Op 24 September is Erfenisdag en die bedoeling is dat ons so bietjie stilstaan en met waardering terugkyk na alles wat ons ontvang het. Dit is ‘n publieke vakansiedag. Voor 1994 was dit bekend as Shakadag, waartydens Zoeloes hul koning herdenk het. Na 1994 is dit omskep in ‘n dag waarop alle Suid-Afrikaners hul kulture en erfenis herdenk.
Vanjaar, 86 jaar gelede is die hoeksteen van die Voortrekkermonument in Pretoria gelê. Uit dié daad het ’n landmerk verrys – ’n monument wat die toets van tyd deurstaan het.
Johanna van Eeden.
Bedags staan hy daar, rotsvas en woordeloos geanker in geloof. Snags práát hy met die vliegtuie bokant hom, wanneer die rooi lig bo-op die Voortrekkermonument in Pretoria standvastig sy boodskap in Morsekode uitflikker: Ons vir jou Suid-Afrika. Dis ’n gebou ryk aan simboliek, swaar aan skuld – verteenwoordigend van ’n deurslaggewende greep geskiedenis wat uiteindelik volledig sy staanplek in 2011 in ’n nuwe Suid-Afrika gekry het met erkenning as ’n nasionale erfenisterrein.
Vandag is dit een van die suksesvolste gedenkwaardighede in die land.
Diegene wat nie sélf by die hoeksteenlegging kon wees nie, maar ’n bydrae wou lewer, het ’n klip gepos. Uit alle windrigtings het dit opgedaag, eenvoudig geadresseer aan: Uniewinkels, Monumentterrein, Pretoria.
Dié klippe is later jare op die terrein in ’n stapel gemessel, omring deur vyf bome: een vir elk van die ou provinsies en nog een vir die voormalige Suidwes-Afrika. Die bome is ook simbolies van die punte van die Kasteel in Kaapstad.
Erfenis
Dit was pres. Paul Kruger wat in 1888 die eerste klip aan die rol gesit het met sy voorstel dat ’n gedenkplek opgerig moet word ter ere van die Voortrekker-ideaal. Kruger se wens het 43 jaar later momentum gekry toe daar by die FAK se kongres in 1931 ’n sentrale volksmonumente-komitee aangestel is, onder voorsitterskap van adv. E.G. Jansen
Mense is genooi om voorstelle in te dien oor waar só ’n monument opgerig kan word. Weenen, Heilbron, Orighstad, Winburg, Kerkenberg en Pietermaritzburg is onder meer voorgestel, maar die keuse het op Pretoria geval – geografies ’n sentrale punt, belyn met die ooreenkoms wat in 1852 by die Sandrivierkonvensie onderteken is waarvolgens Brittanje die onafhanklikheid erken het van die Trekkers noord van die Vaalrivier.
Die stadsraad van Pretoria het verskeie terreine voorgestel waar die monument opgerig kon word, maar dit was die argitek Gerhard Moerdijk wat self Monumentkoppie uitgekies het. Die ATKV, FAK en Voortrekkerbeweging het sáám ’n leidende rol gespeel in die ontstaangeskiedenis van die Voortrekkermonument. Op Maandag 8 Augustus 1938 het ’n trekgeselskap met twee ossewaens uit Kaapstad vertrek ter herdenking van die eeufeesviering van die Groot Trek. Dié simboliese trek was die idee van Henning Johannes Klopper, voorsitter van die ATKV, en sou ’n hoogtepunt bereik met die hoeksteenlegging.
Die trek het mense se verbeelding aangegryp en regoor die land het nóg waens by die oorspronklike groep aangesluit. Daar is maande deur die destydse Unie van Suid-Afrika getrek en die groep het by meer as 500 plekke aangedoen, met talle monumente en gedenkstene wat langs die roete opgerig is.
Simboliek
Gelyklopend met die simboliese trek het die Voortrekkerbeweging met ’n fakkelloop begin. Tibbie Steyn, vrou van M.T. Steyn – die laaste president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat – het die oorspronklike fakkel op 30 November 1938 in Kaapstad aangesteek.
Op 13 Desember 1938 is die trekkers op Kerkplein in Pretoria verwelkom en die volgende dag het hulle op Monumentkoppie aangekom. Daardie nag het die fakkeldraers opgedaag. Dit was ’n feestelike geleentheid waaraan sowat 40 000 mense deelgeneem het. ’n Tentedorp is ingerig, 53 babas is gedoop en 35 pare in die eg verbind.
Die hoeksteenlegging is behartig deur drie vroue: die agterkleindogter van Piet Retief, die kleindogter van Andries Pretorius en die agterkleindogter van Hendrik Potgieter.
Agter die hoeksteen is ’n paar geskiedkundige dokumente toegemessel – die dagregister van Jan van Riebeeck, die traktaat wat deur Retief en Dingaan onderteken is, ’n afskrif van die Gelofte, ’n kopie van Die Stem van Suid-Afrika en ’n Bybel van Klopper.
’n Prys is vooraf uitgeloof vir die skryf van ’n drama wat opgevoer kon word by die geleentheid. Dié eer het N.P. van Wyk Louw se “Die dieper reg” toegeval.
Net meer as ses maande later, op 13 Julie 1937, het Jansen die eerste sooi gespit en bouwerk het die volgende jaar begin. Die ontwerp is deels geïnspireer deur Moerdijk se besoeke aan die piramides van Egipte en die Zimbabwe-ruïnes en die idee van die opeenstapeling van klippe in die ontwerp is simbolies van die Voortrekkers se onwankelbare moed, geloof, selfvertroue en durf.
Granietboustene is gebruik, maar bouwerk is in 1939 gestaak met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. In 1940 het 30 klipwerkers weer die taak hervat en 60 000 granietstene uitgekap, waarvan die laaste blok in 1945 in posisie geplaas is.
Die spilpunt van dié monument is die senotaaf, ’n leë graf, simbolies van die moord op Retief op 6 Februarie 1838. Dit is uit rooi graniet gekap en dra die eenvoudige grafskrif: “Ons vir jou Suid-Afrika”.
Die monument word beskerm deur ’n laer van 64 kakebeenwaens, ter herinnering aan die laer wat die trekkers gevorm het in aanloop tot die Slag van Bloedrivier. Die laer word gesluit deur assegaaihekke, soortgelyk aan die tradisionele wapens wat deur Dingaan en sy Zoeloes gebruik is. Die assegaaihekke dien ook ’n praktiese doel as toegangsbeheer na die hoofingang: ’n kiaathoutdeur.
Om by dié deur uit te kom, moet die besoeker 130 trappe klim. Op elk van die vier hoeke van die monument staan ’n Voortrekkerleier: Piet Retief, Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en ’n vierde, onbekende leier wat hulde bring aan leiers soos Piet Uys, Sarel Cilliers, Louis Trichardt en Gerrit Maritz.
Daar is ook ’n beeld van ’n Voortrekkervrou en haar kinders, om hulde te bring aan die deursettingsvermoë en opofferings van die vroue in die Groot Trek. Die beeld deur Anton van Wouw is volledig in brons gegiet – die eerste keer dat dit in Suid-Afrika gedoen is. Agter die vrouebeeld is swartwildebeeste, wat gevaar simboliseer. Die diere hardloop egter wég van die vrou, tekenend van haar vasberadenheid.
In die heldesaal is ’n fries met 27 tonele wat die Groot Trek uitbeeld. Dit is aanvanklik in gips gegiet, maar die finale werk is in Italië uit marmer gekap.
In die momument is ’n nis met ’n lantern waarin die oorspronklike fakkel brand wat na die hoeksteenlegging gestuur is. Dit is vir jare by die Universiteit van Pretoria bewaar en het in 1949 ’n laaste staanplek gekry. Daar is ook ’n tapisserie wat geskiedkundige tonele uitbeeld – die handewerk van nege vroue wat agt jaar lank met meer as 3,3 miljoen stekies aan dié liefdestaak gewerk het. In uitstalkaste is gedenkwaardighede uit die Groot Trek en van die 1938-eeufeestrek.
Die monument is amptelik ingewy op Vrydag 16 Desember 1949 en sowat 250 000 mense het die geleentheid bygewoon. Wéér is ’n tentedorp ingerig, mense in tradisionele drag het volkspele gehou en Rapportryers het langs 15 roetes regoor die land en uit Suidwes-Afrika met leerbladsakke groeteboodskappe aangery.
By die opening is toesprake gehou deur genl. Jan Smuts en Jansen. Die gelofte wat Sarel Cilliers by die Slag van Bloedrivier afgelê het, is voorgelees en dr Nico Malan het ’n aangrypende toespraak gelewer.
Dit was ’n dag van toewyding wat om presies 12:00 ’n hoogtepunt bereik het toe ’n straal sonlig op die senotaaf geval het – die voltrekking van ’n meesterlike ontwerp deur Moerdjik. Vandag nog word jaarliks ’n erediens op dié dag gehou, met die versinnebeelding van die gelofte wat deur die ligstraal bevestig word.
Die monument vandag …
*Aanvullende bron: “. . . Vir Vryheid – Voortrekkermonument 80”, www.vtm.org.za.
Lees meer:
Die oorsprong van Afrikaans: Vergesel ons op ‘n reis op die spore van Afrikaans. Klik hier
Rebecca laat jou tuis voel by die Voortrekkermonument. Klik hier.
‘n Langer weergawe van hierdie artikel het oorspronklik in 2018 op Afrikaans.com verskyn met die tagtigste herdenking van die hoeksteenlegging van die monument. Klik hier.