Saamgestel deur Annelie van Jaarsveldt
Kom speel, spring, sing en sprankel saam by die 2024 Toyota Stellenbosch Woordfees van 28 September tot 6 Oktober.
“Speel ontsluit nuwe moontlikhede, dit ontdek wêrelde, en dit plaas jou op ’n ongebreidelde plek waar jy net in die oomblik kan wees. Om te kan speel moet jy die pause-knoppie druk – halfgebak speel is kroek. Speel vra totale oorgawe, verbeelding, en gewoonlik maats. Speel is ’n dans met die werklikheid, van ’n wêreld wat is, maar ook ’n wêreld wat word. Waar ander reëls geld, waar die onmoontlike haalbaar en selfs moeiteloos word.” Aldus Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Met meer as 400 unieke produksies in en om Stellenbosch gaan jy beslis jou hart kan uitspeel by die 2024 Toyota Stellenbosch Woordfees. Vanjaar se feestema is “Speel” – ’n tema wat aansluit by die viering van die eienskappe wat van die Woordfees ’n veerkragtige fees maak: uitdrukking, innovering en die speelse vryheid van die kunste.
Daar is 12 afdelings op die program: die EasyEquities Skrywersfees, Dans, Diskoers, Filmfees, Kinderfees, Klassieke Musiek, Komedie, Leefstyl, Toneel, Toyota Musiekfees, Visuele Kuns en die WOW-fees.
Waarna jy kan uitsien:
EasyEquities SKRYWERSFEES
Daar is 63 aanbiedings: Van boekpraatjies en voorlesings deur van die land se voorste woordpaljasse, tot woordspeletjies en open-mic-sessies. Daar word ook aan die hand van boeke en die onlangse verkiesing kopstukke gesels oor politiek.
Gedigte is gemaak om gehoor te word. In Asem deur die oor bring drie digters vir luisteraars die gawe van hulle beste woorde in die beste volgorde – ’n soort offerande vir die oor. Danie Marais lees uit Ek en jy bestaan nie, Lynthia Julius blaas asem in die beeldryke Noord-Kaapse Afrikaans van Kinderlê, en die rubriekskrywer André le Roux ontbloot sy digterlike sy met ’n voorlesing uit Liefde en verset. Bibi Slippers speel gasvrou terwyl die digters met die ore toor.
Twaalf digters, onder wie Loftus Marais, Jolyn Phillips en Jaco Barnard-Naudé, kom elkeen met twee verse oor vriendskap na die partytjie. Is vriendskap inderdaad een siel in twee liggame, of eenvoudig die een siel wat daar sal wees wanneer jou wiele afkom? Bring gerus jou beste vriend saam en kom ontdek vars vergelykings wat julle band besing.
Op die diskoersprogram is 54 gesprekke, waar alles van landbou, politiek, studentelewe, finansies, musiek en sake-invloed onder die loep kom.
Op die Netwerk24-gespreksreeks lei dié publikasie se politieke redakteur, Gert van der Westhuizen, en die TV- en radioaanbieder Lynette Francis-Puren aktuele gesprekke.
En in Netwerk24: Die onderhoud met Mia Spies gesels dié multimediajoernalis en TV-aanbieder met prominente figure en meningsvormers.
TONEEL
Die toneelaanbod is vanjaar weer stewig met 36 aanbiedings, waarvan 13 produksies op die fees debuteer.
Onder die nuwe produksies tel die bekroonde regisseur Christiaan Olwagen se verwerking van die Noorse dramaturg Henrik Ibsen se drama Hedda Gabler met Rolanda Marais in die titelrol.
Marthinus Basson se debuutkomedie Kruispad of die legende van die goue vis, is ’n vertaling van die Estlandse skrywer Jaan Tätte se magiese sprokie oor die grense van liefde, verraad en die mag van geld.
Die veelbekroonde eenvrouvertoning Isidlamlilo / The Fire Eater met Mpume Mthombeni vertel die storie van ouma Zenzile Maseko wat met God praat oor die ongelooflike gebeure in haar lewe. Maar sy is g’n gewone ouma nie …
Wat ’n begin vir David Elridge se drama ’n Begin wat op die fees debuteer met Cintaine Schutte en Carel Nel onder regie van Tinarie van Wyk Loots. Dis die vroeë oggendure in die nadraai van haar (Cintaine Schutte) nuwe woonstel se daknatmaak. Hy (Carel Nel) is die laaste oorblywende gas. Die woonstel is ’n gemors en hulle ook… Hierdie skerpsinnige én aangrypende stuk is ’n teer ondersoek van wedersydse eensaamheid, konneksie, menslikheid en intimiteit in moderne verhoudings.
Die regisseur Lara Foot fokus in haar internasionaal bekroonde verwerking van die tragedie Othello op dié karakter se innerlike lewe. Dié eg Suid-Afrikaanse produksie word in Engels, Afrikaans en Xhosa opgevoer.
In Speelgoed van glas is Nico Scheepers regisseur, vertaler en ontwerper in dié nuwe produksie van Tennessee Williams se tydlose meesterstuk The Glass Menagerie. Ontknoop die fyn web van liefde en verlies, gespin deur ’n matriarg (Anna-Mart van der Merwe) om haar gesin tot elke prys bymekaar te hou – en hoe graag elkeen van hulle wil ontsnap. Speelgoed van glas is ’n meesleurende verkenning van broosheid, verlange en die feilbaarheid van familie.
Suurdeeg, ’n romantiese drama, speel af in die konserwatiewe omgewing van Namakwaland waar twee amper-skoonsusters probeer uitpluis wat hulle doel as vroue in die lewe is.
Monsters is die transkripsie van die ondervraging van twee tienjarige seuns nadat die tweejarige Britse seuntjie James Bulger in 1993 verdwyn het. Tinarie van Wyk Loots het die Sweedse dramaturg Niklas Rådström se stuk eksperimenteel vertaal. Sy is ook die regisseur. Die rolle word om die beurt in ’n voorleesstyl opgevoer en die tekste aan die begin van elke toneel onder die spelers uitgeruil. Vrywilligers uit die gehoor word ook betrek om ’n stuk teks voor te lees. Monsters het die KKNK se Kanna-prys vir beste ensemble ontvang.
Twee vir een
Kyk twee toneelstukke vir die prys van een met Double Trouble: Bettie innie selle & Chronicles vannie Lavis!
Hoe het dit gebeur dat die vooraanstaande antie Bettie (Dean John Smith) al in hegtenis geneem is, en hoe het sy dié volle 21 minute in ’n aanhoudingsel saam met geharde misdadigers oorleef? Kom luister as Bettie eerder vertel hoe die arme misdadigers onder haar skerp tong deurgeloop en dit oorleef het!
Beleef ’n tale queen op ’n mission. Moenie ’n fout makie: Sy issie a fairy nie. Moet oekie dink sy is fair nie. Sy is vannie Lavis en blatantly so. Kô vat ’n trip down memory lane en vang ’n front row seat oppie voorstoep van Mavis (Veronique Jephtas) se juiciest stories. Promiscuity, brutal honesty, sarcasm en pure lekker skinner. As jy vannie Lavis af is, is jy safe. Anywhere else, clutch your pearls and while you’re at it, soema hold your horses! Sien jou daar! Dit is ’n verwerking deur Veronique Jephtas gegrond op die skrywes van Mavis vannie Lavis.
Die drama Gas volg die karakter Dawid (Elton Landrew) wat ná 15 jaar terug keer na Alexanderbaai met ’n belangrike opdrag. Hy moet toesien dat die gemeenskap van sy grootworddorp goedkeuring gee vir ’n staatsprojek wat die hele Suid-Afrika gaan raak. Dawid se suster, Maria (Jill Levenberg), wat al jare lank van hom vervreem is, is egter vasbeslote om ’n stokkie te steek voor dié projek wat die vissersgemeenskap se lewe ingrypend gaan ontwrig.
Ook op die toneelprogram te sien is die gewilde eenmanvertoning Reünie, waarin Frank Opperman terug is in sy Fiësta-bekroonde rol. En in die lagstuk Marion Monroe bepeins die merkwaardige Marion Holm die waarde van ’n naam.
DANS
Daar is drie uitgesoekte aanbiedings op die dans-program, wat ’n geleentheid bied om die baanbreker Gregory Maqoma se uittreevertoning, Exit / Exist te sien. Hy vier ook sy 50ste verjaardag met hierdie sensitiewe stuk wat die nalatenskap van hoofman Jongumsobomvu Maqoma (1798-1873), een van sy voorouers en een van die vernaamste Xhosaleiers in die geskiedenis, verken.
Die Luitingh Alexander Musical Theatre Academy beloof om gehore te betower met hulle nuutste dansproduksie, Hollywood. Gaan op reis deur Hollywood se mees geliefde genres met werke van die land se voorste choreograwe.
Die Figure of 8 Dance Theatre-geselskap se bekroonde produksie Set in Motion ondersoek die interne en eksterne kragte wat ons in teenoorgestelde rigtings trek en ons soms verhinder om voluit te leef, en fokus op die onverwagte kronkels en draaie wat ’n mens vasgevang laat voel. Dit het die KKNK se Herrieprys vir grensverskuiwende werk gewen.
KOMEDIE
Van die land se grootste grapmakers bring vars vertonings na die program.
Marc Lottering en Alfred Adriaan snoer kragte saam. Aanhangers kan verwag om met twee uur van pure lekkerkry bederf te word.
Met Nik Rabinowitz: Pension Killer kan jy jou oorgee aan ons skreeusnaakse wêreld soos gesien deur die oë van dié semi-heldhaftige komediant en selfverklaarde bokfluisteraar.
In AfriSnaaks neem Wayne McKay jou op ’n wipwarit deur die unieke humor, speelse nuanses, omgangstaal en absurditeite van Afrikaans wat jou sal laat lag totdat jy huil, belowe die akteur-regisseur Jeremeo Le Cordeur. Verwag vlymskerp komedie vars van die Kaapse Vlakte.
Kinderfees
Die Kinderfees bestaan uit sewe aanbiedings wat groot, leersame vermaak en plesier vir die kleinspan en hul ouers belowe.
Laasjaar se Woordtrofeewenner vir beste prestasie in kinderteater, The King of Broken Things met Cara Roberts, is weer te sien. Gaan op ’n magiese, avontuurlike verkenning van die regmaak van dinge wat gebreek en weggegooi is – ook harte. Met verwysings na Japannese tradisies, mitologie en die krag van drome is dié produksie ’n aangrypende herinnering aan towerkrag wat eintlik oral is.
DIE TOYOTA MUSIEKFEES
Met 57 aanbiedings – van stadiongrootte tot klein en intiem, kry jy alles van opelugkonserte by die Jan Marais-natuurreservaat tot a capella, musiekteater en -komedie, ’n heildronk op Afrikaanse musiek, kabaret, en uitgelate optredes met jazz, rock, hip-hop en pop.
Tussen die vyf groot opelugkonserte, is daar ’n bekostigbare kaartjie vir elke kontemporêre smaak.
Amanda Strydom vertel ’n storie van hoop, wonderlike avonture, selfontdekking, en oplaas tuiskoms na jou komvandaan in haar musiekteaterstuk The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder. Dit is verweef met musiek wat verwerk is en begelei word deur die pianis Coenraad Rall.
Op haar album Spoorsny verken Frieda van den Heever die landskap van die lewe en dood – en alles tussenin. Sy word op dié reis vergesel deur van ons land se voorste musikante, die Hoërskool D.F. Malan-koor onder leiding van Jade Paige, en groot geeste wat haar inspireer om in Afrikaans te sing, stories te vertel en lief te hê: Pierre Greeff, Coenie de Villiers en Laudo Liebenberg, om enkeles te noem. Kom val saam in die pad.
KFilms en e.tv bied met trots aan Kelders se geheime, waar alles “met ’n klein bietjie wyn” gebeur. Die Soebatsklowers se vele talente kom uit die kelder en in die kollig: Kom beleef jou gunstelingkarakters in ’n ander baadjie.
Die ikoon Koos Kombuis hou sy vyande naby. Kom luister wie het die toets van die tyd deurstaan wanneer musieklegendes soos Anton Goosen, Valiant Swart, Gert Vlok Nel en lede van die Gereformeerde Blues Band en die Warmblankes by hom aansluit in Koos Kombuis en vyande.
Die Sama-bekroonde afro-soul-jazzmusikant Mandisi Dyantyis bring vibes en begeesterde klanke na die Bos. As trompetspeler en sanger bekoor hy die jazzwêreld met sy diep emosionele klanke en lirieke.
Emo en Loukmaan Adams is te sien in Two of a Kind. Ons word herinner waarom mense wat weet, sê: “Hulle is mos after all hulle pa se kind!”
KLASSIEKE MUSIEK
Simfonie, styl en smaak. Op ’n uitgebreide klassieke musiek-program, is daar is 29 aanbiedings om van te kies wat ’n ryke verskeidenheid bied ten opsigte van styl, benadering en uitgevoerde werke. Van die hoogtepunte sluit in: ’n Eeufeesviering van George Gershwin se bekendste werk, die Rhapsody in Blue deur die bekroonde Charl du Plessis-trio in. Die talentvolle jong pianis Mike Wang voer ook ’n solo van die Rhapsody in Blue uit in American Rhythms – ’n veelbelowende musikale reis met die Wynland Filharmoniese Orkes o.l.v. Reghardt Kühn.
Die Schöpfung (Die skepping) gee ’n eietydse kleur aan Haydn (1732-1809) se oratorium met soliste soos Christian Rathgeber en Felix Rathgeber wat saam met Schola Cantorum (koor) en Stellenbosch Camarata (orkes) optree onder leiding van Martin Berger.
In Horizons bied die bekroonde Kaapstadse Operakoor uiteenlopende musiekstyle aan – van tradisionele Afrikaliedere tot werke uit operas deur verskillende komponiste.
In ’n opwindende program wat van 1 klavier tot tien klaviere – en 20 pianiste – beweeg, word nuwe betekenis gegee aan die begrip “speel”. In Klavier-extravaganza verskyn groot plaaslike name van klassieke musiek met nog 14 jong, opkomende pianiste. Nina Schumann, bekroon in dié dissipline, is die vervaardiger en musiekregisseur.
In Paranoid Android verras ’n eklektriese sekstet met ’n konsert van 20ste eeuse musiek. Die sekstet bestaan uit Magdalene Minnaar (stem), José Dias (klavier), Petrus Coetzee (viool en altviool), Peter Martens (tjello), Gabriele von Dürckheim (fluit en piccolo) en Féroll-Jon Davids (klarinet en basklarinet).