Skrywer: Nicolette Kritzinger
Hoe lyk Afrikaans se toekoms en watter geleenthede hou die taal in vir dié wat dit praat?
Dit was die onderwerp van ’n onlangse paneelgesprek op 1 Oktober by die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Die paneel het bestaan uit kunstenaar Frazer Barry, prof Michael le Cordeur wat die onderwyssektor verteenwoordig het, René Arendse van Afrikaans 100 en dr Debra Meyer wat as gespreksleier opgetree het.
Afrikaans 100
“Die idee agter Afrikaans 100 is juis om plek te maak en geleenthede te skep vir almal wat die taal se voortbestaan wil verseker.” – Dr Debra Meyer
Een van die eerste kwessies wat gedurende die gesprek aandag geniet het, was die 100-jaar-viering van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 2025. Hierdie viering het talle vrae ontketen oor die geskiedenis wat die taal saamdra.
Is die pyn nog te fel om reeds te vra dat ons moet saamwerk?
Volgens René, verwys die Afrikaans Amptelik 100-veldtog na ’n oomblik in die taal se baie langer bestaan. Afrikaans se geskiedenis strek baie verder en hierdie veldtog is geskep om ’n mylpaal binne die bestaan van ons taal te vier.
René sê dat die eerste gesprekke oor hierdie viering vurig was. “Dit was wel nodig dat ons moeilike gesprekke moes hê. Die eerste gesprekke was vurig, en dis stééds vurig. Maar dit was nodig, want dit wys vir ons ons almal is passievol oor ons taal. Ons almal praat Afrikaans en dit behoort aan almal wat dit praat.”
“Afrikaans is vrygewig, toeganklik en volhoubaar.”
René het ook by die afsluiting van die gesprek meer vertel oor die inisiatief om na die amptelike vieringe in 2025, aan te hou bou aan die voortbestaan van Afrikaans deur belanghebbendes te betrek sodat die momentum behou word. Om hierdie rede het hulle besluit om dan voort te gaan onder die vaandel: Afrikaans 100, ensovoorts.
Een van die opmerkings deur mnr. Malgas (oudonderwyser) vanuit die gehoor, was dat hy sedert die aanvanklike gesprekke ’n mate van aanvaarding ervaar het en dat die Afrikaans voor 1925 ook nou erkenning geniet. Waarop René geantwoord het: “Die doel van die viering was nooit om uitsluitlik te wees nie. Ek dink die kwessie van die naam het ’n eng persepsie geskep toe ons dit bekendstel. Maar ons het van die begin af om ’n tafel gesit en gesê dat die Afrikaans wat ons op hierdie moment in tyd vier, nie hier sou wees sonder sy ontstaan nie.”
Volgens René sou dit nie hier wees sonder die Khoi Afrikaans of die Arabies-Afrikaanse geskrifte nie. “Dit sou nie hier wees sonder Genadendal se rol in die oprigting van die eerste Afrikaanse kollege nie en sy rol in die eerste koerant voordat die Patriot verskyn het nie.
Ek het besef ons moet minder praat en meer begin doen en begin luister.
Ons wil erkenning gee vir elkeen se plek in die ontstaan van Afrikaans, want sonder dít sou ons nie hier gewees het vandag nie. Die vraag is hoe gaan ons van hier af saam staan, saam bou en iets agterlaat?”
Volgens Frazer is daar baie wat kan “groei” uit hierdie verlede. “Ons moet oor ’n 100 jaar van nou af nie na ’n amptelike viering kyk as ’n vloek nie – ons moet kyk na hoe ons die gemors en vullis uitgewerk het en die vrug kan wys.”
Só word daar aan die toekoms van Afrikaans gebou
Tydens die gesprek, is verskeie geleenthede geïdentifiseer om te bou aan die toekoms van Afrikaans.
Een hiervan was dat daar ’n groter inklusiwiteit moet wees vir verskillende vorme van Afrikaans, veral in die onderwys en die kunste. Dat verskillende dialekte neerslag in die kurrikulum moet vind en dat geleenthede geskep moet word vir persone wat ander variëteite van Afrikaans praat. Verder is dit ook na vore gebring dat daar na die hele ekonomiese waardeketting van Afrikaans gekyk moet word om geleenthede vir die taal te identifiseer. Prof le Cordeur het ook geraak aan die belangrikheid van meertaligheid binne die Suid-Afrikaanse konteks en die geleenthede wat die omarming van ander tale ook kan bied.
“In ons land moet ons ook kan kommunikeer met ons medelandsburgers. Ons moet nooit vir mekaar sê dis Afrikaans óf Engels nie. Dis Afrikaans én Engels. Daar is plek vir albei.”
Wat is die realiteit?
Hoewel daar oor die algemeen ’n positiewe uitkyk op die toekoms van die taal is, is daar ook klem geplaas op die realiteite wat die taal in die gesig staar.
Dr Theuns Eloff het verwys na die belangrikheid van ’n onderwyspyplyn van voorsiening in enige taal. Dat daar Afrikaanse kleuterskole, laerskole, hoërskole en tersiêre instellings moet wees wat hierdie pyplyn lewendig hou. Hy meen dat die verengelsing van universiteite ’n groot bedreiging vir die voortbestaan van hierdie pyplyn bied. “Daar is bekommernisse. Ek sê nie ons is negatief nie.”
“Kom ons vier Afrikaans, maar ons moet ook veg.”
Joernalis Max du Preez het ook sy bekommernis hieroor uitgespreek. “Mense laat my hart goed voel as hulle sê Afrikaans gaan vir ewig bestaan. Een van die mees roerende oomblikke van my hele lewe was om na ’n onderhoud te kyk van ouma Katrina Esau (die laaste spreker van N|uu). En ek kan my indink dat 5 000 jaar gelede, het een shaman na die ander gekyk en gesê: ‘Moet ons nie bekommerd wees oor ons taal nie?’ En hy het gesê: ‘Nee wat, ons sal dit vir ewig praat’. Wel, daar is nou een mens oor.”
Max het voortgegaan en gesê: “Hier is mense wat steeds ontken waar ons taal vandaan kom en beweer dat dit nie ‘n slawetaal is nie. Daarom wil ek voorstel dat ons op 8 Mei 2025 met die viering van Afrikaans 100 ook taalmonumente op Genadendal en in die Bo-Kaap moet hê waarheen ons belanghebbendes (ook uit ander lande vanwaar ons slawevoorvaders vandaan gekom het) kan nooi om saam met die mense ’n groot makietie te hou. Dit moet dien as ’n simboliese daad.”
Ander, soos mnr. Malgas was egter van mening dat die taal hier is om te bly.
“Ek is gebore in Afrikaans. Vir 38 jaar was ek ’n Afrikaanse onderwyser, ek het my brood en botter in Afrikaans verdien, ek het my huislening by Absa betaal met Afrikaans as my werk en ek het my kinders laat studeer met Afrikaanse geld. Ek is onbevange Afrikaans. Nou wonder ek wat is die bekommernis. Hy gaan nog daar wees.”
Bogenoemde artikel is slegs ’n uittreksel van die gesprek. Hou Afrikaans 100 se blad dop vir ’n volledige opname van die gesprek.