Saamgestel deur Annelie van Jaarsveldt
Die digter en skrywer Antjie Krog is onlangs (September 2024) vereer met ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria. In sy commendatio op LitNet skryf Willie Burger dat terwyl hy besig was met sy motivering om die eredoktorsgraad aan Krog toe te ken, hy talle van haar bundels weer gelees het. Hy sê dan ook:
“As ek Afrikaanssprekend grootgeword het net sodat ek Antjie Krog en Breyten Breytenbach kon lees, was dit al die moeite werd.”
Burger sê voorts dat “eregrade deur universiteite toegeken word aan mense wat uitsonderlike bydraes gelewer het tot ‘n spesifieke studieterrein, of die breër gemeenskap”. Krog het die eredoktorsgraad ontvang as “erkenning vir die diepgaande kulturele impak wat haar werk gemaak het”.
Burger noem ook dat Krog ”nooit haar morele kompas onderdruk het nie. Sy kon die onreg in die samelewing waarin sy grootgeword het, nooit miskyk nie. En sy was voortdurend daarop ingestel om die omgewing te verander. Sy het alles ingespan om die wêreld om haar te verander. Daarvoor moet die digter asemhaal deur haar ore, sodat die klanke gebruik kan word om die klippe te laat uitroep. Net daarvoor al verdien sy meer as een doktorsgraad.”
Wat egter uitgestaan het tydens die ontvangs van haar eredoktorsgraad is haar optrede. Volgens Burger was dit nie die gewone toespraak nie, maar die voorlees van gedigte deur Leetile Disang Raditladi, ‘n digter van Botswana. Krog en die aktrise Barileng Malebye het die gedigte in Engels, Afrikaans en Tswana voorgedra. Sê Burger: “Maar met haar optrede by die gradeplegtigheid bevestig sy alles waaroor haar loopbaan gaan: die voortreflikheid en krag van die woord, die belang van almal se tale en unieke seggingswyse, die noodsaak van die vervlegting van die estetiese met betrokkenheid.”
Bron: Antjie Krog se eredoktorsgraad by UP: Willie Burger se commendatio – LitNet
Luister en kyk gerus na hierdie hoendervleisoomblikke wanneer prof Antjie Krog en die aktrise Barileng Malebye Reën/Pula en Dingaan en die Boere voordra – in Tswana, Afrikaans en Engels:
Vyf vinnige feite oor Antjie Krog
- Country of my skull (1998) word beskou as ‘n hoogtepunt van joernalistieke en navorsingswerk en het die wêreld laat kennis neem van diegene wat nie noodwendig altyd gehoor word nie.
- Die bekende skrywer van kortverhale en kontreiverhale, Dot Serfontein, was Antjie Krog se ma.
- Krog het reeds provinsiale opstelkompetisies in standard drie, vyf en sewe (graad 5, 7 en 9) gewen.
- Die gedig, Ma, wat in haar matriekjaar in die bundel Dogter van Jefta gepubliseer is, is een van haar bekendstes. Dit lui: Ma, ek skryf vir jou ʼn gedig/sonder fênsie leestekens/sonder woorde wat rym/sonder bywoorde/net sommer/ʼn kaalvoet gedig…
- Antjie se werke is al vertaal in Engels, Nederlands, Italiaans, Frans, Spaans, Sweeds en Serwies.
Lees ook:
Die ontslape skrywer en joernalis, Alita Steenkamp, se profiel oor Antjie Krog in 2022 soos wat dit op Afrikaans.com verskyn het: Antjie Krog – ʼn Voëlvlug – Afrikaans.com
Meer oor Antjie Krog se werk op LitNet: Antjie Krog (1952–) – LitNet