het jou nog altyd liefgehad. Ek het probeer om dit te ignoreer, om net jou vriend te wees, maar ek kan nie meer voorgee nie.”
Missy se hart het vinniger geklop. Lucas se woorde het in die koue naglug gehang, swaar van jare se onuitgesproke gevoelens. Die stilte tussen hulle het alles gesê wat nie uitgespreek is nie, en sy het nie geweet hoe om te reageer nie. Maar voordat sy kon, het hul vriende hulle terug in die kroeg ingeroep, die stemme kliphard teen die stilte in, en die oomblik was verby. Maar iets het in haar binneste bly knaag.
Terug in die kroeg, terwyl sy nog probeer het om Lucas se woorde te verwerk, het Alex skielik na haar toe gekom. Sy oë was intens en sy stem vol spyt, amper desperaat.
“Ek het jou nooit opgehou liefhê nie, Missy,” het hy vinnig gesê, asof hy bang was sy sou wegdraai. “Ek weet ek het gemengde seine gestuur, maar ek moes dinge uitwerk. Ek het tyd nodig gehad om te besef dat ek niks sonder jou is nie. Gee ons asseblief nog ’n kans.”
Haar hart het gepyn toe sy na Alex kyk, maar Lucas se belydenis het steeds in haar kop weerklink, die woorde swaar soos klippe. Sy het haar hand teruggetrek toe Alex dit probeer vat het, haar emosies was ‘n warboel soos ‘n storm in haar binneste gewoed het.
Toe sy uiteindelik buite stap, het die koue naglug nie die verwarring in haar hart verdryf nie. Dit het gevoel asof die nag selfs donkerder en kouer geword het, asof dit haar innerlike storm weerspieël het. Sy het tussen twee liefdes gestaan, elkeen met iets wat sy wou hê, maar op verskillende, teenstrydige maniere. Die gewig van die keuse het op haar hart gedruk.
Vir die eerste keer het Missy nie geweet wat haar hart wou hê nie, en die onsekerheid het soos ‘n slang om haar hart gewikkel, haar met meer vrae as antwoorde gelaat. Dit was asof sy in ‘n doolhof van emosies vasgevang was, en die pad uit was nie duidelik nie, net soos die donker, leë straat voor haar.
Afrikaans huistaal (laerskole):
Daleney Grobbelaar
Graad 7, Laerskool Standerton
Daleney se beskrywende wenopstel:
My lappieskombers van herinneringe
Hier waar ek staan onder die sambreel van ‘n treurmoerbeiboom, voel ek hoe sonstrale op my sproetjies val en ‘n briesie deur my gekrulde hare kam. Ouma se lappieskombers lê soos ‘n reisiger se kaart oopgevlek op die lowergroen gras.
Ek maak myself tuis op die kombers en dink terug aan die dae wat ek en Ouma saam spandeer het, om die blokkies aanmekaar te werk. Die vreugdevolle oomblikke wat ons saam deurgebring het in materiaalwinkels, om te besluit watter tekstuur lap die beste by ons kleurvolle projek sou pas, draf deur my gedagtes.
Die tyd wat ons saam spandeer het om die laaste paar blokkies aanmekaar te werk, het anders gevoel. Die hospitaal se besoektye en die prikkelende reuk van aandete het ons verplig om die kombers af te rammel. Saam het ek en Ouma die uitspattige tossels van die lappieskombers ure voor haar afsterwe aanmekaargewerk.
Elke blokkie is uniek en verteenwoordig skakerings uit my kinderjare.
Die wind huil om die hoek, my sig word ‘n akwarium en die geur van warm soutwater rol oor my lippe. Alhoewel die rafels van Ouma se lappieskombers met die jare verweer, sal my herinneringe aan haar nooit uitrafel nie…
Afrikaans.com wens al die wenners hartlik geluk. Die standaard van julle werk is indrukwekkend.