Skrywer: Anja van den Berg
Nee man, sê my vriendin oor die foon, jy overthink dit. Dis ’n aanvoeling, ’n instink. Jy doen goed.
Ek vat ’n groot sluk wyn.
Wat drink jy? vra sy.
Rooibostee, sê ek.
Die eetkamertafel lê vol leë bababottels en piepklein frokkies. Die inhoud van eersgenoemde is vroeër op laasgenoemde uitgespoeg. Dis ’n misdaadtoneel wat my laat dink aan ’n ander vriendin wat jare terug vir haar kêrel ’n oulike geskenkpakkie vir Valentynsdag aanmekaar gesit het. Sy’t die bottel rooiwyn en liggeel-piesang- slaapbroekie in dieselfde boks toegedraai en toe die hele boksemdais op ’n sementvloer laat val.
Waar’s die baba? vra sy.
Ek loer op die monitor. Sy slaap nog.
Onthou, jy moet slaap as die baba slaap, sê sy.
Ek wil vra of ek ook moet skottelgoed was as die baba skottelgoed was.
Jip, sê ek met ’n bietjie te hoë stemtoon. Ek moet net gou eers:
- My ontbyt van 04:30 vanoggend iewers opspoor.
- My koue-warm-koue-warm-koue koffie uitgooi.
- Die skottelgoedwasser uitpak.
- Die skottelgoedwasser inpak.
- Beddens opmaak.
- Komberse was.
- Speelgoed bêre.
- Stort (opsioneel).
- Maagoefeninge doen.
- My ma bel vir haar verjaarsdag.
- Het ek vanoggend my tande geborsel?
Sjoe, sê sy. Kan GP jou nie help nie?
Ek’s seker hy sou as hy hier was, sê ek.
Hoekom werk hy op ’n Saterdag? vra sy.
Dis ’n lang storie, sê ek. Maar ek dink ons het darem nou ’n slaaproetine van ’n aard gevestig, so ek beplan vir ons ’n DIY date night by die huis.
Hoekom gaan julle nie uit iewers heen nie? vra sy. En moet jy nie dan nou juis die baba wakker maak nie?
My kindervrye vriendin het intussen geleer dat ouerwees altyd onmoontlike keuses insluit en balans vereis wat die beste weegskaal nie kan kalibreer nie (maar kom ons praat eerder nie oor skale nie)!
Begrotings balanseer selde.
Mense sê maklik hoe jy altyd sal voel jy’t nie genoeg geld om babas te hê nie, maar jy laat dit werk. Niemand sê dat jy binne ’n maand van Vyf Rose na Joko na No Name Brand sal moet gaan om pediaters se bybetalings te bekostig nie. ’n Pak doeke hier, ’n blik formule daar, en siedaar! Jou kredietkaart is in die rooi. Sal ons ’n baba-oppasser kan kry vir R2 per uur? Dan kan ons gou uitskiet vir ’n romantiese ete… um, ’n hamburger by McDonald’s. Jammer, skat. Ons sal die chips moet deel.
Om ’n aandjie uit te beplan, is ’n bietjie soos om op verlof te gaan: Jy moet steeds alles afhandel wat jy reeds in ’n 25-uur dag moet inpas én in die nanagte vooruit werk om verantwoordelikhede te skeduleer of te delegeer. In hierdie oorwerkte staat kan jy nou jouself oortuig dat jy dit verdien om te gaan uiteet terwyl jy in jou geliefde se oë staar, en voorgee dat jy nie wonder of jy die oond aan vergeet het nie.
’n Romantiese ete in ’n restaurant eindig in elk geval gereeld met die baba-oppasser wat bel om te sê Mieke het naar geword in haar bed. Of in die bad. Of in die kar. Of op die stoep. Of bo-oor haar speelgoed. Haar mangels is intussen uitgehaal en ons weet nou sy’t die grootste mangels gehad wat die gesoute oor-neus-en-keelspesialis ooit teëgekom het.
Die monitor het ons baie gereeld met ’n BRAAAK wakker gebrul, so as sy nóú slaap, los ek haar! Dis ’n keuse wat natuurlik haar slaaproetine kan uitgooi, maar wanneer laas het ek gebad sonder om drie keer uit te spring voor ek my kop kon afspoel?! Ek speel roulette en kam hierdie keer sommer ’n haarmasker ook deur.
Die piekniekkombers op die sitkamervloer flankeer met flikkerende kerse, tapas, soesji, druiwe, sjokolademousse en ’n bottel vonkelwyn. Buite knyp die koue, maar die kaggel knetter sag. Ek kies ’n klankbaan wat herinner aan ons sorgvrye jare in Bourbon’s Street en skink solank ’n glasie. Die kar brul by die motorhuis in en ek swaai die deur oop met ’n oulike rokkie en hoëhakskoene.
Wat’s die geleentheid, vra GP, heel verbaas. Jy dra skoon klere!
Ek ignoreer liefs die laaste stukkie kommentaar en fokus op die feit dat my prebaba-rokkie weer pas.
Ag, sê ek, sommer ’n warm aandjie in.
Sy oë val amper uit vir die feesmaal op die vloer. Ons hoef nie beurte te maak om te eet nie! In een beweging glip hy sy skoene uit en vlei homself soos ’n Romeinse adellike neer. Ek sit versigtig soos Lancelot se Guinevere halfboud op ’n perd se sysaal – ek sal hierdie hoëhakskoene laat werk! Hy glip ’n salmrol in sy mond en vra so tussen die ryshap deur hoe was my dag.
Nee, sê ek. Vanaand is daar twee reëls.
Een: Ons gesels nie oor werk of babas of rekeninge of die dag se banale nie.
Twee: Die spyskaart is keurige happies om versigtig te smul. Moenie net jou mond volstop nie! Hy vries, dink, sit versigtig die kaasblokkie neer en skink my glasie vol. Die vonkelwynborrels prikkel my tong en borrel amper deur my neus soos ek begin lag vir sy inapropro-grappie oor ’n bul in ’n glaswinkel.
Ná 10 jaar saam kan ’n splinternuwe baba partykeer soos ’n derde wiel aan die wa voel. Ons weet dis ’n voorreg waarvoor baie mense bid en ’n verantwoordelikheid wat ons baie ernstig opneem. Maar dit moet ook oukei wees om soms net vir mekaar te sê: Wat het ons gedink?! Vergeet die filmwêreld se idilliese babakamers en gesinsuitstappies! Hier’s die tipe gesprek wat paartjies eerder moet hê:
Haai, my skat. Ons het soveel energie en tyd vir onsself. Ons al twee werk voltyds, so ons het ’n dubbel inkomste en hoë aspirasies. Ons huis bly ook skoon, want ons sit nie met moddervoete op die bank nie en ons teken nie met vetkryt teen die mure nie. Dink jy nie dis tyd dat ons dit alles omvergooi en ’n baba kry nie?
Vir ’n uur of so is ons weer ou vlamme wat vergeet van vuil doeke – totdat die monitor BRAAAK en ons terugruk realiteit toe. Dan moet Aspoestertjie vinnig uit haar glasskoene spring om die koets te haal en weer die vloer af te dek. Agt weke later laat weet die dokter ek’s perdfris, dis toe nie anemie nie. Die ooievaar is weer op pad.