Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
As jy in die hoërskool was hier in die vroeë sewentigerjare, was jy waarskynlik ook “verlief” op meneer Winterbach in die rolprent Môre, môre, en het jy dalk stilletjies gewens jy kon net vir ’n dag lank soos Lena (Sybil Coetzee) in die meneer se geselskap deurbring. Destyds was die “gewaagde” tema van ’n onderwyser wat op ’n skooldogter verlief raak, deel van die rolprent se gewildheid. Dit was ook voor die dae van televisie toe inryteaters naweke volgepak was. Maar moenie glo nie, afgesien van hierdie “gewaagdheid”, het menige van ons (en ons ma’s) geswymel oor die aantreklike Hans Strydom met sy blou oë. Nog rolprente wat Hans Strydom se gewildheid verstewig het, was onder andere Ter wille van Christine, ’n Beeld vir Jeannie, The God’s must be crazy II en Eensame vlug.
Vandag, meer as 50 jaar en baie rolle later, is Hans steeds (sedert 2005) op die kassie as die formidabele At Koster in Binnelanders te sien en het hy nog nie ’n aks van sy aantrekkingskrag verloor nie. Daarom is dit ook nie ’n verrassing dat hy onlangs by die kykNET Silwerskermfees vir sy lewensbydrae tot die akteursbedryf vereer is nie. Hieroor sê Hans in ’n onderhoud op Netwerk24:
“Dit dwing ’n mens tot stilstand. Jy besef skielik hoe ander jou sien en dat jy besig is om geskiedenis te word. Dis ’n groot eer. En dankie vir die herinnering dat my sandjies besig is om uit te loop!”

Hans Strydom het in Durban grootgeword waar alles oorwegend Engels was, maar het as teenvoeter deelgeneem aan alle Afrikaanse kultuuraktiwiteite wat daar was en het selfs help aflewer aan die enigste Afrikaanse koerantjie destyds, Die Nataller. Hier van graad 4 af het hy gereeld aan kunswedstryde deelgeneem en nadat hy sy eerste goue diploma (verhoogvrees ten spyt) verower het, was die koeël deur die kerk en het die aanvanklike stokperdjie later tot voltydse akteur gelei al is hy nooit formeel as toneelspeler opgelei nie. Desjare het jy jou in elk geval gaan bekwaam om iets te hê om op “terug te val” as die kunste nie uitgewerk het nie en so was dit ook met hom.
Hy het ’n B Juris-graad aan die PUKKE verwerf en 12 jaar lank vir die departement van justisie as aanklaer en later as landdros gewerk.
Hierdie regskennis het egter deur die jare baie gehelp om mede-akteurs by te staan in die uitpluis van kontrakte en die stryd om herhaalfooie.
Hier van 1975 af was Hans saam met David Hall-Green aanbieder in die toetstydperk vir televisie. Volgens Hans moes mens maar uit jou foute leer, want opleiding was daar nie. Toe televisie amptelik in 1976 begin het, was Hans in verskeie reekse te sien, onder andere Die vierde kabinet, Arsenaal, en die Mannheim-sage. Dit was egter sy rol in die fliek, The Gods must be crazy II en sy rol as die radio-omroeper Arnoldus in die televisiereeks Die Manakwalanners wat steeds van sy gunstelingrolle bly. “Seker maar omdat albei in ’n mate komedies was!”
Hans geniet radiowerk en noem in ’n Netwerk24-artikel dat daar niks so lekker soos ‘n radiodrama is nie.
“Dis net jy en jou stem en ‘n goeie teks om die luisteraar na ‘n ander wêreld te voer.”

Afrikaans.com wou die man agter die akteur so bietjie beter leer ken en het per e-pos met hierdie soms bra “onwillige ikoon” gesels. Dis alombekend dat Hans op sy gelukkigste buite is. Sê Hans: “Ek was nog nooit een vir die glanswêreld van die vermaaklikheidsbedryf nie. Dit is egter ‘n belangrike deel van die bedryf om ’n drama of fliek te bemark sodat dit geld kan verdien – en die akteurs is nou ongelukkig die wat ingespan word om as trekpleisters te dien. Daar is baie akteurs wat dit geniet – ek is nie een van hulle nie.”
Hierdie liefde vir die buitelug leef hy uit op sy plaas waar hy met beeste boer. Hy vertel dat hy lank Binnelanders en sy plaas saam hanteer het, maar dat hy die laaste paar jaar op sy versoek minder storielyne het sodat hy meer tyd vir homself en die boerdery het.

Gepraat van die korrelkop At Koster in Binnelanders. Ons wou weet hoe die karakter die afgelope jare verander het. “Aan die begin was At Koster as ‘n ‘rampokker’ beskryf. Ek weet nie mooi wat die skrywers daarmee bedoel het nie, maar ek het At se dialoog en spel met die tyd saam so aangepas dat hy meer ’n ‘diligens pater familias’ – ’n toegewyde vaderfiguur – word. At sal enigiets doen om sy familie en hospitaal te beskerm al moet hy van sy vele ‘kontakte’ gebruik maak.”
“Die skrywers het mettertyd die ‘rampokker’-beeld laat vaar en by At Koster, die familieman, ingeval.”
Soos genoem, was Hans 12 jaar lank in die departement van justisie – iets wat hy baie geniet het. Tussendeur was hy egter betrokke by die kunste. Ons wou weet hoe dit gebeur het dat hy uiteindelik die vermaaklikheidswêreld gekies het. “Dit was nie ’n maklike keuse nie. Eers het ek verloftyd gebruik vir ‘n prent of twee, maar toe kom televisie met baie meer aanbiedings. Ek het geswig voor die versoeking. Natuurlik het die moontlikheid van beter geld ook ’n rol gespeel.”
Hans noem dat die koms van televisie die doodskoot vir Afrikaanse flieks en inryteaters was. Tog was die vroeëre jare van televisie juis die tydperk waar almal werk gehad het. Daar was elke jaar nuwe dramareekse en veral oorklanking het baie akteurs aan die lewe gehou.
Hans is bekend vir sy mooi Afrikaans en ons wou weet wat sy gevoel oor die voortbestaan van die taal is.
“Dit is jammer dat daar nie meer openbare figure is wat ’n voorbeeld stel met goeie Afrikaans nie. Omroepers soos Riaan Cruywagen en Nic de Jager was voorbeelde van goeie Afirkaans.”
“Vandag is daar radio-omroepers wat skynbaar geen benul van goeie Afrikaans het nie. Radio-omroepers is in ‘n verhewe posisie waar luisteraars hulle taalgebruik na-aap. Gemeenskapsradiostasies roem daarop dat hulle trots Afrikaans is, maar hulle Afrikaanse taalgebruik het ’n liederlike Engelse klap weg. Veral Afrikaanse woorde soos ‘nasionale’, ‘finansies’, ‘miljoen’, ens. met Engelse beklemtoning, laat mens ril. Luister egter gerus na Bosveld Stereo.” Aldus Hans.

Oor sosiale media is Hans redelik pragmaties. “Sosiale media is maar beide ’n seën en ’n euwel. Reg gebruik, het ’n mens al die kennis wat jy wil hê op jou vingerpunte. En was die motorkar nie ook maar eers beskou as ’n euwel nie?”
Hans se persoonlike lewe was nog altyd privaat, maar hy voel tog dat die publiek se aandag deel van die bedryf is.
“Dit is net gevaarlik as dit na jou kop toe gaan. Maar soos oorlede Bill Flynn gesê het: ‘It (public attention) comes with the contract’”.
Oor sy betrokkenheid by regsaksies namens akteurs, vertel Hans dat hy na ongeveer 300 kunstenaars – akteurs, skrywers en vervaardigers – se belange omsien rakende herhaalfooie en verkope van hulle programme aan ander uitsaaiers. “Dis ’n bykans voltydse werk en administrasie en neem meer van my tyd in beslag as die plaas. Die SABC is ’n moeilike kalant wat voortdurend met nuwe streke vorendag kom.”
Dit is gepas dat ’n akteur van Hans se kaliber ander akteurs kan raadgee oor hoe hulle hulle lewens behoort te bestuur. Sê Hans: “Akteurs moet besef dat hulle ’n eenmansaak is. Hulle moet self sorg vir hulle pensioen en mediese fonds, soos enige ander persoon wat vir homself werk. Kennis van persoonlike finansies is belangrik. Ongelukkig is dit nie deel van dramakursusse nie.”
“Die akteursberoep is ’n hoërisikobedryf. Daar is nie so iets soos ’n vaste salaris nie. ’n Akteur moet dus verstandig met geld kan werk.”
“Dit help as ’n akteur veelsydig is – sing, skryf, skilder. Enigiets wat help om te oorleef in ’n beroep waar geld en werk skaars is.” Hans voeg by dat wanneer dit by beleggings kom, dit raadsaam is om mooi te besin. “Jy kan tot 27.5 % van jou belasbare inkomste gebruik om in ’n aftreefonds te belê en dit van belasting aftrek. Dit is ’n uitstekende manier om vir jouself welvaart te skep vir later in jou lewe. En terselfertyd bespaar jy op belasting. Ek het vroeg reeds so belê en kan vandag gemaklik ‘aftree’ as ek wil. Dan het ek baie jare gelede ‘n paar Krugerrande gekoop teen R750 stuk. Vandag is elkeen R45 000 werd.” En dis uit die perd se bek!
Wat sou Hans Strydom op ’n reusereklamebord waar baie mense dit sal kan sien, wou sê? Sy antwoord is kort en kragtig:
“Hou jou neus uit ander mense se sake uit!”
Hans vertel dat hy versot is op geskiedenisboeke en dat die een ding wat hy daaruit geleer het, is dat oorlog en konflik nog altyd onnodig was. “Dit kon vermy gewees het as daar nie hebsug en verwaandheid was nie. Soos Van Zyl Slabbert eens opgemerk het: ‘What is history but a series of f-ups!’”
Of iemand soos Hans motivering nodig het? Hans reken dat hy nie juis weet wat hom “motiveer” nie. “Ek glo ’n mens moenie iets aanpak waarvoor jy nie ’n passie het nie. Verder is ek maar aan die versigtige kant as ek iets aanpak. Ek vra eerder wat ek kan verloor, in stede van wat kan ek wen.”
Wat maak hom gelukkig? “’n Goeie bui reën wat die veld groen en die beeste vet maak.” Hoe dan nou anders as jy ’n boer in jou murg is?
En laastens. Wie is Hans Strydom? “Ek is maar ’n tipiese Taurus. Ek hou van orde en roetine. Ek hou nie juis van vakansies en om van die huis af weg te wees nie. Ek bly liewer tuis en pas my goed op!”
Afrikaans.com bedank Hans Strydom vir die tyd wat hy afgestaan het om met ons te gesels.
Addisionele bronne:
Netwerk24-artikel deur AJ Opperman: Hans Strydom op Silwerskermfees vir lewensbydrae vereer | Netwerk24
Sarie-artikel deur Delia du Toit (2018): PressReader.com – Digital Newspaper & Magazine Subscriptions