Skrywer: Nicolette Kritzinger
Foto’s: Gizela Conradie
Mense praat nie oor die trauma van jou 20’s nie. Nee, om die waarheid te sê, ons sien uit daarna. “Ek kan nie wag om skool klaar te maak nie, dan gaan ek – ”
Die openbaring kom skielik. Een oggend maak jy jou oë oop en jy is in die hel. Almal om jou is óf dronk, óf swanger, óf hulle oefen vir ’n maraton.
Ek was nooit deel van enige van hierdie groepe nie. Ek was net passief, onfiks en alleen.
Ek het altyd gewonder waarom ek nog enkellopend is.
Ek was nie allergies vir enigiets nie, ek het elke oggend my hare gekam en ek het beslis nie tights in die publiek gedra nie. Tog het ek myself steeds aan die kant van die draad bevind wat op Vrydae-aande met ’n pak chips, ’n sespak-doughnuts en ’n kombers voor die televisie opkrul om Binnelanders te kyk … en dan dink die partytjie ruk.
Ek het op daardie stadium nooit gedink die liefde is vir my beskore nie. My hande sweet as iemand daaraan vat en ek deel nie my sjokolade nie. Die mens se obsessie om af te paar is buitendien belaglik. Ons word bang gepraat met leuens van vroeë onvrugbaarheid en ’n ongesonde liefde vir katte as ons nie al op twintig bestuif is nie.
Ek het nog altyd die naïwiteit van tieners beny wat aan mekaar vassuig vir ’n volle twee weke en dan die titel “liefde” aan hul simbiose toeken. Ek onthou nog ’n baie ongemaklike ervaring by ’n kunstefees agter ’n markiestent. Ek was besig om skelm brownies te eet. Wel, nie heeltemal “skelm” nie. Ek, die tannie by die brownie-stalletjie, my bobene én Liewe Jesus het daarvan geweet.
Langs my sit-lê twee bronstige seekatte wat mekaar nog nie in oënskou geneem het nie. Susan is te besig om Pietertjie se stamboom met haar tong uit te brei. Ek staar. Mens mag staar as jy 25 en enkellopend is. Sy is seker al swanger, dink ek. Ék is seker al swanger … van staar.
Ek het nie eintlik omgegee vir onskuldige aanslae soos dié van die publiek nie, maar dit het nog altyd dieper getref as dit van eie bodem af kom. Dis hoekom ek groot, uitgebreide familie-etes haat. Álmal is genooi. Selfs dié wat jou laas gesien het toe daar nog kwyl by jou mondhoeke uitgeloop het (nietemin getuig dit van ’n beter tyd in jou lewe). Dis die jaarlikse samekoms van grillerige ooms met insluksoene en die habitat van tannies wat lankal nie meer by hul mans slaap nie.
Ek sien een van hulle nadersweef.
“Hoe gaan dit met die liefde?” vra sy.
Tertia. Aangetroude tannie. Sy is twee perms weg van ’n bles. Haar man het drie jaar terug weggeloop met Petro van ontvangs en haar gelos met ’n sitkamerbank, ’n bejaarde kat en ’n versameling Patricia Lewis-CD’s.
Ek hoor sy het intussen vasgesuig aan ’n “ryk sakeman” van Bellville. Hy maak plastiekplante op industriële skaal. Nietemin laat hierdie nuwe romanse haar toe om egte linne te dra en frikkadelle by Woolies te koop, so wie is ek om te oordeel?
“Ag, maar so tussen die boom en die bas, Tannie. Ek is mos maar meer los as vas.” Dis ’n grappie. Sy deel nie my sentiment nie. Sy trek haar pruimmond op ’n plooi en ek kyk hoe my toekomstige strandhuis in Stilbaai wegloop.
Ek het daardie dag vir die laaste keer my enkelbestaan bevraagteken … en ek dink jy moet ook.
Geniet daardie Saterdae-aande wat jy die tweede been van Taylor Swift se Erastoer in jou sitkamer kan opvoer. Moenie daai family size pak Doritos met enigiemand deel nie. Neem jouself uit vir ete, bederf jouself met daai sexy nommertjie by Truworths, en gaan koop vir jou daai Valentynsdag two-for-one sjokolade special by Clicks. Jy verdien dit.
En terwyl jy dit doen, skree dit van die balkon af sodat almal jou kan hoor: Jou enkellopendheid is ’n keuse!
(Of dit nou jóú keuse is of nie, dis bly ’n keuse nietemin.)

